
Foto: Canva
Die reis
dit was ’n lang reis
van eerste onthou tot nou
met môre wat voorlê
wat nog kleintjies kry
tot anderdag
as ek die houtpak aantrek
as al die sand uitgeloop het
nou is dinge stadiger
tog is gedagtes vinniger
so asof tyd jou aanjaag
dat jy kan klaar kry
waar min dinge deesdae lekker is
ek wil nog by die see gaan bly
as die Here net sal instem
dalk ’n deur of twee oopmaak
sodat ek darem saans
as die son sak
my gedokterde Galjoentjie kan braai
so vel en al
lekker wind droog
soos ek
om so met die lied van die see
agteroor te sit
te dink en te dink
aan die lewe en die dood
om nuwe gedigte te skryf
my uurglas loop stadig uit
sal ek dan gaan slaap
met die see in my ore
maar nou
nou is alles net genade
wat gekry is
is net geleen
alles verder
net ’n seën
tot daardie houtpak sak
die paar mense huil
dié wat nie wil huil nie
skuil, maar ek
sal dan eers werklik vry wees


Kommentaar
Johan, dis nóg 'n uitmuntende gedig uit jou pen. Ek wens vir dieselfde, net die see en 'n galjoentjie op die kole.
Dankie, Miche. Ek is bly jy hou daarvan, ai daardie galjoentjie!