Aantekeninge: Die reg op kennis van die eie afstamming

  • 2


Opsomming
 

Daar word algemeen aanvaar dat dit vir kinders wat nie hulle biologiese ouers ken nie, van kardinale belang is om hulle te kan identifiseer. Die lewensbelangrike aard van hierdie belang het internasionaal en nasionaal onvermydelik gelei tot die erkenning van die reg op kennis van die eie afstamming. Die beskouing is mettertyd gevestig dat die reg om die eie afstamming te ken, ’n aspek is van die reg van kinders om hulle identiteit te bepaal en in stand te hou. Op nasionale vlak wissel die mate van erkenning van land tot land. Wat Suid-Afrika betref, is daar nog geen blyke van ’n uitdruklike erkenning nie, alhoewel die reg wel by implikasie by byvoorbeeld aanneming erken word.

Die belangrikheid van die reg op kennis van die eie afstamming beteken nie dat dié reg absoluut geld nie, aangesien dit in botsing kan kom met byvoorbeeld die reg op privaatheid van die biologiese ouers. In sodanige gevalle is ’n noukeurige afweging van die teenoorstaande belange in die lig van die betrokke omstandighede en met inagneming van alle relevante faktore nodig.

Daar is verskillende kontekste waarin die belangrikheid van die kennis van die eie afstamming op die voorgrond tree, te wete by kunsmatige inseminasie, die aanneming, abandonnering en vervreemding van kinders, en by betwiste vaderskap. Dogmaties kom die betrokke reg op die gebied van die persoonlikheidsreg te pas, en wel as ’n aspek van die regte op privaatheid en identiteit. Weens die kardinale belangrikheid van die reg op kennis van die eie afstamming, behoort dit as ’n mensereg onder menswaardigheid in die Handves van Regte erken te word.

Abstract

The right to knowledge of a person’s own origins

It is generally accepted that children who have no knowledge of their biological parents may have a vital interest in identifying them. The vital nature of this interest inevitably led to the international and national recognition of the right to knowledge of one’s own origins. The United Nations Convention on the Rights of the Child made an influential contribution in this regard and established the view that the right to know one‘s origins is an aspect of the right of children to ascertain and preserve their identity. However, on a national level the extent of recognition varies from country to country. As far as South Africa is concerned, there is as yet no sign of an express recognition, although the right has been recognised by implication with regard to, for instance, adoption.

The vital nature of the right to knowledge of one’s own origins does not mean that this right applies absolutely and is therefore not subject to any restrictions. It may indeed be in conflict with, for example, the right to privacy of the biological parents. In such cases a careful weighing-up of the opposing interests is naturally required in the light of the circumstances involved and taking all relevant factors into account.

There are different contexts in which the importance of the right to knowledge of one’s own origins comes to the fore, namely with regard to artificial insemination, the adoption, abandoning and alienation of children, and disputed paternity. Dogmatically the relevant right belongs to the field of the law of personality, and can be regarded as an aspect of the rights to privacy and identity. Because of the vital importance of the right to know one’s own origins it should be recognised as a fundamental right under human dignity in the Bill of Rights.

1. Inleiding

Die belang van ’n kind om sy of haar afstamming (biologiese ouers) te ken, het in die onlangse verlede wêreldwyd belangstelling ontlok. Hierdie kwessie het ook reeds in Suid-Afrika die aandag van kinderregdeskundiges geniet.1 Daar word algemeen aanvaar dat kinders wat nie hulle biologiese ouers (een of albei) ken nie, ’n “vital interest”, of lewensbelangrike belang, het om hulle te kan identifiseer.2 Die kardinale belangrikheid daarvan om kennis van genetiese wortels te dra is nie net gebaseer op moontlike mediese gronde (soos ’n oorerflike siekte) of regsgronde (byvoorbeeld ’n onderhoudseis of erfopvolging) nie, maar veral ook op sosiale en emosionele oorwegings wat die kind in staat sal stel om “a fuller sense of self or identity” te vorm.3 Dit geld alle kinders by wie kennis van die eie afstamming ontbreek weens die skeiding van hul biologiese en sosiale ouerskap. Hierdie kwessie het uiteraard verskillende kontekste, maar kom veral ter sprake by kinders wat deur kunsmatige inseminasie verwek word, by aanneming, by geabandonneerde kinders of kinders wat heimlik of gewelddadig van hulle biologiese ouers vervreem word, en by geskille oor bewiste vaderskap.4

Die besef dat dit vir kinders lewensbelangrik is om te weet wie hulle biologiese ouers is, het regtens onvermydelik en dwingend tot die erkenning van die reg op kennis van die eie afstamming gelei, sowel internasionaal as nasionaal.5 Hierdie erkenning word vervolgens van naderby bekyk. Daarna word aandag geskenk aan verskillende kontekste waarin die belangrikheid van die kennis van die eie afstamming op die voorgrond tree, en ten slotte word die dogmatiese grondslag van hierdie reg onder die loep geneem.

2. Erkenning

Internasionaal is die belangrikste instrument wat uitdruklik erkenning aan die reg op kennis van biologiese ouerskap verleen, sekerlik die Verenigde Nasies se Convention on the Rights of the Child (CRC)6 van 1989, wat Suid-Afrika in 1995 bekragtig het.7 Artikels 7(1) en 8(1) van die CRC lui:8

The child shall be registered immediately after birth and shall have the right from birth to a name, the right to acquire a nationality9 and, as far as possible, the right to know and be cared for by his or her parents.

State Parties undertake to respect the right of the child to preserve his or her identity, including nationality, name and family relations recognised by law without unlawful interference.10

Daar word algemeen aanvaar dat die reg van kinders om hulle ouers te ken, die reg op kennis van hulle biologiese of genetiese oorsprong omvat11 en dat hierdie reg ’n dimensie is van die meer omvattende reg van ’n kind om sy/haar identiteit te bepaal en in stand te hou.12 Die noue verband tussen eersgenoemde reg en die reg op identiteit word onderstreep in die Engelse beslissing Rose v Secretary of State for Health,13 waar die hof met betrekking tot kinders se aansoek om te weet wie hul biologiese vader is, verklaar dat dié kennis “[is] something that goes to the very heart of their identity, and to their make up as a people”.

Op nasionale vlak wissel die mate van erkenning van land tot land.14 In byvoorbeeld Duitsland, Switserland, Nederland en Noorweë word uitdruklik erken dat alle kinders ’n reg op kennis van die eie afstamming het, terwyl sommige ander lande hierdie reg net in sekere gevalle by implikasie erken, soos Engeland by aanneming en kunsmatige inseminasie. Hierteenoor ontken onder andere Frankryk ’n reg op kennis van biologiese ouerskap.15

Wat ons eie land betref, maak artikel 28(1) van die Handves van Regte voorsiening vir die reg van kinders op ’n naam en nasionaliteit wat hulle identiteit in hierdie opsig bevestig en handhaaf,16 maar daar is geen uitdruklike melding van die reg om hulle ouers te ken of hulle identiteit in stand te hou nie. Nietemin geniet hierdie reg, alhoewel weer eens nie eo nomine nie, ook in Suid-Afrika erkenning by aanneming.

Die lewensbelangrike aard van die reg op kennis van die eie afstamming beteken natuurlik nie dat dié reg absoluut geld17 en aan geen beperking onderworpe is nie.18 Inteendeel, dit kan in botsing kom met byvoorbeeld die reg op privaatheid van die biologiese ouers (waar een of albei die gameetskenker is, of waar die moeder verkrag of in ’n bloedskandige verhouding betrokke was), die genetiese vader of moeder se gade (wat die kind as sy of haar eie grootgemaak het en ’n belang daarby het dat sy of haar verhouding met die kind nie deur die genetiese openbaarmaking versteur word nie), aanneemouers (wat ’n soortgelyke belang as die genetiese vader of moeder se gade kan hê), en selfs met die beste belang van die kind self om nie bedoelde kennis te bekom nie (soos waar hy of sy weens verkragting of in ’n bloedskandige verhouding verwek is).19 In sodanige gevalle is uiteraard ’n noukeurige afweging van die teenoorstaande belange20 in die lig van die betrokke omstandighede en met inagneming van alle relevante faktore nodig.21

In haar diepgaande en insiggewende behandeling van die huidige onderwerp kom Besson22 tot die volgende slotsom:

[T]he child’s right to know her origins ... should not be granted absolute protection as it threatens ... parents’ rights [to privacy or autonomy]. On the contrary, a careful balancing should take place in each concrete case to make sure that the child’s and parents’ interests are taken into account.23 Although concrete balancing is necessary to avoid the absolutism of abstract solutions, abstract balancing guidelines can and should be developed at both national and international level.

3. Besondere gevalle

3.1 Kunsmatige inseminasie

Kunsmatige inseminasie, of in vitro-bevrugting, geskied deur middel van geskenkte sperm en/of eiers (ovums). Die biologiese ouers kan dus verskil van een of albei ouer(s) met wie die kind in ’n regsverhouding staan.24 Tradisioneel is die opvatting in baie lande gehuldig dat kinders wat deur kunsmatige inseminasie verwek en gebore is, nie die reg het om die identiteit van hul biologiese ouers te ken nie. Alhoewel die belangrikste oorweging sekerlik die reg op privaatheid van die gameetskenker was, het ander oorwegings ook ’n rol gespeel.25 Gamete word primêr gegee met die doel om onvrugbare pare te help om ’n kind te kry – van ’n bedoeling om vader of moeder te word of die kind te ken, is daar in die reël by skenkers geen sprake nie. Dit geld veral waar die skenker tydens die skenking nog baie jonk is (soos mediese studente wat vroeër dikwels beskikbaar was) en dan jare later as gevestigde gesinsman nie met sy kunsmatig verwekte kind gekonfronteer wil word en sodoende sy gesinsverhoudinge wil ontwrig nie. Hierbenewens is geargumenteer dat skenkers sal opdroog as hulle anonimiteit nie gewaarborg word nie.

Vandag het menings egter radikaal verander.26 Daar word nie (net) meer van mediese studente as skenkers gebruik gemaak nie, maar ook van ouer persone (alhoewel diesulkes sekerlik weer meer gesondheidsrisiko’s vir hulle nageslag inhou).27 Ook het die beswaar dat verlies van anonomiteit skenkers sal afskrik, nie gerealiseer nie, veral omdat die moontlikheid van regsverpligtinge (veral wat onderhoud en erfgopvolging betref) regtens uitgeskakel word.28 Bowendien moet die afstanddoening van skenkeranonimiteit vandag gesien word teen die agtergrond van “more relaxed attitudes towards donor insemination and a growing belief that knowledge of one’s genetic paternity is not necessarily disruptive of one’s social family and relationship with one’s social parents”.29

Hierdie veranderde gemeenskapsopvattinge het die pendulum geswaai ten gunste van die siening dat kinders toegang tot hulle genetiese rekords behoort te kan verkry vanaf ’n sekere ouderdom of wanneer hulle volwasse genoeg is om die ware toedrag van sake te kan verwerk, tensy gewigtiger belange (onder andere die reg op privaatheid) van die biologiese ouer (skenker van die gamete) in die weg daarvan staan. As gevolg hiervan het wetgewers in baie lande ingegryp om aan kinders wat deur kunsmatige inseminasie verwek is, die reg te verleen om kennis van hul eie afstamming te bekom.30 Sover vasgestel kon word, het ons eie wetgewer nog nie in hierdie verband stappe begin doen nie.31 Hier word kortliks na die posisie in Nederland, Engeland en Noorweë verwys. Al drie lande maak daarvoor voorsiening dat ’n persoon wat deur middel van kunsmatige inseminasie verwek is, vanaf ouderdom 18 die reg het om te weet van wie hy afstam.32 Die biologiese vader of moeder word nie as sogenaamde juridiese ouers geag wat met ouerlike gesag en verantwoordelikhede belas word nie.33 In sowel Engeland as Nederland moedig die staat ouers aan om hul kinders die waarheid oor hulle genetiese afstamming te vertel, maar verplig hulle nie daartoe nie.34

3.2 Aanneming

Wat betref kinders se reg om hul eie afstamming te ken, behoort daar in beginsel geen verskil te wees tussen aangenome kinders en kinders wat deur kunsmatige inseminasie verwek is nie. Net soos laasgenoemde behoort ook aangenome kinders toegang tot hul genetiese rekords te kan verkry vanaf ’n bepaalde ouderdom of wanneer hulle volwasse genoeg is om die kennis te kan verwerk, tensy gewigtiger belange van die biologiese ouer (wat die kind vir aanneming afgegee het) of die aanneemouer in die weg daarvan staan.35 Aanneming hou uiteraard ’n bedreiging vir die kind se reg op identiteit in, aangesien sy band met sy (meestal) biologiese ouers vervang word deur ’n band met die aanneemouers. Tradisioneel was die benadering een van geheimhouding oor en totale verbreking van die kind se verhouding met sy of haar natuurlike ouers; sodoende is kinders verhinder om hul biologiese identiteit te ken. Deesdae word daar in al hoe meer lande statutêr voorsiening gemaak vir groter openheid omtrent aanneming. Nou kan kinders, gewoonlik vanaf 18-jarige ouderdom, kennis van hul biologiese ouerskap bekom en daar word ook voorsiening gemaak vir ’n register van aangenome kinders deur staatsagentskappe wat belas is met die taak om vertroulike inligting oor aanneming te versamel en openbaar te maak ten einde onder andere die kinders in staat te stel om met hul biologiese ouers in aanraking te kom.36

Voor 2005 het Suid-Afrika ook die tradisionele “‘closed’ model of adoption” toegepas.37 Die inwerkingtreding van die Kinderwet 38 van 2005 het egter ’n ommeswaai bewerkstellig. Die Wet38 vereis dat alle hofbevele oor aanneming in ’n register opgeneem moet word en maak voorsiening vir die opname van onder andere die persoonlike besonderhede van die kind, die natuurlike ouers en die aanneemouers. Wat kinders se toegang tot hierdie inligting betref, is hulle (ongeag hulle ouderdom) en hulle aanneemouers in eerste instansie geregtig op enige inligting aangaande hulself en hulle biologiese ouers wat direk met hulle gesondheid verband hou.39 Soos Schäfer40 dit stel, is die oogmerk met hierdie toegang sekerlik om die betrokkenes te bemagtig om vas te stel of daar enige oorerflike of genetiese toestande is wat die kind besonder vatbaar vir sekere siektes kan maak. Tweedens is kinders by die bereiking van 18-jarige ouderdom geregtig op toegang tot die inligting, en dus ook op kennis van wie hulle biologiese ouers is.41 Daar kan nietemin vereis word dat hulle berading moet ondergaan alvorens hulle toegang tot die inligting mag kry.42 So gesien, is ons reg op een lyn met die benadering in ander lande en word die kind se reg om sy of haar identiteit te handhaaf, in gevalle van aanneming dus by implikasie erken.

3.3 Abandonnering en vervreemding

Kinders (veelal pasgebore babas) wat geabandonneer word deur hulle moeders wat later nie opgespoor kan word nie, is onmagtig om kennis van hul ouers te bekom en hulle reg in hierdie opsig is dus ’n leë dop. Regmatige verlating van babas is egter ook moontlik, byvoorbeeld in Frankryk en Duitsland. By geboorte en daarna word die moeder se identiteit geheim gehou, en selfs al sou die kind die identiteit van die moeder later vasstel, word regtens geen band met die moeder gevestig nie. Dié lande erken dus die reg van ’n vrou wat geboorte gee om anoniem te bly en beskerm haar status quo. Sodoende word die kind se reg om te weet wie sy/haar moeder (en vader) is, ten onregte aan bande gelê.43

Kinders kan heimlik of gewelddadig van hulle biologiese ouers vervreem word.44 Artikel 8 van die Convention on the Rights of the Child is juis gepromulgeer om kinders se identiteit in sodanige omstandighede in stand te hou en plaas ’n verpligting op die staatspartye om in gevalle waar ’n kind geheel en gedeeltelik onwettig van sy identiteit ontneem is, aan die kind spoedeisende hulp en beskerming te verleen om sy identiteit te herstel.45 Sover vasgestel kon word, is daar nie ’n spesifieke reëling in Suid-Afrika in hierdie verband nie.

3.4 Betwiste vaderskap

Die reg van ’n kind om te weet wie sy of haar biologiese vader is, tree immer op die voorgrond in gevalle van betwiste vaderskap. Die uitslag van hierdie aangeleentheid het regsgevolge vir die biologiese vader, veral omdat die kind normaalweg op onderhoud van hom geregtig is.

Hoewel die aan- of afwesigheid van vaderskap op verskillende wyses bepaal kan word, speel DNS-toetse (voorheen bloedtoetse) deesdae ’n belangrike rol.46 ’n Interessante geval het onlangs in Nederland voorgekom:47 Die eiser (A) en die verweerderes (B) is in 1984 getroud en in 1987 skenk B geboorte aan ’n seun. Twintig jaar later ontdek A, na ’n vaderskaptoets, dat hy nie die biologiese vader van die seun is nie. B erken ook dat sy indertyd oor die tou getrap en swanger geraak het.48 In dergelike gevalle, waar ’n kind van sy of haar tot nog toe (sosiale) vaderskap ontneem kan word, is dit sekerlik vir so ’n kind lewensbelangrik om die waarheid omtrent sy of haar biologiese vaderskap te weet. Aan die ander kant sou dit nie noodwendig in die beste belang van die kind wees om hom of haar van ’n bestaande stabiele famileverhouding te ontneem nie.

Volgens Bainham behoort die reg van kinders om hulle biologiese afstamming te ken, nie te beteken dat daar noodwendig ’n keuse tussen stabiliteit en die waarheid gemaak moet word nie. Kinders se belang in sowel hulle biologiese vader (waarheid) as hulle sosiale vader (stabiliteit) behoort in gevalle van betwiste vaderskap oorweeg te word.49

4. Dogmatiese grondslag

Word die aard van die reg op kennis van die eie afstamming van nader beskou, behoef dit geen betoog nie dat ’n mens hier nie met ’n vermoënsreg te make het nie, maar dat die betrokke reg eerder op die gebied van die persoonlikheidsreg te pas kom.

Persoonlikheidsgoedere is nievermoënsregtelike regsgoed wat onlosmaaklik met die persoonlikheid van die reghebbende verbonde is. Hulle is onoordraagbaar, kan nie vererf of op beslag gelê word nie, ontstaan met die geboorte van die mens en gaan tot niet met sy dood.50 Daarom word ’n person se reg om sy eie afstamming te ken, in Duitsland tereg uit die algemene persoonlikheidsreg afgelei.51 Hierdie standpunt is ook ingeburger in die Nederlandse reg,52 maar of sodanige reg in Switserland erken word, is betwisbaar.53 Soos aangedui, moet hierdie reg opgeweeg word teen ander beskermingswaardige belange of regte – soos die ouer(s) se reg op privaatheid (“Intimsphäre”), ingevolge waarvan die inligting nie aan die kind bekend gemaak mag word nie – en kan verskeie faktore hierby ’n rol speel.54 Op die keper beskou, lyk dit egter nie of die reg om die eie afstamming te ken ’n besondere, onafhanklike persoonlikheidsreg is nie, maar eerder enersyds ’n aspek van ’n persoon se reg op privaatheid daarstel, in die sin dat hy die reg behoort te hê om toegang tot sy persoonlike inligting (óók dié oor sy biologiese ouerskap) te kan verkry en derhalwe kontrole daaroor te kan uitoefen;55 of andersyds van sy reg op identiteit, wat die reg om die eie identiteit te ken, behoort in te sluit.56

Wat eersgenoemde betref, die volgende: privaatheid is ’n menslike sfeer van afsondering van andere, en omvat al daardie persoonlike feite wat die betrokkene bestem om van kennisname deur andere uitgesluit, en dus privaat, te wees.57 So gesien, beskik elke persoon self oor, en het bygevolg beheer oor, die lotgevalle van sy persoonlike inligting en dus die omvang van sy belang in privaatheid.58 Hierdie is inderdaad ’n uiters belangrike aspek van die beskerming van persoonlike inligting, wat ten doel het om aan ’n persoon effektiewe beheer te verleen oor sy persoonlike inligting by ander persone, onder andere deur middel van toegang tot die inligting.59 Hierdie benadering impliseer dat elke kind in beginsel toegang tot inligting oor sy ouerskap behoort te kan kry, ongeag of die inligting amptelik deur die staat gehou word (soos data oor aanneming)60 of deur privaat persone (soos die biologiese moeder oor inligting omtrent die biologiese vader). Die fundamentele reg op toegang tot enige inligting wat deur die staat gehou word, en tot inligting wat deur enige ander persoon gehou word en wat benodig word vir die uitoefening of beskerming van ’n reg, verskans ’n person se reg op toegang tot sy persoonlike inligting.61 In die geval van privaat persone word die toegang dus beperk tot inligting waarin die aansoeker ’n regmatige belang het (soos die inligting oor biologiese ouerskap). Aan die ander kant word toegang tot inligting by sowel die staat as privaat persone ingevolge artikels 34 en 63 van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2000 beperk deur die reg op privaatheid van derde partye op wie die inligting (ook) betrekking het (byvoorbeeld die biologiese ouer). Volgens hierdie artikels moet toegang tot inligting geweier word waar dit op ’n onredelike openbaarmaking van persoonlike inligting sou neerkom. Roos62 doen aan die hand dat “the disclosure of personal information would be unreasonable if it amounted to an unjustifiable violation of the third party’s privacy, in other words, if there was no ground of justification, such as the maintenance of a legitimate private or public interest, present to justify the violation.” Soos hier bo aangedui,63 kan die reg op privaatheid van die kind op kennis van die eie afstamming, en die reg op privaatheid (anonimiteit) van die biologiese ouer(s), hier in direkte botsing met mekaar kom en moet ’n belange-afweging aan die hand van die redelikheidsmaatstaf geskied.

Hier bo is daarop gewys dat daar algemeen aanvaar word dat die reg van ’n kind om te weet wie haar biologiese ouers is, ’n aspek is van die reg van ’n kind om haar identiteit te bepaal en in stand te hou.64 Identiteit kan omskryf word as daardie uniekheid of eieaardigheid van ’n persoon wat hom as ’n bepaalde individu individualiseer en hom sodoende van andere onderskei. Identiteit manifesteer sigself in verskeie kenmerke waaraan die betrokke persoon herken kan word, dit wil sê fasette van sy persoonlikheid wat kenmerkend van of eie aan hom is, soos sy naam,65 sy nasionaliteit, sy lewensgeskiedenis, sy vingerafdukke, sy DNS, en sekerlik ook sy genetiese afstamming. Identiteit word geskend indien kenmerke daarvan gebruik word op ’n wyse wat nie ’n persoon se ware (eie) persoonlikheidsbeeld weerspieël nie (oftewel op ’n wanvoorstelling van die persoonlikheidsbeeld neerkom), of indien hulle vir ekonomiese doeleindes misbruik word.66

Nou kan daar betoog word dat die weerhouding van kennis oor ’n kind se afstamming, of, anders gestel, om die waarheid omtrent sy biologiese ouerskap te verberg,67 noukeurig beskou by implikasie op ’n wanvoorstelling oor die kind se afstamming neerkom en daarom in beginsel sy reg op identiteit skend. Hierbenewens kom dit voor of die “reg” op kennis van die eie afstamming, gesien uit die hoek van die leerstuk van subjektiewe regte,68 ’n genotsbevoegdheid van die persoonlikheidsreg op identiteit daarstel, welke bevoegdheid aan bande gelê sou word deur ’n kind kennis van sy eie afstamming te ontsê, en sodoende sy identiteit oënskynlik op ’n onredelike wyse aantas.69

Omdat die reg op kennisname van die eie afstamming as lewensbelangrik geag word, word dit as ’n fundamentele mensereg gesien.70 Smits71 beskou ’n mens se kennis van sy afstamming as deel van sy menswaardigheid. Wat Suid-Afrika betref, word erken dat elke mens ingebore waardigheid het72 en in sy wese die intrinsieke waarde van alle mense in ons samelewing omvat. Menswaardigheid is ’n omvattende begrip wat menswees in al sy fasette kleur en daarom onderliggend aan die totale menslike persoonlikheid is, sowel wat die fisies-psigiese sye as geestelik-sedelike aspekte daarvan betref.73 So gesien, kan menswaardigheid dien as basis vir die uitbreiding van persoonlikheidsbeskerming en dus die erkenning van persoonlikheidsregte wat nie in die Handves van Regte vermeld word nie, soos die regte op die goeie naam, die gevoelslewe en die identiteit.74 Die reg op kennis van die eie afstamming kan dus goedskiks as ’n aspek van die reg op identiteit onder die reg op menswaardigheid verskans word.

5. Samevatting

Daar word algemeen aanvaar dat dit vir kinders wat nie hulle biologiese ouers ken nie, van kardinale belang is om hulle te kan identifiseer. Die lewensbelangrike aard van hierdie belang het internasionaal en nasionaal onvermydelik gelei tot die erkenning van die reg op kennis van die eie afstamming. Hiertoe het die Verenigde Nasies se Convention on the Rights of the Child ’n invloedryke bydrae gelewer en die beskouing gevestig dat die reg om die eie afstamming te ken, ’n aspek is van die reg van ’n kind om haar identiteit te bepaal en in stand te hou. Op nasionale vlak wissel die mate van erkenning nietemin van land tot land. Wat Suid-Afrika betref, is daar nog geen blyke van ’n uitdruklike erkenning nie,  alhoewel die reg wel by implikasie by byvoorbeeld aanneming erken word. Die lewensbelangrike aard van die reg op kennis van die eie afstamming beteken natuurlik nie dat dié reg absoluut geld nie, aangesien dit in botsing kan kom met byvoorbeeld die reg op privaatheid van die biologiese ouers. In sodanige gevalle is uiteraard ’n noukeurige afweging van die teenoorstaande belange in die lig van die betrokke omstandighede en met inagneming van alle relevante faktore nodig. Daar is verskillende kontekste waarin die belangrikheid van die kennis van die eie afstamming op die voorgrond tree, te wete by kunsmatige inseminasie, die aanneming, abandonnering en vervreemding van kinders, en by betwiste vaderskap. Dogmaties kom die betrokke reg op die gebied van die persoonlikheidsreg te pas, en wel as ’n aspek van die regte op privaatheid en identiteit. Weens die kardinale belangrikheid van die reg op kennisname van die eie afstamming, behoort dit as ’n mensereg onder menswaardigheid in die Handves van Regte erken te word.

Bibliografie

Bainham, A. 2005. Children – The modern law. Family Law: Bristol.
Besson, S. 2007. Enforcing the child’s right to know her origins: Contrasting approaches under the Convention on the Rights of the Child and the European Convention on Human Rights. International Journal of Law, Policy and the Family, 21(2):137–59.
Boezaart, T. (red.). 2009. Child law in South Africa. Kaapstad: Juta.
Collier, R. en S. Sheldon. 2008. Fragmenting fatherhood. Oxford: Hart.
Hubmann, H. 1990. Inhalt und Abgrenzung des zivilrechtlichen allgemeinen Persönlichkeitsrechts. In Waldner en Künzl (reds.) 1990.
Fottrell, D. (red.). 2000 Revisiting children’s rights. 10 years of the UN Convention on the Rights of the Child. Den Haag: Kluwer.
Frick, M-T. 1991. Persönlichkeitsrechte. Rechtsvergleichende Studie über den Stand des Persönlichkeitsschutzes in Österreich, Deutschland, der Schweiz und Liechtenstein. Wene: Österreichischen Staatsdruckerei.
Heaton, J. 2009. The South African law of persons. Durban: LexisNexis.
Joubert, W.A. 1953. Grondslae van die persoonlikheidsreg. Kaapstad: Balkema.
King, E. 2011. A conflict of interests: Privacy, truth and compulsory DNA testing for Argentina’s children of the disappeared. Cornell International Law Journal, 44:535–85.
Labuschagne, J.M.T. 1996. Die reg op afkomskennis as mensereg. Stellenbosch Law Review, 307–12.
Labuschagne, J.M.T. en P. Bakker. 1999. Naamsvoering en die behoefte aan sosio-juridiese identiteit: ’n Regsantropologiese en menseregtelike perspektief. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 62(2):176-200.
Nagel, C. (red.). 2006. Huldigingsbundel vir J.M.T. Labuschagne. Durban: LexisNexis Butterworths.
Neethling, J. 2012. Features of the Protection of Personal Information Bill, 2009 and the law of delict. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 75(2):241-55.
—. 2010. Owerspel as onregmatige daad – Die Suid-Afrikaanse reg in lynregte teenstelling met die Nederlandse reg. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 73(2):343–9.
—. 2010a. The right to privacy and divorce trials. South African Law Journal, 127(2):230–7.
—. 2007. Die Hoogste Hof van Appèl verleen erkenning aan die reg op identiteit as persoonlikheids- en fundamentele reg. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:834–8.
—. 2006. Personality rights. In Smits (red.) 2006.
—. 2006a. Die betekenis en beskerming van die eer, dignitas en menswaardigheid in gemeenregtelike en grondwetlike sin. In Nagel (red.) 2006.
—. 2005. Personality rights: A comparative overview. Comparative and International Law Journal of Southern Africa, 38(2):210–45.
Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2010. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.
Neethling, J., J.M. Potgieter en P.J. Visser. 2005. Neethling’s law of personality. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.
Nehmelman, R. 2002. Het algemeen persoonlijkheidsrecht. Een rechtsvergelijkende studie naar het algemeen persoonlijkheidsrecht in Duitsland en Nederland.Deventer: Kluwer.
O’Donovan, K. 2000. Interpretations of children’s identity rights. In Fottrell (red.) 2000.
Roos, A. 2003. The law of data (privacy) protection: a comparative and theoretical study.Ongepubliseerde LLD-proefskrif. Universiteit van Suid-Afrika.
Schäfer, L. 2011. Child law in South Africa: Domestic and international perspectives. Claremont: Juta.
Smits, J.M. 2003. Constitutionalisering van het vermogensrecht. In Smits e.a. (reds.) 2000.
Smits, J.M. (red.). 2006. Elgar Encyclopedia of Comparative Law. Cheltenham: Edward Elgar.
Smits J.M. e.a. (reds.). 2003. Preadviezen uitgebracht voor de Nederlandse Vereniging voor Rectsvergelijking. Deventer: Kluwer.
Van Bueren, G. 1998. The international law on the rights of the child. Dordrecht: Nijhoff.
Van der Linde, A. 2001. Grondwetlike erkenning van regte ten aansien van die gesin en gesinslewe met verwysing na aspekte van artikel 8 EVRM. Ongepubliseerde LLD-proefskrif. Universiteit van Pretoria.
—. 2002. Reg op inligting van ouers en hul minderjarige kinders. Obiter 338–47.
Van der Merwe, D., A. Roos, T. Pistorius en S. Eiselen. 2008. Information and communications technology law. Durban: LexisNexis.
Veerman, P.E. 1992. The rights of the child and the changing image of childhood. Dordrecht: Nijhoff.
Vonk, M. 2007. Children and their parents. Antwerpen: Intersentia.
Waldner W. en R. Künzl (reds.). 1990. Festschrift für Karl Heinz Schwab. Erlangen: Buchner.

Eindnotas

* Navorsing vir hierdie bydrae is moontlik gemaak deur die ruim finansiële ondersteuning van die Nasionale Navorsingstigting (NRF). Menings hierin vervat is egter dié van die outeur, wat daarvoor verantwoordelikheid aanvaar.

1Sien Labuschagne (1996:307–12); vgl. Van der Linde (2002:338–9). 

2 Sien Besson (2007:138); Nehmelman (2002:212).

3 Sien Rose v Secretary of State for Health [2002] 2 FLR 962 (QB) par.12; Collier en Sheldon (2008:93–4). Hierdie gedagtegang blyk ook uit die volgende diktum van die Bundesverfassungsgericht (BVerfG 31 Januarie 1989, BverfGE 79, 256, 268–9): “Abstammung … legt nicht nur die genetische Ausstattung des Einselnen fest und prägt so seine Persönlichkeit mit. Unabhängig davon nimmt sie auch im Bewusstsein des Einzelnen eine Schlüsselstellung für individualitätsfundung und Selbstverst ndnis ein.”

4 Sien Bainham (2005:73) vn. 2; Besson (2007:138).

5 Besson (2007:138–9).

6 UN Doc A/44/736 1989.

7 Sien Heaton (2008:90).

8 Sien Besson (2005:131, 41–2) vir ’n bespreking van twee ander internasionale konvensies (International Covenant on Civil and Political Rights, 1966; European Convention on Human Rights, 1950) waar die reg op kennis van ouerskap nie uitdruklik erkenning geniet nie, maar wel deur die European Court of Human Rights (ECHR) afgelei word uit die reg op privaatheid van die kind (of sy reg op respek vir sy gesins- en private lewe): sien byvoorbeeld. Gaskin v United Kingdom [1989] 12 ECHR 36 (Van der Linde 2002:338–9); Miculic v Croatia [2002] ECHR 27). Sien ook oor die indirekte erkenning van die reg op respek vir die gesinslewe in Suid-Afrika, Van der Linde (2001:223–30); Van der Linde (2002:345–6); vgl. Dawood, Shalabi and Thomas v Minister of Home Affairs 2000 3 SA 936 (KH) 962.  

9 Die regte om onmiddellik na geboorte geregistreer te word en ’n nasionaliteit te verwerf, word reeds in die International Covenant on Civil and Political Rights, 1966 art. 24 uitgestippel, en is volgens Besson (2007:141) “essential to the constitution and preservation of a child’s identity”.

10 My kursivering.

11 See Bainham (2005:73); O’Donovan (2000:78).

12 Sien Besson (2007:141, 143).

13 [2002] 2 FLR 962 (QB) par. 12; sien Collier en Sheldon (2008:93–4).

14 Sien hier onder par. 3; Besson (2007:152 e.v.).

15 Sien in die algemeen Besson (2007:139, 153 e.v.).

16 Sien Schäfer (2011:115–26); Boezaart (2009:15–7, 285); Labuschagne en Bakker (1999:189–90); Neethling, Potgieter en Visser (2005:36) vn. 376; sien ook hier bo n. 9.

17 Dit is bv. die standpunt van die Hoge Raad (Valkenhof-arrest HR 15 April 1994, NJ 1994, 608) in Nederland en die Bundesverfassungsgericht (BVerfG 31 Januarie 1989, BVerfGE 79, 256) in Duitsland (sien Nehmelman 2002:206 e.v., 212).

18 Die reg strek nie verder as kennisname van die betrokke inligting nie en impliseer ook nie die reg om die ouers te ontmoet, te leer ken en by hulle te wees nie (sien Besson 2007:145–6).

19 Sien Besson (2007:146–7).  

20 Daar word aan die hand gedoen dat hierdie afweging in die Suid-Afrikaanse reg met verwysing na die algemene redelikheids- of boni mores- (regsoortuigings van die gemeenskap) kriterium moet geskied. Hier is die kernvraag of die uitoefening van die kind se reg op kennis van eie afstamming die teenoorstaande belang (veral privaatheid) van die ouer in die lig van al die omstandighede van die geval volgens die regsopvattings van die gemeenskap op ’n redelike of onredelike wyse sou aantas (vgl. Neethling en Potgieter 2010:38–9).

21 (Sien Besson 2007:147–148, 156; sien oor die Nederlandse en Duitse reg Nehmelman 2002:206 e.v.; Hubmann 1990:18 e.v.; Smits 2003:126–8; vgl. Neethling 2005:237).  

22 (2007:156).

23 Hierdie afweging van die teenoorstaande belange is ook kenmerkend van die benadering in die ECHR sedert 2006 (sien Besson 2007:150–2).

24 Vgl. Vonk (2007:23 e.v.).  

25 Sien ook Labuschagne (1996:309) vir ander oorwegings.

26 Sien ook Labuschagne (1996:310) vir aanvullende argumente t.g.v. die openbaarmaking van die skenker se identiteit.

27 Vgl. die onlangse koerantberig oor kunsmatige inseminasie in die Österreich van 15 April 2012 onder die opskrif: “Baby-Weltrekord: ‘Mein Vater hatte 600 Kinder’”.

28 Sien in die algemeen Collier en Sheldon (2008:92); O’Donovan (2000:78); Smits (2003:129); Besson (2007:147). Let nietemin daarop dat die einde van skenker-anonimiteit in sowel Engeland as Nederland tot ’n afname in beskikbare sperm gelei het. Dit kan daartoe aanleiding gee dat pare sperm in ander lande verkry of selfs vars sperm oor die internet bestel (sien Vonk 2007:148).

29 Collier en Sheldon (2008:92). Dit blyk duidelik uit die Engelse saak Rose v Secretary of State for Health [2002] 2 FLR 962 (QB) [12] (sien Collier en Sheldon 2008:93–4), waar die moeder haar kind volmondig ondersteun het in haar aansoek om haar biologiese skenkervader se identiteit te mag ken.

30 Sien Van Bueren (1998:120 e.v., 126); O’Donovan (2000:79–80); vgl. Labuschagne (1996:307–8).

31 Ingevolge art. 33(1)(c), saamgelees met art. 19(c), van die Wet op Menslike Weefsel 65 van 1983, mag niemand ’n feit openbaar waardeur die identiteit van ’n lewende gameetskenker vir doeleindes van kunsmatige inseminasie vasgestel kan word nie. Ook die  verpligte lêers waarin besonderhede van gameetskenkers kragtens regulasies aangeteken moet word, mag aan niemand anders as die ontvanger en haar eggenoot beskikbaar gestel word nie, tensy die Wet anders bepaal of op bevel van ’n hof (sien hieroor Labuschagne 1996:311–2). Daar word dus hoegenaamd nie voorsiening gemaak vir die reg op kennis van die eie afstamming van ’n kind wat deur die kunsmatige inseminasie verwek is nie (sien ook Labuschagne 1996:312). ’n Wetswysiging dat so ’n kind vanaf 18-jarige ouderdom toegang tot die lêer mag verkry, sou hierdie leemte regstel en Suid-Afrika in ooreenstemming met die wetgewing in vele ander lande bring (sien die volgende n.).

32 Sien die Nederlandse Wet Donorgegevens Kunstmatige Bevruchting van 25 April 2002, Staatsblad 202 no. 240 (sien Vonk 2007:148–9; vgl. Smits 2003:128–9); die Engelse Human Fertilisation and Embryology Authority (Disclosure of Donor Information) Regulations 2004, Statutory Instrument 2002 no. 1511 (sien Vonk 2007:23, 147–8; Besson 2007:154–5); en die Noorweegse Wet 100 van 2003-12-05 (Bioteknologiloven) art. 2-7 (sien Norway’s Third Report to the United Nations Committee on the Rights of the Child  (2003) 57).

33 In Engeland geld die uitsluiting van juridiese vaderskap net t.a.v ’n wetlik gemagtigde (gelisensieerde) spermskenking. In ander gevalle word die skenker ook as die juridiese vader van die kind geag (sien Bainham 2005:93 vn. 7; Vonk 2007:7, 150–3). Hierdie onderskeid word nie in Nederland gemaak nie (Vonk 2007:7, 151, 156–7). In Suid-Afrika ontstaan daar ook geen regsverhouding tussen die skenker en die kind wat kunsmatig verwek is nie. Die kind word trouens vir alle doeleindes as die wettige kind van sy ouers geag asof die gamete waarmee hy/sy verwek is, van hulle afkomstig is (sien art. 40 van die Kinderwet 38 van 2005; Boezaart 2009:46).

34 Sien Collier en Sheldon (2008:92–3); Vonk (2007:148).

35 Sien Van Bueren (1998:120 e.v., 126).

36 Sien Bainham (2005:301 e.v.); Norway’s Third Report to the United Nations Committee on the Rights of the Child (2003) 61; vgl. ook Besson (2007:154–5, 155–6) oor Engeland en Switserland.

37 Sien Schäfer (2011:309).

38 Artt. 245, 246 en 247 (sien Schäfer 2011:308).

39 Sien art. 248(3).

40 2011:309.

41 Art. 248(1)(a).

42 Art. 248(2).

43 Sien O’Donovan (2000:79-81); Besson (2007:154, 155).

44 Soos deur onwettige heimlike aanneming, of waar die kinders van Jode in Nederland gedurende die Tweede Wêreldoorlog aan nie-Joodse ouers toevertrou is ten einde hulle van die gaskamers te red en na die oorlog van hul biologiese ouers vervreem geraak het (sien Van Bueren 1995:118–20). Argentinië bied ’n skokkende voorbeeld van gewelddadige vervreemding, waar 30 000 kinders en hulle ouers ná die militêre oorname in 1976 verdwyn het en van mekaar geskei is. Selfs swanger vroue is gevang en doodgemaak nadat hulle geboorte geskenk het. Die kinders is meestal heimlik aangeneem (sien King 2011:535 e.v.; Veerman 1992:192).

45 Sien Van Bueren (1995:118–20); Besson (2007:143); Veerman (1992:192). King (2011:535 e.v.) behandel Argentinië (sien die vorige n.) se jongste poging om die nou volwasse kinders se identiteit te bepaal d.m.v. verpligte DNS-toetse waar daar ’n vermoede bestaan dat die ouers die kinders willens en wetens onwettig aangeneem het. Sodoende word die reg op privaatheid van die kinders (wat hulle veelal nie aan die toetse wil onderwerp nie) ondergeskik gestel aan die grootouers se reg om die waarheid omtrent die kinders uit te vind. King doen aan die hand dat hierdie twee botsende belange versoen kan word, maar dit lê nie op my weg om haar voorstelle, wat beslis oorweeg moet word in ander lande wat soortgelyke probleme ervaar, te bespreek nie.

46 In Suid-Afrika is die uitgangspunt pater est quem nuptiae demonstrant. Die volgende faktore mag relevant wees ten einde hierdie vermoede te weerlê of om vaderskap te bewys: afwesigheid van seks, onvrugbaarheid, die swangerskapsduur, die exceptio plurium concubentium, fisieke trekke, voorbehoedmiddels en bloed- of DNS-toetse, wat natuurlik die kind self ook kan betrek (sien Heaton 2008:55–64; vgl. Neethling, Potgieter en Visser 2005:224 vn. 65).

47 Rechtbank Arnhem (Enkelvoudige Handelskamer) 15 April 2009, nr. 168738 / HA ZA 08-567; sien Neethling (2010:343 e.v.) vir ’n bespreking.

48 In Suid-Afrika was die feite in Johncom Media Investments Ltd v M 2009 4 SA 7 (KH) soortgelyk (sien Neethling 2010a:230 e.v.).

49 Sien Bainham (2005:193 e.v.); vgl. ook Collier en Sheldon (2008:94-5). Vgl. F v L 1987 4 SA 525 (W) 528, waar die hof te kenne gegee het dat die kind se welstand weldeeglik verreken moet word by betwiste vaderskapgevalle.  

50 Sien Joubert (1953:146-7); Neethling (2005:223); Neethling, Potgieter en Visser (2005:13).

51 Die reg om te weet van welke ouers ’n mens afstam, het in 1989 in Duitsland beslag gekry in ’n beslissing van die Bundesverfassungsgericht (BVerfGE 79, 256; sien Smits 2003:127–8; Labuschagne 1996:307). Inbreukmaking op die moeder se persoonlikheidsreg is nie geoorloof as die kind se doel op ’n ander minder ingrypende wyse bereik kan word nie. In ’n latere uitspraak (1997) het die Bundesverfassungsgericht (BVerfGE 96, 56; sien Smits 2003:17-8, 128) insgelyks te make gehad met ’n buite-egtelike kind wat wou weet wie haar vader is. Die hof bevestig dat die kind en moeder se teenoorstaande regte afgeweeg moet word, maar verklaar dat die kind se reg op kennis van ouerskap nie ’n reg op die verskaffing van sodanige inligting deur die ouers verleen nie – slegs die staat kan hiertoe verplig word. Die hof verklaar (63): “Das allgemeine Persönlichkeitsrecht umfasst zwar auch das Recht auf Kenntnis der eigenen Abstammung. [Die Grondwet] verleiht aber kein Recht auf Verschaffung solcher Kentnisse, sondern kann nur vor der Vorenthaltung erlangbarer Informationen durch staatliche Organe schützen.” Sien ook Frick (1991:216, 285); Besson (2007:155); Neethling (2005:237). Vir ’n kritiese beskouing van die idee van ’n algemene persoonlikheidsreg, sien Neethling, Potgieter en Visser (2005:14–5).

52 Die locus classicus vir hierdie siening is die Valkenhorst-beslissing (HR 15 April 1994, NJ 1994, 608; sien Smits 2003:126–7; Nehmelman 2002:211–4; vgl. Labuschagne 1996:308). Hier het dit gegaan oor ’n kind wat meer as 50 jaar tevore gebore is in ’n Katolieke inrigting vir ongehude moeders. Sy versoek die inrigting om toegang tot haar dossier waaruit dit sou blyk wie haar vader is. Haar moeder, asook die inrigting (toe die moeder tydens die regsproses sterf), weier egter om toe te stem. Die Hooge Raad is van oordeel dat die reg van die kind om te weet van wie sy afstam, afgeweeg moet word teen die regte en belange van andere. In casu weeg die belange van die moeder egter nie swaarder as die kind se “vitale belang” om te weet wie haar ouers is nie.

53 Sien Frick (1991:216, 285).

54 Sien Smits (2003:126) e.v.; Hubmann (1990:18 e.v.); Nehmelman (2002:206–12).

55 Sy selfbestemmingsreg op sy persoonlike inligting: sien Smits (2003:127) vn. 347; hierop word later in meer besonderhede ingegaan.

56 Sien Neethling (2005:237).

57 Sien bv National Media Ltd v Jooste 1996 3 SA 262 (A) 271; Universiteit van Pretoria v Tommie Meyer Films (Edms) Bpk 1977 4 SA 376 (T) 384; Swanepoel v Minister van Veiligheid en Sekuriteit 1999 4 SA 549 (T) 553; Huey Extreme Club v  McDonald t/a Sport Helicopters 2005 1 SA 485 (K) 494; Deutschmann; Shelton v Commissioner for the SARS 2000 2 SA 106 (OK) 123; vgl. NM v Smith (Freedom of Expression Institute as amicus curiae) 2007 5 SA 250 (KH) 262; Financial Mail (Pty) Ltd v Sage Holdings Ltd 1993 2 SA 451 (A) 462; Bernstein v Bester 1996 2 SA 751 (KH) 789; sien ook Neethling, Potgieter en Visser (2005:32).

58 In National Media Ltd v Jooste 1996 3 SA 262 (A) 271 word dit soos volg gestel: “A right to privacy encompasses the competence to determine the destiny of private facts … The individual concerned is entitled to dictate the ambit of disclosure eg to a circle of friends, a professional adviser or the public … He may prescribe the purpose and method of the disclosure … Similarly … a person is entitled to decide when and under what conditions private facts may be made public. A contrary view will place undue constraints upon the individual’s so-called ‘absolute rights of personality’.” Sien ook Neethling, Potgieter en Visser (2005:31); Neethling (2012:244).

59 Sien Neethling, Potgieter en Visser (2005:268–209); Neethling (2012:244).

60 Sien hier bo par. 3.2.

61 Sien die Grondwet art. 32; die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2000 artt. 11, 50 (Van der Merwe e.a. 2008:358-60; vgl. Van der Linde 2002:346; Labuschagne 1996:312).

62 2003:690–1; sien ook Neethling, Potgieter en Visser (2005:275) vn. 98.

63 Sien par. 2.

64 Sien Besson (2007:141, 143).

65 Sien Labuschagne en Bakker (1999:176 e.v.) wat die naam tipeer as die mens se sosiojuridiese identiteit. 

66 Sien Gr?tter v Lombard 2007 4 SA 89 (HHA) 93; sien ook Neethling, Potgieter en Visser (2005:36); Neethling (2011:63-4).

67 Vgl. Besson (2007:140) oor die reg van ’n kind op die waarheid oor sy of haar afstamming.

68 Sien Neethling en Potgieter (2010:53 e.v.).

69 Sien Neethling en Potgieter (2010:53, 56–7).

70 Sien Besson (2007:140–1); Norway’s Third Report to the United Nations Committee on the Rights of the Child (2003) 57; sien ook Labuschagne (1996:312).

71 2003:128.

72 Grondwet art. 10.

73 Sien Neethling (2006:94-6); sien ook Neethling en Potgieter (2010:19) vn. 147.

74 Sien hieroor Neethling, Potgieter en Visser (2005:76–7) vne. 418-9, 129 (goeie naam); Wiese v Moolman 2009 6 SA 122 (T) 124–5; Neethling (2010:343 e.v.) (gevoelslewe); Grütter v Lombard 2007 4 SA 89 (HHA); Neethling (2007:834 e.v.) (identiteit).

 



  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Neethling

    Aangesien 'n vaderskaptoets dmv naelstringbloed na die bevalling van die baba 'n ernstige ingryp in die reg op privaatheid van die betrokke man daar kan stel, kom dit voor of sodanige toets slegs met die toestemming van laasgenoemde of 'n hofbevel regmatig sal kan geskied. Groete, Johann Neethling

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top