Titel: Wie is reg?
Skrywer: Andreas van Wyk
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624054238
Klik hier om Wie is reg? te koop by Kalahari.com.
Andreas van Wyk, die bekende voormalige regsprofessor en vroeëre rektor van die Universiteit Stellenbosch skryf die afgelope tien jaar tweeweeklikse rubrieke – eers in Die Burger en Beeld en later in al Media 24 se sake-afdelings – oor allerhande regskwessies en opspraakwekkende hofsake hier te lande en van oor die hele wêreld. Hierdie aflewerings, altesaam 105, is nou in een bundel saamgevat en gepubliseer as Wie is reg? Tien jaar se regspunte.
Die aflewerings word nie chronologies aangebied nie, maar is losweg volgens onderwerpe onder verskillende hoofde gerangskik en dek onder meer die reg oor grense heen, die staat en Jan Burger, die reg se instellings, geloof en die staat, van die (onwelkome) wieg tot die (omstrede) graf, die ewigdurende stryd oor aardse goed, mense diere en hul vreemde maniere, reëls en regulasies vir ondernemings en organisasies, roofridders en sondaarstate, en Britse eienaardighede.
Dit is onmoontlik om in een resensie naastenby ’n oorsig te gee van die wye en uiters wetenswaardige verskeidenheid onderwerpe wat oor die tien jaar aangeroer is. Net ’n paar voorbeelde: Davos (die Wêreld Ekonomiese Forum), ondersese skatte en vondste, internasionale toutrekkery oor die Elamitiese tablette, die Armeense volksmoord, onafhanklikheid van die regbank en die Reserwe Bank, die advokatuur en prokureursberoep, arbitrasie van regsgeskille, groepseise, swak-opgestelde wetgewing, die outonomie van geloofsgemeenskappe, lykskending, die genadedood, meerderjarigheid en naamgewing, internasionale kunshandel, testamentêre beskikkings, belastingontduiking, bewimpeling van ’n ou dame om haar skatte weg te gee, die Engelse troonopvolging. En nog baie meer.
Andreas van Wyk se besondere kennisgebied is die maatskappyereg. Dit is dus verstaanbaar dat sommige van die gesaghebbendste aflewerings hierdie vertakking van die reg onder oë neem. Onderwerpe soos die voosplekke in ons nuwe maatskappywet, reddingsplanne vir byna bankrot maatskappye, binnekennis, vergoeding aan direkteurs, bonusse aan bankbestuurders, die onafhanklikheid van maatskappy-ouditeure, beskerming van aandeelhouers en die nuwe Societas Europeana word almal met groot insig en kennis aangespreek.
By die lees van hierdie bundel rubrieke is daar ’n vraag wat noodwendig opduik. Dit is onbetwisbaar dat Van Wyk se tweeweeklikse, prikkelende en hoogs interessante rubrieke telkens ’n welkome verposing bied nadat mens al skoon keelvol is van die daaglikse koerantleesstof van gruwels, misdade, korrupsie en politieke knoeiery. Maar regverdig dit dat die rubrieke ex post facto in één bundel opgedis word? Binne die konteks van ’n koerant het sulke rubrieke onteenseglike aantreklikheid. Verloor hulle egter nie hul glans as hulle as ’n versameling van opgehoopte geleerdheid aangebied word nie?
Hieroor raak Anne-Marie Mischke in haar voorwoord tot Hanlie Retief se Hanlie Retief gesels met (’n bundel van Hanlie se onderhoude oor vele jare met beroemdes en berugtes) ’n waarheid aan: “Koerante is eendagsvliegies. Vandag se nuus is môre ou nuus. As dit al was wat ’n koerant is, sou dit sinloos gewees het om koerantstories te bundel …” Anne-Marie se toets is dat die koerantstorie (of rubriek) afgesien van die goeie joernalistieke waarde daarvan ook standhoudend moet wees en ’n bestaan en bekendheid bo en behalwe die vervloëndheid van die dag se nuus moet verwerf. Kortom, die rubrieke moet verdien om bewaar te word en nie met die koerant weggegooi te word nie. Of, net so erg, om as ’n klomp lomp koerantuitknipsels in ’n lêer ingedruk te word.
Wie is reg? slaag beslis die Mischke-toets. Van Wyk se rubrieke is vlot en uiters onderhoudend geskryf en is beslis die moeite werd om standhoudend, met ’n selfstandige bestaan as versameling in ’n bundel, bedeel te word. Die voetnotas om latere ontwikkelinge in sommige gevalle aan te dui, help om die bundel se aktualiteit te bewaar.
Tog moet met Van Wyk verskil word as hy in die voorwoord sê dat die bundel iets vir die kopkussing of ledige uurtjies is. Soos hy self sê, die boek maak nie daarop aanspraak om ’n regsbron te wees nie. Maar dit is ’n boek wat, hoewel op ’n gemaklik manier, ’n groot oorsig bied oor hoe die reg hier en oorsee ontwikkel het en toegepas word. Blote ontspanningsliteratuur is dit nie heeltemal nie. ’n Aantal taamlik ingewikkelde regsbegrippe word aan die orde gestel, soos byvoorbeeld namptissiment (“die koop van termynkontrakte gekoppel aan beursindekse), pacta successoria, actio de pauperie, en dies meer. Dit behoort nogal moeilik te wees om met hierdie geleerde begrippe in die kop aan die slaap te raak. Mens kan eerder sê Wie is reg? is pitkos vir die regsgeleerde wat in die praktyk in een of ander gespesialiseerde vertakking van die reg gekluister is en tog ’n breë oorsig oor die reg en sy werkinge wil verkry. Of die beginner- of voornemende regstudent wat graag wil weet wat die trefwydte van die reg is. Of die nuuskierige, intelligente leek wat nog altyd gewonder het oor die snaakse dinge van die reg.
Die lees van die opstelle bring ’n bepaalde nostalgie. Hulle is helder bewyse van die hoë standaarde van ons vroeëre en veral Afrikaanse regsopleiding, toe ’n voorafgaande B-graad met kultuur- of handelsvakke ’n voorvereiste was, toe Latyn en twee jaar se Romeinse reg verpligtend was en ’n studie van ou skrywers en regsvergelyking ’n integrale deel van die leerplan uitgemaak het. Om nie eers te praat van die vereiste van suiwer taalgebruik nie.
Deesdae, met ’n verskraalde regsopleiding sonder werklike kennis van Latyn, die Romeinse reg en die ou bronne, word daar regsgeleerdes gekweek sonder diepgaande kennis of begrip van ons regstelsel en veral regserfenis. Onbeholpe en swak taalgebruik besmet die regspraktyk. Afrikaans as regstaal word bedreig. Dit lyk selfs of Afrikaanse akademici nou skaam is om in Afrikaans te skrywe. Die hoogstaande Tydskrif van Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg wat in die dertigjare begin is om Afrikaans in die regsberoep te bevorder, kry nou omtrent al die bydraes in Engels. Om op Afrikaanse vertalings van wetgewing aan te dring, is tevergeefs (sien Van Wyk se betoog hieroor op bl 110). Gaan dit oor ’n paar jaar nog houbaar wees om ’n boek soos Van Wyk se Wie is reg? te publiseer?
Op die voorblad is ’n hoenderhen wat vraend ’n eier betrag. Dit sinspeel op die ou kopbreek-vraag van wat kom eerste, die hoender of die eier? Toegepas op die regte, kan gevra word wat kom eerste, die reg of die gemeenskap waarbinne die reg geld?
Van Wyk gee nie eintlik ’n duidelike antwoord nie. Maar die bundel het wel baie pitkossies oor waarhede wat op regstoepassing betrekking het – soos: “Die pokerspel (van regsgeleerdes) met die leed van onskuldige mense” (30); “Die reg is ’n integrale bestanddeel van ’n land se staatkundige, sosiale en ekonomiese infrastrukture en is die produk van lang en ingewikkelde historiese prosesse” (55); “Waar begin en waar eindig die oppermag van die volkswil?” (61); [Oor die aanstelling van ons regters:] “[T]e min demokratiese inspraak, te veel binnekringbesluite, te min klem op kundigheid?” (65); “Ons moet aan ons verstandige regserfenis getrou bly” (98); “Regters moet oor ’n buitengewone oordeelsvermoë oor morele vrae beskik” (102); “Indien die erkenning van ons land se diversiteit werklik iets meer as ’n politieke slagspreuk is, moet daar inderdaad ruimte vir sulke eiesoortigheid wees” (118); “Die reg moet in sy strewe na individuele geregtigheid vele en soms teenstrydige oorwegings in ag neem” (188); “Regters en wetgewing sal egter nooit kan tred hou met hedendaagse menslike vindingrykheid nie” (210); “[O]f ’n bejaarde persoon sy of haar sake nog self kan bestuur, het nie ’n simplistiese antwoord nie” (275); “Die digte web van regulerende wette om eerlikheid in ons finansiële sektor te verseker, sal nooit volkome doeltreffend wees nie” (299); “Wanneer mense al hoe meer wêreldburgers word, is trou en huweliksvoorwaardes nog altyd nie perdekoop nie” (309).
Dit is sekerlik te veel verwag om binne die bestek van koerantartikels oor aktuele regsake ’n dieper gaande bespreking van sulke regsfilosofiese kwessies te verlang soos onder andere grondwetlikheid, legitimiteit, toeganklikheid van regsprosesse en reg en moraal.
Mens kan hoop dat ’n beleë regsgeleerde soos Andreas van Wyk met die omvattende kennis en begrip waarvan sy boek ’n duidelike bewys is, die aansporing sal vind om ook hierdie kwessies in ’n volgende publikasie aan te spreek.

