Die twee lewens van 'n bruin intellektueel

  • 0

 

Die akteur en televisiepersoonlikheid Irshaad Allie noem in ’n onderhoud op Cape Town TV (CTV) dat hy tydens sy werk as aanbieder op Pasella heeltyd ’n formele register gehandhaaf het sonder enige aksent. Hy onthul dan dat hy inderwaarheid met ’n Kaapse Afrikaans aksent praat, soos in die film Four Corners.

Laat ek nou ruiterlik bieg dat ek ’n deel van myself sien in hierdie stukkie getuienis van Allie.

Irshaad Allie

Verlede Vrydagaand kuier ek en ’n groepie vriende in een van hulle se garage. Iemand het sy selfoon sommerso aan die stereo gekoppel sodat ons heelaand na hip-hop-musiek kan luister. Die XYZ was ’n bottel rum en Coke, ’n kis bier en ’n boks Namaqua, waartoe ons almal finansieel bygedra en by die drankwinkel om die hoek gekoop het. Niemand het veel geworry oor kos nie – as die voggies begin trek, is die laaste ding waaraan mens dink jou maag. Die gesprekke het nie much intellek geverg nie. Daar is skertsend gepraat oor Cardo se meisie wat wil hê hy moet ophou so baie stoei op e.tv kyk, en oor Boeta B se nuwe haarstyl wat te vrouerig lyk. Met ander woorde, ons het maar heeltyd net gesit en kakpraat. Die toneel was ’n tipiese manier hoe bruin jongmense in my gemeenskap oor naweke saamkuier.

Later die aand phone ’n vriend wat ek tydens my varsityjare ontmoet het. Ek moes myself verskoon van my company om die call te antwoord.

“Howzit dude, long time no see.” Andrew is ’n Engelssprekende blanke. Hy woon in Newlands en werk vir ’n IT-maatskappy. Ons is omtrent ewe oud, maar Andrew is die tipe ou wat sy naweke spend met video games, of na sy favourite rock band gaan luister, of by ’n Portugese restaurant gaan uiteet.

Andrew se oproep betrap my onkant. Dit is nie nét dat ek weliswaar lanklaas van hom gehoor het nie – hier sit ek en my brasse en hanna-hanna in Kaaps-Afrikaans, en skielik moet ek nou my mooiste Engels gooi.

“Hey buddy, it’s nice to hear from you.”Want sien, Andrew is onder die impression dat ek, nes hy, ’n product is van gunstige sosio-ekonomiese omstandighede, met Engels as huistaal.

Plotseling was ek daardie aand terug in die dae as student by die Universiteit van Kaapstad. Die dae toe ek soos ’n ontwortelde tussen twee contrasting wêrelde beweeg het. Nes daardie literêre karakters wat ’n doodgewone bestaan agterlaat en nuwe realms betree. Alice na Wonderland, Harry Potter na Hogwarts, Dorothy na Oz, die Pevensie-sibbe na Narnia, Charlie na die sjokoladefabriek. Maar ontworteld was ek nié, want ek kon by albei wêrelde inpas.

Ek het grootgeword in ’n Weskusdorp omtrent 150 km buite Kaapstad. Die bruin woonbuurt waar ons woon, is nie juis die beste deel van die dorp nie. Trouens, dit sal nooit qualify om ingesluit te word in die local toerismebrosjure nie. Misdaad en bendebedrywighede is algemeen, graffiti en ander vorme van vandalisme is amper oral te sien, en sommige van die wonings en strukture is in ongewenste toestande. Rommel op die sypaadjies. Oorgroeide bosvelde waar iemand maklik van ’n lyk ontslae kan raak. Kinders wat tot laataand op straathoeke en winkelstoepies rondhang. As ek die woonbuurt moet opsom, sou ek dit beskryf as ’n plattelandse weergawe van die Kaapse Vlakte.

Daar is egter nie net negativities nie. Tussen al die huisinbrake en dwaalkoeëls en daggawalms is daar ongeslypte diamante. Diegene met die potential om bo hul omstandighede uit te styg. Ek was een van hulle. In my gemeenskap het mense dikwels na my verwys as die “slim laatie”, want my skoolrapport het altyd A’s en B’s gewys. Ek het elke jaar die trophies en medals en certificates ingeryg by die skool se prysuitdeling. So niemand was verbaas toe ek die geleentheid kry om verder in die Kaap te gaan study daar teen die hange van Duiwelspiek nie. Hulle was wel verbaas dat ek besluit het om by UCT te gaan study. Hoekom daar? wou hulle weet. Hoekom nie UWK of Stellies nie, waar die meeste coloureds gaan study? Want UCT het ’n reputation, het ek geantwoord. ’n Reputation as die beste varsity in Afrika. Maar UCT is net Engels, het hulle geredeneer. So? het ek teruggekap. Daar skort niks met my Engels nie. Miss Abrahams, ons Engels-onnie, het altyd dat ek my opstel voor die klas lees. My Engels is nou wel nie eksieperfeksie nie, maar dis goed genoeg vir ’n akademiese essay en om ’n decent conversation aan die gang te hou.

So is ek toe vort Kaap toe met ’n bright future vóór my en ’n “moenie vergeet waarvandaan jy kom nie” agter my.

UCT was ’n belewenis – iets heeltemal buite my ervaringswêreld. Daar was ek onderworpe aan ander maniere van dink en doen. Ek was exposed aan intelligente gesprekke en debatte; aan great minds soos Freud en Derrida en Bahktin en Foucault. My klasmaats was Jimmy Nevis en oorle’ prinses Di se broerskind. Ek kon woorde soos discourse, ideology, deconstruction en postmodernism tot my woordeskat voeg. Maar eers moes ek ontslae raak van my Cape Flats accent en alles wat my typical Cape Coloured maak, want die norm op kampus was “wit”. Ek sou dit nie waag om iemand met ’n “aweh” te groet of as “my bru” aan te spreek nie, want dan word ek aangekyk asof ek so pas uit ’n ruimteskip gestap het.

Mikhail Bakhtin
Jacques Derrida
Sigmund Freund
Michel Foucault

Die koshuis waar ek tuisgegaan het, was ’n extension van die inferiority complex wat ek op kampus ervaar het. Ek was een van die handvol bruin studente wat daar gewoon het – die meerderheid was blank, swart en Indiër. Dit het my egter nie gepla nie, want vir die eerste keer in my lewe was ek bevriend met ander rassegroepe. Hulle was cool mense, maar dit was ’n different cool van wat ek aan gewoond was. In die bruin gemeenskap is jy ’n cool ou as jy klipharde hip-hop-musiek in jou kar speel terwyl jy ry. Of jy’s cool as jy goue oorbelle en tande dra. Hierdie ouens se cool was die latest technology, branderplank ry, TV-reekse soos Game of Thrones en die nuutste viral YouTube-video’s. En dis waaroor hulle tydens etensure gepraat het. As ons so tydens aandete ons hoenderboudjies met messe en vurke eet, wil ek baie graag eerder praat oor gisteraand se episode van 7de Laan of oor iets wat ek in Die Son gelees het. Of ’n Gammat-en-Adbol-grappie vertel. Maar ek kon nie, want daar is nie room vir bruinwees nie.

Naweke kuier almal in Langstraat of in Tiger Tiger. Dan word daardie duur cabs gebel, daardie wit Toyota Avanzas met die “taxi”-bordjie op die dak. Ek sou veel eerder ’n taxi in die Main Road wou vat. Hulle is baie cheap, sommer R10 na die middestad toe. Ek sal ’n minibus-taxi gevat het, dan kan ek my geld spaar, want die cocktails wat ons heelaand gaan sip, is fokken duur. Dan is daar nog is die post-clubbing stop by ’n fast food restaurant om drie-uur die oggend. Gewoonlik is dit McDonald’s se burgers en chips en milkshakes, wat ek maar moet afwurg, want ek is eintlik diep lus vir ’n vis parcel met baie sout en asyn.

Vakansietye verruil ek tydelik die wêreldklas omgewing van UCT vir die ghetto. “Rohan, what are your plans for the vac?”wou die snobs weet. “Oh, I’m going to go scuba diving in Mauritius,” was my antwoord. Maar met “scuba diving in Mauritius” bedoel ek eintlik ek en my brasse gaan in die garage met ’n kis bier kuier. Terwyl my nuwe wit vriende vir die vakansie gaan intern by hul oom se miljarddollar company of gaan ski in Switserland of ’n trippie na die maan beplan, keer ek terug na my roots. Na die plek waar jong meisies in hul slaapklere en ’n swirlkous om die kop na die winkel toe stap. Waar buurvroue koppies suiker by mekaar leen. Waar vyf mense geneig is om aan één Chicago-sigaret te rook. Waar ek met gemak die jokes in Die Son kan lees en my hoenderboudjies met die vingers kan eet.

Dis dan wanneer ek daardie woorde deconstruction en ideology diep wegbêre in my woordeskatkissie en dan my Kaapse slang nei man en dala die nomme afstof. Want ek sou daar nooit aan dink om soos ’n professor voor my vriende te klink nie – die bespotting wat ek sou verduur! Soos Irshaad Allie kan ek ook maklik tussen twee taalvariante switch. Dis hoe ek vir my mense wys ek het nie vergeet waarvandaan ek kom nie.

Kaaps is lankal nie meer net skollietaal nie, maar ook die taal van die bruin intellektueel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top