Om oud te word is nie lekker nie. Dis nie net die pyne en kwale nie, of die styfheid in die bene as jy opstaan na jy ’n ruk gesit het nie. Dis ook bekommernis oor baie dinge: jou familie, die kinders wat die wêreld deur versprei het, van Nieu-Seeland tot Sjina; die toestand van die land, wat gaan van alles word na jou dood. En natuurlik die dood self: wag daar iets daar anderkant die sterre, of is daar niks, net ’n dooie leegheid.
Selfs of die wêreld (aarde) gaan ondergaan bekommer my. Want die mensdom word al hoe meer, ons gebruik die bronne op, ons besoedel die aarde en sy atmosfeer. As ons maar net die bevolking kon beperk tot die huidige syfer! Maar hoe sê jy vir ’n jong man hy mag nie seks hê nie? Kondome en pille lyk nie of dit eintlik ’n groot impak het nie, veral nie in die armste lande nie. Juis daar waar hulle dit nie kan bekostig nie, peul nuwe babatjies oral uit by die duisende! En aborsie is vir my wreed, onmenslik, ’n gruwel.
Alle oumense kla natuurlik nie so baie soos ek nie. Waarskynlik omdat hulle onsimpatieke familie het, bly hulle eerder stil. En dis vir my nog ’n kernsaak: ons het nie genoeg meegevoel, meelewing, met mekaar en vreemdes nie. Elkeen sorg vir homself, daar word op die onderstes in die bondel getrap. Min mense dink werklik aan die omgewing, jong mense begeer elkeen ’n voertuig, verkieslik ’n groot viertrek en maak nie saak hoe hy petrol suip en besoedel nie.
Wat van familie en vriende, en van die hele mensdom gaan word na my dood, weet ek nie. As ek maar vir altyd kon leef om hulle te help beskerm!
Groete,
Bejaarde


Kommentaar
Wat is oud? Ek is amper 72 en voel nog jonk - doen alles wat ek kon doen toe ek nog jonk was. Natuurlik help my wonderlike vrou my daarmee en moedig my aan'.
Bejaardheid en ouderdom is relatief.
Beste bejaarde. Ek hoop jy het nog die krag en vermoee om die brief te lees. Ek hoop ook dat dit nog goed met jou gaan en dat jy nog lewe. Ek is nog nie 'n bejaarde nie, nie dat ek weet wat jy as bejaarde klasifiseer nie. Is jy oud in jare of oud in gees? Hoe dit ook al syn, tel jou seeninge een vir een. Verbly jou in die Here. Moet nooit dink die ou dae was beter nie, jy weet nooit wat die toekoms vir jou inhou nie. Sterkte, en vertrou op die Hemelse Vader.