Die val van Darwinisme opgesom

  • 8

Sedert ek die reeks artikels met aanhalings teen die aansprake van darwinisme geplaas het, het dit hier ook duidelik geword dat die tradisionele darwinisme bykans in onbruik verval het en ook as wetenskaplike model, geen bestaansreg meer het, nie – vir twee redes:

1. 1. Dit is duidelik dat darwiniste moed opgegee het om te probeer bewys hoe lewe ontstaan het.

In die artikels waarin ek deskundiges aangehaal het, blyk dit duidelik dat die fondament, die bakermat daardie magiese protosoön of repliseerder, waarop die ganse darwinisme gebou is, se hipotetiese magiese ontstaan, in wetenskaplike terme, hoegenaamd nie haalbaar is nie – dit sal nóóit by fabelagtige hipotese status verby vorder, nie.

Daaroor sou Darwin natuurlik bitterlik ongelukkig wees, want selfs hý het anderhalf eeu gelede al besef dat, as jy die ontwikkeling van lewe op aarde wil verklaar, moet jy begin by die begin… want die begin is noodwendig bepalend vir wat daarop volg. Hierdie is ’n báie belangrike beginsel. In ’n onlangse kommentaar het Angus selfs beweer dat Darwin, as hy vandag moes herleef, sy eie leerstuk nie sou herken nie. Só is die darwinisme al van binne af geplunder en verrinneweer, dat ’n entoesias, hoewel ’n leek, sulke afleidings kan maak van die pad wat darwinisme die afgelope anderhalf eeu gekom, het.

Die darwinisme is juis in sy fondament geplunder en tot ’n val gebring – daardie Begin – die begin van waarop alles verder gebou is, want die begin verskaf die masjinerie waarmee die res noodwendig sou volg. Vir darwinisme ís daar geen begin meer, nie.

Want, sien, dié magiese protosoön of mitologiese repliseerder het sy mitologiese, fabelagtige kunsmatige ontstaan uit die verbeelding en anti-religieuse obsessie van ’n man, Darwin, wat dit geskep het, soos afvalliges vir hulle ’n afgod skep wat deur hulle self aan die lewe gehou moet word, genaamd abiogenese (lewe uit leweloosheid – magies!) En net soos dit kunsmatig ontstaan het, na bewering uit ’n toevallige, intelligensielose abiogenetiese proses en dít moes dien as die bakermat van waaruit alles ander lewe tot soos ons dit vandag ken, óók toevallig moes ontstaan, is dit deur die verloop van anderhalf eeu geplunder en vernietig en selfs die nagedagtenis daarvan word as ’n verleentheid ontken – want darwinisme, word gesê, hou hom nie (meer) besig met die ontstaan van lewe nie, maar met die studie van lewe op aarde.

Darwinisme het dus gesterf saam met sy fondament – sy kamstige “lewegewende” protosoön of repliseerder. Derhalwe is die fondament van darwinistiese tipe evolusieleer eenvoudig nie- bestaande.

2. Nou word die darwinisme nog verder geplunder. In aansluiting by die “toevallige” begin van “toevallige” lewe, moes alles vanuit die enkele eenvoudigste lewende selletjie fabelagtig deur toevallige intelligensielose ewekansige seleksie (en later mutasie daarby) met stelselmatige kontinuïteit met horte en stote deur fabelagtige miljoene jare heen, ontwikkel soos ’n boom wat uitspruit en dan ontwikkel met takke en takkies en spruite en blare, waarvan elk ’n nuwe spesie sou voorstel in die duiselingwekkende variëteit soos ons dit vandag ken. Die ontwerper van dié fabel, Darwin, het voorspel en gehoop dat die fossiele wat uitgegrawe word, sy fabel sou omskep in wetenskap.

Maar dit gebeur toe nié. Die miljoene fossiele (fossielrekord) wat vir die afgelope twee eeue en langer feitlik onverpoosd wêreldwyd naarstig uitgegrawe word, wys vir ons glad nie hierdie stamboom nie. Dit wys net vir ons talle enkel takkies met sy blare vooraan – dit wil sê, baie intra-spesifieke ontwikkeling maar geen trans-spesifieke aktiwiteit nie. Geen stam, geen hooftakke, geen sekondêre vertakkings, nie, net eindpunte wat kom en gaan. En sommige daarvan leef vandag nog in oorvloed en welig.

“The extreme rarity of transitional forms in the fossil record persists as the trade secret of paleontology … to preserve our favored account of evolution by natural selection we view our data as so bad that we never see the very process we profess to study … The absence of fossil evidence for intermediary stages between major transitions in organic design, indeed our inability, even in our imagination, to construct functional intermediates in many cases, has been a persistent and nagging problem for gradualistic accounts of evolution.” – ’n Werklike evolusie ghoeroe, Stephen Jay Gould, Evolution’s erratic pace. Natural History 86(5):14, 1977 en Is a new and general theory of evolution emerging? Paleobiology 6:119–130 (p.127), 1980, onderskeidelik.

Nou word allerlei nuwe fabels gebou en geskep deur mense soos Gould (wyle), Eldredge ens. om dié werklikhede met nuwe hipotetiese fabelagtigheid aan die evolusie kadawer te verbind, soos byvoorbeeld “punctuated equilibrium”. Ander weer, met fantasieë deur beenfragmente en stukkies skelet te neem en sommer dan en hele dier vir hulle te “konstrueer” volgens hulle behoeftes en dan dit uit te gee vir rekord! ’n Voorbeeld hiervan is die landdier Ambulocetus wat sommer as kamstige ’oorgangswalvis’ ombou, is.

Die darwinisme, die hele evolusie leerstuk wat dit voorstaan, selfs (verál) die hedendaagse geplunderde formaat, is daarmee heen. Want dit was nog nooit bedoel om ernstige wetenskap te wees nie… Dit is omdat só ’n stamboom nooit bestaan het, of sál bestaan, nie. God het dit eenvoudig nié só gemaak nie en daarom sal dit nié gevind word, nie.

Hier is die spyker in die darwinistiese evolusie kadawer se doodskis:

“Evolution is promoted by its practitioners as more than mere science. Evolution is promulgated as an ideology, a secular religion—a full-fledged alternative to Christianity, with meaning and morality. … Evolution is a religion. This was true of evolution in the beginning, and it is true of evolution still today.… Evolution therefore came into being as a kind of secular ideology, an explicit substitute for Christianity” –

Michael Ruse, evolusie ghoeroe, professor van filosofie and soölogie, Universiteit van Guelph, Canada (National Post, May 13, 2000, pp. B1,B3,B7) – bykans ’n halwe dekade na die eerste keer dat hy hierdie opspraakwekkende situasie bekend gemaak het – waarteen die arme aanhangers soos besetenes skop en skel...

Groete,
Kobus de Klerk

 

  • 8

Kommentaar

  • Ek herhaal my ongemaklike vragie wat jy verkies om nie te antwoord nie. 

     
    Jy beweer evolusie as wetenskaplike teorie het gefaal en is verkeerd bewys. Noem vir ons een erkende universiteit wat die evolusieleer as basis uit sy biologiese wetenskappe verwyder het en vervang het met kreasionisme? 
     
    Thomas
  • Kobus de Klerk

    Van aanvanklike aansprake van protosoön wat magies toevallig ontstaan vanuit ’n sogenaamde oersop, tot die punt, sedert die neo-darwinisme, waar hulle sê dat darwinisme nie gaan oor hoe lewe ontstaan het nie, maar dat dit ’n studie van lewe op aarde, is.

    Selfs ’n kêrel soos Angus hier ter plaatse, wat op ’n stadium te kenne gegee het dat die darwinistiese evolusieleer sy passie is, hoewel hy ’n leek is, ontwyk die ontstaan van lewe en spring sommer ná die ontstaan van eerste lewe in en neem die sakie vandaar verder – hy sê dat “opgedateerde” darwinistiese evolusie nié gaan oor hoe lewe ontstaan het nie, maar is ’n studie van lewe op aarde.

    Angus het dit toe vergelyk met Van Riebeeck wat Kaapstad vandag nie sou herken nie. Maar dié vergelyking is vernietigend vir Angus se argument… want Van Riebeeck sou die bakermat, die begin van die stad, presies nog net só aantref en behoue gebly – die grond waarop dit gebou is en die berg aan die voet en hange waarvan die stad ontwikkel het, selfs sy ou Kasteel… dus is die fondasie van die stad absoluut ongeskonde, steeds en altyd ferm in plek en al sou ’n orkaan of sikloon die geboue en ontwikkelings daarvan vernietig en stroop, bly die kenmerkende fondasie van die stad steeds ongeskonde want God alléén kan dít wegneem… Maar nie so met die darwinisme, nie.

    Die darwinistiese boom het dan g’n wortels nie en net swape kan glo dat 'n topswaar boom met ’n plankdun stammetjie soos die darwin-boom, maar sonder wortels, hoegenaamd teen die wind bestand sal wees.

    Van die protosoön is daar geen teken nie, behalwe magiese feeverhale en fabels vir kindertjies en só ook die magiese maar enigmatiese repliseerder, want slegs en alleen in fabels en darwinistiese mites bestaan – nié in die wetenskap nie. Ook nie in die werklikheid nie.

    Die Wind het lank getalm, maar waai nou die Darwin-boompie wat so topswaar is sonder ’n binnewerk, onderstebo, saam met dié wat daaraan probeer klou.

    Kobus de Klerk

  • Sien jy nou, Kobus, met jou verbeelding kan jy alles vermag. Jy kan op water loop, jy kan vroumense van ribbebene maak, jy kan wêrelde op boontjieranke skep, jy kan selfs Darwinisme en die evolusieteorie laat verdwyn en in die plek daarvan 'n bybelse teorie as model vir die wetenskap stel.

     
     
  • Kobus

    Stephen J Gould: "Since we proposed punctuated equilibria to explain trends, it is infuriating to be quoted again and again by creationists—whether through design or stupidity, I do not know—as admitting that the fossil record includes no transitional forms. Transitional forms are generally lacking at the species level, but they are abundant between larger groups."

    Ek dink nie dis deur "design" nie.

    Kleinkoos

  • Kobus de Klerk

    Thomas, wat is 'n 'erkende' universiteit? Besluit jy? Doen jy aan die hand dat kreasioniste by universiteite, nie by erkende universiteite is, nie? Jy is oudergewoonte arrogant en insigloos en irrelevant.

    Kleinkoos,

    Die 'transitional forms' is juis op spesie vlak nodig vir darwinisme om te slaag. - Die "abundant between larger groups" is juis ook waar die hipotetiese aard daarvan die ondergang is - soos byvoorbeeld jou oneerlike (ek weet, jy leer van jou meerderes) poging met die ambulocletus - en talle ander.

    Maar dit is op spesie vlak, waar dinge krities belangrik is vir evolusie om te slaag - en daar is nie eens iets om mee te knoei, soos by ambulocletus nie.

    Ons is nie onnosel nie - julle is.

    Ons gebruik in-huis evolusioniste se kritiek teen hulself. Kan jy dit nie insien, nie? Ons ondersteun hulle nie, ons gooi hulle vir julle terug!

    Kobus de Klerk

  • Nee, Kobus

    Het jy al ooit 'n fossiel gesien?

    Fossiele kan en sal juis nie die klein veranderinge uitwys nie. Dis gefossileerde bene!  Fossiele toon juis die groot veranderinge. Dit kan nie die kleintjies toon nie.

    In ieder geval, het jy nou al daai foto van die fossiel van die Ambulocetus opgespoor? Dis daar in daai verwysing wat ek gegee het.

    Ek weet kreasioniste is blind vir feite, maar enigiemand anders kan daai foto sien.

    Kleinkoos

  • Hallo Thomas

     

     

    @Kobus: “Thomas, wat is 'n 'erkende' universiteit?....”

     

     

    En dan Stephen J. Gould: ..."whether through design or stupidity-"

     

     

    Daardie vragie van Kobus het my oortuig dat dit definitief nie deur “design” is nie.

     

     

    Kleinkoos

  • Kobus de Klerk

    Kleinkoos,

    Jy verstaan opsetlik nie die verskil tussen spesies en genusse nie  - jou antwoord hierbo is verstommend insigloos en jy gaan nie by die ambulocletus bedrog verbykom nie - fotos doen nie die ding nie - die kunstenaar wat onverwante bene rangskik om sy hipotese te pas is bied geen wetenskaplike bewys nie net van sy kunstigheid om te mislei.

    Ek wil die foto sien van die ambulocletus met swemvinne aan, asseblief,  asook die longstruktuur van 'n waterdier.

    Natuurlik moet spesies van een soort na 'n ander oorgaan, om julle snert te laat werk, maar daar is geen teken daarvan nie. Wat die genusse aanbetref, is ambulocletus die voorbeeld van die bedrog wat daar aangaan en wat met klei en hipotese aanmekaar geplak word.

    Dus, jou reeksie briewe ten spyt, het jy absoluut geen vordering gemaak nie.

    En wat is 'n 'erkende universiteit' vir julle? Is daardie eenvoudige vraag ook bokant jul vuurmaakplek?

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top