Die soektog na stilte

  • 0

Dit was die aanhoudende hoofpyne, tamheid en vatbaarheid vir irritasie wat my laat wonder het of die konstante teenwoordigheid van geraasbesoedeling my nie dalk sieklik affekteer nie. My hele wese het gesmag na stilte. (Ek het myself gesien in 'n bladsy uit Koester jou baba; styf toegedraai met 'n sagte kombersie in 'n stil donker kamer. Dis hoe erg dit was!)

Ons het besluit dat die beste kuur 'n reis op soek na absolute stilte sal wees. Die pyltjie het op Botswana geland en meer spesifiek die suidelike deel van ons eksentrieke buurman. Dit is hier in die Makgadikgadi-panne waar ek vir die eerste keer in my lewe ware stilte beleef het. Dertien jaar gelede, in die middel van 'n pan kon ek net die geruis van die bloed deur my are hoor. Al die normale natuurgeluide soos voëls, insekte en selfs sonbesies het dit nie op die warm uiterstes van die pan gewaag nie. Dit was net ek en my Maker wat op daardie oomblik bestaan het.

Ons het eerste die Kharma Rhino Sanctuary en Nxai Nasionale Park besoek en die stil oomblikke was yl gesaai. Dit was die middel van die Loom-armbandgier by die skool en die hele motor was vol gekleurde rekkies en nie 'n oomblik van stilte nie. Kompleet soos 'n ouetehuis hekelklub op die agtersitplek. My man was nog nie in die vakansiebui nie en ons het alles van die afgelope finansiële jaar by die werk bespreek en analiseer. Gelukkig is dit alles geluide waarvan ek hou, maar stilte was 'n verre droom vir my.

By Kharma Rhino Sanctuary het die parate BDF (Botswana Defense Force) geen geheim daarvan gemaak dat hulle alles in die stryd sal werp om hulle land se Renosters te beveilig nie. Dit was 'n gesig om te bewaar vir die nageslagte toe ons met sononder 22 renosters met hulle kalfies sien water drink en speel in die stof grond van hulle moederland.

Hierna het ons koers gekies na die Makgadikgadi-panne. Die plek van stilte en my hoop was om uiteindelik my siel tot rus te bring by die opgedroogte waters van die pan.

Ons volgende stop was Lekubu-eiland, 'n nasionale monument aan die suidweste oewer van die Sowa-pan wat deel uitmaak van die groter Makgadikgadi-netwerk van panne. Hierdie ronde klipeiland is so ver van beskawing as wat mens kan kry. Oeroue rooi Kremetartbome is diep gewortel in wit grond en word begrens deur 'n verreikende soutpan wat besaai is met gefossileerde voëlmis.

Die essensie van hierdie plek is deurdrenk met surrealisme en misterie. Die kampfasiliteite is basies met 'n afskuwelike puttoilet om jou nederig en plat op die aarde te hou, maar die hemelse versameling van sterre en die geknetter van 'n kampvuur maak op vir al die luuksheid in die wêreld.

Ek was bevoorreg om nog 'n omwenteling om die son te herdenk en om my verjaarsdag behoorlik te vier het ons besluit om vroeg op te staan en 'n ent in die panne in te ry om die son uit sy kamer te sien kom. Ons het gestop en 'n stewige Amarula-koffie geskink terwyl die skakerings van 'n warm kampvuur op die horison verskyn het. Die kinders het oral rondgehardloop en ons omring met onvervalste blydskap. (Dit het ons natuurlik die voorreg van stilte gekos.)

Toe die son op die horison verskyn, het hy die vlammende tulband wat hom vooruit gegaan het afgetrek en geleidelik ontbloot as die roemryke bal vuur wat hy was. Elke korreltjie sand op die pan, elke mens was beklemtoon en ontbloot deur die skaduwee wat die son saam met hom gebring het. ʼn Spontane viering het uitgebreek tussen ons en dit was nie lank nie, toe dans en sing en gesels ons almal tot ons siele se vreugde.

Nxai was ook alles behalwe stil, want die olifante het die mangat neffens ons kamp ontdek en heeldag daar staan en water drink. Dit het ons redelik gevange gehou en snags het hulle doodluiters rondom ons tent geloop en blare vreet. (Raai wie het min geslaap?)

Ons laaste stop was Baines se bome wat uitkyk oor die Kudiakam-pan en ook deel uitmaak van die Makgadikgadi-pan netwerk. Hierdie is 'n konstellasie van 7 reuse-kremetartbome wat hul naam gekry het van 'n skildery wat Sir Thomas Baine in 1861 geskilder het. Hy was deel van Livingston se ekspedisie en was geïnspireer deur die ongenaakbare landskap wat deur hierdie reuse bewoon word.

Die kinders het dadelik die potensiaal in die laaggroeiende takke van een van die kremetartbome raakgesien en begin klim en klouter. My man kom te voorskyn met 'n yskoue bottel Champagne en plastiese glase en ons elkeen kry 'n plekkie op 'n tak en skink 'n glasie en ‘She’s got diamonds on the soles of her feet’ van Paul Simon is op repeterend in my kop.

stilte

Ons sluit die dag af met 'n sokkerwedstryd op die pan voor ons kampplek. Die stof en die luidrugtige sportmangees saam met die son wat ondergaan maak 'n onvergeetlike gesig. Ek voel amper 'n foto gaan die oomblik bederf. Dit herinner my aan die sokkerwedstryd aan die einde van die film Secret Life of Walter Mitty, na die rare aanskouing van die ontwykende sneeuluiperd in die berge van Afganistan. Die woorde wat heeltyd deur die film ego, speel af in my kop.

“To see the world,

things dangerous to come,

to see behind walls,

to draw closer,

to find each other and to feel.

That is the meaning of life.”

My stilte het hierdie keer van binne gekom en wat 'n luisterryke stilte was dit nie. En dis toe dat ek besef dat dit nie die afwesigheid van iets was nie, maar die teenwoordigheid van alles wat ek liefhet wat my siel genees.

Drie hoera’s vir perspektief en 'n raserige maar (innerlike) stil nuwe jaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top