Simoné du Plessis is tien jaar oud en is in graad vyf by CVO Pretoria.
Riana se groot geelgroen oë gaan stadig oop en sy rek haar kort bene onder die blommetjiesduvet uit. Sy vee haar bruin lokke uit haar gesig en glimlag breed toe sy haar ma en pa voor die bed sien staan. Sy weet vandag is spesiaal.
“Môre, my verjaarsdagdogtertjie, lekker geslaap?”
“Môre Mamma, ja dankie en Mamma?”
“Ja dankie, my skat.”
Riana se oë verskuif van haar ma na haar pa. Sy vryf haar oë en vra: “Môre Pappa, het Pappa lekker geslaap?”
“Môre my poplap, ja dankie, ek het heerlik geslaap,” kom haar pa se diep stem.
Riana se ma fluister iets in haar pa se oor en hy knik instemmend.
Vinnig sit sy regop en kyk haar ma en pa nuuskierig aan. Haar pa buk af en tel ’n kartonboksie vol gaatjies van die grond af op. Hy sit dit voor Riana neer en tree weg. Riana skuif die boksie nader, maar wonder wat daarin kan wees. Sy maak dit versigtig oop, en skrik toe daar iets uitspring tot op haar skoot. Toe sy sien wat dit is, sê sy verbaas: “Dit is ’n babahondjie, my eie klein babahondjie!” Haar gesig straal van vreugde. Die hondjie is ook bly en sy stertjie swaai heen en weer. Die hondjie is bruin met kort beentjies, en hy het pragtige swart kolle op sy rug. Hy het die oulikste gesiggie wat Riana nog gesien het.
“Dankie Mamma en Pappa, dit is ’n wonderlike geskenk.”
“Dit is ons plesier,” sê haar ma.
Haar pa knik tevrede sy kop.
“Ek moet seker begin klaar maak vir skool, want ek het baie om vir my vriendinne te vertel.”
“Reg so, ek sal die ontbyt maak en ek sal die koffie maak,” verklaar Riana se ma. Riana kyk hoe haar ma en pa uitstap, dan buk sy af, gee haar geskenkie ’n soen en fluister in sy oor: “As ek by die huis kom, het ek vir jou ’n naam, my liefie.” Dan gaan trek sy aan.
***
By die bushalte vertel Riana vir haar vriendinne van haar geskenkie. Hulle is sommer baie opgewonde om die nuwe dingetjie te sien.
“Ek sal hom so gou as moontlik vir jul wys, maar eers moet hy ’n naam kry,” sê Riana trots.
“Ons sal help,” sê Annette vinnig.
“Ja, ons sal,” sê die ander twee soos een man.
“Dankie.”
In die bus sit Riana en haar drie vriendinne op hul gewone plek heel agter, maar vir ’n verandering is dit stil, want al vier dink aan name.
“Hoe moet die naam wees? Eenvoudig, of mooi en nuut?” vra Mia.
“Nee, dit moet mooi en nuut wees.”
Dit raak weer stil en al vier dink verder.
“Dalk Ben of Bennie?” vra Klara.
“Bennie, dit is perfek!” roep Riana uit.
“Soos jy hom beskryf het, sal dit perfek by hom pas,” sê Annette.
Skool is vir ’n verandering lekker vir Riana, maar sy sal baie graag eerder by Bennie wou wees.
***
Die bus stop by die bushalte en al die kinders klim geselsend uit. Riana groet vinnig haar vriendinne en drafstap huis toe.
Riana se kamerdeur swaai woes oop, sy gooi haar tas neer en sien hoe Bennie op die bed lê en slaap.
“Hello Bennie, slaap jy lekker?”
Die hondjie se klein ogies gaan oop en hy lig sy koppie, dan staan hy op en kyk vir Riana.
“Slaap jy lekker, my Bennie?” vra Riana weer.
Bennie se stertjie swaai heen weer, net soos vroeër.
“Lyk my hy hou van sy naam,” dink Riana by haarself, en glimlag.
Later die middag sit Riana en kyk hoe Bennie vir sy speelding knor. Sy weet sy moet eintlik huiswerk doen, maar sy is nou droomverlore.
***
Dit is al ’n ruk na middag ete en Riana gaan gou vir Bennie pap gee en dan gaan sy weer huiswerk doen. Sy maak haar kamerdeur oop met die pappies in een hand en loer na haar bed waar sy vir Bennie gelos het, maar hy lê nie meer daar nie – hy is nie op haar bed nie! Ook nie op ’n ander plek in die kamer nie. Sy gaan sit bekommerd en wonder waar hy sal wees; hy kan mos nie van die bed afspring en verdwyn nie.
In die kombuis sien Riana haar ma wat besig is om skottelgoed te was.
“Mamma, het Mamma vir Bennie gesien?”
Haar ma laat los die bord en draai stadig om.
“Nee my skat, is hy nie op jou bed nie?”
“Nee, ek het hom daar gelos net na middagete. Hy het nog gespeel met sy speelding, maar nou is hy net weg.” Die trane blink in haar oë.
“Moenie so bekommerd lyk nie, my skat, hy sal wel hier iewers wees.”
Dit is Woensdagaand en Bennie is nog weg. Riana lê in haar bed en rondrol. ’n Miljoen vrae krioel soos klein miertjies deur haar kop. Na middernag sluimer Riana in en vergeet dan van al haar hartseer en bekommernisse.
***
Douvoordag word sy wakker om te gaan kyk of Bennie terug is, maar haar teleurstelling begin van voor af en die hol kol op haar maag is terug.
“Ek is seker Bennie is veilig; hulle is slim hondjies,” probeer meneer Viljoen Riana gerus stel. “Dalk is hy al hier as jy terugkeer van die skool af.”
“Pappa, ek wil hier wees as Bennie terugkeer, so, kan ek maar nie net vir vandag asseblief hier bly nie?”
“Jong, dis nie ’n goeie idee nie.” Hy kyk in haar hartseer oë en besef die pyn wat sy ervaar, is oorweldigend.
Hy verander van besluit en antwoord saggies: “Nou maar goed my skat.”
“Oe, dankie Pappa.”
Dit is al nege-uur die oggend en Riana sit bekommerd op die trappe by die voordeur. Sy wens uit die diepte van haar hart dat Bennie moet terugkom huis toe.
“Hier is bietjie koekies en melk, my lief,” sê mevrou Viljoen toe sy te voorskyn kom in die voorportaal.
“Dankie Mamma,” antwoord Riana saggies.
“Hy sal terugkom, engel,” sê mevrou Viljoen en kyk hoopvol na Riana.
“Ek hoop so, Mamma.” Haar stem bewe.
Riana loop op en af in die voorportaal. Haar gesig is op ’n plooi getrek en haar lyf voel lam; sy kan nie ophou dink aan Bennie nie. Waar kan hy wees? wonder sy die heeltyd, maar sy kan nie ’n antwoord op die vraag kry nie.
Later die middag klop iemand aan die deur. Riana spring op en hardloop na die voordeur. Sy maak hom oop en sien haar vriendinne daar staan. Annette is nie op die oomblik by nie.
“Hallo julle.”
“Jy lyk nie bly om ons te sien nie,” sê Mia
“Wat het ons gedoen?” vra Klara, haar gesig vertrek met ’n frons.
“Julle het niks gedoen nie, dit is Bennie,” antwoord sy hartseer.
“O ja, ons het juis gekom om hom te sien.”
Riana laat sak haar kop en sug moedeloos.
“Hy is weg.”
“Hoe bedoel jy, weg?” vra Mia geskok.
“Ek wou gister na middagete vir hom pap gee, maar toe is hy nie meer op my nie bed nie, ook nie op ’n ander plek in my kamer, óf in die huis nie!”
“Agge nee, ek wou hom so graag vandag sien,” sê Klara.
“Ek ook,” sê Mia.
“Waar is Annette vandag?” verander Riana die onderwerp.
“Sy sê sy is besig met belangrike goed,” verklaar Mia.
“O, dit is vreemd,” sê Riana en trek haar gesig.
***
Dit raak laat en koud. Riana lê in haar bed en blaai deur ’n tydskrif. Die wind begin meteens sterk waai en Riana se gordyne fladder in die lug rond. Die weerlig slaan en die reën begin neerstort. Dan word sy benoud en wonder of Bennie veilig sal wees.
“Mamma, ons moet vir Bennie gaan soek!” sê sy benoud.
“Skat, hy sal veilig wees, daarvan is ek seker. Hoekom kom sit jy nie by my en Pappa in die woonkamer nie?”
Riana is maar stil in die woonkamer; al waaraan sy dink, is Bennie. Is hy veilig? Het hy kos? Is hy uit die reën? Al die vrae druis deur haar kop.
“Skat, dit word laat, so jy moet nou gaan rustig raak.”
Riana draai haar kop stadig na haar ma toe en sê: “Goed Mamma, ek sal dan vergeet van alles.”
“Nag my kind.”
“Nag Pappa, nag Mamma.”
Riana gee vir haar ma en pa ’n druk en soen, dan loop sy stadig oor die koue teëls met haar warm kouse na haar kamer.
“Danie, ons moet Bennie vir Riana kry,” sê mevrou Viljoen sugtend.
“Ek weet, my vrou, maar hoe?”
“Hoekom gaan ons nie oor na Erika en Annette toe nie, dalk kan hulle ons help soek?”
“My liewe vrou, wie is Annette? Ek ken vir Erika, maar nie vir Annette nie.”
“Annette is Riana se vriendin, Erika se dogter en Riana se vriendin.”
“Nou goed, kom ons gaan,” antwoord hy.
Riana se ma en pa stap die pad rustig af tot by die derde huis van die hoek af. Daar lui hulle die deurklokkie. Annette maak die voordeur oop en nooi meneer en mevrou Viljoen vriendelik in, maar nie een van die twee roer nie. Hulle oë is op Annette se arms gerig – sy hou vir Bennie vas!
“Hoekom hou jy vir Bennie vas?” vra mevrou Viljoen.
“Waar het jy hom gekry?” vra meneer Viljoen.
Annette kyk vinnig af na haar arms, draai haastig om en draf dan na haar kamer toe.
Annette se ma het die deurklokkie gehoor. Sy kom nader en sien die twee in die deur staan en nooi hulle weer binne.
In die sitkamer vra meneer en mevrou Viljoen wat aangaan. Annette se ma vertel skamerig oor hoe Bennie daar gekom het.
“Jul sien, Annette het gistermiddag huis toe gekom met Bennie en gesê sy het die hondjie opgetel, en ek het nie geweet dat dit Riana se hondjie is nie. Ek is vreeslik jammer en vra om verskoning dat dit gebeur het. Ek sal Annette dadelik aanspreek,” sê sy ferm.
“Riana sal in die wolke wees as sy vir Bennie sien, en ons is dankbaar dat Bennie veilig is.” Mevrou Viljoen laat rus haar hand binne-in haar man se hand. Sy voel verlig.
“Verskoon my net ’n oomblik,” sê Annette se ma en stap doelgerig na haar dogter se kamer.
Oomblikke later is sy terug met Bennie in haar arms en Annette aan haar sy. Annette se gesiggie is rooi van skaamte en sy lyk verleë. Met ’n sagte stem wat bewe sê sy:
“J-jammer Tannie, jammer Oom, ek ... ek besef wat ek gedoen het was verkeerd. Ek’s regtig jammer.”
Riana se kamerdeur gaan saggies oop waar sy rustig lê en slaap. Haar ma kom binne en lê vir Bennie langs haar neer. Hy maak homself gemaklik langs Riana en haal saggies asem terwyl hy insluimer.
Riana word wakker van iets wat langs haar beweeg, dan kyk sy af en sien vir Bennie! Hy lê opgekrul en slaap tevrede. Sy frons en wonder hoe hy hier gekom het. Is dit dalk ’n droom? wonder sy en staan suutjies op om nie vir Bennie wakker te maak nie.
“Mamma, Pappa, Bennie is terug!” roep Riana opgewonde uit terwyl sy draf na haar ouers se kamer.
Hulle glimlag skelm vir mekaar en sê dan tegelyk: “Regtig?”
“Ja, ja kom kyk, hy lê op my bed.” Riana gaan trek haar ma uit die bed en gaan na haar kamer.
Binne-in Riana se kamer lê Bennie; hy slaap vas op haar kussing.
“Sien Mamma, daar lê Bennie en slaap en ek weet dit is nie ’n droom nie.”
“Werklik, kyk Marina, daar lê Bennie,” speel Riana se ma en pa saam.
***
Daardie middag sit Riana, Mia en Klara in Annette se kamer en gesels.
“Toe ek wakker word, toe lê Bennie net hier langs my, sommer so uit die bloute,” vertel Riana wat gebeur het.
“Eintlik, Riana ... ek weet hoe Bennie weggeraak het,” sê Annette en laat sak haar kop. Dan sê sy: “Ek het hom gevat.”
Riana se oë rek van verbasing. “Maar hoekom?” wil sy weet.
“Ek was jaloers omdat jy so iets oulik het en ek nie en ek wou ook so ’n besonderse geskenkie gehad het. Ek het nie besef dit gaan jou gevoelens so seer maak nie.”
“Annette, jy kan mos elke dag vir hom kom kuier, jy weet dit tog,” sê Riana, haar oë steeds gerig op Annette se hartseer gesig.
Annette kyk op en sê sag: “Ek is so jammer.”
“Dit is reg, ek het vir Bennie en jy het mos nou jammer gesê so dit kan iets van die verlede wees.”
“Regtig?”
“Ja, regtig,” sê Riana
Dan begin hulle vier lekker gesels oor hoe Bennie in al hulle avonture gaan deel en dit nog meer pret maak.