
Kaleidoskoop (bundel)
Floris Brown
Uitgewer: FAB Produksiehuis
ISBN: 9781920204358
Prys: R250.00
Ek het die eerste keer van Floris Brown gehoor in 1973 toe hy as liedjieskrywer en komponis van die orkes RestlessChildren goue status verwerf het met die liedjie “Until Tomorrow”. Ek was toe maar in st 8 en Floris reeds ’n jong onderwyser op Worcester. Die jeug was gaande oor sy talente as komponis en liedjieskrywer. Dit was egter eers in 1985 dat ons paaie werklik gekruis het, toe ons - albei onderwysers – kollegas geword het in die administrasie van skolesport. Dis veral sy liefde vir skaak wat my bybly.
En as ek vandag die lewe van Floris moet opsom, sal dit wees dat hy ewig ’n stryd gevoer het met die owerhede; altyd gereed om die volgende skuif te maak, net as jy dink dat jy hom vasgepen het. En hy is ’n goeie skaakmeester; menige jongmens sal jou vertel hoe hy met die presisie van ’n neurosjirurg elke skuif beplan en sy studente (wat sy eie kinders insluit) ook so leer.
‘n Kaleidoskoop is ’n silindervormige kyker waarin gekleurde voorwerpe weerkaats om ’n veelkleurige skouspel te vorm en met die geringste beweging telkens verskuif. Dit kan jou ure lank vasgevang hou (HAT 2005, p 514). So gesien, is Floris Brown dus ’n digter wat ’n kaleidoskopiese beeld van die moderne armman se samelewing gee. Hierdie feit word beaam deur nog ’n gemeenskapswerker en sosiale analis cum joernalis van Worcester, Charles Beukes, wat Floris beskryf as “een van die dorp se kleurrykste figure wat die gemeenskap in ’n verskeidenheid van rolle dien” (p 11). Hy is ’n onderwyer van beroep, weliswaar afgetree, maar altyd besig om te onderrig; of dit nou as digter, skrywer, skaakafrigter, gemeenskapswerker, liedjieskrywer of komponis is; Floris hou nooit op om vir sy mense daarop te wys dat daar wel ‘n “tomorrow” is nie.
Die kaleidoskopiese aard van die bundel was vir my aanvanklik steurend: die leser word blootgestel aan ’n veelkeurige skouspel van Brown se vaardighede. Daar is die vigs-drama “Nee!”, waar Brown as die tipiese skoolmeester ’n lewensles aanbied vir jeugdiges oor die moets en moenies van Vigs (74–80); verskeie toesprake; limerieke en lirieke met spesiale klem op die liedjie wat hy vir die Wêreldsokkerbeker geskryf het en deur talle radiostasies uitgesaai is; orale kuns; ’n ware kortverhaal; stories uit die kontrei; gedigte wat deur die Gautengse Departement van Onderwys voorgeskryf is; ’n aantal sonnette oor die liefde; en dan my persoonlike gunsteling, ’n aantal kwatryne waarin hy, soos ’n kaleidoskoop, sosiale kommentaar lewer op bykans alle fasette van die lewe:
Daar is sy liefde vir die see: “[D]is altyd net die see en branders? Nat sout-kleef-sand en koggelmanders.”
Hy mik ’n hou na die letterkundiges wat nie ’n woord uiter ter ondersteuning van die struggle-digters soos hy self nie: “Waar is julle/ O julle letterkundiges/ is so oorverdowend stil/ S-o-o oorverdowend aan het swyg/ Is julle druipstert na jul gate aan het hyg?”
Hy skryf oor die liefde:
O die skyn
huwelike kan tog alte lekker al-le-nig word
waar jy jou nagte uithuil in ’n stort
en elders:Toe ek geen verskuilde agenda aan jou kon vind
Het ek geweet ons liefde is vir altyd gebind
As sportadministrateur kry hy ook ’n hou in na die Springbokke:
Dit is die toets vóór die toets
Waar die Bokke faal
Hul struikel oor rassisme
Terwyl hul na die doellyn nael.
Hy skryf oor armoede en sy mense se pogings om daaraan te ontsnap:
Huisnood
Al trek ek net met ’n tafel op my kop
In my munisipale huis
Dan het alreeds baie gedelf
Al die ander goed kom vanself.
Maar Brown se bitterheid omdat hy deur die groot uitgewers oor die hoof gesien word, tref telkens soos koue water in die gesig:
Hoe sal ek ’n digter word?
Hoe sal ek tog dan nou kan maak
Dat uitgewers ook van my ’n digter maak
Na wie sal ek my gedigte stuur
As ek my jare vasloop teen ’n loodreg muur?
En elders:
Witbrief
’n Witduif kom met die boodskap
Aangevlieg. Plons op my sofa neer:
“Jou poësie is nie wit genoeg
Om te publiseer.”Uitgewers
Ek het kragtig aanbeweeg
Verby jul blokhuise
Tog, staan julle ook opgeskryf
In my digbundel nommer sewe.
Die Restless Kid van Worcester het reeds 24 bundels uitgegee, almal deur homself gepubliseer, want:
Mense hou nie daarvan om
Woorde te lees wat kwel aan
Hul vel, dus, is ek tot vandag
Geen Uitgewer se pêl.
(Uit: “Vel”)
En hier kom Floris Brown met nog ’n meesterskuif: toe niemand sy bundel Kaleidoskoop wou publiseer nie, publiseer hy dit self, want “terwyl uitgewers soos tipiese blokhuise nog steeds net hul voorkeurskrywers publiseer, is selfpubliseerders soos onderstromige wingerdboer-produseerders wie se vrugte een of ander tyd soet op die tong val” (41).
Die potpourri-styl van die bundel sal dalk nie in die smaak val van die letterkunde-fynproewer nie. Die hand van ’n eindredakteur word gemis; daar is insetsels wat dalk eerder tuishoort in ’n familie-gedenkalbum as in ’n letterkundige werk. Maar in ag genome sy stryd om erkenning te kry van die uitgewers, kan jy begryp waarom die digter so veel as moontlik wil sê met die min hulpmiddele tot sy beskikking.
In ’n tyd waar almal wonder oor die toekoms en voortbestaan van Afrikaans, is dit onvergeeflik dat ’n digter reeds 24 bundels op eie koste moes publiseer, terwyl ons as Afrikaanssprekendes daagliks na ’n swetterjoel musikale gemors en rymelary moet luister van onbeholpe sangers wat ewe onbevoegde radio- en TV-joernaliste met arrogansie aan ons wil opdis as “kuns”.
Floris Brown kon soos baie van sy tydgenote wat in Afrikaans ontvang en gebore is, so maklik sy rug op die taal gekeer het – veral as jy in ag neem hoe hy deur uitgewers behandel word. Maar so diep is sy passie vir sy moedertaal dat hy nog energie oor het om ander aan te spoor: “[M]ag die werk van jou hande/ ’n vonk wees vir talle dooie kerse” (217).
’n Merkwaardige mens, ’n merkwaardige bundel. Kaleidoskoop sal eendag as Africana verklaar word, want daar is slegs ’n beperkte aantal eksemplare van hierdie werk gepubliseer. Kry dus een in die hande terwyl jy kan, én terwyl jy dit kan bekostig.
- Michael le Cordeur doseer Afrikaansonderwys aan die Universiteit van Stellenbosch.
KALEIDOSKOOP is ’n versamelaars item met volkleur foto's. Die boek kan direk bestel word van FUTURE MANAGERS (PTY) LIMITED:
Posbus 13194
Mowbray
7705
Tel: 021 462 3572
Faks: 021 462 3681
Epos: zoleka@futuremanagers.net (Zoleka Ncpayi)
Ook beskikbaar by Floris Brown: florisbrown@mweb.co.za / 083 235 5364

