Die stand van Afrikaans

  • 1

Die mense praat snaaks deesdae. Ek hoor oor die radio en TV praat hulle van Heinz ’Hoehienkler’. Hoekom, dis mos Winckler, of hoe? Roland Schoeman noem hulle ’Roulint’, Sharapova noem hulle ’Sharapouwa’, Chobe noem ’Tjoubie’ en Ina Paarman se van spreek hulle uit as ’Pa-min’. Heinz Winckler self praat van ’elbim’ in plaas van ’album’.

Indien ’n woord vreemd lyk word hy op Engels uitgespreek, al is dit ’n Franse, Italiaanse of Spaanse woord. So praat hulle van ’n Wennou Sandewou in plaas van Renault Sandero, van Lowiehaal Pêwis in plaas van L’Oreal Paris en een omroeper het selfs teatwou in plaas van teatro gesê. Een meisietjie op TV, daardie program waar Afrikaans so verkrag was, praat van papawatsie in plaas van paparazzi.

Nie alleen verengels die uitspraak nie maar ook die sintaks (en grammatika). Nou die dag sê ’n omroeper "mense dink hy kom van Jamaika af maar hy doen nie; hy kom van die Kaap af, hy doen werklik." ’n Rugbykommentator saai uit dat "spelers in nommers opdaag" en ’n omroepster lig ons in dat "Beethoven ’n klomp geld ge-offer was." Op Monitor nou die dag verwys Cobus Bester na die skip Agulhas as vroulik, "sy gaan vervang word en haar dienstydperk was ....." Baie mense oor die radio en TV, kundiges, praat dikwels van "mees mededingendtse", "mees ontoereikendste" ens. Kan jy nou meer. Dit kom daarvan as onnies kinders nie meer pakgee nie; hulle luister nie.

Is dit omdat onderwysers nie meer bevoeg is om Afrikaans te gee nie of is dit omdat ons net by die huis Afrikaans praat en ’in Afrikaans dink en droom’? (wat ’n absurde gedagte, mens dink of droom nie in ’n taal nie). Ek dink bietjie van eersgenoemde en baie van laasgenoemde; ons praat nie meer Afrikaans nie. Nou die dag voer Marfield ’n onderhoud met Olivier toe die spelers met rustyd van die veld af stap (ek is seker die uitasem spelers verpes dit soos varkstront op ’n toebroodjie) n hulle praat Engels met mekaar! Waarvoor? Albei is Afrikaans, hoekom Engels praat?

So kan ek aangaan maar ek wil liewer ’n paar woorde wat dikwels verkeerd gebruik word se Engelse vertalings gee. Indien ek ’n fout maak sal ek bly wees as iemand my daarop wys (soos ek al reggehelp is met ’ronde’, ’rondte’ en ’huidiglik’).

Braaf – upright, honest, virtuous
Dapper – brave
Netjies, agtermekaar – dapper
Proe – taste
Smaak- taste
Offer – sacrifice
Offerande – sacrifice
Aanbod – offer
Nommer – number
Getal – number
Aantal - number
Bel – call
Roep – call
Noem – call
Brand – fire
Vuur – fire
Verloor – lose
Verdwaal – to get lost
Wegkruip – hide
Wegsteek – hide
Glase – glasses
’n Paar glase – a couple of glasses
Bril – a pair of glasses
Brille – pairs of glasses
’n Paar brille – a few pairs of glasses
Koei – cow
Bees – cow
Malbeessiekte – mad cow disease
Vraestel – paper
Verhandeling – paper
Groenskrif – green paper
Groen skrif – green writing
Koerant – paper
Papier – paper
Verwer – painter
Skilder – painter
Sanger – artist
Kunstenaar – artist
Kitaarspeler – artist
Vioolspeler – artist

Nou ja, op dié manier dan

Jan Rap

 

  • 1

Kommentaar

  • Nog 'n paar:



    Aanpas - fit

    Pas - fit

    Fiks - fit

    Aansuiwer - update

    Bywerk - update ('opdateer' is 'n onding)

    Red - save

    Spaar - save

    As - than

    Dan - then

    Indien - if

    Let op na - look out for ('kyk uit vir' is 'n onding)
    Te water laat - launch

    Bekendstel - launch

    Lanseer - launch

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top