Die stad in met 'n dier op jou rug

  • 1

Mens kan seker nie praat van stede en skrywers wat deur stede geïnspireer word sonder om die konsep van die flaneur te noem nie. Daardie modieuse Boheemse drentelaar wat deur die stad dryf soos ’n filmregisseur. ’n Literêre figuur afkomstig van daardie selfde Parys in die 19de eeu waarvan Baudelaire geskryf het. Die woord is deur Benjamin bekend gemaak in sy interpretasie van Baudelaire se gedigte, en sedertdien het die flaneur die emblematiese figuur van die moderne stad geword: ’n ontdekker van die stedelike oerwoud, wat die parke, boulevards, koffiekroeë en arkades deurkruis, wat die verskeidenheid van die stad waarneem en in sy drentelry skakels tussen ruimte, taal en subjektiwiteit skep.

Ek onthou nog toe ek die eerste keer op universiteit kennis gemaak het met die konsep flaneur. Afgesien van my verbouereerdheid dat daar nie ’n vroulike flaneur (flaneuse?) in die letterkunde of kunsgeskiedenis bestaan nie, het ek veral besef dat ek self nie sommer flanerie met Johannesburg kan verbind nie.

Laat ek verduidelik. Julle sal onthou ek het verlede week geskryf van my toer deur Hillbrow wat georganiseer is deur Dlala Nje? Die ander drie wit meisies wat saam met my op die staptog was, het elkeen die kortste broekies denkbaar vir ons wandeling gedra. Daardie skelwit bene –  en die duisende oë van winkeliers, straatsmouse, boemelaars, vrugteverkopers, busbestuurders, mense wat staan en gesels, selfs kinders en babas in stootwaentjies, wat daarna gestaar het, was ’n beeld wat my een ding laat besef het: dat dit ’n onmoontlike taak is om te probeer om as buitestander ontspanne in Hillbrow te wees. Hillbrow is nie ’n plek waar mens as buitestander heen kan gaan om anoniem te kyk nie. Jy gaan meer aangegaap word as wat jy sélf probeer kyk.

Sarah Nuttall skryf in haar boek Johannesburg: the Elusive Metropolis (2008) dat Johannesburg nie soveel deur flanerie gekenmerk word nie, maar eerder deur ’n stel beperkinge wat deur ’n reeks wette, vrese en grense bepaal word. Sy beweer dat een van die belangrikste eienskappe wat hierdie metropool kenmerk, die ondergrondse is. Dit wat onder die oppervlak gebeur, is dit wat die stad in ’n groot mate bepaal. En dis nie net ’n abstrakte idee nie, aangesien Johannesburg sy bestaan te danke het aan dit wat onder die grond ontdek en ontgin word.

Ek het onlangs ’n roman gelees wat afspeel in Hillbrow en die groter Johannesburg, met ’n besonder dapper flaneuse as hoofkarakter. Dit is Zoo City (2010) van Lauren Beukes. Zinzi December, die heldhaftige slim en brawe hoofkarakter van die roman woon in Hillbrow, ook “Zoo City” genoem. Dit is ’n deel van die Johannesburg in die boek waar kriminele woon wat elkeen die res van hulle lewe genoop is om vasgeketting te word aan ’n dier – “vasgedier”. Nie met werklike kettings nie, maar met iets soos magie, wat veroorsaak dat, sou die dier van die “simbiotiese eienaar” weggeneem word, die “eienaar” erge angsaanvalle en ander onttrekkingsimptome sal kry. As die dier doodgemaak sou word, word die persoon deur die donker undertow van die stad opgeslurp.

Zinzi December het, nadat sy haar broer vermoor het, ’n luiaard (sloth) op haar rug. Dit is ’n werklike dier met besonder skerp naels, afkomstig van Suid-Amerika, wat dikwels die habitat is van verskillende ander organismes: kakkerlakke, motte, swamme of alge. Voordat sy hierdie misdaad gepleeg het – wat veroorsaak het dat die dier heeltemal outomaties op haar beland het – was sy ’n joernalis en dwelmverslaafde. Sy probeer om die geld wat sy haar dealer skuld, terug te betaal deur objekte wat mense verloor het vir geld te vind, asook om vals e-posse te skryf.

Zinzi is die perfekte flaneuse. Sy stap onbevrees vir ons as lesers deur die strate van Hillbrow; sy sien kliënte by die Rand Club in die middestad; sy soek ’n groot musiekbaas op in ’n Herbert Baker-herehuis in Westcliff; sy beland by ’n sangoma wat in ’n baksteenhuisie onder die snelweg woon; sy snuffel na leidrade agter die mure van ’n sekuriteitskompleks op ’n gholfbaan in Midrand, in die art deco-spoggerigheid van Killarney – en, baie belangrik: sy woon in een van die mees vervalle en gevaarlike woonstelkomplekse van haar omgewing – wat herinner aan Ponte City in die 1980’s en 1990’s. Die trappe van hierdie gebou is swart en gee in; die mure ruik na polistireen wat in ’n mikrogolf brand; daar is gate in die vloere; oral junkies; en alles – van die gloeilampies – word as gif vir tik pype gebruik. Bo Zinzi woon ’n prostituut van wie sy soms klere leen; sy het ’n kragopwekker in haar woonstel wat self elektrisiteit opwek en meestal deel sy haar woonstel met haar sensitiewe kêrel, Benoît, ’n vlugteling wat, saam met sy donker verlede en geheime, ’n meerkat het wat rondom sy bors hang.

Zinzi het ’n mistieke talent om dinge wat mense verloor het, weer op te spoor. Sy vind byvoorbeeld verlore trouringe in die dreine onder die stad. Sy vind ook geheime agter die mure van ’n sekuriteitskompleks in suburbia. Soos wat Zinzi hierdie objekte – en ook vermiste persone – probeer opspoor, word sy toenemend meer in die duisterhede van die stad ingesuig. Dit is duidelik dat die geweld, misdaad en korrupsie in die stad nie op die oppervlak gebeur nie. Dit kan nie deur ’n flaneur uit op ’n ontspanne wandeling gesien word nie. Dit gebeur agter hemelhoë sekuriteitsmure, in die Rand Club in die middestad, binne-in die geboue, in die stormdreine onder die stad. Dit moet onder die stad, buite die grense van die “sigbare” gevind word. En dit kan alleen ontdek word deur ’n karakter wat sélf deel uitmaak van hierdie ondergrondse, korrupte en onsigbare wêreld.

Zoo City wys hoe Johannesburg gesien en bewandel kan word; dat dinge nie op die oppervlak van hierdie stad gebeur nie, maar onder die grond, agter toe deure of hekke, buite die grense van die aanvaarbare en die normale. Dit laat die lesers deur ’n fiktiewe, maar ook realistiese, Johannesburg loop deur die oë van ’n flaneuse met ’n luiaard op haar rug. Hierdie dier laat haar vreesaanjaend lyk omdat dit ’n teken is: van skuld. Dat sy self ’n misdadiger is en deel het aan die stad se misdaad. En dis waarom sy ’n flaneuse kan wees. Om oor hierdie stad te skryf, kan jy geen buitestander wees nie.

Kyk hier na 'n treffende voorflits van die boek.

Volgende week: Lauren Beukes en joernalistiek. Tot dan!

Rentia

  • 1

Kommentaar

  • Kortbroekmeisie

    Sien uit na die volgende rubriekinskrywing, Rentia. Ek was nie mal oor Beukes se Moxyland nie, maar dink ek moet Zoo City aandurf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top