Die uitwerking van ’n bevel vir skuldherstrukturering op ’n kredietgewer se reg op skuldafdwinging waar kennis van beëindiging van skuldhersiening voor verlening van die bevel gegee is

  • 0

Abstract

The effect of a debt restructuring order on a credit provider’s right to debt enforcement where notice of termination of debt review was given before granting of the order

Although the court did not refer to or deal with it explicitly, the legal question in Raheman concerned the way in which the credit provider’s right to debt enforcement is affected by a debt restructuring order in a case where the debt review was terminated in terms of section 86(10) of the National Credit Act before granting of the order. The author suggests that the answer to this question depends on the legal position pertaining to the following issues: (i) The moratorium on debt enforcement and the interrelationship between sections 88(3) and 86(10); (ii) the requirements for a notice of termination and the interrelationship between section 86(10), 5(b) and (11); and (iii) the legal effect of a notice of termination and the interrelationship between sections 86(10), (5)(b), (11), 87(1) and 130(1)(a). The aim of this case note is to discuss and analyse the facts and decision in Raheman with reference to the above-mentioned issues. The author concludes that the result of the decision in Raheman, although clearly inconsistent with the decision of the supreme court of appeal in Collett v Firstrand Bank Ltd 2011 4 SA 508 (SCA), is correct. However, there are several gaps in the decision. The reasons for the decision are not clear and the relevant issues and the interrelationship between the applicable sections of the National Credit Act are not properly explained. The author concludes that the apparent inconsistency between the decision of the high court in Raheman and that of the SCA in Collett indicates that the uncertainties with regard to termination in terms of section 86(10) have by no means been clarified and that they should be urgently addressed by legislative amendment.  

1. Inleiding

Alvorens die uitspraak in Firstrand Bank v Raheman1 bespreek en ontleed word, is dit dienstig om eers ter agtergrond die tersaaklike bepalings van die National Credit Act2 (NCA) kortliks te bespreek.

Een van die oogmerke van die Nasionale Kredietwet is om skuldverligting3 aan ’n verbruiker wat skuldmatig oorbelas4 is, te verleen deur hom of haar in staat te stel om by ’n skuldberader vir die hersiening van sy of haar skuldverpligtinge ingevolge kredietooreenkomste soos in die wet omskryf,5 aansoek te doen.6 By ontvangs van die aansoek moet die skuldberader alle kredietgewers wat in die aansoek gelys is, op die voorgeskrewe wyse en vorm van die aansoek in kennis stel7 en daarna, binne ’n tydperk van 30 dae, ’n bepaling maak of dit voorkom dat die verbruiker skuldmatig oorbelas is.8 Indien die skuldberader bevind dat die verbruiker skuldmatig oorbelas  is,9 sal die skuldberader ’n voorstel vir die herstrukturering van die verbruiker se skuldverpligtinge opstel en aan alle kredietgewers vir oorweging stuur. Daar dien op gelet te word dat die Nasionale Kredietwet nie enige onderhandelinge vereis met betrekking tot verbruikers wat skuldmatig oorbelas bevind word nie.10 In die praktyk verkies skuldberaders egter om met kredietgewers te onderhandel in die hoop dat ’n skikking met hulle bereik kan word. Onderhandelinge word ook onderneem ooreenkomstig die verpligting van die verbruiker en kredietgewers ingevolge artikel 86(5)(b) om in goeie trou aan die skuldhersieningsproses en enige onderhandelinge wat verantwoordelike skuldherstrukturering ten doel het, deel te neem.11 Indien die partye egter nie ’n ooreenkoms bereik nie, moet12 die skuldberader ’n aansoek13 ingevolge artikel 87(1) voor die landdroshof bring vir ’n bevel ingevolge waarvan die verbruiker skuldmatig oorbelas verklaar word en een of meer van sy of haar skuldverpligtinge ooreenkomstig die voorstel van die skuldberader herstruktureer word.14

Artikel 88(3) beskerm die verbruiker deur in bepaalde gevalle ’n moratorium op ’n kredietgewer se reg op skuldafdwinging te plaas. Solank as wat die verbruiker aan skuldhersiening onderhewig is,15 of ’n hofbevel of ooreenkoms vir skuldherstrukturering op hom of haar van toepassing is en hy of sy dit getrou nakom,16 mag ’n kredietgewer nie enige van sy regte ingevolge ’n kredietooreenkoms afdwing nie. Artikel 88(3) is onderhewig aan artikel 86(10), wat aan ’n kredietgewer die reg verleen om aan die verbruiker kennis te gee dat die skuldhersieningsproses beëindig word. Hierdie subartikel bepaal dat indien ’n verbruiker in versuim17 is met betrekking tot ’n kredietooreenkoms wat aan skuldhersiening ingevolge artikel 86 onderhewig is, die kredietgewer ten opsigte van daardie kredietooreenkoms op die voorgeskrewe wyse kennis mag gee met die doel om die skuldhersiening te beëindig. Kennis moet aan die verbruiker, skuldberader en die nasionale kredietreguleerder gegee word en kan te eniger tyd, maar minstens 60 besigheidsdae ná die datum waarop die verbruiker vir skuldhersiening aansoek gedoen het, gegee word. Artikel 130(1)(a) bepaal verder dat ’n kredietgewer die hof vir ’n bevel om die afdwinging van ’n kredietooreenkoms mag nader slegs indien die verbruiker op daardie tydstip in versuim is en reeds minstens 20 besigheidsdae in versuim was. Verder moet minstens 10 besigheidsdae verstryk het sedert die kredietgewer die kennisgewing ingevolge artikel 86(10) gelewer het.

’n Kennisgewing van beëindiging ingevolge artikel 86(10) beteken egter nie dat dit die verbruiker se laaste geleentheid is om skuldverligting te bekom nie.18 Artikel 86(11) bepaal dat die landdroshof wat die saak aanhoor, ’n bevel vir die hervatting van die skuldhersiening mag verleen indien ’n kredietgewer sou voortgaan om ’n kredietooreenkoms af te dwing nadat kennis van beëindiging ingevolge artikel 86(10) gegee is.

Alhoewel die hof dit nie uitdruklik vermeld of aangespreek het nie, was die regsvraag in Raheman hoe die kredietgewer se reg om ’n skuld af te dwing deur ’n bevel vir herstrukturering geraak word in ’n geval waar die skuldhersiening reeds voor verlening van die herstruktureringsbevel beëindig is. Die antwoord hierop hang van die regsposisie met betrekking tot die volgende aangeleenthede af:

  1. Die moratorium op skuldafdwinging en die wisselwerking tussen artikels 88(3) en 86(10).
  2. Die vereistes vir ’n kennisgewing van beëindiging en die wisselwerking tussen artikel 86(10), (5)(b) en (11).
  3. Die regsgevolge van ’n kennisgewing van beëindiging en die wisselwerking tussen artikels 86(10), (5)(b), (11), 87(1) en 130(1)(a).

Die doel van hierdie bydrae is om die feite en beslissing in Raheman met verwysing na bovermelde aangeleenthede te bespreek en te ontleed.

2. Feite

Die eiser het aksie teen die verweerders ingestel vir die betaling van ’n bedrag van ongeveer R220 000 plus rente, asook vir ’n bevel dat die onroerende eiendom wat as sekuriteit vir die skuld gedien het, vir eksekusie vatbaar verklaar word.19 Die verweerders het erken dat hulle versuim het om die nodige paaiemente ingevolge die verbandooreenkoms te betaal,20 maar het ’n spesiale pleit geopper waaruit die volgende feite geblyk het:21

  1. Op 2010-01-08 het die verweerders vir skuldhersiening ingevolge artikel 86 van die Nasionale Kredietwet aansoek gedoen.
  2. Op 2010-02-15 het die verweerders se skuldberader ’n voorstel aan die eiser gestuur vir die terugbetaling van die bedrae verskuldig ingevolge die verbandooreenkoms.
  3.  Op 2010-03-04 het die verweerders ’n hersiene voorstel aan die eiser gestuur ingevolge waarvan ’n verhoogde bedrag aan die eiser betaal sou word.
  4.  Die eiser het nie teen die hersiene voorstel beswaar gemaak nie en het ook nie enige teenvoorstel met betrekking daartoe gemaak nie.
  5. Die verweerders het gevolglik voortgegaan om maandelikse betalings ooreenkomstig die hersiene voorstel te maak.
  6.  ’n Aansoek om die voorstel ’n bevel van die hof te maak, is voor die Durbanse landdroshof gebring. Op 2010-05-10 het die hof ’n bevel verleen wat die gemeenskaplike boedel van die verweerders ingevolge artikel 79 van die Nasionale Kredietwet skuldmatig oorbelas verklaar het. Die hof het verder beveel dat die verweerders se skuldverpligtinge jeens twee van die vyf kredietgewers wat in die voorstel vervat is, ooreenkomstig sodanige voorstel en ingevolge artikel 86 en 87 van die Nasionale Kredietwet herstruktureer moet word.

Dit blyk nie duidelik uit die hofverslag of die eiser inderdaad een van die kredietgewers was ten opsigte van wie die bevel vir skuldherstrukturering verleen is nie. Die hofverslag vermeld slegs dat die landdroshof beveel het dat die verweerders se verpligting teenoor die derde en sewende respondente ingevolge artikels 86 en 87 en ooreenkomstig aanhangsel “A” herstruktureer moet word.22 Dit blyk egter later uit die uitspraak dat die herstruktureringsbevel wel ten opsigte van die verweerders se skuldverpligtinge jeens die eiser verleen is.

Die eiser het beweer dat dit die skuldhersiening ingevolge artikel 86(10) beëindig het en dat ’n kennisgewing te dien effekte op 2010-04-13 per vooruitbetaalde geregistreerde pos aan die verweerders gestuur is.23

3. Regsvraag

Volgens regter Mokgohloa is die regsvraag of die kredietgewer die skuldhersiening ingevolge artikel 86(10) kon beëindig nadat die skuldberader die saak reeds na die landdroshof verwys het.24 Dit blyk egter nie uit die hofverslag op welke datum die aansoek voor die landdroshof gebring is nie. Dit vermeld net dat ’n bevel op 2010-05-10 verleen is.25 Die regsvraag soos deur die hof geformuleer, blyk egter nie die werklike vraag te wees waaroor die hof moet beslis nie. Die hoogste hof van appèl het onlangs in Collett v Firstrand Bank Ltd26 beslis dat ’n kredietgewer steeds die proses van skuldhersiening mag beëindig selfs waar die skuldberader die saak reeds ingevolge artikel 87 na die landdroshof vir ’n herstruktureringsbevel verwys het.27 Regter Mokgohloa verwys na dié beslissing en haal ook die redes daarvoor sonder verdere bespreking aan.28

4. Uitspraak

Regter Mokgohloa maak ten aanvang die volgende stelling: “In casu, not only is the matter pending before the magistrate, an order has been made in terms of ss 86 and 87 to rearrange the debt.”29 Die regter weerspreek homself oënskynlik hier. Dit is nie duidelik hoe ’n saak hangende, maar terselfdertyd ook afgehandel kan wees nie. Sodra ’n bevel vir skuldherstrukturering verleen is, is die saak immers afgehandel en kan dit nie meer hangende wees nie. Klaarblyklik bedoel die hof dat die feite in Raheman van dié in Collett onderskei moet word omdat ’n bevel vir herstrukturering in Raheman reeds verleen is, terwyl die aansoek vir herstrukturering in Collett nog hangende was toe die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging ingestel het.

Die hof meld verder dat die eiser geen bewering gemaak het dat die verweerder in versuim was met betrekking tot die hofbevel wat op 2010-05-10 verleen is nie.30 Die hof kom dus tot die gevolgtrekking dat die eiser nie geregtig is om enige reg kragtens die kredietooreenkoms by wyse van gedingvoering uit te oefen of af te dwing nie.31

Omdat die eiser versuim het om op die skuldberader se voorstelle te antwoord, het die verweerders die hof versoek om ’n bestraffende kostebevel teen die eiser te verleen. Die verweerders het aangevoer dat die eiser in stryd met artikel 86(5) opgetree het en roekeloos was deur nie hulle samewerking te verleen nie.32 Met laasgenoemde bewering stem die hof saam.33 Die hof wys daarop dat dit op versoek van die verbruiker kan beveel dat die skuldhersiening hervat word indien die kredietgewer sou versuim om sy samewerking ingevolge artikel 86(5) te verleen.34 Die hof wys egter daarop dat die verweerders nie sodanige versoek gerig het nie omdat die landdroshof reeds ’n bevel ingevolge artikels 86 en 87 verleen het.35

Ten slotte beslis die hof dat die versuim van die eiser om aan die verrigtinge vir skuldhersiening deel te neem roekeloos was, maar nie in die mate dat ’n bestraffende kostebevel teen die eiser verleen moet word nie.36 Die eis word met koste afgewys.

5. Ontleding van die uitspraak

5.1 Moratorium op skuldafdwinging

Soos reeds vermeld, beslis die hof dat die eiser vanweë die bevel vir herstrukturering nie geregtig was om met skuldafdwinging voort te gaan nie. Die hof steun klaarblyklik op die bepalings van artikel 88(3) wat die hof vroeër in sy uitspraak aanhaal.37 Die tersaaklike gedeeltes van artikel 88(3) lui soos volg:38

Subject to section 86 (10), a credit provider who receives … notice in terms of section 86(4)(b)(i), may not exercise or enforce by litigation or other judicial process any right or security under that credit agreement until –

  1. the consumer is in default under the credit agreement; and
  2. one of the following has occurred:
    1. the consumer defaults on any obligation in terms of a rearrangement … ordered by the court or the Tribunal.

Die hof spreek egter nie die feit aan dat die kredietgewer reeds voor verlening van die bevel vir herstrukturering ’n kennisgewing vir die beëindiging van die skuldhersiening ingevolge artikel 86(10) gegee het nie. Aangesien artikel 88(3) aan artikel 86(10) onderworpe is,39 wil dit voorkom dat ’n kredietgewer met skuldafdwinging mag voortgaan sodra hy of sy ingevolge artikel 86(10) kennis gegee het dat hy of sy die hersiening beëindig en sodra hy of sy aan die vereistes van artikel 130(1)(a) voldoen het.40

Die vraag ontstaan of die hof dalk van mening is dat die kennisgewing ingevolge artikel 86(10) ongeldig was vanweë die eiser se versuim om op die skuldberader se voorstelle vir skuldherstrukturering te antwoord en dat die eiser derhalwe in stryd met sy verpligting ingevolge artikel 86(5)(b) om in goeie trou aan die skuldhersieningsproses deel te neem, opgetree het.41

5.2 Vereistes vir kennisgewing van beëindiging

Artikel 86(10) verleen aan ’n kredietgewer kragtens ’n kredietooreenkoms wat aan skuldhersiening ingevolge artikel 86 onderhewig is, die reg om op die voorgeskrewe wyse42 kennis te gee dat die hersiening beëindig word. Artikel 86(10) lui soos volg:

If a consumer is in default under a credit agreement that is being reviewed in terms of this section, the credit provider in respect of that credit agreement may give notice to terminate the review in the prescribed manner to –

  1. the consumer;
  2. the debt counsellor; and
  3. the National Credit Regulator,
  4. at any time at least 60 business days after the date on which the consumer applied for the debt review.

Die volgende vereistes word dus ingevolge artikel 86(10) vir ’n geldige kennisgewing van beëindiging gestel:

  1. Die verbruiker moet in versuim wees met betrekking tot die kredietooreenkoms wat hersien word.43
  2. Kennis moet aan die verbruiker, skuldberader en Nasionale Kredietreguleerder gegee word.44
  3. Die kennisgewing moet minstens 60 dae na die datum waarop die verbruiker vir skuldhersiening aansoek gedoen het, gegee word.

Die vraag ontstaan of dit ’n vereiste is dat ’n kennisgewing van beëindiging, bykomend tot die vereistes wat uitdruklik ingevolge artikel 86(10) gestel word, te goeder trou moet wees ten einde regsgeldig te wees. In SA Taxi Securitisation (Pty) Ltd v Mbatha45 wys waarnemende regter Levenberg daarop dat die Nasionale Kredietwet nie enige strafmaatreël voorskryf met betrekking tot ’n kredietgewer wat nie in goeie trou aan die skuldhersieningsproses deelneem nie. Die hof beslis dat artikel 86(10) nie enige beperking op die kredietgewer se reg plaas om ingevolge hierdie subartikel kennis te gee nie en dat die kredietgewer kennis mag gee mits die verbruiker in versuim is en 60 besigheidsdae verstryk het sedert die skuldhersieningsproses ’n aanvang geneem het.46 Die hof beslis verder dat die kredietgewer se reg om kennis te gee nie wederkerig tot sy of haar verpligting ingevolge artikel 86(5) om in goeie trou op te tree, blyk te wees nie.47 Die hof wys daarop dat indien ’n kredietgewer versuim om aan die goeie-trou-bepalings te voldoen, ’n landdroshof mag beveel dat die skuldhersieningsproses hervat word en dat die kredietgewer dan ’n verdere 60 dae sal moet wag alvorens die kredietgewer sy regte kan afdwing. Indien sodanige bevel egter nie verleen word nie, is daar niks wat die kredietgewer verhoed om sy regte om die skuld af te dwing, uit te oefen nie mits aan die vereistes van artikel 86(10) voldoen word.48

Dit is nie duidelik of die hof van mening is dat die landdroshof wat die aansoek vir skuldherstrukturering aanhoor, of die hof wat uiteindelik die saak vir skuldafdwinging aanhoor, die bevoegdheid het om ’n aansoek vir hervatting van die skuldhersieningsproses aan te hoor nie. Die toepaslike bepaling is artikel 86(11), wat soos volg lui:49

If a credit provider who has given notice to terminate a review as contemplated in subsection (10) proceeds to enforce that agreement in terms of Part C of Chapter 6, the Magistrate’s Court hearing the matter may order that the debt review resume on any conditions the court considers to be just in the circumstances.

Die bewoording van artikel 86(11) dui daarop dat hierdie bepaling van toepassing kan wees eers sodra die kredietgewer verrigtinge vir die afdwinging van die kredietooreenkoms instel, en dat net die hof wat die saak vir skuldafdwinging aanhoor, ’n bevel kan verleen dat die verrigtinge vir skuldhersiening hervat word.50 Dit is ook deur die appèlhof in Collett bevestig.51 Die appèlhof wys daarop dat die hof wat die saak vir skuldafdwinging aanhoor, die hoë hof of die landdroshof mag wees. Artikel 86(10) verwys egter geensins na die hoë hof nie en derhalwe kom die hof tot die gevolgtrekking dat daar ’n leemte in die wet is wat reggestel behoort te word deur die woorde “of hoë hof” in artikel 86(11) in te voeg.52

In teenstelling met die uitspraak in Mbatha beslis regter Blignaut in Dunga53dat dit noodsaaklik is om ’n voorbehoudsbepaling in artikel 86(10) in te voeg, naamlik dat ’n kredietgewer ’n skuldhersiening mag beëindig net indien hy te goeder trou optree. Met verwysing na die beslissing van die konstitusionele hof in Masetlha v President of the Republic of South Africa54 verduidelik regter Blignaut dat die toets vir die invoeging van woorde in wetgewing by implikasie is of dit noodsaaklik is in die sin dat daarsonder nie aan die wetgewing gevolg gegee kan word nie. Daarbenewens moet dit noodsaaklik wees om die oënskynlike bedoeling van die wetgewer te verwesenlik of uitvoerbaar te maak.55 Volgens regter Blignaut is die oogmerk van die wetsbepalings met betrekking tot skuldhersiening duidelik “the provision of assistance to an overindebted consumer in an environment that encourages participation in good faith by both parties”.56 Volgens regter Blignaut sal ’n letterlike uitleg van artikel 86(10) tot gevolg hê dat ’n kredietgewer die proses mag beëindig nadat aan net twee vereistes voldoen is: eerstens, dat die verbruiker in versuim ingevolge ’n kredietooreenkoms moet wees, en tweedens, dat die voorgeskrewe tydperk van 60 besigheidsdae moet verstryk het. Ten spyte van die moontlike onredelikheid van die verbruiker of die kredietgewer se eie optrede kan ’n kredietgewer dus deur middel van ’n enkele eensydige handeling die hele proses laat ontspoor.57 Volgens die hof verleen artikel 86(11) nie genoegsame beskerming teen die negatiewe gevolge wat uit ’n letterlike uitleg van artikel 86(10) voortspruit nie.58 Die hof meen verder dat dit in die verbruiker se belang is dat die hersiening so gou moontlik hervat word. ’n Letterlike uitleg sal egter beteken dat die verbruiker vir die kredietgewer moet wag om met skuldafdwinging voort te gaan.59 Dit is so omdat, soos reeds hier bo verduidelik,60 net die hof wat die saak vir skuldafdwinging aanhoor, die bevel ingevolge artikel 86(11) kan verleen.61 Volgens regter Blignaut sal die verbruiker moet bewys dat daar minstens ’n kans op sukses in die aansoek vir skuldhersiening sal wees indien die voldoening aan die goeie-trou-vereiste ingevolge artikel 86(5) eers by ’n versoek ingevolge artikel 86(11) oorweeg kan word. Die partye sal met tydrowende, duur en vir baie verbruikers onbekostigbare gedingvoering gemoeid wees, terwyl dit die einste gevolg is wat die skuldhersieningsproses beoog om te vermy.62 Die invoeging van ’n voorbehoudsbepaling in artikel 86(10) sal volgens die hof in ooreenstemming met die doel van die skuldhersieningsproses wees en die negatiewe gevolge van ’n letterlike uitleg vermy. Verder sal dit nie die uitvoerbaarheid van artikel 86(10) beïnvloed nie en inpas by die taalgebruik van artikel 86 in sy geheel en by dié van artikel 86(5)(b) in die besonder.63

Soos reeds vermeld, koppel artikel 86(5) nie enige uitdruklike strafmaatreël aan die nienakoming van die goeie-trou-vereiste nie.64 In ooreenstemming met die uitlegreël dat die wetgewer nie bedoel om betekenislose of doellose wetsbepalings daar te stel nie, moet een of ander oogmerk of betekenis aan hierdie bepaling geheg word.65 Die bedoeling van die wetgewer met betrekking tot die vraag of die goeie trou van die kredietgewer ’n voorvereiste vir die geldigheid van ’n kennisgewing van beëindiging ingevolge artikel 86(10) is, moet egter in samehang met die vraag oor die gevolge van ’n kennisgewing van beëindiging beantwoord word.

5.3 Gevolge van kennisgewing van beëindiging

Die feite in Raheman dui daarop dat die landdroshof’n bevel vir die herstrukturering van die verweerders se skuldverpligtinge jeens die eiser verleen het, ten spyte daarvan dat die eiser reeds vooraf ’n kennisgewing vir die beëindiging van die skuldhersiening gegee het. Artikel 86(10) bepaal dat ’n kredietgewer “may give notice to terminate the review” en die vraag ontstaan dus of sodanige kennisgewing ’n beëindiging van die skuldhersieningsproses tot gevolg het en derhalwe ’n daaropvolgende bevel ingevolge artikels 86 en 87 vir die herstrukturering van die betrokke skuldverpligting verhoed. Klaarblyklik meen die hof in Raheman dat dit nie die geval is nie, want die hof beslis uiteindelik dat die eiser juis vanweë die bevel vir herstrukturering nie geregtig is om met verrigtinge vir die afdwinging van die skuld voort te gaan nie.66 Die hof bevind verder dat ’n bevel vir die hervatting van die skuldhersiening ingevolge artikel 86(11) onnodig is omdat die landdroshof reeds ’n bevel ingevolge artikels 86 en 87 vir die herstrukturering van die skuldverpligtinge verleen het.67

Dat ’n kennisgewing van beëindiging ingevolge artikel 86(10) nie ’n daaropvolgende bevel vir herstrukturering ingevolge artikels 86 en 87 verhoed nie, blyk ook uit die beslissing van waarnemende regter Phalatsi in Firstrand Bank Ltd v Britz.68 Volgens die regter is ’n kennisgewing van beëindiging van nul en gener waarde indien ’n bevel vir herstrukturering daarna verleen word.69 Na aanleiding van die beslissings in Raheman en Britz wil dit dus voorkom dat die doel van ’n kennisgewing van beëindiging bloot is om die kredietgewer in staat te stel om verrigtinge vir die afdwinging van ’n kredietooreenkoms in te stel en dat dit in werklikheid nie die skuldhersiening met betrekking tot die betrokke kredietooreenkoms beëindig nie.

In teenstelling met die beslissings in Raheman en Britz beslis regter Murphy in Changing Tides 17 (Pty) Ltd v Grobler70 dat ’n landdroshof nie bevoeg is om ’n bevel vir die herstrukturering van die verbruiker se skuldverpligtinge te verleen indien die kredietgewer reeds vooraf ’n kennisgewing van beëindiging gegee het nie. Regter Murphy meen dit is die geval omdat net die hof wat die verrigtinge vir skuldafdwinging aanhoor, die bevoegdheid het om ’n bevel vir hervatting van die skuldhersiening te verleen.71

In Wesbank v Martin72 beslis regter Binns-Ward dat ’n kennisgewing ingevolge artikel 86(10) nie tot gevolg het dat die skuldhersiening daardeur beëindig word nie. Die gevolg van sodanige kennisgewing is volgens die hof eerder om ’n tydperk van kennis daar te stel wat die kredietgewer by verstryking daarvan in staat stel om, ten spyte van die skuldhersiening, verrigtinge vir die invordering van die skuld in te stel. Die hof wys daarop dat die kennisgewingstydperk ingevolge artikel 130(1)(a) ten minste 10 besigheidsdae is.73 Nóg artikel 86(10), nóg artikel 130(1)(a) dui egter enigsins aan wat die doel van die kennisgewingstydperk van 10 dae is.74

Volgens regter Binns-Ward vind werklike beëindiging, soos in die kennisgewing ingevolge artikel 86(10) beoog, eers plaas wanneer die kredietgewer die verrigtinge vir skuldafdwinging instel nadat sodanige kennis gegee is. Die hof wys verder daarop dat die beëindiging net op die skuldverpligting met betrekking waartoe die kennisgewing van beëindiging gegee is, van toepassing is. Indien die skuldhersiening dus ook op ander skuldverpligtinge van toepassing is, sal die hersiening ten opsigte van daardie ander skuldverpligtinge voortgaan tensy dit op dieselfde wyse beëindig word.75 Alhoewel die wet nie uitdruklik hiervoor voorsiening maak nie, volg dit volgens die hof by noodsaaklike implikasie uit die uitdruklike bepalings van die wet.76

In ’n vroeër uitspraak van regter Binns-Ward in Changing Tides 17 (Pty) Ltd v Erasmus77 beslis die hof dat die oogmerk van artikel 86(10) klaarblyklik is om die kredietgewer in staat te stel om op stiptelike nakoming van die voorgeskrewe tydperke ingevolge die skuldhersieningsproses aan te dring en om aan die kredietgewer die reg te verleen om met skuldafdwinging voort te gaan indien die verbruiker sou versuim om aan die vereistes van die proses te voldoen.78 Volgens die hof is die voor die hand liggende oogmerk van die kennisgewing ingevolge artikel 86(10) eerstens om die verbruiker en/of die skuldberader in staat te stel, indien dit nog nie gedoen is nie, om ’n dringende aansoek ingevolge artikel 86(7)(c) of 86(8)(b) voor die landdroshof te bring, of tweedens, indien ’n aansoek reeds hangende is, om die landdros te nader vir ’n bevel dat die skuldhersiening ingevolge artikel 86(11) hervat word. Die regter meld dat hy aan geen ander rede vir die vereiste kennisgewingstydperk van 10 besigheidsdae ingevolge artikel 130(1)(a) kan dink nie.79

In ooreenstemming met die uitlegreël hier bo vermeld met betrekking tot artikel 86(5), dat die wetgewer nie bedoel om betekenislose of doellose wetsbepalings daar te stel nie, moet een of ander oogmerk of betekenis ook aan die kennisgewingstermyn ingevolge artikel 130(1)(a) geheg word.80

Soos reeds verduidelik, kan ’n bevel vir die hervatting van die skuldhersieningsproses ingevolge artikel 86(11) nie tydens die verhoor met betrekking tot die verlening van ’n bevel vir herstrukturering ingevolge artikel 87 verleen word nie.81 Regter Binns-Ward se verduideliking dat die doel van die kennisgewingstydperk is om die verbruiker in staat te stel om die landdros wat die aansoek vir skuldherstrukturering aanhoor vir ’n bevel ingevolge artikel 86(11) te nader, is dus nie korrek nie.82 So ook nie die regter se beslissing in Martin83 dat ’n bevel ingevolge artikel 86(11) net tydens die verhoor ingevolge artikel 87 deur die landdroshof verleen kan word en dat ’n hervatting dus nie meer moontlik is sodra die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging ingestel het nie. Regter Binns-Ward se verklaring, naamlik dat die doel met die kennisgewingstydperk is om die verbruiker in staat te stel om, ten spyte van die kennisgewing ingevolge artikel 86(10), steeds ’n aansoek vir skuldherstrukturering te bring voordat die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging instel, blyk egter sinvol te wees. Dit sal dan nie nodig wees dat die verbruiker eers moet wag dat die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging instel en dan ’n versoek vir die hervatting van die skuldhersiening rig nie.84 In die uitoefening van sy diskresie met betrekking tot die verlening van die bevel vir herstrukturering sal die landdroshof dan moontlike getuienis dat ’n kennisgewing van beëindiging nie aan die goeie-trou-vereiste ingevolge artikel 86(5) voldoen nie, in ag kan neem. Dit blyk egter nie uit die feite in Raheman of die landdroshof enigsins aan die nakoming van die goeie-trou-vereiste oorweging geskenk het nie. Dit wil verder voorkom of regter Mokgohloa van mening is dat die kennisgewing van beëindiging van nul en gener waarde is bloot omdat ’n herstruktureringsbevel daarna deur die landdroshof verleen is.85

In Firstrand Bank Ltd v Seyffert86 beslis regter Willis dat artikel 86(10), indien dit saam met artikel 86(11) gelees word, klaarblyklik bepaal dat ’n kennisgewing van beëindiging nie noodwendig die proses beëindig nie, maar dat dit bloot hierdie gevolg mag hê. Volgens die hof dui ’n “kennisgewing” op ’n bedoeling of ’n voorafgaande stap jeens ’n gevolg, eerder as die gevolg op sigself. Die uiteindelike gevolg van sodanige kennisgewing van beëindiging hang volgens die hof af van die mate van goeie trou wat die partye teenoor mekaar getoon het, van die mate waarin hulle sinvolle, billike en redelike voorstelle gemaak het, en die mate waarin hulle hulself daadwerklik verbind het om ’n haalbare oplossing vir die probleme van die betrokke verbruiker te vind.87

Die feit dat regter Willis artikel 86(10) in samehang met artikel 86(11) uitlê, dui egter daarop dat die hof van mening is dat die versuim van ’n kredietgewer om in goeie trou met betrekking tot ’n kennisgewing van beëindiging op te tree, eers ter sprake kan kom wanneer verrigtinge vir skuldafdwinging ingestel word en ’n versoek vir hervatting ingevolge artikel 86(11) gerig word, en dat ’n herstruktureringsbevel dus nie ná ’n kennisgewing van beëindiging moontlik is nie.88 Dit blyk ook die standpunt van die appèlhof in Collett te wees.89 Appèlregter Malan wys daarop dat die reg van ’n kredietgewer om die skuldhersieningsproses te beëindig, opgeweeg moet word teen die bevoegdheid van die hof om ingevolge artikel 86(11) ’n bevel vir die hervatting van die skuldhersiening te verleen. Volgens die appèlhof is dit op hierdie tydstip dat voldoening aan die vereistes van artikel 86(5) om in goeie trou aan die proses deel te neem, ter sprake kom. Indien die kredietgewer weier of versuim om aan die hersiening deel te neem, is die hof bevoeg om ’n bevel vir die hervatting van die proses te verleen. Sou die kredietgewer egter weens gegronde redes tot die slotsom kom dat die voorgestelde herstrukturering nie tot die “satisfaction by the consumer of all responsible financial obligations” ingevolge artikel 3(g) en (i) of tot ’n herstrukturering soos bedoel in artikel 86(7)(c) sal lei nie, sal die hof heel moontlik weier om ’n hervatting te beveel.90 Die gebrek aan goeie trou aan die kant van die kredietgewer is dus volgens die hof nie die enigste faktor wat by ’n versoek vir hervatting oorweeg moet word nie.91

Soos reeds vermeld, het regter Mokgohloa klaarblyklik die feite in Raheman van dié in Collett onderskei op grond daarvan dat die aansoek vir herstrukturering in Collett steeds hangende was, terwyl die herstruktureringsbevel in Raheman ingevolge artikels 86 en 87 reeds deur die landdroshof verleen is toe die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging ingestel het.92 Wat die gevolge van ’n kennisgewing van beëindiging betref, beslis appèlregter Malan egter dat artikel 86(10) die reg aan ’n kredietgewer verleen93

to terminate the debt review relating to a specific credit agreement (“[i]f a consumer is in default under a credit agreement that is being reviewed”), not the “hearing”. The hearing continues and, if several credit agreements are being reviewed, continues in respect of the others.

Dit wil dus voorkom of die appèlhof van mening is dat ’n kennisgewing ingevolge artikel 86(10) nie bloot net ’n kennisgewing van ’n voorgenome beëindiging daarstel nie, maar inderdaad die skuldhersiening beëindig en die verlening van ’n bevel vir herstrukturering verhoed.94 Die beslissing in Raheman dat ’n herstruktureringsbevel ten spyte van ’n beëindiging ingevolge artikel 86(10) verleen kan word, is dus klaarblyklik in stryd met dié van die appèlhof.

Ek kan egter nie insien waarom ’n versuim om in goeie trou met betrekking tot ’n kennisgewing van beëindiging ingevolge artikel 86(10) op te tree, net by ’n versoek vir die hervatting van die skuldhersiening ingevolge artikel 86(11), en dus nadat die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging ingestel het, in ag geneem kan word nie. Dit is nie duidelik waarom die verbruiker eers moet wag dat die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging instel nie,95 terwyl die landdroshof sodanige versuim reeds tydens die verhoor ingevolge artikel 87 in ag kan neem wanneer die hof buitendien, soos in die geval van ’n versoek ingevolge artikel 86(11),96 met die vraag moet handel of die voorgestelde herstrukturering aan die vereistes ingevolge artikels 3(g) en (i) en 86(7)(c) voldoen. Hierdie uitleg blyk uit artikel 87(1), wat soos volg lui:97

If a debt counsellor makes a proposal to the Magistrate’s Court in terms of section 86(8)(b), or a consumer applies to the Magistrate’s Court in terms of section 86(9), the Magistrate’s Court must conduct a hearing and, having regard to the proposal and information before it and the consumer’s financial means, prospects and obligations, may –

a. reject the recommendation or application as the case may be;

or

b. make –

  1. an order declaring any credit agreement to be reckless, and an order contemplated in section 83(2) or (3), if the Magistrate’s Court concludes that the agreement is reckless;
  2. an order re-arranging the consumer’s obligations in any manner contemplated in section 86(7)(c)(ii); or
  3. both orders contemplated in subparagraph (i) and (ii).

Dit is tog in die verbruiker en kredietgewer se belang dat ’n hof so gou moontlik uitsluitsel gee oor die tersaaklike vraagstukke, insluitend dié met betrekking tot die goeie trou van die partye. ’n Uitleg dat die landdroshof reeds tydens die verhoor ingevolge artikel 87 met al hierdie vraagstukke kan handel, ten spyte van ’n kennisgewing ingevolge artikel 86(10) en mits die kredietgewer nog nie verrigtinge vir skuldafdwinging ingestel het nie, sal verder ook ’n verklaring vir die doel van die kennisgewingstydperk van 30 dae ingevolge artikel 130(1)(a) bied.98 In hierdie verband is dit ook noemenswaardig dat artikel 86(10) net vereis dat kennis aan die verbruiker, skuldberader en die Nasionale Kredietreguleerder en nie aan die hof gegee moet word nie.99 Hierdie feit versterk die uitleg dat ’n bevel vir herstrukturering ten spyte van ’n kennisgewing ingevolge artikel 86(10) moontlik moet wees.

6. Gevolgtrekking

Ek is nie oortuig daarvan dat dit noodsaaklik is om ’n voorbehoudsbepaling, naamlik dat ’n kredietgewer ’n skuldhersiening regsgeldig mag beëindig net indien hy te goeder trou optree, in artikel 86(10) in te voeg nie.100 Die versuim van die kredietgewer om in goeie trou aan die proses deel te neem, is bloot ’n faktor wat die landdroshof tydens ’n verhoor ingevolge artikel 87, wanneer die hof sy diskresie met betrekking tot die verlening van ’n herstruktureringsbevel uitoefen, in ag kan neem. By die verhoor ingevolge artikel 87 is dit nie nodig dat die landdroshof vir ’n bevel ingevolge artikel 86(11) vir die hervatting van die skuldhersiening genader word nie.101 Die kennisgewing ingevolge artikel 86(10) het nie ’n beëindiging van die proses tot gevolg nie en die doel daarvan is bloot om ’n tydperk van kennis daar te stel wat die kredietgewer by verstryking van die tydperk in staat stel om verrigtinge vir skuldafdwinging in te stel. Werklike beëindiging, soos in die kennisgewing ingevolge artikel 86(10) beoog, vind eers plaas wanneer die kredietgewer die verrigtinge vir skuldafdwinging instel nadat sodanige kennis gegee is.102 Eers in hierdie stadium kan die verbruiker die hof wat die verrigtinge vir skuldafdwinging aanhoor, ingevolge artikel 86(11) vir ’n bevel vir die hervatting van die proses nader en is die gebrek aan goeie trou aan die kant van die kredietgewer een van die faktore wat die hof dan ook in ag kan neem. Indien ’n herstruktureringsbevel egter verleen word nadat ’n kennisgewing van beëindiging ingevolge artikel 86(10) gegee is, maar voordat die kredietgewer verrigtinge vir skuldafdwinging ingestel het, is die kennisgewing van beëindiging van nul en gener waarde103 en sal die kredietgewer op grond van artikel 88(3) nie daarop geregtig wees om met skuldafdwinging voort te gaan nie.

Bostaande uitleg blyk in ooreenstemming met die resultaat van die uitspraak in Raheman te wees en ek gaan dus akkoord daarmee. Daar is egter verskeie leemtes in die uitspraak. Die redes vir die beslissing is onduidelik en die tersaaklike vraagstukke en die wisselwerking tussen die toepaslike wetsartikels word nie behoorlik verduidelik nie.

Die Nasionale Kredietwet is berug vir sy gebrek aan duidelikheid104 en die teenstrydige beslissings wat hier bo bespreek is, getuig daarvan. Die taak wat op ons howe rus om hierdie onduidelikheid op te klaar, is egter nie maklik nie. Regter Willis slaan die spyker op die kop in Seyffert,105 waar hy opmerk:

I share the general frustration of my judicial colleagues around the country at the lack of clarity that features at least in the parts of the NCA with which one is concerned in cases of the kind now before me. A court is forced to go round and round in loops from subsection to subsection, much like a dog chasing its tail. Indeed the language used in the Act from time to time suggests that foreign draftspersons rather than South African lawyers had a strong hand in preparing the text.

Die klaarblyklike teenstrydigheid tussen die uitspraak van die appèlhof in Collett en dié van die hoë hof in Raheman106 dui daarop dat die onsekerheid oor die regsposisie met betrekking tot die beëindiging van skuldhersiening en die wisselwerking tussen artikel 86(10) en ander tersaaklike bepalings van die Nasionale Kredietwet nog lank nie opgeklaar is nie en dat dit so gou moontlik deur wetswysiging aangespreek moet word.107

Bibliografie

Otto, J.M. en R.L. Otto. 2010. The National Credit Act explained. Durban: LexisNexis.

Scholtz, J. (red.). 2008. Guide to the National Credit Act. 4de diensuitgawe. Durban: LexisNexis.

Steyn, L.C. 1981. Die uitleg van wette. Kaapstad, Wetton en Johannesburg: Juta en Kie, Bpk.

Van Heerden, C. en H. Coetzee. 2011. Perspectives on the termination of debt review in terms of section 86(10) of the National Credit Act 34 of 2005. Potchefstroom Electronic Law Journal, 14(2):37–65.

—. 2011. Wesbank v Deon Winston Papier and the National Credit Regulator. De Jure, 2:463–79.

 

Eindnotas

1 2012 3 SA 418 (KZD).

2 34 van 2005. Die wet is nie in Afrikaans gepubliseer nie. Hierna sal daarna verwys word as die Nasionale Kredietwet.

3 Sien art. 3(g).

4 Sien art. 79.

5 Sien art. 8; Otto en Otto (2010, par. 9).

6 Art. 86(1).

7 Art. 86(4)(b)(i).

8 Art. 86(6)(a) gelees met reg. 24(6). Indien die verbruiker ’n verklaring van roekelose kredietverlening versoek, moet die skuldberader ook ’n bepaling met betrekking daartoe maak – art. 86(6)(b).

9 Art. 86(7)(c).

10 National Credit Regulator v Nedbank Ltd 2009 6 SA 295 (GNP) 317. Die wet vereis onderhandelinge slegs waar daar ’n bevinding was dat die verbruiker nie met skuld oorbelas is nie, maar na alle waarskynlikheid probleme sal ondervind om al sy of haar verpligtinge kragtens kredietooreenkomste betyds na te kom – art. 86(7)(b).

11 Art. 86(5)(b) bepaal dat ’n kredietgewer wat kennis ontvang het van ’n aansoek vir skuldhersiening “must participate in good faith in the review and in any negotiations designed to result in responsible debt re-arrangement”.

12 Sien National Credit Regulator v Nedbank Ltd 304, 307.

13 Art. 86(8)(b) bepaal dat die skuldberader “must refer the matter to the Magistrate’s Court” (my kursivering). In National Credit Regulator v Nedbank Ltd 310-11, 320 beslis die hof dat sodanige referral ’n aansoek na die hof behels en dat r. 55 van die Landdroshofreëls dus van toepassing is. Sien ook Nedbank Ltd v National Credit Regulator 2011 3 SA 581 (HHA) en die Debt Counselling Regulations, gepubliseer in SK 35327 van 10 Mei 2012.

14 Art. 86(7)(c) gelees met artt. 86(8)(b) en 87(1). Herstrukturering van die verbruiker se skuldverpligtinge kan net geskied deur (i) die tydperk van die ooreenkoms te verleng en die bedrag van elke betaling verskuldig te verminder (art. 86(7)(c)(ii)(aa)); (ii) deur die datums waarop die betalings ingevolge die ooreenkoms gedurende ’n vermelde tydperk betaalbaar is, uit te stel (art. 86(7)(c)(ii)(bb)); (iii) deur die tydperk te verleng en die betalings uit te stel (86(7)(c)(ii)(cc)); of (iv) deur die verbruiker se verpligtinge opnuut te bereken weens oortredings van Deel A of B van Hoofstuk 5, of Deel A van Hoofstuk 6 (art. 86(7)(c)(ii)(cc)).

15 Sien art. 88(3)(b)(i).

16 Sien art. 88(3)(b)(ii).

17 Vgl. Collett v Firstrand Bank Ltd 2011 4 SA 508 (HHA) par. 9.

18 Scholtz (2008, par. 11.3.3.3).

19 Raheman par. 1.

20 Vgl. art. 88(3)(a).

21 Par. 2.

22 Par. 2.6.

23 Par. 3.

24 Par. 4.

25 Par. 2.6.

26 Par. 14.

27Vir ’n volledige bespreking van die redes vir die appèlhof se uitspraak in dié verband, asook van sake wat voor Collett beslis is, sien Scholtz (2008, par. 11.3.3.3).

28 Par. 8.

29 Par. 9.

30 Par. 9.

31 Par. 9. Vgl. art. 88(3)(b)(ii).

32 Par. 10.

33 Par. 11.

34 Par. 11. Die hof verwys nie daarna nie, maar die toepaslike wetsartikel is art. 86(11).

35 Par. 11.

36 Par. 12.

37 Par. 6.

38 My kursivering.

39 Sien Firstrand Bank Ltd v Seyffert 2010 6 SA 429 (GSJ) par. 7.

40 Sien art. 129(1)(b); Van Heerden en Coetzee (2011:39).

41 Vgl. Van Heerden en Coetzee (2011:61).

42 Die regulasies tot die Nasionale Kredietwet bevat nie enige bykomende voorskrifte m.b.t. die wyse van kennisgewing nie – Van Heerden en Coetzee (2011:40).

43 Sien Collett par. 9 en 12.

44 Die wet vereis dus nie kennisgewing aan die hof nie – sien Scholtz (2008, par. 11.3.3.3 vn. 118a).

45 2011 1 SA 310 (GSJ) par. 60. Sien ook die bespreking van hierdie saak deur Scholtz (2008, par. 11.3.3.2) en Van Heerden en Coetzee (2011:61–2).

46 Par. 63.

47 Par. 63.

48 Par. 64.

49 My kursivering.

50 Vgl. Van Heerden en Coetzee (2011:40, 55).

51 Par. 17.

52 Par. 17. Sien ook Mercedes Benz Financial Services South Africa (Pty) Ltd v Dunga 2011 1 SA 374 (WKK) par. 16.

53 Par. 15. Sien ook Scholtz (2008:par 11.3.3.2); Van Heerden en Coetzee (2011:61-2).

54 2008 1 SA 566 (KH) par. 192.

55 Dunga par. 18.

56 Par. 24.

57 Par. 26.

58 Par. 45, 46.

59 Par. 48.

60 Sien die bespreking m.b.t. die Mbatha-saak hier bo.

61 Sien Dunga par. 16.

62 Par. 46.

63 Par. 48.

64 Vgl. Mbatha par. 60.

65 Sien Steyn (1981:119–24).

66 Par. 9.

67 Par. 11.

68 2012-02-09 saaknr. 5243/11 (VB).

69 Par. 20.

70 2011-06-02 saaknr. 9226/10 (GNP).

71 Par. 20, 24, 26.

72 2012 3 SA 600 (WKK) par. 7. Sien ook die bespreking van hierdie saak deur Scholtz (2008, par. 11.3.3.3) en Van Heerden en Coetzee (2011:54).

73 Par. 7; sien art. 129(2) gelees met art. 130(1)(a).

74 Vgl Scholtz (2008, par. 11.3.3.3); Van Heerden en Coetzee (2011:47, 55).

75 Par. 7. Sien ook Collett par. 14.

76 Par. 7.

77 [2010] JOL 25358 (WKK). Sien ook die bespreking van hierdie saak deur Scholtz (2008, par. 11.3.3.3) en Van Heerden en Coetzee (2011:54).

78 Par. 38.

79 Par. 41. Sien ook Martin par. 12.

80 Vgl. Van Heerden en Coetzee (2011:55).

81 Sien die bespreking in par. 5.2 hier bo. Sien ook Changing Tides v Grobler par. 18.

82 Sien Scholtz (2008, par 11.3.3.4).

83 Par. 11, 12, 16.

84 Vgl. Dunga par. 48.

85Vgl. Britz par. 20.

86 2010 6 SA 429 (GSJ) par. 12. Sien ook Van Heerden en Coetzee (2011:45).

87 Par. 12.

88 Vgl. Changing Tides v Grobler par. 20, 24 en 26.

89 Sien ook Seyffert en Seyffert v Firstrand Bank Ltd 2012-5-30 saaknr. 577/11 (HHA) par. 8; Changing Tides v Grobler par. 20, 24, 26.

90 Par.15. Sien ook Seyffert (HHA) par. 7.

91 Sien Collett par. 19. Vgl. ook Wesbank v Schroder [2012] JOL 28767 (OL) par. 16, 17.

92 Sien par. 3 hier bo en Raheman par. 9.

93 Par. 14 (my kursivering).

94 Dit is ook hoe Murphy R in Changing Tides v Grobler par. 24 die appèlhofbeslissing in Collett in hierdie verband vertolk.

95 Vgl. Dunga par. 46 en die bespreking in par. 5.2 hier bo.

96 Vgl. Collett par. 15.

97 My kursivering.

98 Sien die bespreking in par. 5.3 hier bo m.b.t. die beslissing van Binns-Ward R in Changing Tides v Erasmus.

99 Sien Wesbank Ltd v Papier 2011 2 SA 395 (WKK) par. 32; Van Heerden en Coetzee (2011:476-7). Sien egter Collett par. 14, waar Malan AR meld dat die verrigtinge vir skuldhersiening deur die landdroshofreëls gereguleer word. Die hof meen dat die reëls voldoende vir die betekening van prosesstukke en kennisgewings voorsiening maak (sien r. 9). Die feit bly egter, soos Griesel R in Papier aandui, dat ’n art. 86(10)-kennisgewing ’n buitegeregtelike kennisgewing is – dit is slegs ’n brief wat tussen private partye gestuur word. Daar is verder geen verpligting op enige van die partye om die kennisgewing op die hof te beteken nie en dit word ook nie in die praktyk gedoen nie.

100 Sien Dunga par. 15, 48 en die bespreking in par. 5.2 hier bo.

101 Sien die bespreking van Changing Tides v Grobler in par. 5.3 hier bo.

102 Sien Martin par. 7; Seyffert par. 12 en die bespreking in par 5.3 hier bo.

103 Sien Britz par. 20 en die bespreking in par 5.3 hier bo.

104 Sien Dunga par. 17.

105 Par. 10.

106 Sien die bespreking in par. 5.3 hier bo.

107 Vgl. Changing Tides v Erasmus par. 32.

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top