
Mat 24:30: En dan sal die teken van die Seun van die Mens [...] verskyn.
Min nuusgebeure die laaste tyd het my so aan die bors geruk soos die huidige krisis in Iran.
Ons het in ons geskiedenisklasse op skool geleer van die Franse Revolusie.
Die bestorming van die Bastille deur die sogenaamde “gepeupel” in 1789 was nog altyd iets wat my, vandat ek die eerste keer daaroor gelees het, geweldig gefassineer het.
Dit was ’n kwessie van die mag van gewone mense teen die mag van die politiek van daardie tyd.
En wat was die politiek van daardie tyd?
Koningshuise. Mag was oorerflik. Daar was nog nie iets soos algemene verkiesings, die internet of meningspeilings nie.
Natuurlik is sulke opstande altyd gevaarlik. In Frankryk sou die bestorming van die Bastille wel tot ’n tipe vryheid lei, maar dit was ’n vryheid wat alte dikwels geskend is deur hernude geweld en onvoorsiene krisisse.
En tog. Verbeel jou die Franse Revolusie het nooit gebeur nie. Verbeel jou die Bastille is nie bestorm nie ...
Die gebeure in Frankryk in die laat agtiende eeu het op die ou end ’n geweldige invloed op die gang van wêreldgeskiedenis gehad. Niks sou ooit weer dieselfde wees daarna nie.
Dit was ’n tyd toe die mensdom ’n nuwe wapen ontdek het: die mag van konsensus en samehorigheid eerder as die mag van oorlewering en wette.
Wat vandag in Iran gebeur, is iets soortgelyks. Dis dalk selfs ’n groter opskudding op die wêreld se politieke toneel as die opskudding van 1789. Dit raak beslis nie slegs die Midde-Ooste nie; almal is op die een of ander manier betrokke by wat daar aangaan, van Amerika tot Groenland en die Verre Ooste.
(Dit is, terloops, ’n skreiende skande dat ons huidige ANC-regering skynbaar te lamlendig is om hul “vriendskapsbande” met die Iran-regering te hersien. Maar dis dalk ’n debat vir ’n ander dag?)
Wat in Iran gebeur, is in kort ’n desperate kollektiewe uiting deur die volk van daardie land om in vryheid te lewe, om gewone voorregte wat in ander lande geld, te geniet en om nie onder die totalitêre juk van ’n godsdiens-mal elite hoef te leef nie.
Tog vreemd hoe totalitêre regerings dikwels hulle tot godsdiens wend om hulself te versterk in die oë van die samelewing.
Ons onthou nog almal die dae van Christelik-Nasionalisme in Suid-Afrika, toe die kerk as’t ware gekoöpteer is om die doelstellings van die Bothas te ondersteun.
Dit was wrede tye. Dit was hartseer tye. Dit het ook gelei tot opstand en rebellie. Hoe kon ons anders as om op te staan teen so ’n sisteem?
Ek wil egter by ’n ander saak stilstaan, ’n issue waaraan hierdie gebeure my laat dink het.
En dalk is dit tyd om te verduidelik hoekom ek myself nooit weer ’n lidmaat van enige kerk of geloofsgroep sal kan verklaar nie.
Ja, ek, hoewel ek ’n gelowige mens is, hoewel ek op die ouderdom van 16 jaar ’n sogenaamde “bekeringservaring” met Jesus Christus gehad het wat my tot vandag toe bybly en my lewe in vele opsigte rig en stuur, kan ek myself nie skaar by die groep wat hul geloof uitleef onder die banier van tradisionele Christenskap nie.
Ek is gelowig, maar ek is anti-godsdiens.
As ek moet kies tussen die wil van God, soos dit verstaan word deur die kerk, en die wil van gewone mense, sal ek my altyd skaar by die wil van gewone mense.
Dis nie dat ek Christene haat of veroordeel nie. Ek voel net eenvoudig nie tuis met die etiket van “Christen” nie. Ek het wel vriende wat Christene is met wie ek individueel baie goed oor die weg kom, maar ek kan myself nie begewe in enige gebedsgroep of gemeente of massabyeenkoms van enige aard nie, hetsy Christelik, Islamities, spiritisties of wat ook al.
Die Christendom lê geweldige klem op die konsep van Jesus as “Seun van God”. In my eie persoonlike geloofslewe laat val ek eerder die klem op die konsep van Jesus die “Seun van die Mens”. Ek ontken nie die eerste nie, maar ek verstaan die tweede een beter.
Ek voel ongemaklik in enige vorm van hiërargie. Ek voel ongemaklik met die idee van God bo in die hemel; ons op die aarde. Ek sou veel eerder God ervaar as ’n teenwoordigheid in ons harte, hier en nou. Pinkster-Christene beskryf dit as die Gees wat in ons woon. Humaniste of gewoon spirituele mense praat graag van “die Hoër Self”. Of hierdie twee dinge presies dieselfde ding is, weet ek nie vir seker nie, maar die punt is, ons praat nou van ’n innerlike belewenis eerder as ’n stel reëls wat afgedwing word deur ’n politieke outoriteit.
Wat belangrik is, op die einde van die dag, is of hierdie inwonende Gees of Hoër Self, hoe jy ook al verkies om dit te definieer, wel ’n positiewe invloed het op ons doen en late en ons rol in die samelewing. ’n Boom word geken aan sy vrugte. En ’n mens hoef uiteraard nie die naam van ’n vrug te ken om dit te geniet nie.
Ek weet almal sal nie hiermee saamstem nie, en ek wil nie graag aanstoot gee met ’n stelling soos hierdie een nie, maar op die ou end is definisies van presies WAT ’n mens glo, dalk minder belangrik as HOE ’n mens glo.
Die erkentenis van my eie onkunde en my onvermoë om my geloof eksak te definieer het veral een voordeel: Dit dryf my tot by daardie sfeer waar ek geneig is om te glo soos ’n kind eerder as soos ’n teoloog of ’n siniese grootmens.
Ons reis dalk in dieselfde rigting, en ons geloof is dalk nie so verskillend soos wat dit lyk nie, maar ek sal altyd die grondpaadjie van persoonlike intimiteit met God verkies bo die teerpad van kerklidmaatskap.
Dis al wat vir my werk.
Hier stap ek, ek kan nie anders nie ...


Kommentaar
Hi, ek het hierdie berig baie geniet, dankie!
Vreeslik geniet - die vergelykenis met die Franse revolusie en die kerk - asook die samehangende liedjie. Bravo.
Interessant ja, Koos. Ek het ook 'n diepliggende issue met mense wat die 'wil van God' uit die Bybel loop aanhaal en/of vertel dat dit op sy/haar hart gedruk is deur God. Ons weet mos dis twak. Is God nie dalk deur homself in die mens se DNA geprogrammeer nie in die vorm van etiese broederlike respek en menswaardigheid nie? Die heelal is heluit groot en Hy moet seker baie ander dinge hê om te doen as om homelf besig te hou met 'n handjievol wesentjies op 'n klein planeetjie? Daar is tog seker duidende ander planete elders ook met eenvoudige wesentjies wat sy aandag verg? God as 'n menslike konstruk is myns insiens net 'n manifestasie van die mens se behoefte om voort te bestaan. Daar is en was nog nooit enige bewys dat God actually bestaan nie, behalwe in die mens se filosofiese raamwerke. Ons moet dit so aanvaar.
Goed, Koos. Dis 'n goeie benadering en maak gesprek oop in plaas van toe ... en dis wat nodig is. Ongeag.
Dankie, Koos.
Ek het ook uitgebreide Christelike familie en vriende. Hulle was so ampertjies almal weggeraap in 2025, maar ons is dankbaar meeste van hulle is nog hier. Hulle dra almal mooi by tot Suid-Afrika se BBP en maak 'n verskil op aarde, al is die lewe aan die ander kant vir baie van hulle veel meer werklik as die lewe hier.
Volgens my is die groot rede van die bywoning van bidgroepe of selgroepe om eensaamheid te verdryf, eerder as dat dit gaan oor die spirituele.
Wanneer ek artikels soos die lees, en die kommentaar in reaksie op die artikel bekyk, besef ek hoe skreiend die teologie en die kerk mense gefaal het. Die kerk en teologie het op die premoderne ontwikkeling vasgesteek. Die Bybel het juis in die tyd ontstaan, met 'n drielaagwêreldbeeld, 'n transendente godsbeeld, etnosentriese liefde, absolute mag van die kerk en staat/koning, en duidelike riglyne van reg en verkeerd.
Modernisme het, met die opkoms van die wetenskap, god en godsdiens verwerp. Daarmee saam die basis van etiek met die badwater uitgegooi. Uit modernisme het 'n wetenskaplike materialismestorie gegroei, wat die innerlike verwerp.
Postmodernisme op sy beurt, sê dat daar geen absolute waardes en waarhede is nie, en dat alle stories geen betekenis het nie. 'n Man kan sê hy is 'n vrou en almal moet hom so behandel. Dit is ook tydens postmodernisme waar mense begin sê: “Ek is spiritueel maar nie godsdienstig nie.”
Net 'n bietjie as 100 jaar gelede het mense die ontwikkeling van die menslike bewussyn begin waarneem en ondersoek. Vandag is daar oor die honderd verskillende navorsers besig om die ontwikkeling vanuit verskeie hoeke van menswees te bestudeer. Kenners het agt en selfs meer vlakke geïdentifiseer wat in twee lae verdeel kan word: Die eerste laag is argaïes, magies, magies-letterlik, letterlik, rasioneel, en pluralisties. Die tweede laag in integraal en holisties. Eenvoudig gestel begin die ontwikkeling van die mens met die egosentriese, beweeg na die etnosentriese, dan die wêreldsentries, tot by die kosmosentriese vlak. Die kerk het by die etnosentriese, prerasionele, letterlike vlak vasgeval.
'n Mens op elkeen van die vlakke kan god op drie verskillende maniere ervaar: as in die derde persoon, in die tweede persoon, en as eerste persoon. Paul Smith, 'n Amerikaanse integrale teoloog het 'n boek gepubliseer met die titel: “Is your God Big enough, Close enough, You enough.” Daar is dus 24 en meer verskillende maniere om God te ervaar (8 vlakke x 3). In watter van die verstaan van God glo jy nie?
Wanneer die skrywer van die artikel, Koos Kombuis, se siening van Jesus en God vanuit die rasioneel en of pluralistiese vlakke benader, beleef hy Jesus in die 2de persoon en God, in die eerste persoon. Hy hou nie van God in die derde persoon, die gans andere nie.
Godsdiens is vir mense wat bang is vir die Hel.
Spiritualiteit is vir mense wat al daar was.
Lees gerus "What is the difference between religion and spirituality?" - https://www.gotquestions.org/religion-spirituality.html