Die sin van jóú lewe

  • 7

Ek sit een middag by 'n senior dame wie se lewe tragies skeef geloop het. Terwyl ons sit en gesels, vra ek:  Toe u 'n jong meisie was, watter drome het jy u toe oor jou u lewe gedroom?  Hoe het u toe u toekoms en u lewe vir u voorgestel?  Na 'n ruk kom die antwoord: “Nie soos dit nou is nie!”

Daar is seker min dinge so tragies as om in die laat jare van jou lewe te ontdek: Ek het nie die geleenthede wat die Here my gegun het, ten volle gebruik in gehoorsaamheid aan Hom nie. In ’n sekere sin het ek my lewe weggegooi! Die lewe het by my verbygegaan sonder dat ek my geleenthede benut het!

Dit is genade om aan die einde van 'n jaar te kan sê: Ek het die kanse wat die Here hierdie jaar aan my gebied het, ten volle benut.  Die jaar was alles die moeite werd! En dit geld ook van elke dag van jou lewe.

Een of ander tyd word jy gekonfronteer met die vraag:
Waarheen is ek op pad?
Wat is die sin van my lewe?
Want die "Alles tevergeefs ... dit is alles tevergeefs!" (OAV) van die Prediker­boek, bly vir elke mens 'n verskriklike moontlikheid.

Maar sê die Woord van die Here dan nie hoe jy moet leef en wat jy moet doen, sodat jy sal weet: "Ek het nie tevergeefs geleef nie."?

"Ja!" en "Nee!"

Ja, in die opsig dat ek weet dat as ek in Christus deel het aan die (L)lewe, dan het my lewe betekenis. Christus ís immers die Sin van die lewe!

Ja, in die opsig dat die Woord van die Here die breë raamwerk gee waarbinne ek moet leef om 'n sinvolle lewe te leef!

Prediker stel dit so: "Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word" (Pred. 12:13).

Paulus sê min of meer dieselfde in ietwat ander woorde: "Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God"  (1Kor.10:31) en: " want om te lewe, is vir my Christus ... " (Filip 1:21).

Wie in Christus met die Vader versoen is en sy lewe vir Hom leef, weet dus dat sy lewe sinvol is!

Maar ook “Nee!” Dit gee nie volledige detail nie. Jy moet elke dag keuses maak waar jy, luisterende na die Here en Sy sy Woord,  keuses moet maak. Die sin wat jou lewe in Christus het, moet jy al kiesende so uitleef dat jy jou lewe ook in jou hart as sinvol sal ervaar!

In 2 Timoteus 6 tot 8, in die grondteks, word die teenstelling “Maar jy” (v.5) en “Want ek” (v.6) beklemtoon. Timoteus se taak om sy roeping getrou te vervul, lê nog voor hom, maar Paulus is aan die einde van sy apostelskap. Hy word “alreeds as drankoffer uitgegiet”. Daar word reeds voorbereiding getref vir sy teregstelling. Hy verwag blykbaar nie om weer vrygelaat te word nie.

Daarom hierdie laaste opdrag aan  Timoteus.

Met drie beelde beskryf hy sy situasie. Deur na sy einde te verwys as “’n offer”, bedoel hy dat hy die lewe wat hy van die Here ontvang het, weer aan Hom teruggee (vgl. Filip. 2:17).

Tweedens praat hy van sy “heengaan”, ’n skeepvaart term wat dui op “die anker lig vir die uitvaart uit die hawe”. Mettertyd kry dit die betekenis van die lewe te verlaat, om te sterwe.

Vir die gelowige het die sterwe die betekenis van ’n terugkeer huis toe. Vir Paulus breek hierdie tyd vir terugkeer aan.

In die derde beeld vergelyk Paulus sy lewe met `n atleet - met die nadruk op die voltooiing van die wedloop. Drie dinge word gesê:
* Hy het die “goeie stryd gestry”. In sy lewe in diens van Christus het hy nooit homself gespaar nie.
* Hy het “die wedloop voleindig”. Hy het tot die einde volhard en kan met dankbare tevredenheid op sy lewe terugkyk.
* Hy het “die geloof behou”. Hy het nie die wedloop gewonne gegee nie, maar volgehou. Paulus het te midde van allerlei teenstand aan Christus bly vashou en gelowig enduit volgehou.

Soos die oorwinnaarskroon vir die atleet wat wen gereed lê, is die kroon ook vir die apostel gereed om by die wederkoms aan hom oorhandig te word.

Die kroon verbind hy aan:
 * geregtigheid – geregtigheid wat verkry word deur vertroue op Christus  * en aan die hoop wat hy later omskryf as die lewe wat saam met Christus verborge is in God (Kol. 3:3). Dié lewe is bedoel vir almal wat uitsien na geluk by die wederkoms van Christus. Daarom kan gelowiges mekaar bemoedig met die herinnering aan Christus se wederkoms.

Vir Paulus lê die sin van sy lewe daarin dat hy aan Christus behoort en sy lewe `n lewe in sy diens was.

Ons probeer soms die vraag na die sin van die lewe igno­reer! Maar een of ander tyd word jy gekonfron­teer met: * Waarheen is ek op pad? * Wat is die sin van my lewe?

Die bekende psigiater, Viktor Frankl, het al daarop gewys dat 'n mens wat dieper as die oppervlak leef, nie net wil weet dat die lewe in die algemeen wel sin het nie. Jy wil veral weet: Wat die unieke sin van my lewe? Waarvoor leef ek?

Jy moet binne die raamwerk wat die Woord aandui, die sin, die unieke betekenis van jóú lewe ontdek. Wat die bydrae is wat ek volgens my besondere manier van mens wees, moet lewer hier waar die Here my geplaas het.

Een mens kan byvoorbeeld sy werk doen deur bloot elke dag sy voorgeskrewe plig na te kom. Niemand sal hom kan beskuldig dat hy sy plig versuim nie. Vir hom is dit voldoen­de. Daarteenoor vra 'n ander: Hoe kan ek my werk, in ooreenstemming met my unieke manier van menswees en die gawes wat die Here aan my gegee het, na die beste van my vermoë doen? Hoe kan ek so myself gee dat ek van my werk iets besonders maak? Jy kan bloot jou "plig" doen, of jy kan, in ooreenstemming met jou unieke manier van mens wees en jou gawes en talente, 'n besondere kwaliteit aan jou werk gee! As jy dit doen, maak jy van jou lewe en werk iets besonders.

Met so 'n benadering gee jy aan alles wat jy doen 'n inhoud, betekenis en kwaliteit aan soos net jý dit kan doen. Indien jy so leef, ontdek jy dat jou lewe 'n unieke betekenis het wat van meer as bloot verbygaande aard is.

In die opsig is dit nie waar dat elke mens bloot vervangbaar is nie. Niemand kan jou werk doen soos jy dit doen nie. Niemand kan vir jou vrou of man die maat wees wat jy is nie. Of vir jou kinders ’n vader of moeder en vir jou vriende ’n vriend wees soos jy nie.

Jy probeer altyd om die wil van die Here vir jou besondere situasie te verstaan en daarvolgens te handel. Jy sal getrou aan jou oortuiging, soos dit deur die Woord van die Here gevorm is, handel. Dit gee besondere sin of betekenis aan jou bestaan. Wie so leef, het deur sy eerlike en getroue manier van doen, sy lewe as sinvolle lewe, ’n lewe van waarde, bewys.   Dit maak jou lewe op 'n besondere wyse 'n sinvolle lewe. Jy weet dit nie net met jou verstand nie, maar ook met jou hart!

Om te weet dat jou lewe sin het omdat Christus die Sin van jou lewe is;
Om in jou werk en alles wat jy doen, jou beste te gee na jou besondere manier van mens wees en met jou besondere gawes en kwaliteite;
Om die geleenthede wat jou beroep bied, ten volle te benut;
Om te alle tye te handel na jou diepste oortuiging soos gevorm deur die Woord van die Here en te leef en te handel vanuit jou verlossing in Christus, en, wanneer jy moet, jou oortuiging vreesloos te stel soos net jy dit kan doen;
Om in die samelewing jou besondere bydrae te lewer om van hierdie wêreld 'n beter plek te maak;
Om die nood van 'n lydende of die eensaamheid van die eensame raak te sien en met 'n begrypende glimlag of jou hand op sy skouer te sê jy begryp iets van sy swaarkry en te help waar jy kan;
... dit is alles dinge wat 'n unieke sin, 'n unieke betekenis aan jou lewe gee!

Dit is nie net die groot dinge nie! Dit is soms juis die klein dingetjies wat jy vanuit jou liefde vir die Here en jou naaste doen, wat jou lewe, op jou eie, unieke manier van mens wees, sinvol en betekenisvol maak.

Wie sy lewe so leef, kan saam met Paulus sê:
"Ek het die goeie wedloop afgelê,
ek het die wenstreep bereik,
ek het gelowig enduit volgehou.
Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. . ." (2 Tim.4:7?8)

Thys du Toit, Durbanville

  • 7

Kommentaar

  • Cornelius Henn

    Beste Thysie,

     

    Ek dank Jesus Christus onse HERE vir die bedoeling in jou bydrae hierbo.

     

    Verwysing na die "Woord van die HERE", is egter reeds geruime tyd 'n kwessie op die werf.

     

    Wat en hoe bedoel jy in jou verwysing na die Woord van die HERE?

     

    Katolieke groete,

     

    Cornelius Henn

  • Cornelius Henn

    Chris Dippenaar, miskien ... ek sou jou geheel die voordeel van die twyfel gegun het - had jy as iemand wat nie glo nie net die moed gehad om die tienerdogter wat jy ook nie eens in jou slimmigheid gespaar het nie, verskoning te vra ... nou is jy duidelik net nog 'n minderwaardige en siniese onderdrukker op die Internet - geloof en en ongeloof, het absoluut NIKS daarmee te make nie!

  • Thysie

    Jou brief is mooi. Hou vas aan jou geestelike beginsels en moenie dat enige ander wind of lering jou van siening laat verander. Ek kan sien Christus is die Sin en fokus in jou lewe. Dis die belangrikste. Hou vas!

    Trienie Mahne

  • Chris Dippenaar

    Hello Thys

    Ek het my reaksie hierbo verwyder van jou bydrae.

    Ek het nadat ek dit geplaas het begin voel dat ek kleinlik is, en dalk 'n bietjie gemeen ook.

    Ek vra verskoning.

    Chris

     

  • Cornelius Henn

    Dis bewonderingswaardig Chris Dippenaar ... ek dink jy verdien gewis respek sou jy dieselfde vir die dogter wie se hart jy dieselfde geminag het, ook doen ... en dan is daar jou stelling elders: "Vir jou [Pieter Redelinghuys] en vir my [Chris Dippenaar] is die oplossing eenvoudig: godsdiens moet ondermyn word totdat dit geen invloed meer het op die morele standaarde van ons samelewing nie. Homoseksualiteit is 'n groot probleem vir Christene en het die potensiaal om die gesag van die Bybel en die kerk (Katolieke ingesluit) geheel en al te ondermyn." ... ja Chris Dippenaar, daarmee het jy nou reeds menige bydrae met jou kleinlikheid ontsier ... Namaste! Cornelius Henn

     

     

  • Cornelius Henn

    ... en o ja, ek het nie geweet die rekord kan so maklik verander word nie? ... maar dan het sekere bydraers ook die voorreg om derduisende woorde se onsin te spoeg en plak en ander daarmee te belaster nes hulle wil ...

     

  • Mr Chris!

    Jy slaan my asem weg...

    Waardeer. Klink my sommige gelowiges kan by jou wysheid begin leer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top