Nou die Sondagoggend, op die RSG-program ‘Die Tale Wat Ons Praat’, vra die stasiebestuurderes vir die gas, ‘n proffie in Afrikaans dink ek, of daar ooit so iets soos Standaardafrikaans is. “In skryftaal wel” antwoord die prof, “maar daar is nie ‘n standaard Afrikaanse spreektaal nie.”
Die bestuurderes was oorstelp van vreugde. “So”, herhaal sy triomfantelik (altans dis soos dit vir my geklink het) die prof se woorde, “daar is nie ’n standaard Afrikaanse spreektaal nie!” Die dame was uit haar vel.
Nou wonder ek, hoekom is die mense wat hulself verpak (Piet Crous se woord) as liberales so gesteld daarop dat daar NIE so iets soos Standaardafrikaans bestaan nie? Wie word benadeel/bevoordeel as daar wel iets soos Standaardafrikaans is? Enige taal het tog ’n standaardvorm; as jy Engels leer, leer hulle jou om soos Rex Harrison, eerder as Michael Caine, te praat. As jy Franse lesse neem deur die Alliance Française leer jy vir seker Standaardfrans.
Buitendien, wat is fout met hierdie mense se logika; as daar ’n skryftaalstandaard is dan praat die mense wat daardie variant van Afrikaans praat mos Standaardafrikaans of hoe?
Dieselfde mense het net so ’n hekel aan die begrip ‘ras’, ras sou nou nie bestaan nie. Hoekom? Daar is tog duidelik honderasse en beesrasse so hoekom nie menserasse nie. Terloops, die oumense (waarvan ek nou na aftrede een is) glo ’n hond wat ’n kruising is, is ’n beter hond as die suiwer ras ene, minder geneig tot siektes en oor die algemeen taaier. Maar soos ek gesê het dit net terloops.
Jan Rap


Kommentaar
Jan, daar is niemand so doof soos iemand wat nie wil hoor of iemand so blind soos iemand wat nie wil sien nie. Die groot probleem met die Afrikaanssprekende persoon is hy is te lui om bietjie moeite te doen om reg Afrikaans te praat. Jy sal nou die persone kry wat vra wat is regte of korrekte Afrikaans. My opinie is Afrikaans sonder Engelse woorde tussen in. Ek sluk swaar aan mense wat swak Afrikaans praat. Ongelukkig is die mense wat dit raaksien by verre in die minderheid. Dit word maar aanvaar want indien jy iemand daarop teregwys "groei" jy nie saam met jou taal nie.
Mooi gestel Reusedwerg; deesdae mos, as jy 'n gemis uitwys, 'klou jy vas aan die verlede' en, soos jy dit stel, 'groei jy nie' (wat Afrikaans betref).
Beste Reusedwerg,
As jy KORREKTE Afrikaans wil BESIG, moet jy maar versigtig wees met onder andere jou woordkeuses. Dan moet jy praat van MENING, nie OPINIE nie. Mense wat dit raaksien is VERREWEG in die die minderheid, nie BY VERRE nie. Die korrekte vorm van die onpersoonlike voornaamwoord is eerstens "'n mens" en daarna kan 'n mens jou en jy soos jy wil. Standaard Afrikaans vereis ook dat alle sinne 'n naamwoordstuk en 'n werkwoordstuk bevat.
Groete,
Angus
Angus, hoekom het jy 'besig' in hoofletters? Is daar iets met die woord verkeerd of wou jy gehad het Reusedwerg moes 'besig' met 'skryf, lees en praat' vervang?
Angus, "I bow to your superior knowledge"
Beste Reusedwerg,
Ek sluk nie swaar aan iemand wat Afrikaans of Engels swak praat nie. Solank ek aan die geluide wat hy maak, kan verstaan wat hy probeer sê, is ek heppie. As 'n mens gedurigdeur eers moet dink wat die korrekte taalvorm is voordat jy praat, sal jy omtrent niks kan sê nie.
Ek sluk swaar aan mense wat neersien op andere wat dan nou nie so vreeslik korrek Afrikaans of wat ook al, praat nie. Ironies is dit dat hierdie "taalsuiweraars" se taal soms ook nie so watwonders is nie.
Groete,
Angus
Angus, wat jy sê geld vir 99.9% Afrikaanssprekendes; niemand sien neer op iemand wat nou kwansuis nie goed praat nie. Jou probleem is jy verwar 'taalsuiweraars', wie of wat hulle ookal mag wees, met mense wat bekommerd is oor die ooglopende agteruitgang van Afrikaans.
Angus
In die Longman-Hat dictionary die volgende:
opinion noun (~s)
1 [what you think about a subject or situation] [what you think] [wat jy van iets dink] ► mening In my opinion, you are wrong. Na/Volgens my mening is jy verkeerd.
2 in my opinion [used when saying what you think about a situation]
3 [your opinion about something] [opinion] [opinie] ► mening He has strong views on the future of sport. Hy het 'n besliste mening oor die toekoms van sport. | What’s your view on the subject? Wat is jou mening omtrent/oor die saak?
Dit blyk dus dat mening en opinie dieselfde is en dat woordgebruik afhang van die sinskonstruksie.
Beste FC,
Niks ernstigs nie; ek terg Reusedwerg sommer maar, en hy weet dit. Hy het opinie heel korrek gebruik. Kyk na sy antwoord!
Mening en opinie met die betekenis van "sienswyse" is sinoniem. Of dit algehele sinonimie is lyk moontlik, want dit lyk asof mening in die spreektaal vervang word deur opinie.
Wat is die mening van die woord? is anglisisties.
Oppas maar vir Engelsverklarende woordeboeke as jy Afrikaans wil naslaan, en ons laat die sinkonstruksies maar oor aan die taalkundiges wanneer hulle taal bestudeer.
Groete,
Angus
Beste Angus
Jy sal soortgelyke verduidelikings in HAT kry.
LitNet het mos verlede jaar 'n blokraaiselkompetisie gehou met 'n HAT verklarende
woordeboek as prys. Wag nou nog om te hoor wie die gelukkige wenners was.
(Die wenner se naam is op die blad by die berrig oor die kompetisie.)