Die reisgenoot

  • 0

Ek weet al dat ek haar op die bus sal kry. Soos ek, gaan sy altyd twee aande voor die skole ná die Desembervakansie heropen, terug binneland toe. Vir die afgelope agt jaar al ontmoet ons op hierdie roete. Wanneer ek plek bespreek, vra ek altyd vir dieselfde sitplek.

“Hoekom ry jy nog met die bus? Jy kan tog sekerlik bekostig om te vlieg ... of met jou eie motor ry?” wil my vriende dikwels weet.

Hoe kan ek hulle van háár vertel? Van 365 dae se uitsien na hierdie rit; om naby haar – langs haar – te sit.

Wanneer ek laatmiddag op die bus klim, hou ek haar plek by die venster. Hartenbosheuwels, Groot-Brak, Glentana. In George se midde-dorp klim nog mense op. Dan gaan sit ek op háár plek; my handbagasie op my eie plek. Anderkant die Outeniqua-pas haal ek 'n breiwerkie uit –  my skans teen lastige geselsers. Kammanassie. Nolls Halt. Kort duskant Uniondale begin skemer en Potjiesberg skouerskuur. Dan pak ek weg. Tussen Willowmore en Aberdeen is die pad vir kilometers kar- en kronkelloos. Karoo-pad. Langs hierdie pad klim sy op.

Tydens ons gedeelde nagtelike busrit-ure vertel sy my van haar reise. Oostenryk, Hongarye, Tsjeggië ... altyd Europa. Sy het geen begeerte om Amerika of Australië of Nieu-Zeeland te besoek nie, sal sy altyd sê. Wanneer ons na 'n jaar weer ontmoet, is ek opnuut verbaas oor hoeveel ervarings sy intussen opgedoen het en op watter ver paaie sy was. Sedert ons vorige ontmoeting sou daar vir my 'n jaar verloop; vir haar 365 dae.  

“Bring tog volgende keer foto’s saam,” sou ek telkens vra.

“Plekke is emosies. Ek neem nie foto’s nie.”

Soms klim sy in dieselfde dorp as ek af. Ander kere bly sy sit. Een of twee keer het ek my verbeel dat ek haar in my tuisdorp gewaar het maar die beeld was altyd te ver en te vaag om herkenning te word.

Terug in my dorp sou ek haar reisbestemmings op die internet nagaan. Soms het ek die foto-beelde in kleur uitgedruk en saam met haar deur Wene se strate gaan stap. In Café Demel sou die kelnerin vra: “Nemen Sie die heisse Schokolade mit?”

'n Paar kilometer anderkant die halfpad-petrolstop, krul sy haarself in haar sitplek op. Haar opblaaskussingkie rus teen die venster. Middelburg, Noupoort, Colesberg. My bestemming: die begin van 'n nuwe jaarlange verlang. Subtiel skuif ek nader. Net voordat ek my kop op haar skouer laat sak, draai sy om en kyk my vol in die oë.  Haar lippe nooi. Eers aarsel ek. 

Dwarsdeur die nag hou ons mekaar vas en proe ek die Karoo. Toe die bus vroegoggend in my dorp stilhou, bly ek sit. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top