Toe die trompetgeskal weerklink, is alles
op aarde reggekry
en het Jehova die wêreld uitgedeel
aan Coca-Cola Inc, Anaconda,
Ford Motors, en ander entiteite:
die Vrugtemaatskappy Bpk
het die sappigste vir homself gereserveer,
die sentrale kus van my land,
die soet middellyf van Amerika.
So is die lande herdoop
tot “Piesang Republieke”,
en op die slapende dooies,
op die rustelose helde
wat grootsheid verower het,
vryheid en vlae,
is ‘n klugspel tot stand gebring:
dit het eerste wense vervreem,
krone van Caesar as geskenke gegee,
afguns uit die skede getrek,
die diktatuur van die vlieë aangelok,
Trujillo-vlieë, Tachos-vlieë,
Carias-vlieë, Martinez-vlieë,
Ubico-vlieë, vlieë nat
van nederige bloed en lemoenkonfyt,
dronk vlieë wat gons
by gewone grafte,
sirkusvlieë, geleerde vlieë
bedrewe in tirannie.
Tussen die bloeddorstige vlieë
stap die Maatskappymense aan wal,
hul bote propvol gelaai gly weg soos skinkborde
met die skat koffie en vrugte
van ons versonke lande.
Intussen, langs die versuikerde
dieptes van die hawens,
slaan Indiane neer, begrawe
in die oggendmis:
‘n liggaam rol, ‘n ding
sonder naam, ‘n gevalle nommer,
‘n tros dooie vrugte
stort oor in die hoop vrotgoed.
(Oorspronklike gedig deur Pablo Neruda uit Canto general, 1950. Vertaal deur Waldemar Gouws)

