Hallo Angus
Jy begin met drie moontlikhede wat die ontstaan van die mens betref en beveel aan ek moet maar glo wat ek wil. Hoe so, want een van daardie drie moet die naaste aan die waarheid wees of hoe?
Alhoewel half tong in die kies, is my stelling, naamlik dat ons taal en al hier geland het, baseer op die feit dat taal al hoe eenvoudiger word, so al asof ons dit verwaarloos. Jou verklaring, naamlik dat dit is " ... nou maar hoe ’n taal werk; hy is suinig, ekonomies, en maak gebruik slegs van dit wat vir hom nuttig en bruikbaar is ... " is niksseggend want ek vra juis hoekom het taal veringewikkeld voor dit nou besig is om te vereenvoudig? As taal evoleer het saam met die mens moes dit op 'n stadium baie eenvoudig gewees het en, soos die mens ontwikkel het, het taal ontwikkel, grammatika bygekry. Of reken jy Neanderthalman se taal het verbuigings, naamvalle die lot gehad?
Jy sê " ... maar nou sien jy in die vereenvoudiging van die taal ’n agteruitgang, ’n verwaarlosing." Weer eens gryp jy 'n gevolgtrekking uit die lug want op geen stadium het ek so-iets gesê nie. Taal vereenvoudig, so al asof ons dit (die grammatika) verwaarloos maar dit dui geensins daarop dat die uitdrukkingsvermoë skade ly nie. 'n Engelsman, of 'n Afrikaner, met 'n taal van eenvoudiger grammatika, kan net so goed filosofeer, of dig, of stories vertel as 'n Rus of 'n Duitser. Hierdie het ek al voorheen gesê, kyk maar in die argief.
'n Pidgin word 'n Kreool as dit 'n moedertaal word (daar was al selfs 'n Pidgin van 'n Kreool wat weer 'n moedertaal geword het, dus 'n nuwe Kreool). 'n Pidgin word dus nie noodwendig 'n Kreool as sy grammatika veringewikkeld nie (wat in elk geval vir my onwaarskynlik klink; hy 'kruip' dalk maar net nader aan een van die tale waaruit hy ontstaan het).
Jy sê jy gebruik 'makeshift' omdat dit jou gedagte raak beskryf. Laat ek maar nou weer Elandsrug gebruik (terloops, ek weet nie of daar so'n plek is nie, ek het die naam lukraak gekies en dit is 'n plek waar mense nie Engels kan praat nie). As jy die woord 'makeshift' of 'goals' of 'usually' of 'achieve' of 'introduce' in Elandsrug gebruik gaan die ouens jou nie verstaan nie want dit is gewoon nie Afrikaans nie. As jy dit teenoor jou half verengelsde vriende (of jou vriende wat verengelsde Afrikaans praat) gebruik sal hulle jou wel verstaan maar dis slegs omdat hulle Engels ook ken, eenvoudiger kan ek dit nie stel nie.
Slordig beteken onafgewerk, nie goed voltooi nie. So die gebruik van Engelse woorde omdat Afrikaans jou tweede taal is wat jy nie goed ken nie, of vir effek (die aartiefaarties) is slordige Afrikaans, net soos ek partykeer slordige Engels gebruik omdat dit my tweede taal is, 'n taal waarin ek nie so bedrewe soos in Afrikaans is nie.
Jou opskrif praat van my vrees vir Engels: Zoeloe, Armeens en Fins, om nou maar sommer lukraak 3 tale te noem, hou vir Afrikaans geen gevaar in nie daarom kan ons bekostig om si hier en daar 'n Zoeloe-, Armeense of Finse woord te gebruik. Engels hou wel 'n gevaar in; Engels is besig om Afrikaans te kontamineer en die gevaar bestaan dat dit in so'n mate gebeur dat Afrikaans gaan verdwyn. Alreeds praat selfs radio-omroepers verengelsde Afrikaans, die ouens op Elandsrug verstaan net die helfte wat hulle sê. Sulke oornames het al gebeur, vra maar die Skotte, Iere en Walliesers.
Terloops, jy sê " ... die evolusieteorie oor die ontstaan van die mens is toetsbaar ..." Het hulle toe die vermiste skakel gekry?
Groetnis
Jan Rap

