Die rooi hand

  • 3

Dit is die winter van 1918, skemeraand en koud teen die Barkly-bergpas uit. Dit sneeu liggies en die windjie voel asof dit sny dwarsdeur die dik jas waarin Piet Joubert hom toegewikkel het. Sy vosperd loop stadig, hy wil hom nie moor hier teen die hoogte uit nie, al is hy laat. Dit is nog so ses myl tot by sy plaas bo-op ’n gelykte.

Piet, ’n  jong man van vyf en dertig, het gaan besigheid doen in Elliot, ’n paar myl onder die berg en is nou op pad terug na sy vrou en twee seuns. Hy het, nadat sy transaksies afgehandel was, te lank in die kroeg gesit en gesels en nou vang die skemer hom hier, dit sal stikdonker wees voor hy by die huis kom. Die nagte is hier juis baie swart as dit bewolk is, met geen ligte nie, mens kan dan skaars die grond sien van die perd se rug af. Af en toe neem hy ’n slukkie van die bottel brandewyn wat hy in sy jas se sak hou, dit help om die koue te verdryf. Hy is nie juis ’n drinker nie, maar het die brandewyn gekoop om darem iets in die huis te hê vir wanneer ’n man lus kry.

Naby die vyfpond-draai sien hy ’n ruiter op ’n wit perd nader kom. Dit is ’n vrou in ’n lang swart rok en ’n donkerrooi kopdoek, hy kan net ’n stukkie van haar bleekwit gesig sien. Agter haar hoor hy die stampende geluide van ’n wa en osse en hy kan die gestalte van die swart touleier en die voorste osse dofweg uitmaak, die meeste osse en die wa is nog anderkant die draai en word deur ’n krans verberg. Hy hoor iemand uitroep na die osse daar agter iewers, dit is seker ’n helper wat die osse beheer en die brieke aandraai.

Hy ry tot by die vrou, wat nou bewegingloos op haar perd sit, en vra: “Wat ry jy so laat hier teen die pas af?” Haar gesig bly steeds grootliks onsigbaar.  

“Ek moet die wa op die dorp kry,” is al wat sy sê en hy kry die indruk dat sy nie wil gesels nie, sy kyk ook nie direk na hom nie, dit is asof haar blik na daar ver gerig is, waar die kronkelende pad om die volgende draai na onder verdwyn.

“Maar waaroor so laat met ’n wa hier af? Die pad is smal en gevaarlik, jy sal dit nooit maak in die donker nie.”

Sy klink nou ergerlik. “Ek moet die wa op die dorp kry, gee pad dat ons verbykom,” is egter steeds al wat sy sê en weer kry hy die indruk van verwydering, ’n soort afwesigheid, asof haar volle aandag nie by hom is nie.

“Maar is jy dan mal?” vra Piet, nou self verergd vir die vrou se gebrek aan spraaksaamheid en haar onverwagte aanstootlikheid. Maar hy voel skielik ’n vreemde, erger koue, asof die vrou dit uitstraal, ’n soort koue wat jou geestelik omwelf, wat jou bang maak. Vaagweg voel hy onrustig, hy kan dit nie verklaar nie. Sy perd runnik  en trap rond asof verbouereerd.

“Ek sê vir die laaste keer, gee pad voor ons, ons móét vannag nog tot onder die berg kom.”

Piet besluit om die vrou te ignoreer en ry om haar, maar halfpad om die skerp draai steek hy vas. Dit is ’n groot wa met omtrent veertien osse, vol gelaai met iets wat onder seile toe is, sien hy nou. Hy besef hy sal nie daar verbykom nie, hy twyfel of die enorme wa en osse om die draai sal kom op die smal pad met die kranse aan die een kant en ’n hoë afgrond aan die ander kant.

Hy wil terugdraai om die vrou te gaan waarsku, maar besef sy is alreeds by hom, haar perd staan byna teenaan syne.

“Jy sal nooit in die donker die wa om die draai en teen die berg af kry nie.” Hy skreeu byna, dit is asof hy nou beangs geword het. “Maak die span osse los en lei hulle ’n ent verder af, daar is ’n gelyktetjie waar hulle in die juk kan lê en rus. Die wa moet maar die nag hier staan.”

“Sê jý ook ek kan dit nie doen nie!” gil sy en hy sien dat sy haar hand lig. Die volgende oomblik klap sy hom deur die gesig.

Piet voel ’n skerp brandpyn soos vuur op sy wang en deur sy hele lyf, sy perd runnik beangs en begin met die pad afhardloop, wild en snorkend, Piet sukkel om hom te beheer. Agter hulle hoor hy ’n honende lag en toe hy vir ’n oomblik omkyk, sien hy die osse hardloop verward, die wa swaai oor die afgrond en tref die vrou op die perd. Sy, met die wa en osse en die touleier verdwyn almal oor die donker kranse.

Dit is reeds stikdonker toe Piet by sy neef Gert se huis op Elliot aankom, hy is koorsig en ylend, hulle help hom dadelik bed toe.

Vir dae lank lê hy daar, asof in ’n koma en hy kan nie praat nie. Gert se vrou, Sannie, kom versorg hom daagliks ’n paar keer, lê asynlappe op sy voorkop en probeer hom voer, maar dit neem ’n week voordat hy weer begin praat, maar mompelend, hulle kan byna niks uitmaak nie.  Toe hy weer begin regkom met sy spraak, vertel hy die mense – wat om sy bed saamgedrom het –  die verhaal van die gebeure daardie aand in die berg.

“My magtag Piet,” roep Gert uit, “en kyk die rooi merk op jou wang. Dit lyk soos ’n handmerk, die palm en vyf vingers sit daar!” Hy hou ’n spieël voor Piet se gesig.

Oom Swart Stefaans, Gert se oupa, is ook daar maar sê niks. Eers twee weke later, nadat Piet heeltemal herstel het, vertel hy hulle die verhaal van die weduwee Villiers wat alleen in die berge geboer het na haar man se dood.

Sy was maar veertig toe haar man in 1895 oorlede is en het voortgegaan om op haar eie te boer. Kinderloos het sy alleen daar gewoon. Eers het dit goed gegaan. Van die ongetroude mans en wewenaars van die omgewing het vir haar kom kuier, maar sy het hulle taamlik kil ontvang en hulle nie aangemoedig nie. Later het stories ontstaan dat sy ’n verhouding het met ’n swart man wat soms by die die huis gesien is. Hierdie stories is waarskynlik versterk deur haar bemoeienis met die swart stamme daar in die berge rond, sy het hulle dikwels gehelp as hulle siek was en in slegte tye het sy met kos gehelp.

Toe het die sabotasie begin. Haar landerye het soms onverwags aan die brand geraak, haar diere het geheimsinnig gevrek. Daarby moes sy baie spot en hoon verduur en so is sy tot op die rand van bankrotskap gedryf.

Sy moes dringend iets verkoop om aan die gang te bly en een middag is sy met ’n wavrag velle teen die berg af, van haar eie en ook van die swart mense vir wie sy dit teen ’n kommissie sou verkoop. Die vellekoper sou net vir een dag op die dorp wees en sy moes haas om betyds daar te kom dat sy hom nie mis nie.

Van die enkele boere wat haar nog goedgesind was, het haar gewaarsku teen die gevare van die bergpas met so ’n groot vrag, maar sy wou nie luister nie, sy het buitendien op daardie stadium nie meer vertroue in haar wit bure gehad nie.

Iets het in daardie berg gebeur: die wa is die afgrond af, met haar, die touleier en al.

 Sy is op haar plasie begrawe, die boere wat geweet het hoe die vurk in die hef steek, het gesorg dat die touleier in dieselfde graf toegegooi word. Saam in die dood, maar in die lewe kon hulle dit nie openlik waag nie.

Piet het lewenslank die rooi merke in sy gesig gedra. En nooit weer in die donker met daardie pad langs gery nie.

NS Toe ek ’n kind was, het ek by die “oumense’ ’n storie gehoor van ’n spook wat een nag in ’n bergpas iemand so geklap het, met die merke wat bly sit. Die res is versinsel.

  • 3

Kommentaar

    • In baie flieks wat ek self met my eie oë gesien het.
      Maar op 'n ernstige noot nou - van al die mense, van allerhande kulture en plekke dwarsoor die aardbol, wat al ondervinding van die bonatuurlike ondervind het, kan tog sekerlik nie almal lieg of aan dieselfde illusies ly nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top