Daar bestaan sover my kennis strek, nie so iets soos ’n regse Bybel nie. Indien daar wel so ’n Bybel bestaan, sou dit beslis nie deur God geïnspireer wees nie, en dus dwaalleringe verkondig. Die standaard Afrikaanse Bybel (ou en nuwe vertalings) word sover my kennis stryk deur meeste ware Afrikaanse kerke gebruik. Hierdie Bybels word deur die Afrikaanse Bybelgenootskap uitgegee, en die wat daarin belangstel kan die geskiedenis van die Genootskap hier bekom.
Dit is duidelik dat hierdie sogenaamde regses geensins regs is soos wat beweer word nie. Regse mense is amper uitsluitlik behoudend, maar ons kan nie ontken dat daar (soos in elke groepering) ’n paar mal mense bestaan, wat voorgee asof hulle regse of konserwatiewe waardes nastreef nie. Die feit dat hierdie sogenaamde "regses" Afrikaanse kerke wou opblaas behoort tog duidelik aan ieder en elk te toon dat hulle geensins behoudend of Christelik kon optree nie. Hulle is ’n vyand van die Afrikaner en ons behoudende, Christelike waardes.
Indien die berig feitlik korrek is, wat ek maar soms betwyfel, behoort hierdie mense vir lank in die tronk te vertoef en vir sielkundige waarneming gestuur te word. Ek sou self sover gaan om hulle aan te kla van hoogverraad teen die Afrikaner-bevolking.
Tant Alie

