Die taalsiklus

  • 4

Beste Jan,

In antwoord op jou skrywe.

Ek maak beswaar daarteen dat jy dit wat ek sê, sommer afmaak as “niksseggend”. Ek verduidelik mos wat ek van defleksie weet. Dit wys my óf jy lees nie wat ek skryf nie, óf jy verstaan nie wat ek skryf nie. Nog ’n moontlikheid is dat die fout by my lê: wat ek weet is volgens jou, niks werd nie, en dan verduidelik ek ook nog sleg.

Laat ek dus maar weer probeer. Met die vorming van ’n nuwe taal, gaan dit deur ’n siklus. Dit begin by woorde binne geen of amper geen grammatikale verband, soos met Pidgins. Mettertyd word hierdie woorde binne grammatikale verband gebring wat al hoe ingewikkelder word, want grammatika en die logika loop mos hand aan hand. Die beginsel het ek verduidelik met die moedertaal van die Wes-Indiërs, nl Kreools as voorbeeld. (Terloops, Kreools is die naam van die taal wat die Wes-Indiërs praat, maar dit kan ook die naam van ’n kunsmatige taal wees wat ontstaan tussen verskillende taalgroepe wat bymekaargegooi word om ’n taak te verrig.) Daarna begin vereenvoudiging omdat, en ek herhaal, taal suinig is in sy gebruik van sy woordeskat. Absolute sinonimie kom selde voor. Grammatika wat nie funksioneel is nie, word uitgeskakel, oa deur defleksie. Kyk maar hoe Engels vereenvoudig het van vroeëre vorms (Anglo-Saksies bv) Nederlands het ook heelwat van sy Middelnederlandse grammatika verloor. Een of ander tyd het Duits heel waarskynlik, soos Latyn, sewe naamvalle gehad. Funksionele vereenvoudiging van die grammatika is vir my verfyning van die taal, en dra by tot kommunikasie.

Hoe jy ook al stry en kapsie maak, vir jou beteken vereenvoudiging verwaarlosing, en daarom agteruitgang.

Jy skryf: ”Jy (dis nou ek, Angus) sê ‘ ... maar nou sien jy (dis nou jy, Jan Rap) in die vereenvoudiging van die taal ’n agteruitgang, ’n verwaarlosing.’  Weer eens gryp jy (Angus) 'n gevolgtrekking uit die lug want op geen stadium het ek (Jan Rap) so-iets gesê nie.”

Goed ek het toe in die argief gaan soek; nie te ver en te diep nie, want net in jou vorige brief skryf jy:  “Ook, soos moderne tale ontstaan of ou tale vermoderniseer word die grammatika eenvoudiger.  Dit is al of taal op 'n stadium aan ons gegee is en, soos die tyd verloop, word dit verwaarloos.” (Hier moet ek net byvoeg dat “verwaarloos” vir my ook die betekenis inhou van “agteruitgang”.)

Jy weet nie of daar so ’n plek as Elandsrug is nie? Ek het jou mos ’n aanduiding gegee: dis in die Wes-Kaap. Jy sê jy het dit lukraak gekies? Nou waarom het New York of Washington nie te voorskyn gekom nie? O, hulle praat nie daar Afrikaans nie! En so waai jou “lukraak kies” by die agterdeur uit.

As ek en jy eendag op Elandsrug kom, moet my asseblief nie voorstel aan iemand nie. Hulle sal jou aangaap of jy van Mars afkomstig is. Introduce my liewers. Moet asseblief dan nie vir iemand daar vertel dat jy jou doelwit bereik het, en uiteindelik op Elandsrug beland het nie. Hulle sal dink jy is van lotjie getik. Sê liewers jy het jou goal geachieve, dan verstaan almal jou.

Na al my verduidelikings, verstaan jy nog nie die woord “verengels” nie. Afrikaans kan nie Engels word nie, dis so eenvoudig soos dit. Afrikaans kan as gevolg van die invloed van Engels so verander dat iemand wat nou leef  oor 300 jaar dit kwalik sal kan verstaan, maar as Klaas Waarsegger nou moet terugkom, wat sal hy kan verstaan van die Afrikaans wat ek en jy praat? Die Engelse gevaar wat jy vrees, is daar, maar wat van die Zulu-gevaar? Hier aan die Natalse Universiteit gaan Zulu ’n verpligte vak wees vir alle studente. Weldra gaan dit verpligtend gemaak word in skole. Vrees jy nie die swartgevaar nie?

Oor die Neandertalmens se taalvermoë sal ek maar anderdag oor skryf; netnou looi Webvoet my oor my lang brief.

Ten slotte: in my sin: “die evolusieteorie oor die ontstaan van die mens is toetsbaar”, gee die agtervoegsel in die woord “toetsbaar” die betekenis van “kan getoets word” maw  dit kan ondersoek word, nagevors word. Jou reaksie van: “Het hulle toe die vermiste skakel gekry?” maak dus nie sin nie. Wat meer is, as iemand praat van ’n vermiste skakel in evolusie, dan weet ek hy het vasgehak by negentiende eeuse Kreasionisme.

Groete

Angus

  • 4

Kommentaar

  • Angus daar is net een fout in al jou briewe: jy rig dit spesifiek aan Jan. Hy is 'n moeilike krummelgat wat jy nooit gaan tevrede stel nie. Rig jou toekomstige bydraes maar so in 'n algemene koers en glo my daar gaan 'n klomp van ons wees wat gaan baat by jou kennis. Beste wense. George

  • Beste George,

    Ek was nog besig om vir jou te skryf, toe my vrou skree dat my boerboel in die straat is. Ek skrik toe so groot dat ek sommer die Plaas/Post onderaan druk. Ek het regtig groot geskrik, want daardie dierasie byt nie stukkend nie, hy breek bene.
     
    Ek het gedink ek gesels sommer met Jan Rap oor taal en oor die dinge waaroor ons verskil. Daar is verseker baie ander hier op SêNet wat meer weet van taal as ons. 
     
    Dankie vir jou bemoedigende woorde.
     
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top