Die ruimtetuig Juno en dr Japie van Zyl se toeligting

  • 2

Die ruimtetuig Juno wat op 5 Augustus 2011 deur NASA vanaf Cape Canaveral gelanseer is, het op 4 Julie 2016 na ’n reis wat bykans 5 jaar geduur het, slegs die tweede ruimtetuig geword wat in ’n baan om Jupiter, die grootste planeet in die sonnestelsel, geplaas te word.

Luister gerus na die uiters interessante praatjie van Dr Japie van Zyl, oud Namibiër  en tans mede-direkteur van “Project Formulation and Strategy at NASA’s Jet Propulsion” tydens ’n onderhou met Hennie Maas by: http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20160703_STERRE_EN_PLANETE.mp3

Die eerste 4½ minute van die onderhoud handel oor ruimtenuus en ’n verslag oor die son se gedrag.

Ek sluit ook die geskiedkundige foto wat deur die sterrewag/observatorium Montecassiano, Italië, op 15 Julie 2012 geneem is, pas nadat Jupiter en sy geselskap, die galileaanse mane agter die sekelmaan verskyn het nadat hulle deur die maan geokkulteer is.  

JupMane

Ek het die foto 180° geroteer omdat dit andersins vir waarnemers vanuit die Suidelike Halfrond onderstebo sal voorkom.

Die maan beweeg van links onder na regs bo, oor die foto. Die vroegoggend wolke wat duidelik op die foto sigbaar is, het gelukkig ’n gaping geskep om die seldsame verskynsel te fotografeer. Let veral ook op die aardskyn wat op daardie fase waarin die maan verkeer so helder is dat selfs kraters op die donker kant van die maan onderskei kan word.

Groete vir al die SêNetters

Panda

 

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir jou interresante bydraes. Ek lees dit graag. Ek was bevoorreg om die naweek op 'n plaas naby die Drakensberge deur te bring waar daar geen lugbesoedeling is nie. Ons het ten spyte van die snerpende koue buite gesit. Ek is nie 'n sterrekundige nie, maar is stom oor wat net die oog kan sien. Dit laat my net besef hoe klein ek as mens is.

  • Reusedwerg — Ek is bly dat jy die hemelruim so kon geniet. Ek kuier tans in Namibië en hier is die hemelruim net so mooi. Dis koud maar dan flikker die sterre minder. Ek het nagelaat om die hemelligame op die foto te identifiseer. Van links na regs: Europa, Io, Jupiter, Ganymede en Calisto wat almal deur Galileo in Januarie 1610 ontdek is. Net Europa van die vier is kleiner as ons eie maan. Dié is natuurlik deur ’n gevriesde see bedek en die wetenskaplikes beplan om voorkant toe daar te gaan boor en te duik om vir lewe te soek. Ganymede wat die grootste maan in die sonnestelsel is, oortref selfs die planeet Mercurius.
    Die ontdekking van hemelliggame wat om ander as die aarde wentel het tot groot ontsteltenis onder sommige kerklikes van destyds gelei en van hulle het selfs geweier om deur sy teleskoop na dié verskynsel te kyk omdat die geosentriese model, volgens hulle, deur Die Bybel onderskryf word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top