Die reukgeheue is die mooiste onthou

  • 3

“Jis, kry net ’n vuurhoutjie, Ma poep stink!” My ma wil haarself doodlag want sy put vreeslike genot uit ons misnoeë. “Jy weet” sê sy en vee die lagtrane van haar wang. “Die reuk van die vuurhoutjie laat my dink aan Tannie Gwen, sy’t ook altyd so vrot gepoep.”  Dis stil vir ’n ruk en ek weet ons almal dink nou aan tannie Gwen. Sy is dood aan kanker en al wat ek van haar kan onthou, was die roomys wat sy vir ons gegee het in die hospitaal. Aarbeiroomys was al wat sy kon eet op die einde. Party dae was selfs die roomys te veel vir haar maag en dan gee sy dit vir my. Dit was so lekker maar, die skuldgevoel het die lekker oorweldig. Ek het nooit weer van daai aarbeiroomys geëet nie.

                              en

My boetie se dogtertjie het een middag op my skoot kom spring en haastig iets uit haar tassie gehaal. Dit was 'n sakkie vol springmielies en gesmelte marshmallow wat saam gebondel is in een taaierige bol. "Vat 'n happie,” sê sy opgewonde. Ek het dit geruik voor ek dit kon proe en een gedagte het voor my oë geflits, so asof iemand 'n foto vir my wys. Ek sien hoe ek uit die kar se venter vir my boetie skree " kyk wat het ek gemaak!" Dit was 'n marshmallow en popcorn bol op 'n stok. Ek onthou nie veel van daai dag nie, ek weet nie of ek dit eers met my boetie gedeel het nie (ek twyfel) maar, ek onthou die gevoel van trots en opwinding. Wat 'n hemelse konkoksie (probeer dit gerus).

                               en

Ek stap toe gister in 'n winkel, opsoek na serpe. Ek het innerlike konflik oor die tipe kleur: Swart is prakties en kan by als gedra word maar, die pers is mooi en ek het min pers in my kas. Ek het gedink om dalk al twee te vat, toe ek die mooiste ding ruik. Ek sê mooi want die persoon waaraan ek gedink het, is pragtig. My Engels-juffrou in matriek het dieselfde parfuum gedra as die vreemdeling agter my. 

Ek dink ons almal was bietjie verlief op juffrou gewees - meisies en seuns. Sy was intelligent en mooi en die teenoorgestelde van die Wiskunde-juffrou (is dit net ek, of is alle Wiskunde-onderwysers bliksems?) As sy gelees het, moes sy eers haar bril opsit en as sy iemand iets gevra het, het sy so oor haar bril geloer. Sy het baie gelag en haar passie vir gedigte was aansteeklik.

Ek het die serpe gelos en dadelik die reuk agtervolg. Die vreemdeling het na die mansafdeling beweeg en toe ek weer kyk, staan ek by die onderbroeke. Ek moes maar maak asof ek vir onderbroeke shop, net om haar weer te kon ruik. Ek het nostalgies geraak oor my skooldae en gewonder waar daai juffrou nou is. Ek is daai dag huis toe sonder serpe maar, my kennis van onderbroeke het heelwat verbeter.

Adele

 

  • 3

Kommentaar

  • Oulik geskryf! Dankie - het dit geniet. Hoor hier, daardie getrekte vuurhoutjie wat so rook werk soos 'n bom. In die ou (arm) dae, was dit al 'airfreshner' wat ons in die toilet kon bekostig.

  • Adele,

    Nie net reuk nie maar musiek doen dieselfde.

    Bv. Elke keer, wanneer ek La Paloma; The Harry Lime Theme en Rosemarie hoor, laat dit my onmiddellik aan my oorlede ma dink wat oor hierdie liede gek was en gereeld geneurie het.  Dit bring terug na my geheue die gelukkige tye saam met haar, asook die hartseer omrede sy nie meer daar vir ons is nie.

    Jaco Fourie

  • Jy's reg Adele

    Koejawels plaas my terug langs die skuur op my oom se plaas daar in Alkmaar se wêreld; langs die skuur was 'n stroompie met 'n laning koejawelbome.  Ek sien ook sommer die Vaaljapie (Fergusontrekkertjie) daar in die skuur staan en die kolle son onder die koejawelbome.  Lemoenreuk, vandag nog, plaas my terug in die koshuis op Nelspruit.

    Soos vir Jaco laat musiek en geluide ook vergange se dae in jou gedagtes flits.  Hadidas en bosduiwe plaas my terug op daai einste plaas terwyl ganse my weer laat dink aan 'n ander oom van my se plaas in die Oos-Kaap.  'Bits and Pieces' van die Dave Clark 5 sit my terug in die bungalow, 14 Veldregiment in Bethlehem, ek ruik sommer die Brasso en skoenpolitoer en daai kenmerkende seilreuk van kamaste en gordels.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top