
Foto: Canva
Die swart hond het nie ’n naam nie
Die swart hond het nie ’n naam nie
sy wandel deur die kamers van my huis
ek voer haar oorskietgedagtes
skink halfgeskrewe gedigte in ’n bak en sê: Drink.
Sy loop van kamer tot kamer
tjank buite die deur waar jou naam soos ’n waarskuwing hang
krap om ingelaat te word
kantel haar kop om na die stilte te luister.
In die aande strek sy haarself langs my uit
soms krul ek agter haar rug op
’n vraagteken teen haar donkerte
op soek na antwoorde wat nooit kom nie.
Sy loop deur die tuin
bring ’n enkele Jasmynblaar terug
’n wit druppel van herinnering aan ’n tyd
toe ons nog gedroom het om saam ’n tuin te plant.
Die swart hond lek die trane van my wange af
sy staan met afwagting en swaai haar stert
buite daardie deur van jou herinnering.
Sy kyk terug, om te sien of ek sal volg.
Die swart hond het nie ’n naam nie
sy maak my nie bang nie
ek slaan my arms om haar nek
en begrawe jou naam in haar vel.

