Die stories in In die mond van die wolf vóél soos die Karoo

  • 0

In die mond van die wolf
Paul C Venter
Uitgewer: Lapa
ISBN:9780799346060
Prys: R143.95

Klik hier en koop In die mond van die wolf nou by Kalahari.net!

 

Die anderdag sê iemand in ’n gesprek: “Paul C Venter is ’n beter storieverteller as ’n skrywer.”

Ek het lank hieroor getob. Wat presies is die verskil tussen ’n skrywer en ’n storieverteller? Waar trek jy die lyn wat sê storievertellers dié kant toe, skrywers daai kant toe?

Eers het ek gedink dit is ’n belediging, daardie uitspraak. Maar hoe meer ek daaroor besin, hoe meer het ek besef dat dit eintlik ’n kompliment is. Want kyk, dit sit nie in enige iemand se broek om ’n goeie storie te vertel nie. Ek praat nou nie hier van mooi literêre stories met laag op laag simboliese betekenis wat jou diep laat dink nie. Ek praat van kontreistories – veral Karoo-stories. Ek kom self van die Karoo af. Om dáár, waar almal op sy eie manier die ding só verdraai en vermom tot ’n amperse, byna-feitelike storie, en oor dáárdie kontrei se mense ’n góéie storie te vertel, vat ’n mán. By wyse van spreke. Jy moet jou storie ken. Jy moet kan grootpraat en kan mooipraat. Jy moet die trane kan laat rol – vir die hartseer en die lag. Jy moet kan lieg. Maar oortuigend, hoor. Want soos wyle George Weideman gesê het: “Iewers sal daar ’n boer wees wat weet ’n perd het nie spene nie.”

In die mond van die wolf is ’n bundel met twintig kortverhale wat byna soos ’n roman lees. Baie van die karakters van wie jy aan die begin lees, duik weer in latere verhale op, of hulle nageslag maak ’n verskyning. En só word die hele wel en wee van die Ouveld, oftewel die Karoo, en sy inwoners vir jou vertel.

En soos ’n goeie storie dit wil hê, word daar begin by die begin: Salvatore Lombino, die Italianer met die eikehoutkis vol “heilige gereedskap” en die tamariskboom se sade. In die negentiende eeu land Salvatore in die Kaap en trek saam met sy gids, Harry, binneland toe, Ouveld toe. Salvatore en Harry het elkeen hulle eie bygelowe en met dié en Salvatore se gebed dat hulle veilig “in die mond van die wolf” moet reis, kom hulle eindelik, minus heelwat vee, maar ongedeerd, in die Ouveld aan. Hier bou Salvatore vir sy niggie, Ornella, ’n droomhuis. Dit is immers waarvoor hy die gereedskap in daai kis al die pad saampiekel. Maar die mooie niggie, wat soos “Eva in die Tuin van Eden” lyk, is Salvatore nie beskore nie. Die noodlot gryp in. Salvatore het een nag ’n mistieke ervaring voor die tekeninge van die “geel duiwels” in ’n grot en só word die Ouveld en sy mense ook die Katoliek se mense. Met hierdie verhaal wens die skrywer, oftewel storieverteller, deur Salvatore vir die leser ’n voorspoedige, veilige reis toe. ’n Reis deur die Ouveld, oor tye en geslagte heen.

Die stories in die bundel draai om die plase Klipkraal en Renosterdrif, Bronfontein en Osfontein. Daar is stories oor karakters soos Gulp Breytenbach, die nuwe onderwyser wat met sy eie doodskis van die Baai af kom en by Henk van Schoor, wie se seun deur ’n trein “doodgeklap” is, loseer. En stories oor Kortjas Uys, die smid wat Gulp Breytenbach gehelp het ten tye van die sprinkaanplaag, en wat aan mevrou dominee wil bewys dat g’n man – ook nie haar seun wat in Nederland gaan studeer het nie – vinniger as ’n perd kan hardloop nie. Daarom dat Kortjas ’n Boesman kry om ’n wedloop teen mevrou dominee se seun te hol (sic). ’n Paar stories verder maak Kortjas Uys se nageslag, ’n man wat óók Kortjas genoem word, sy verskyning. Kortjas (die tweede) is nie getroud nie, maar kry “genoeg oefening in die kombuis en in die kooi, dankie”. Hy het sonde met die bure, bou aan sy geel gastehuis, Maison de Liberté, en moet per geleentheid ’n ongebore baba red. En hy word goed ingeloop deur Johannes Woestyn, ’n donker man uit Johannesburg se gate. Kortjas en sy vriend Cyril raak op hulle beurt bevriend met Ampie van Tonder, die swartskaap van die Van Tonders van Renosterdrif, en die man wat op Donkerkop sy verlede een stormagtige nag bemeester en so tot inkeer kom.

Daar is ook stories oor sterk en vreemde vroue, soos die slinkse Lenie van Tonder van Renosterdrif en haar plan om met ’n man soos die rebel Jos Wepener te trou. En Jos se niggie, Gertjie Wepener, wat daarvan droom om ’n Kakie te skiet, maar op die plaas moet agterbly omdat sy ’n meisiekind is. Daar is die koppige Ingelsman Jill, of Lady Hardegat, wat nie net Renosterdrif se turksvybos, die “Satanswoud”, moet tem nie, maar ook Magiel se korrelkop-pa moet sagmaak. En op Bronfontein, Renosterdrif se buurplaas, stry Ralie Kritzinger haar eie stryd teen ’n man wat niks van opera verstaan nie en liewer blyk te wees vir sy papegaai met die “addictive personality” as vir haar.

En dan is daar natuurlik ook die stories oor inkommers – mense wat van die stad af Karoo toe trek – en spoke. Verder word daar op eg Karoo-wyse plan gemaak met skaapstelers en honde wat skaapbyt. En regdeur die bundel kry die leser die mites en legendes rondom die laaste groot Boesmanjag op Afrolberg, en gis die bespiegelings oor wie nou eintlik die laaste luiperd van die kontrei geskiet het.

In die geval van goeie storievertellers moet die resensent waarskynlik nie die Engelse manier waarop die titel met hoofletters geskryf is, en die feit dat dit daarna twee keer verskillend in die bundel gebruik word, te irriterend vind nie. En dan maak dit ook seker nie soveel saak dat die taal hier en daar lomp voel nie – of doen dit? Die feit is, die stories in In die mond van die wolf vóél soos die Karoo. Daar word gepraat soos Karoomense praat; hierdie leser herken baie van die uitdrukkings en maniere van vertel. En dít is immers nóg ’n kenmerk van ’n goeie storieverteller. Sulke storievertellers het, wil ek glo, ’n sak vol magiese truuks waarmee jy ingelok word om te wonder en te raai oor ’n tyd, ’n plek en mense wat lank reeds vergane is – of dalk nooit eers regtig was nie. Maar jy gee nie ’n snars om nie. Want jy kan nie anders as om meer te wil hoor van hierdie mense nie. Paul C Venter is só ’n storieverteller.

En terwyl ek nou hier skryf, wonder ek skielik: is Gulp Breytenbach nie dalk die man na wie oom Hannes Veldskoene van Paalhuis, die plaas langs my pa s’n, verwys het laas toe ons oor die groot grondverdeling tussen die Viviers-broers gepraat het nie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top