Chris “Gilgamesh” Dippenaar is die deursnee agnostikus uitgeknip.
In ’n gesprek met my oor sekere aspekte van die boek Prediker, haal hy as ‘gesag’ vir sy aweregse siening oor alles Gods, aan uit sekulêre bronne wat hy natuurlik baie sorgvuldig uitgesoek het. Punt is, dat sy onbegrip en insigloosheid só ingrypend is, dat hy selfs nie eens begryp dat dié ‘gesag’ wat hy as teenargument aanhaal, kwalik sy standpunte ondersteun, nie:
“Amy-Jill Levine (The Old Testament – The Teaching Company, 2001) beskryf Sheol as "The home of the dead, a shadowy place below the earth [where] early references display no conception of punishment or reward", maw geen hemel of hel. Hierdie siening van Sheol word ondersteun feitlik feitlik (sic) almal wat die ontwikkeling van Judaïsme bestudeer.” – Aldus Chris. Maar dit is juis die punt wat ek ook maak – ek wys juis aan hom uit dat die eerste dood – die doderyk, juis nié die plek van oordeel, hemel of hel, is nie, of van enige straf of kwytskelding nie, omdat dit dan reeds te laat is om iets daaromtrent te vermag, maar die plek van afwagting.
“Adam Potkay (The Bible as the Root of Western Literature, 2003 – The Modern Scholar) som op: "Whereas Job questions God’s justice, Ecclesiastes, or the Preacher, scarcely seems even to expect justice in human events. Ecclesiastes, called by the late Victorian critic George Saintsbury “the saddest and wisest book ever written,” is an oration on the “vanity” or emptiness of most human ambitions and pursuits; the determining role of chance in most successes and failures; and the lone certainty of death"” – Aldus Chris. Maar ook die punt wat ek juis aan hom probeer uitwys – selfs die sekularistiese Potkay besef dat die Prediker probeer waarsku dat die mens nie moet dink dat sy gewoel en gesweet om homself te verryk en verhef, daardie tipies sekulêre en agnostiese “ambitions and pursuits” hier op aarde, énige effek hoegenaamd in die doderyk sal hê, nie, behalwe net om daaroor geoordeel te word (Prediker 12:14).
En dan haal hy ook vir my aan uit die Griekse mitologie, waar sommige woorde in die alledaagse Griekse gebruikstaal, ook gebruik word in hul mitologie om mitologiese betekenis in hul kultuur daaraan te koppel, benewens die gewone gebruik en betekenis van daardie woorde in die omgang van die tyd. Omdat die Nuwe Testament in Grieks vertaal is (die algemene kommunikasietaal van die tyd, soos Engels vandag), meen dié arme ateïs, dit is nou Chris, dat dit outomaties verwys na die Griekse mitologie waarvoor dit óók gebruik was, terwyl die Christelike Godsdiens juis daardie betekenisse en alternatiewe konnotasies verwerp. Wanneer Christus die HERE met sy volgers oor dissipels van die doderyk gepraat het en die gangbare Griekse woord “hades” gebruik het en na die dood verwys het en die gangbare Griekse woord “thanatos” daarvoor gebruik het, het die aanhoorders gewéét Hy verwys nié na die Griekse mitologiese gode nie, maar na die toestand en situasie soos hulle dit geken het. Maar helaas, die stomme ateïs wat kruis of munt daaroor probeer uitmaak, kán eenvoudig nie die verskil insien nie.
Wys jou net – gebrek aan spiritualiteit en spirituele intelligensie, bind hulle met dodelike kettings van onkunde en insigloosheid – g’n wonder dat die HERE waarsku:
“13 Daarom gaan My volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.
14 Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is.
15 Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder.”
En hóé hoogmoedig en arrogant ís die stomme agnostici nie – hulle wat hulself só hoog aanstel om selfs hul Skepper in Sy bestaan te minag en ontken … en daarom sal hul vernedering óók ingrypend wees – met hul oë voor hul Skepper verneder.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
https://www.litnet.co.za/Article/chris-dippenaar-en-die-prediker-ii