Die spioen deur Paulo Coelho: ’n resensie

  • 0

Die spioen deur Paulo Coelho
Uitgegee in Afrikaans deur Protea boeke
ISBN: 9781485308829

’n Aktrise kan dalk ’n spioen word, maar soms glad nie. Hoekom nie? Kan ’n mens dan nie enige rol aanneem nie? Kan ons nie almal dan wees en word net wat ons wil nie?

’n Danser en ’n minnaar is ter dood veroordeel. Hoe het die samelewing dit reggekry om skoonheid te straf?

Dit is die tipe filosofiese en ewige vrae wat ’n mens bybly lank nadat jy hierdie boek deur Coelho neersit.

Kom ons begin by die bondige titel van die boek — Die spioen.

Ek is baie lief vir sulke opskrifte, wat ’n mens in Coelho se boeke soos sy baie bekende boek The Alchemist of The Warrior of Light teëkom. Die titel is ’n rol of tipe mens in die samelewing wat verskillende moontlikhede daarstel. Dit staan die leser vry om self te besluit watter moontlikheid van toepassing is.

Wat dus van spioene? Iemand wat met die polisiemag vertroud is, sal jou dalk vertel dat die beste spioene dié is wat glad nie uitstaan nie. Hy/Sy moet alleman se vriend wees, iemand wat sommer deel is van die bondel. Die gewone guy nextdoor waaroor niemand iets indrukwekkend te sê het nie, maar ook niks sleg of eienaardig nie. Met ander woorde, enige eksentrieke gedrag is uit! Jy kan nie, byvoorbeeld, jou buurman se hond se drolle deur jou buurman se posbus pos nie, nie eers as jy heeltemal keelvol is van sy hond op jou grasperk nie. Dit was glo die eksentrieke gedrag van ’n voornemende Suid-Afrikaanse spioen wat elke liewe toets geslaag het (en spioene moet glo ’n klomp toetse slaag). Toe het hy met die drolpos-episode sy eie loopbaan as spioen gediskwalifiseer — die bure het gedink dit is eksentriek.

Ja, ’n goeie spioen moet soos die Britse krygers in die Eerste Wêreldoorlog in hul bruin uniforms, waarvan Coelho in die boek ook praat, heeltemal teen die agtergrond kan wegsmelt, gekamoefleer. Ja, juis die teenoorgestelde van die Franse krygers in hul rooi langbroeke en pette wat glad nie in die jaar 1914 diskreet was nie. Dit is nie toevallig dat Coelho op bladsy 128 vir Mata Hari laat skryf dat sy ’n kryger is wat nooit bitter gevoel het oor die gevegte waarin sy beland het nie. Oorlog word ’n metafoor. Ek skryf later weer daaroor.

As ’n spioen ’n doodnormale en vervelige mens moet wees, wonder mens dan onmiddellik: Hoe het ’n sjarmante en stylvol uitspattige spioen soos James Bond ooit die toets geslaag? En dieselfde geld vir Mata Hari. Die karakter sê dit self op bladsy 100:

“ Dink jy regtig —  in jou hart —  dat as hulle iemand sou kies om vir Duitsland, Frankryk, of selfs Rusland te spioeneer, hulle iemand sou kies wat pal in die openbare oog is?”

Die boek ontrafel die misterie oor hoe sy ooit as spioen oorweeg is en hoekom sy later gearresteer is. Was sy werklik ’n gevaar vir die staat?

Lesers wat gewoond is aan Coelho se vertelstyl, sal weet dat hy deur die gewone vertel van ’n ongewone storie, dit regkry om die siel bietjie vryer te maak, en die kop oop. Hy kry dit reg om ’n volronde beeld van ’n ding te skep. En dit terwyl ons glad nie ontsnappingsliteratuur of ’n ligte roman onder oë het nie.

Hierdie boek is beslis vir die liefhebber van geskiedenis alhoewel Coelho ons nie met te veel feite en oorlogpraatjies verveel nie. Hy vermy verveling deur die karakter van Mata Hari, wat self geen belangstelling in die onderwerp toon nie, ondanks haar belangstelling in reis en ander nasies en intelligensie. ’n Mens wil amper begin dink hy skets haar as oppervlakkig-dom, totdat jy begin wonder of dit dalk nog ’n filosofiese vraag is: Is al die detail van nuusberigte oor die politiek werklik nodig vir die gesogte “ware lewe” — die Frans is la vraie vie — wat die karakter van Mata Hari op bladsy 128 noem? Behalwe as dit natuurlik jou noodlot is om ’n politikus te wees. Coelho is nog altyd ’n voorstaander van die idee dat ons elkeen ons unieke lotsbestemming in die lewe moet vind, al is dit ook hoe vreemd, en dat elkeen van ons se noodlot eintlik piekfyn is.

Soos gewoonlik kry Coelho dit reg om filosofie en spiritualiteit in te weef en selfs die Bybel in die voorwoord aan te haal. Hy doen dit op sy slim manier; hy neem woorde uit spesifieke kontekste om dit universeel en toeganklik te maak terwyl hy steeds aan die oorspronklike bron krediet gee. Dit is deel van Coelho se oopkop benadering en die teken van ’n geniale skrywer.

Coelho ken van inligting inwin. En dit bring ons by die inhoud van die boek: In tye van oorlog word inligting waardevoller, gevaarliker en meer verdag. Die leser kom agter hoe hierdie paranoia sy slagoffers vind. In so ’n situasie vind ’n onafhanklike vrou soos Mata Hari haar in lewensgevaar: gewone skinder word staatsgeheime; vriende word vyande. Die middelpunt van die wêreld — die stad Parys — word ’n lokval al is dit omtrent al waaraan jy as bevryde vrou werklik deurgaans lojaal is.

Hoekom is sy Parys toe? Hoekom het sy lank voor dan, in die eerste plek, haar liggaam begin gebruik om ’n hupstoot in die lewe te kry? Die moontlike sielkundige redes daarvoor sowel as die sosiale aspekte — die loopbaanbeperkinge vir vroue van haar era — word ook in die boek uitgelig. Dit is probleme waarmee talle mense nog worstel, selfs in vooruitstrewende en demokratiese lande. Dit is belangrike vrae wat veral diegene in magsposisies moet vra.

Wat van skryftegnieke? ’n Mens kry telkens die tipe beeldspraak wat  ’n mens in Coelho se boeke verwag: riviere, blomme, instrumente. Coelho sorg ook vir genoeg kinkels in die kabel van die verhaal om die storielyn verrassend te hou. Die styl van eerstepersoon-verteller beteken dat die hoofkarakters ’n kans kry om hul eie verhale en emosies voor te lê en dus hul eie beste getuies in die getuiebank te wees. Die leser kry dus ’n kans om, ondanks die hoofsaaklik simpatieke behandeling van Mata Hari se karakter, steeds ’n taamlik wye en uiteenlopende siening van haar lewe in oënskou te neem. Emosies in die verhaal betrap jou onverwags, so tussen droë feite, soos in die lyste wat Coelho verskaf. (Lees die boek; ek kan die details nie hier verklap nie.) Wat dit ook baie tipies Coelho maak, is dat daar voorvalle is van amper ongelooflike toeval, wat in Coelho se oeuvre altyd op ’n groter plan of prentjie dui.

Oorlog word ’n metafoor vir interne konflik. Coelho is egter, soos dit ’n goeie skrywer betaam, ’n goeie Oracle of Delphi. Die leser kan raaklees wat hul wil. Dit bly dus moeilik om die boodskap in die boek presies op te som, maar ek sal dit elk geval waag. Een boodskap uit die boek is dat die tipe eer en roem wat ’n mens in tye van persoonlike of politiese onstuimigheid en veral oorlog bekom, bedenklik is, selfs vals vir die siel. Coelho kry dit altyd reg om die laasgenoemde punt sonder ’n kitsch gevoel oor te dra. In hierdie boek is die boodskap van valsheid versus liefde op beide mans en vrouens, kuis of hoer, van toepassing. Bedenklike roem word gekoppel aan alle vegtende lande (tot en met vandag), selfs die lande wat neutraal staan. Maar wat is waar? Dit is ’n vraag wat die skrywer vir elke leser los. En wat van die idee van voluit leef, sonder twyfel en sonder spyt? Dit is ’n baie hedendaagse vraag wat hy stel. Julle het seker al gehoor van die 100 mense in die ouetehuis wat in onderhoude te kenne gegee het dat hul oor niks spyt is wat hulle gedoen het nie, net oor wat hul nie gedoen het nie. Die hedendaagse boodskap is: leef voluit, al word dit van jou weggeneem.

Om waarlik te lewe raak dus ’n magiese en misteriese mengsel van etiese besluite gemeng met die vryheid om elke droom en wens uit te leef. So spring Coelho altyd ’n morele preek vry. En so wek Coelho altyd ’n beter gesindheid in die wêreld, want wie gaan sulke leesstof klaarmaak sonder om nie meer delikaat en meer vraend deur hul dag te stap nie? En dit, liewe leser, is skoonheid. Dit is hoe jy dadelik kan wees net wat jy wil wees. Dit is hoekom ons goeie boeke lees.

Soos dikwels in sy boeke, laat Coelho ons goed op die inhoud van liefde let, beide self-liefde en liefde vir die medemens.

Die boek voldoen volkome aan die riglyne vir ’n roman terwyl dit duidelik op ’n klomp navorsing en feite gebaseer is. ’n Mens kry die idee dat Coelho nie geskroom het met die feite nie (waarvan die foto’s ook die harde realiteit van Mata Hari se doodsvonnis en verouderingsproses wys), maar dat hy steeds vir Mata Hari op die ou end vrygemaak het.

My eie opinie van die boek is dat dit beslis Mata Hari se stereotipe beeld verander. Ek het in die jare neëntig by die Erotiese Museum in Amsterdam (Mata Hari is van Nederlandse nasionaliteit) ’n wasbeeld van haar raakgeloop, ’n lewensgrootte figuur in haar sexy dansuitrusting. Na hierdie boek kry ek ’n idee van die vernuf van haar dansstyl, maar sien ek haar minder as erotiese danser, minder as spioen, en eerder as ’n allemagtige kansvatter wat soos ons almal maar haar bes probeer het om te oorleef. Dit maak haar minder van ’n ikoon en meer menslik, sodat ons almal iets uit haar lewe kan leer.

Al laat Coelho ons in sy Skrywersnota en -erkennings daarop let dat ander skrywers ook haar ware verhaal al vertel het (sedert 1999, toe die Britse intelligensiediens die Mata Hari-lêer bekend gemaak het), is dit beslis so dat talle lesers dalk nie daardie skrywers se werk gaan lees nie. Ander skrywers het bloot nie ’n groot naam soos Coelho nie, en hy het immers ’n talent vir romanskryf. Hierdie boek is ’n groot geskenk wat hy aan ons en Mata Hari gee.

Die boek is oorspronklik in September 2016 uitgegee. Die Afrikaanse vertaling deur Kobus Geldenhuys is goed. Dit lees maklik en lekker. Ek kon net twee spelfoute raaklees wat in die proses van uitgee misgekyk is, maar dit is — en jammer om die uitdrukking te gebruik — genuine nie doodsake nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top