Die SBA het 'n nuwe hoof

  • 0

Niel le Roux, voormalige uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, is aangestel as die nuwe Uitvoerende Hoof van die SBA (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans).  Hy sal met hierdie uitdagende pos op 8 September 'n aanvang neem.  Le Roux volg in die voetspore van Christa van Louw en Christo van der Rheede en Danie van Wyk.  Van Wyk het die tuig neergelê op 30 Junie 2014.

Dirk Brand, voorsitter van die SBA Raad van Trustees, sê dat Le Roux wye toepaslike ervaring het wat vir die SBA waardevol sal wees.  Le Roux is eenparig deur die aanstellingspaneel verkies.

Benewens Le Roux se bekendheid in die kunstewêreld, is hy ook nou betrokke met skole, die akademie, regeringinstellings en die media.  Le Roux is tans besig met die puntemoderering van die Wes-Kaapse matriekdramaleerders en was tot onlangs op die keuringspaneel van die Nasionale Kunsteraad.  Hy is ook die ontvanger van vyf toekennings van onder andere die KKNK, sy alma mater Paul Roos Gimnasium en die Wes-Kaapse Regering vir leierskap en toegewydheid tot die bevordering van die Kunste.

Die SBA is in 1992 gestig as 'n nie-winsgewende organisasie en het ten doel om die sprekers van Afrikaans se uitdrukkingsvermoë, lewensvaardighede en selfverwesenliking in Afrikaans te bevorder.  Die bemagtigingsprogramme sluit voorskoolse kinders, leerders in verskillende skoolfases en volwassenes in.  Die SBA is in wese besig met die skep van geleenthede, ontwikkeling van mense se vermoë in Afrikaans en die verruiming van denke.  So bou die SBA ook brûe binne die Afrikaanse gemeenskap.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top