Ek was Saterdag in die Haaitenk. Saam met my vrind Thys. Hy het ’n los losiekaartjie gehad en my toe gebel. Ietwat gou op my maar vra toe eers die huidige vrou of sy sal omgee as ek saam met Thysman kan gaan rugby kyk.
Skoongewas en aangetrek sit ons toe af Haaitenk toe. Daar aangekom die formaliteite afgehandel en vriende met die barmoeder gemaak. Ons het gaan sit en die rugby begin.
Ek sluk die biere af asof dit water is want ek kon nie glo wat ek aanskou nie. Ek was nooit in my lewe ’n "groot" rugbyspeler nie. Ek het die spel geniet en dit geniet as spelers kreatief en ondernemende rugby speel.
Ek weet nie of ek onnosel is nie maar deesdae se rugby is vir my te ingewikkeld. Die spel loop soos volg. Die een span skop af. Die ander span vang die bal. Hulle vorm ’n losskrum van vier voorspelers van die verdedigende span en die ander vier voorspelers staan tussen die senter en die losskakel. Die bal kom uit en word aan die slot gegee om vorentoe te storm, op die grond te val en die proses word weer herhaal. Die keer kom die bal uit en die losskakel probeer die maan raak skop. Die ander span wag vir die bal en hol volspoed vorentoe of hulle skop die bal amper in die wolke in.
Ek staan op en gaan staan praat met die barmoeder by die lang toonbank. Vreet my halftyd knuppeldik aan die lekker kos wat sy ook gemaak het. Werk gou nog ’n paar moutsappe deur en neem weer plaas op my stoel. Genadiglik word "a victory gesnatch from the jaws of defeat". Werk gou Kaptein en Coke deur die wange en gaan rustig huis toe.
My span, die Haaie, het genadiglik my nie weer teleurgestel nie.
Ek kan nog nie die besluit om die Goue Leeus uit die Super 15 te skop verwerk nie. Weet wraggies nie hoe dit werk nie. Sal maar wag en sien wat gaan gebeur. Ek dink daardie Watson is te cheeky vir sy skoene.
Reusedwerg


Kommentaar
Baie goed Reusedwerg!
Barmoeder!!? Hie-la-flippen-rieus.
Die uitslag was egter eintlik andersom as wat jy beskryf. Wat gebeur het is die Cheetahs snatched defeat from the jaws of victory.