Riders on the storm
Riders on the storm
Into this house, we're born
Into this world, we're thrown
- Jim Morrison
Sowat ’n maand gelede was ek byna klaar met ’n romanlengte-teks.
Ek wou dit aanvanklik nie aan enigiemand stuur vir publikasie nie, maar toe een van my vertroude editors dit te lese kry en my sterk aanbeveel om te publiseer, het ek ingegee.
Daar was net twee probleme.
Die teks was nie werklik ’n storie nie. Dit was ook nie uitsluitlik outobiografies nie.
Dit het, in kort, gehandel oor klimaatsverandering.
’n Jaar se dagboek hou en navorsing en opteken van feite het my gelei tot by die einde van die moontlike boek – as dit ooit ’n boek sou wees.
Daar was nog ’n probleem. Die teks het nie ’n behoorlike slot gehad nie. Geen afleidings is gemaak nie, geen lewensles, geen inspirerende einde nie.
Tot my groot frustrasie moes ek, net terwyl ek besig was om verstellings te doen aan die slothoofstuk, eers alles onderbreek om op ’n musiektoer te gaan.
Dit was nie die musiektoer wat my gepla het nie. Ek het reeds maande lank uitgesien na die Oppiwater Kunstefees wat deur Lefra Produksies gereël is – ’n vyf dae lange ekskursie op die reusagtige MSC-skip Splendida wat teen die Mosambiekse kus sou opvaar tot by die Pomene-eiland en terug.
Maar die tydsberekening kon nie aakliger gewees het nie! Ek was eindelik op die punt om die finale weergawe van my teks aan my uitgewers te stuur, maar kon dit nie doen nie.
Daar was eenvoudig nie tyd om die einde klaar te maak nie.
En om alles erger te maak het ek ewe skielik aan sogenaamde writer’s block begin ly. Op die slegste moontlike oomblik.
Ek het eenvoudig nie geweet hoe om my boek te laat eindig nie.
Terwyl ek en my vrou ons tasse pak om op die Oppiwater-fees te vertrek, het daar ’n lastige, effens onheilspellende gedagte by my opgekom: Sê nou maar net ek kort nog een ervaring om my stof te gee vir die laaste hoofstuk?
My manuskrip het, soos ek reeds gesê het, tot op daardie punt gehandel oor veranderende en ekstreme weersomstandighede wat die aarde bedreig.
Sou dit nie die absolute toppunt van ironie wees as ons op die skip klim en onverwags in ’n storm beland nie?
Dit sou aaklig wees, ja, maar indien so iets sou gebeur, en ek oorleef dit om oor die ervaring te skryf, sou dit beslis die beste moontlike einde vir my boek wees!
Ek wou die gedagte afskud, want ek was nie werklik lus vir so iets om met my te gebeur nie. Ek was al op ’n paar kunstefeeste op plesierbote, en nog nooit het ons werklik slegte weer getref nie. Boonop het my “Seven Day Forecast” vir Maputo my ingelig dat daar binne die volgende week beslis nie enige stormwinde sou wees in die omgewing van die Mosambiekse kus nie.
So het alles volgens plan verloop. Ek het my byna-voltooide manuskrip “gesave” op my rekenaar, en ons het Durban toe gevlieg om aan boord te stap van die Splendida. (Terloops, die Splendida is een van die grootste skepe wat nóg in Suid-Afrikaanse waters gevaar het. Waarskynlik selfs groter as die Titanic!)
Ons kajuitnommer was 9252, loodreg bokant die heel agterste punt van die boot. As ons oor ons balkon gekyk het, kon ons die stroom skuim sien wat opgeskiet word soos ons deur die water vaar. Dit was alles baie romanties, en Valentynsdag was om die draai!

Alles het aanvanklik goed gegaan. Reeds op die eerste aand het ek my eerste vertoning gehad, en dit was heerlik om in die reusagtige ouditorium voor ’n gehoor van honderde mense te sing.
Die boot was geweldig luuks, daar was heerlike kos en baie drank, en al die konserte en vertonings was louter plesier.
Die volgende oggend het ons ’n getikte briefie van die kaptein onder ons kajuit se deur gevind wat ons die volgende nuus meedeel:
IMPORTANT: ADVERSE WEATHER
12 February 2024
Dear Guest
We are delighted to welcome you on our beautiful MSC Splendida and to share this cruise to Mozambique with you.
I wanted to inform you that an unfavourable weather pattern impacting sea conditions across Mozambique's coast is currently forming, resulting in high swells and strong wind.
My Bridge team and I will continue to monitor the weather. I will make an announcement through the onboard public address system to inform you of any other update if required.
Please note that the situation is due to reasons that are beyond our control. Our utmost priority is to always ensure your comfort, safety and wellbeing.
I appreciate your understanding.
Warm regards.
Your Captain
Ons is meegedeel dat die skip as gevolg van die dreigende weer sy roete effens sou aanpas. In plaas van om heel eerste na die Pomene-eiland aan die noordelike kus van Mosambiek te vaar, sou ons eers die Portugese eilande net buite Maputo aandoen, en dan eers die volgende nag – wat toevallig die aand van Valentynsdag sou wees – deur die stormgeteisterde deel van die see sou vaar.
Hopelik sou die ergste dan al verby wees? So het almal maar gehoop.
Ek en my vrou het in die loop van Valentynsdag ’n bottel vonkelwyn in die kajuit laat aflewer wat ons dieselfde aand, net na my volgende vertoning, op ons balkon wou drink.
Teen die aand van Valentynsdag het die Splendida egter lelik in die oop see begin wikkel. Dit sou nie meer lekker wees om op ons balkon te sit nie – die wind het te hard gewaai.
’n Regte storm sou ek dit seker, terugskouend, nie noem nie. Die meeste mense sou in elk geval deur dit alles geslaap het, want die ergste weer sou ons eers in die nanag tref. Maar reeds vroeër die aand, toe ek die eerste note van my konsert sing, het ek agtergekom dat ek sukkel om my balans te hou op die kroegstoel wat op die verhoog gestaan het. Ek was selfs meer bekommerd dat die bottel rooiwyn op die kroegstoel langs my sou omval en breek.

Buite die skip was daar ’n onheilspellende geloei. Niemand kon enige dekpartytjies hou nie, want die boonste dek was onbegaanbaar.
Terwyl ek sing, het dit al erger geword. In die middel van my vertoning het ek vir die eerste keer besef ons is dalk in die moeilikheid.
’n Donker vrees het my beetgepak.
Maar ek durf niks daarvan wys nie.
Na my konsert, so skuins voor middernag, is ek bed toe, ek stoksielalleen met my kitaar deur die wankelende gange tot by kajuit 9252.
My vrou het reeds geslaap, maar ek het geweet die slaap sou my ontwyk.
Om die waarheid te sê, ek het presies geweet wat om te doen. ’n Geleentheid soos hierdie klop nie dikwels aan ’n skrywer se deur nie ...
Ek het my pen en my notaboekie uit my bagasie gegrawe, my bedliggie aangeskakel, en begin skryf.
Ek het al my vrese uitgeskryf, die benoudheid wat ek gevoel het daar in die donker nag op ons boot op die groot, skuimende oseaan. Terwyl die Splendida skud en van die een golf na die ander tuimel, het die woorde uit my pen gestroom.
’n Uur later het ek geweet ek is klaar. Sou ons die nag oorleef – ek het gehoop ons sou! – sou ek dit by die huis op my rekenaar kon uittik en dit by my manuskrip kon voeg.
Ek het my bedliggie afgeskakel en in die stilte lê en wieg, en bid, en luister na die pandemonium daar buite in die golwe.
Ek het gebid my uitgewers sou hou van hierdie woorde wat so skeef en krom uitgetuimel te midde van hierdie geleefde werklikheid, hierdie nag van vrees, hoop en glo.
Ek het ook inniglik gebid dat ons nie een of ander tyd in die vroeë oggendure wakkergemaak sou word deur die skipalarm wat die teken sou wees dat ons ons reddingsbaadjies moet aanpluk en in ons slaapklere moet hardloop tot by die reddingsbote op die vyfde verdieping nie ...
Dog: Die hoop het nie beskaam nie.
Toe ek wakker word, ure later, het die son helder geskyn.
Die boot was verstommend stil.
Deur die stoepdeur van die kajuit kon ek die kus van die Pomene-eiland sien.
En op die tafel in die middel van die kajuit, half toegegooi onder ’n servet: die ysemmer met die bottel Valentynsdag-vonkelwyn wat die skip se bestuur die vorige dag afgelewer het.
Die wind en die branders het heeltemal bedaar.
“Daar was ’n storm in die nag,” het ek vir my vrou gesê.
“Dit was alles jou verbeelding,” het sy my geterg.
Maar daardie aand, toe ons op ons stoeltjies op die stoepie van ons kajuit sit en ek die kurk van die vonkelwynbottel met ’n knal oopskiet oor die water, het ek ’n skietgebedjie opgestuur na die universe om dankie te sê, nie net vir die feit dat ons nog geleef het nie, maar ook omdat dat ek uiteindelik die regte einde gehad het vir my boek ...

