Vir Anita Bezuidenhout-Fourie
Jou SêNet-brief van 2012-01-16: Frederick Petrus Potgieter Bezuidenhout – lid van Spesiale Taakmag 1976.
Ek het jou pa nie geken nie; ek was trouens nie in die bos-oorlog nie; maar synde self die pa van 'n opgegroeide dogter het jou brief my geraak en ek wil graag reageer. Daar is myns insiens nie iets wat mens aan diep-liggende hartseer kan doen oor die verlies aan die dood van iemand vir wie jy baie lief was nie. Die gemis aan 'n pa van 'n dogter wat sy sorg en bemoediging nog nodig gehad het moet baie erg wees. Die meeste van ons wat daardie soort hartseer dra, bid en hoop maar dat die pyn mettertyd ligter sal word.
Ek wil tog vir jou die volgende gedagte gee wat jy miskien 'n bietjie sal wil oordink: Hartseer kan ook beskou word as 'n gawe wat mens ontvang om die intensiteit van 'n liefde te onthou. Waneer ons die hartseer oomblikke gebruik om stil te word en daarop konsentreer om in dankbaarheid te dink aan die verbintenis wat ons gehad het, groei die skoonheid van daardie verbintenis by ons en ons kry dit mettertyd reg om ons verlies op die manier te verwerk en te aanvaar. Sonder dat ons ons verlies en die pyn wegwens kry dit vir ons 'n helende betekenis want dan groei die vrug van innerlike kalmte en vrede in ons. Dink miskien ook daaraan dat as jou pa met jou 'n laaste gesprek sou kon voer voordat hy dood is, hy seker sou wou vra dat jy hom in liefde moet onthou en nie vergeet nie, maar dat jy asseblief tog nie jou lewe moet laat ineenstort oor sy dood nie.
Miskien weet jy dit alles reeds. Neem my asseblief nie kwalik dat ek as vreemdeling hier uit my hoek reageer nie. Sterkte!
Ek het net toevallig op jou brief afgekom en nie in die kommentaarblokkie daarop gereageer nie want as jy so vreemd soos ek is met LitNet se nuwe labarint (jammer Webvoet), dan kan jy seker nie eers meer jou eie brief opspoor nie!
Johan-Paul Schutte

