Die rol van etiek en integriteit in die politiek en openbare lewe

  • 1

Fikile Mbalula, nuutverkose sekretaris-generaal van die ANC, verklaar plegtig in sy hoofrede met die afsluiting van die party se 55ste nasionale konferensie (Beeld, 7 Januarie 2023) dat “transformasie behels die institusionalisering van integriteit en etiese leierskap regdeur die staat”. Te dikwels egter gebruik die ANC hierdie begrippe bloot as slagspreuke, sonder dat die beginsels onderliggend daaraan verstaan en nog minder geïnternaliseer word. Dit bly amorfe konsepte wat êrens in die lug hang, sonder enige inhoud en betekenis. Dit is dus noodsaaklik om hierdie en ander verwante konsepte weereens deeglik onder die loep te neem.

Etiek en integriteit: Twee kante van dieselfde muntstuk

Die politiek en openbare lewe kan nie langer integriteit en etiese implikasies of uitdagings ignoreer of afwysend daarteenoor staan nie, hoe dit ook al hanteer word, want daar is vier fundamentele waardes wat voortdurend in die praktiese politiek verwesenlik moet word ‒ die beperking van gesag, die doeltreffendheid (bevoegdheid) en verantwoordbaarheid (deursigtigheid) van die regering, asook geregtigheid. Inderdaad, etiek en integriteit in die politiek is nie alleen wenslik nie, maar ook moontlik ‒ dit is nie ’n naïewe droom nie. Etiek en integriteit is metafories-gesproke twee kante van dieselfde muntstuk.

Etos is die morele opvattings eie aan ’n bepaalde samelewing, soos om ’n etos van openbare diens aan die dag te lê. Etiek is die morele beginsels wat die doen en late, die gedrag, die optrede van politici en staatsamptenare moet bepaal met betrekking tot wat reg, eerlik, moreel-korrek en aanvaarbaar, of verkeerd, oneerlik, moreel-onbillik en onaanvaarbaar is. Dit is om bepaalde reëls van etiese optrede en ’n onuitgesproke of geskrewe etiese kode na te kom. Etiek voeg deurslaggewende waarde tot die politieke lewe toe deur die regverdige behandeling van alle belanghebbendes te waarborg, nadruk op billikheid te lê, te beklemtoon dat die inperking van regeringsmag van absolute en wesenlike belang is en ’n langtermynperspektief of visie te bied.

 

Integriteit is die absolute en onwrikbare nakoming van ’n kode van etiese waardes. Dit behels die eienskap om eerlik en onkreukbaar te wees, om karaktertrekke met ’n nougesette, eerbare en opregte houding te vertoon, om streng morele beginsels aan die dag te lê en om in alle aangeleenthede wat die openbare lewe raak, met ’n sterk sin vir integriteit op te tree. Die kern van integriteit is om geloofwaardig, openhartig, deursigtig en getrou aan die waarheid te wees, met ’n absolute verbintenis tot die saak voorhande; om ’n tersaaklike doelgerigtheid en onpartydigheid in besluitneming te toon en om te verseker dat besluite nie beïnvloed word deur nepotisme, begunstiging, ander onbehoorlike motiewe of korrupte praktyke en gebruike nie. Integriteit word dus gekenmerk deur onselfsugtige diens, gegrond enkel en alleen in die openbare belang, eerlikheid in die lewering van openbare dienste, die verklaring van enige persoonlike belang wat in konflik mag kom met die uitvoering van openbare pligte (oftewel deursigtigheid) en verantwoordbaarheid aan die publiek vir besluite en optrede.

 

Vyf faktore is onderliggend aan integriteit, voorgestel deur die volgende formule:

I = E + V + B + D – K

Integriteit = Etiek + Verantwoordbaarheid
+ Bevoegdheid + Deursigtigheid – Korrupsie

 Vir ’n goeie regering is die kwaliteit van verantwoordbaarheid en deursigtigheid, asook geloofwaardigheid van kritieke belang. Dit pas soos sluitstukke in mekaar en kan selfs as die vernaamste en mees onderskeidende kenmerke van etiek in die politiek beskou word. Oplaas, in die politiek en openbare lewe moet politici en openbare amptenare aan die kieserskorps en belastingbetalers verantwoordbaar en deurgaans deursigtig in hul optrede wees.

’n Goedfunksionerende demokrasie is daarom verantwoordbaar en deursigtig en gee gehoor aan die verwagtings, somtyds die versugtings, van die burgery. Wat in bedwang gehou moet word, is die feitlik-algemene voorkoms van ’n onverantwoordbare en ondeursigtige regering, wat duidelik blyk uit ’n tendens om onafhanklike politieke ondersoek, soos deur nie-regeringsorganisasies (NRO’s) en die media (buite die institusionele netwerk van die regerende party-staat), te beperk.

Wetgewing kan egter nie etiek voorskryf nie. Daarom moet ’n pragmatiese benadering gevolg word wat nie te teoreties en te moralisties is nie. Politieke etiek kan nie in motivering en voorneme alleen gegrond wees nie. Dus moet besluitnemers kennis neem van die gevolge en uitkomste van besluite en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar, selfs as dit strydig is met die aanvanklik-gestelde doelwit of daardie doelwit verydel of tot niet maak.

Inderdaad word die waarde van etiek in ’n maatskaplike konteks hoofsaaklik gemeet aan gevolge en uitkomste. Wette word gerespekteer of gekritiseer vanweë hul uitkomste en impak, hul gevolge, nie hul breë doelwitte nie. ’n Sprekende voorbeeld is die sage rondom die South African National Roads Agency Limited (SANRAL) se Gauteng-e-tol-padnetwerk. Duidelik was dit die eerste tekens van passiewe verset, gevolg deur heelwat ander, wat óf openlik óf verskuil plaasvind.

In alle politieke tradisies word etiese verantwoordelikheid in die politiek voortdurend aangespreek. Die pendulum swaai voortdurend tussen twee uiterstes: etiek as ’n verwysingsraamwerk vir die politiek en politiek geheel en al ontkoppel aan enige etiese verantwoordbaarheid.

Verantwoordbaarheid beteken dat politici en openbare amptenare volle verantwoordelikheid moet aanvaar vir besluite of optredes wat hulle neem en ondersteun, en vir die gevolge van geformuleerde en aanvaarde beleidsrigtings, asook van geïmplementeerde wetgewing. Hulle moet verwag om nie net alleen verantwoordbaar gehou te word nie, maar ook om besluite en optredes te verduidelik wanneer hulle daarom gevra word, en sodoende ’n bereidwilligheid openbaar om te reageer op geldige of geregverdigde navrae. Die vlak van verantwoordbaarheid mag wissel. Dit kan beperk word tot ’n klein en vertroulike groep van tegnokrate of dit kan toeganklik en in die ope wees met inligting wat wydverspreid beskikbaar gestel word of dit kan in redelike besonderhede gaan of dit kan taamlik algemeen wees.

 

Deursigtigheid vereis van die regering om nie iets te verdoesel of met ’n kleed van geheimhouding te bedek in ’n poging om die goedkeuring van die burgery te verkry of om die afkeuring van dit wat die regering doen, te ontwyk nie. Daar bestaan ’n gebrek aan deursigtigheid wanneer politici of openbare amptenare poog om korrupte optrede te verskuil agter die gebruik van staatsmasjinerie om toegang tot inligting te ontsê of te onderdruk, daarin misluk om die volle omvang, aard en gevolge van deurlopende regeringsprogramme of gereëlde regeringsake wat alle burgers raak, openbaar te maak, of  deur blootlegging doelbewus vaag en ondeursigtig te maak deur misleidende statistieke en versinde of gefabriseerde verduidelikings, asook pogings tot regverdiging.

 

Die plaag van korrupsie

Mense is korrup wanneer hulle gewillig is om toe te gee aan oneerlike, immorele of onwettige gedrag in ruil vir finansiële gewin of om ’n voordeel te verkry. Korrupsie verwys na praktyke en optrede, veral van mense in gesagsposisies, wanneer hulle die mag of vermoë het om korrup te wees, die geleentheid hom voordoen om korrup te wees en die motivering bestaan om korrup te wees.

Korrupsie floreer omdat die staat gebruik kan word as ’n meganisme om opwaartse mobiliteit of patronaatskap te verseker, wat dus die weg baan vir private toegang tot openbare hulpbronne. Sodoende word staatsmasjinerie die weg deur middel waarvan die elite rykdom bekom, eerder as om te dien as ’n regstellende meganisme om maatskaplike geregtigheid en volhoubare ontwikkeling te bevorder.

Daar bestaan daarom ’n behoefte om strategieë te ontwikkel wat die private akkumulasie van rykdom deur middel van korrupsie ontkoppel aan toegang tot openbare ampte deur middel van die politiek.

Korrupsie is die misbruik van openbare ampte of toevertroude gesag vir persoonlike gewin. Dit ondermyn instellings, vernietig lewens en gemeenskappe, bring menslike lyding mee (burgers wat afgepers word vir omkoopgeld om toegang tot openbare dienste te verkry), lei tot mislukking in die lewering van basiese dienste (soos onderwys, gesondheidsorg, openbare vervoer, skoon water, sanitasie en persoonlike veiligheid), ontspoor die bou van noodsaaklike infrastruktuur en ontketen algemene onvergenoegdheid en selfs woede onder die bevolking. Dit lei daartoe dat gemeenskappe gedestabiliseer en gewelddadige konflik aangewakker word. Voorbeelde hiervan is die voortdurende diensleweringsproteste in verskeie dele van die land, wat heel dikwels in geweld ontaard.

 

Die etiese heksagoon van waardes

Drie faktore is van fundamentele belang in die politiek en lê aan die kern van wat hier beskryf word as die etiese heksagooneerstens, die inperking van regeringsgesag of mag; tweedens, ’n doeltreffende, maar bevoegde, bekwame regering; en derdens, die verantwoordbaarheid of deursigtigheid van die regering. Sodra politieke maghebbers die inperking van gesag aanvaar en dit sien as positief en noodsaaklik, stelsels soepel, doeltreffend en oplossingsgeoriënteerd is en besluitnemers verantwoordbaar gehou word, staan beleidsrigtings ’n veel beter kans om stabiel, aanvaarbaar en volhoubaar te wees, en kan moontlike risiko’s voorsien en voorkom word (sien diagram).

Die etiese heksagoon bestaan uit ses bondels van kardinale waardes ‒ dit staan in noue verband met en word gerugsteun deur die voornoemde vyf faktore onderliggend aan integriteit. Dit hou ook verband met inwaartse en uitwaartse perspektiewe en basiese politieke vereistes vir maatskaplike samehorigheid. Die oorhoofse sambreelterme vir hierdie bondels is verantwoordelikheid en vryheid; vrede en veiligheid; identiteit en/in verskeidenheid (diversiteit); volhoubaarheid; samehorigheid (solidariteit); en billikheid en die oppergesag van die reg.

Politieke gesag loop ’n groot risiko as dit nie daarin slaag om ’n minimum kwalitatiewe drempeltelling in al ses waardebondels te bereik nie, of ten minste in sommige van die ses waardebondels ‒ soos in die geval van “mislukte” state wat uiters broos is en op die punt van ineenstorting staan. ’n Gemiddelde telling is nie voldoende nie. Wanneer goeie tellings in sommige waardebondels behaal word teenoor besondere swak tellings in ander is ’n regime uiters ongebalanseerd en daarom in gevaar. Dit is beter om voldoende tellings in elk van die ses waardebondels te behaal, eerder as om slegs in sommige van die ses goed te vertoon.

Geregtigheid lê aan die wortel van etiese politiek en etiese beleidsrigtings. ’n Billike vlak van geregtigheid werk soos messelklei, soos gom wat ’n samelewing saambind. Geregtigheid, veral as dit as sodanig gesien word, voed vertroue in gesag en politieke mag onder die burgery ‒ veel meer nog as burgers oortuig is dat die oppergesag van die reg geld en op een en almal, ongeag status of posisie, van toepassing is. Geregtigheid vorm ook die basis van die etiese heksagoon, verskaf aan regimes ’n betroubare en vasstaande fondament en bied aan die burgery die geleentheid om in vrede in ’n pluralistiese samelewing te lewe.

 

Heel dikwels ontstaan omstandighede waarin waardes in stryd met mekaar verkeer en elkeen op voorkeurbehandeling aanspraak maak. Veiligheid, geregtigheid en volhoubaarheid kan nie bereik word sonder ’n kompromis met billikheid nie. In handelsaangeleenthede vind state dit moeilik om ’n keuse te maak tussen verantwoordelikheid en billikheid (vrye toegang vir landbouprodukte, geen verskuilde geldelike steun of subsidies vir besighede, en so meer). Oor die omgewing is daar ’n voortdurende noodsaak vir kompromieë tussen volhoubaarheid en samehorigheid, verantwoordelikheid, billikheid, veiligheid en identiteit. Binnelandse konflikte met internasionale implikasies word vasgevang in besluiteloosheid tussen veiligheid, identiteit en verskeidenheid, vryheid en verantwoordelikheid tot op ’n punt dat billikheid en samehorigheid op die spel geplaas word. Om inskiklik te wees teenoor minderhede en etniese spanning te ondervang, vereis dat nie net alleen billikheid en veiligheid nie, maar ook eenheid en/in verskeidenheid (diversiteit) verseker word.

Duidelik is morele dilemmas die daaglikse “brood en botter” van die politiek: die vermindering van voertuiguitlaatgasse teenoor die ontwikkeling van vervoerstelsels, besuinigingsmaatreëls teenoor ekonomiese groei, doeltreffendheid teenoor vryheid, samehorigheid (solidariteit) teenoor verantwoordelikheid en daadwerklike optrede teenoor besluiteloosheid. Die vraag is of dit toelaatbaar en moreel-regverdigbaar is om growwe menseregtevergrype ongehinderd of ongestraf te laat voortgaan ‒ Sirië, Soedan en Myanmar is maar enkele voorbeelde. Dog, politieke besluite word heel dikwels vasgevang tussen doeltreffendheid en vinnige optrede onder leiding van sterk leierskap of legitimiteit (regmatigheid) en ’n langdurige proses van raadpleging en onderhandeling.

Diagram: Die etiese heksagoon ‒ ’n Voorstelling van die ethical tree in Benoît Girardin se Ethics in politics: Why it matters more than ever and how it can make a difference (2012, Geneva: Globethics.net Focus, 5:66, 76–78, aanlyn weergawe).

Waardes en belange in ’n interaktiewe regering

Weens uiteenlopende etiese standpunte en perspektiewe is die deel van waardes absoluut noodsaaklik vir ’n interaktiewe regering om gemeenskaplike belange te dien. Vorme van interaksie is oop, kompleks en veranderlik of wisselvallig. Regerings mag bepaalde kort- of langtermynperspektiewe hê, besigheidskorporasies sal oor die langer termyn daarna strewe om hulpbronne en markte te verseker, vakbonde sal die belange van hul werkers wil bevorder, die burgerlike samelewing (verenigings, die media, dinkskrums) mag op emosionele kitsoplossings aandring of ’n bewustheid vir langtermynvolhoubaarheid openbaar en multilaterale instellings en internasionale NRO’s mag vêrsiende doelstellings hê of bloot die speelbal van konflikterende partye word.

Waardes (teenoor belange) wys op wat paslik, beter, meer doelmatig is, ’n “bestel of orde van die goeie” en is dié soort beginsels waarop mense nie bereid is om te kompromitteer nie. Waardes (etiek) en belange (politiek) is kruissnydend en oorvleuel. In die politiek is waardes sonder belange net so gevaarlik as belange sonder waardes. Albei is noodsaaklik en hulle bestaan in ’n kreatiewe, skeppende spanning met mekaar.

 

Hoewel politiek hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die staat (die regering, beleidsformuleerders, die burokrasie) is wat leierskap moet voorsien, is die private sakesektor, die burgerlike samelewing (georganiseerde verenigings, die media, dinkskrums) en vakbonde toenemend invloedryk, geniet hulle meer en meer geleenthede om insette te lewer en is hulle in staat om hul eie belange en waardes te bevorder. Van deurslaggewende belang is om ontvanklik te wees vir ’n verskeidenheid van perspektiewe en belange en om kompromieë te smee sonder om een stel belange te onderspeel of te verwerp.

Die kompleksiteit en onvoorspelbaarheid van uitkomste, gevolge en trefkrag (die impak) van besluite beteken dat alle rolspelers moet kan staatmaak op gedeelde waardes, gevorm deur ’n proses waarin alle akteurs die riglyne of grondreëls eerbiedig. Te dikwels vergeet menige openbare amptenare die werklike doel waarvoor hulle deur die belastingbetaler in diens gestel is en betaal word. Sodoende word die gebrek aan of die verlies van ’n openbare diensleweringsetiek die doodsteek vir openbare diens self. Dis daarom ook nie verbasend nie dat regerings merendeels burokraties, oudmodies, ondoeltreffend, onbuigsaam (rigied), opgeblase en verkwistend geword het.

Die belangrikste karaktertrek van interaktiewe regerings (in wese, die herskepping daarvan) is dat dit die mens, die indiwidu, as die middelpunt, die spil sien waarom alles draai. In werklikheid het die erkenning, die besef dat regerings bestaan om die burgery te dien, die soeke na ’n nuwe regeringsparadigma gedryf.

Dog, soos die sfeer van regeringsaktiwiteite mettertyd verbreed het, het die openbare amptenary meer en meer soos meesters en heersers begin optree, en soos die burokrasie ’n feitlike monopolie oor dienslewering verkry het, het die beheptheid met reëlgebondenheid stelsels ondoeltreffend en ongevoelig teenoor die belange en behoeftes van die algemene publiek gemaak. In die proses is die etos van openbare diens verwring, indien nie ’n noodlottige doodsteek toegedien nie, en dienslewering vind plaas op ’n wyse wat op die wense en gerief van die regering gefokus is eerder as op die behoeftes en voorkeure van die publiek.

Gevolglik het die lewering van ’n beter en meer doeltreffende diens aan die burgery in vele opsigte die toets vir die regering se vermoë geword om sy legitimiteit (wettigheid) te hervestig en die vertroue van die publiek terug te wen. Dit sal tyd neem om die heersende burokratiese kultuur te verander, asook die oorgang na ’n nuwe regeringsparadigma te bestuur.

Inderdaad, om ’n regulatoriese regime en struktuur te skep wat eerlik, betroubaar, ongekompliseerd en terselfdertyd streng-afdwingbaar is, is miskien die grootste uitdaging vir enige regering. Vir ’n regulatoriese regime om doeltreffend te funksioneer, is ’n dwingende voorwaarde ’n kerngesonde regbank en regstelsel, asook die bestaan van ’n regsorde (die oppergesag van die reg, regsoewereiniteit) ‒ waarvan trouens nie een van die twee in ontwikkelende lande as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.

Dit word nog steeds betwis of die vernaamste dryfkrag van etiek in die politiek die algemene nut, openbare welsyn, geregtigheid, billikheid, gedeelde waardes of gemeenskaplik-gekontrakteerde belange is. Inderdaad weifel die verhouding tussen die politiek en etiek meestal tussen ’n baie noue verbintenis en ’n bykans algehele, wedersydse uitsluiting.

Daarom duur skeptisisme oor die toepaslikheid van etiek in die politiek voort. Dit word gevoed nie net deur die belewenis van menslike onvermoë, tekortkominge en rampspoed nie, maar ook deur die voortdurende kloof tussen verklaarde voorneme en praktiese uitvoering (implementering), belofte en volvoering (realisering).

Terwyl ’n intense herlewing van etiek vandag waargeneem kan word op terreine soos gesondheidsorg en mediese ingrepe, ekonomiese en korporatiewe sakepraktyke en in omgewingsaangeleenthede, bly die politieke sfeer grootliks onaangeraak deur enige etiese oorwegings of word dit doodeenvoudig geïgnoreer. Politieke en staatsdiens (burokratiese) elite wat die vernaamste besluitnemers is, sal daarom moet bewys dat hulle die nodige politieke wil het om bestaande wette af te dwing, om die stelsels van deursigtigheid, integriteit en verantwoordbaarheid te versterk, en om meer in terme van almal se belange (die samelewing as geheel) te dink, nie in terme van die bevordering van hul eie, persoonlike belange nie.

Dit is duidelik dat die wêreld, ook Afrika en Suid-Afrika, by ’n kruispad staan. Wat vandag in die politiek en openbare lewe voorgehou word as integriteit, etiek, deursigtigheid en verantwoordbaarheid is grootliks afgewater. Daar is minder van ’n verwagting dat eerlikheid, openhartigheid en morele optrede sal geld, en daarom word al hoe minder ag daarop geslaan as hierdie deugde afwesig is. Die burgery word gewoond gemaak aan beeldpoetsing, die glibberige uitlatings van woordvoerders, oppervlakkige frases en eufemismes en die verdoeseling (verskansing, geheimhouding) en vertragingstaktiek wat die politiek en openbare lewe kenmerk.

Die klaarblyklike gevolge vir ’n demokratiese samelewing en regering is daarom geensins bemoedigend nie.

Dr Venter is ’n voormalige uitvoerende direkteur van die Afrika-Instituut van Suid-Afrika in Pretoria (1994–99) en professor in die Nelson Mandela Leerstoel (2010–11) aan die Afrikastudie-Sentrum, Skool vir Internasionale Studies, Jawaharlal Nehru-Universiteit (JNU), New Delhi, Indië.

  • 1

Kommentaar

  • Wessel Badenhorst

    Ek sal baie graag hierdie kommentaar van Dennis Venter wil hê.
    As dit enigsins moontlik is om dit vir my te e pos

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top