die reggemaakte huisman

  • 3
Lees ook:
Bydraes deur Koos Kombuis
Gedigte

hy is
‘n reggemaakte huisman.
hy lê op opgemaakte beddens rond
en knip sy toonnaels
in die spervuur van kersfees en nuwejaar.
hy kuier luidkeels in sy kop
met blink bottels duur vonkelwyn
en skiet sy gedigte oor
die buurvrou se muur
met ‘n kettie.
 
blakend ongesond en bedees
spuit hy die tuin nat
en beplan sy volgende inkopietog.
met lip ice en antireukmiddel 
 
maak hy hom gereed
vir die kruistog teen
middeljarigheid;
sy voete klap hande
as hy in die bad lê
en mymer oor prostraatkanker.
 
hy is gelees, gebid, gebind,
geliasseer
onder rymdwang geplaas
tevrede met sy self-opgelegde
huisarres,
verwinter en verwese
soos verlede jaar se almanak
 
bedaard onbebaard
bestorm hy windmeule
(don quixote op sy malteespoedel)
bejaard en vermaerd
lees hy sy koerante,
vorm hy sy opinies
en smeer sy gedagtes soos geprosesseerde kaas
op die roosterbrood
van sy waaghalsige verbeelding.
 
laat daar rus wees.
laat daar geen lus wees.
laat al die passie geblus wees.
klaar met kees.
sonder vrees.
posteuropees.
en soms, en soms
net ‘n bietjie hees.
 
hy is ‘n oorgewig sekslose
reggemaakte huisman.
dis wat hy is
en dis al wat hy wil wees.
 

  • 3

Kommentaar

  • Jan van Duyker

    Mooi kort storietjie in vrye versformaat Koos. Sou graag ook 'n Villanelle uit jou pen wou sien!

  • Jan van Duyker

    Ja is so. Dalk sien Koos kans vir 'n terzanelle as hy klaar geoefen het op die villanelle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top