Die sondes van die vaders ...

  • 3

Destyds, hier in die 70’s, was daar by die Afrikaanse universiteite die ASB, die Afrikaanse Studentebond en by die Engelse universiteite was daar NUSAS, National Union of South African Students.

Juis daardie tyd al het ’n vlaag van sogenaamde verligtheid daar in die Kaap posgevat – ek sê ‘sogenaamd’ want dit was maar net ’n gehol agter die koerante aan wat, in opdrag van een of ander mag die syn hierdie ‘verligtheid’ verkondig het. Die Kapenaars het hierdie koerantstories gesluk, lyn en sinker ingesluit (moontlik vanweë die verarmde genepoel sedert die Groot Trek) en so het dit dan gekom dat die studente van Stellenbosch by NUSAS aangesluit het.

Hierdie verengelsing van die US kom al ’n lang pad en nou – van 2016 af – is dit ten volle volbring. Dis nou al jare dat ’n getjommel met tolke en allerhande twak daar aan die gang is om ‘Engelse’ studente te akkommodeer en mens sou dink die Afrikaanse studente sou naderhand voet neersit en sê “genoeg is genoeg! Four cough Ikeys toe as julle in Engels onderrig wil word!” Maar meeste van die Afrikaanse studente is Kapenaars en soos ons al gesien het is Kapenaars verskriklik inskiklik. Hulle gaan waarskynlik sê “genoeg is genoeg, maak alles maar Engels; dis makliker.”

Ook maar goed die tong makeer nie ’n smaak wat hy nooit geproe het nie; op die manier weet die hedendaagse studente daar nie watter onguns hulle ouers van die 70’s hulle aangedoen het met hulle inskiklike houding nie; hulle sal nie weet hoe dinge gegaan het op ’n ordelike en veilige (en skoon) kampus nie.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan Rap,
    Klaarblyklik is jy ook een van dié wat glo dat 'n goeie storie nie met korrekte feite bederf moet word nie. Anders skryf jy hier oor 'n onderwerp waarvan jy nie veel weet nie. Kom ek lig jou in:
    Nusas is in 1924 gestig deur afgevaardigdes van 9 (wit) Suid-Afrikaanse universiteite, wat die Engelse sowél as die Afrikaanse universiteite van daardie jare ingesluit het.
    Met die aansoek van Fort Hare om lidmaatskap in 1933, het al die Afrikaanse universiteite, met Stellenbosch die uitsondering, onttrek uit NUSAS. In 1936 het Stellenbosch ook onttrek en geaffilieer by die ASB.
    Die studenteraad van Stellenbosch het nooit weer by NUSAS affilieer nie, alhoewel NUSAS in die middel tagtigs 'n tak op Stellenbosch gevestig het.
    Jou stelling dat ..."die studente van Stellenbosch (hier in die sewentigs) by NUSAS aangesluit het..." is dus totale twak.
    Ek weet, want ek was dáár in die middel 1970's en destyds het die Ruiterwagters gehéérs op Stellenbosch. Arme NUSAS het geen kans gehad nie. Om dus vandag se taalprobleme aan die studente van die sewentigs en NUSAS toe te skryf, getuig van 'n totale gebrek aan begrip oor wat in daardie jare op Stellenbosch aangegaan het.
    Net so terloops, volgens jou geïmpliseerde woorde was Stellenbosch ("daar in die Kaap") die enigste sogenaamde verligte universiteit, en die res van die Afrikaanse universiteit dan sogenaamd verkramp. Nou wat het dan by hulle (Potch, Tuks, Bloemfontein, UJ) gebeur dat hulle lank voor Maties deur die taalsmeltkroes begin gaan het? Hoekom beskuldig jy hulle nie ook van "inskiklike houdings" nie? Jou onderrok hang uit, ou Jan. Jy laaik nie die Kapenaars nie, dít is eintlik jou probleem. Soos telkemale in die verlede, toon jou skrywe hier dat jy géén, maar hoegenaamd géén snars verstaan van die politieke kragte wat in hierdie land aan die werk is nie. Jy reduseer alle probleme tot mense (nogal jou eie mense) wat agter koerante aanhol. Die arme mense en die arme koerante. Raak van beide ontslae en al die probleme is opgelos!
    Wat my laat wonder: Is die koerante ook die oorsaak van die probleme in Frankryk en Sirië en Irak en Kenia en ISIS en oor die wêreld heen?

  • Hiermee my stuiwer in die armbeurs.
    Cecil Rhodes was 'n man wat groot gedroom en groot idees gekoester het. In Augustus 1895 skryf hy 'n geheime brief aan Alfred Beit toe hul saam 'n komplot bedink om 'n revolusie in Johannesburg te begin.
    Hy skryf dan die volgende: ' Johannesburg is ready ... (this is) the big idea which make England dominant in Africa, in fact gives England the African continent.’ En die taal - Engels- wat nou anders, soos die Boere ook later sou uitvind. 'n Bitter taalstryd sou volg om die Engelse juk af te skud.
    En wat gebeur nou 120 jaar later ? Een deel van Rhodes, ongeag dat hy geval het, se groot idee word op 'n ander manier verwesentlik en neem sommige van die afstammelinge van diegene wat so hard geveg het om die taaljuk af te gooi, onder druk en luide toejuiging van die ANC dit weer op.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top