Ek is 33 en is twee jaar gelede gediagnoseer. Ek het al van 17 depressie en wou toe al selfmoord pleeg.
Dit was die afgelope twee jaar vir my baie moeilik.
Ek is op medikasie, maar kry nog baie moeilike dae. Na ’n paar dae van insomnia raak ek vreeslik emosioneel en huil baie.
Ek weet ook nie of my medikasie werk nie. Ek gebruik tans Limotrigine, 150 mg soggens en 200 mg saans, Venlor 300 mg soggens. Rivotril wanneer ek baie ontsteld is of nie kan slaap nie.
Ek hanteer ook nie meer stres baie goed nie.
My lyf is deesdae baie seer. Soos spierpyne, partykeer krampe, veral in my bene.
Dit voel of mense my nie verstaan nie. Wil meestal alleen wees. Ek het die afgelope tyd ook baie gewig opgetel en drink ook Eltroxine vir my skildklier. Ek bly moeg en voel of ek die heeltyd net wil rus. Partykeer voel ek net om te lewe is te veel moeite en sien nie kans vir alles nie. Ek dink ook baie aan selfmoord.
Ek lees baie oor bipolêr op die internet, maar wil graag ook met iemand praat wat kan raad gee.
Ek hoop om gou van jou te hoor.
Groete
Nelia


Kommentaar
Ek weet hierdie kommentaar is al baie laat na die vorige skrywer se plasing, maar glo en vertrou dat daar wel mense sal wees vir wie my verhaal hoop kan gee!
Hierdie is ’n beskrywing van ‘n deel van my lewe in die onderwys, wat ek deurgemaak het sonder dat ek bewus van my siektetoestand was, maar wel geweet het “iets” aan my emosies is anders:
Ek is vandag ‘n 53-jarige afgetrede skoolhoof. Ek is na 29 jaar in die onderwys, waarvan ek 19 jaar skoolhoof was, medies ongeskik verklaar weens bipolêre gemoedsversteuring. Voordat ek die regte behandeling en medikasie ontvang het, het ek nie mooi geweet wat met my aan die gang is nie, en was maar baie verward oor hierdie uiterste wisselende emosies wat ek ervaar het. My kollegas, ouers en selfs eie familielede het nie altyd geweet wat met my aan die gang is nie.
Ek wou wanneer ek “af” is altyd oor naweke kuier, braai en partytjie hou waartydens ek ‘n oormaat alkohol gebruik het, aangesien ek dan baie goed gevoel het: ek het van my probleme by die skool, tekort aan finansies en persoonlike probleme by die huis vergeet. Dit is wat ‘n uitermatige “high” genoem word. Min het ek geweet dat die alkohol juis my gemoed die volgende dag meer depressief sou maak, aangesien alkohol ‘n depressant is!
Natuurlik is daar ook gepraat oor die Hoof wat naweke so baie drink. Dankie Vader my drinkery was beperk tot naweke en nie in die week wanneer ek moes werk nie.
Op 32-jarige ouderdom (1994) het ek die hoofpos by ‘n skool naby Mahikeng gekry. Hier was ek baie gelukkig, aangesien ek van die platteland hou, en ek het net die beste ondersteuning gehad vanaf die ouergemeenskap, hoofsaaklik boere, om die skool verder te ontwikkel. Hulle het die professionele aspekte van onderrig, personeelbestuur, ens in my hande gelos en nie ingemeng nie. Later van tyd, soos die Beheerliggaam met nuwe ouers vervang is, en Beheerrade meer “mag” oor die skool en selfs die skoolhoof gehad het, het my ernstige probleme begin. Ek het begin voel ek is nie goed genoeg om my take as skoolhoof uit te voer nie, aangesien lede van die beheerliggaam al hoe meer wou voorskryf hoe om dinge te doen, en selfs begin inmeng het met die professionele bestuur van die skool. Dit is waar ek die eerste keer selfmoord begin oorweeg het, en is deur my huisdokter na ‘n psigiatriese hospitaal gestuur vir waarneming. Hier is ek gediagnoseer met depressie in ‘n ernstige graad en medikasie, waaronder kalmeer- en slaappille, is aan my voorgeskryf. Dit het daarna beter gegaan, maar steeds het my emosies met my woer-woer gespeel.
Na 11 jaar by die betrokke skool het ek ‘n oproep ontvang om aansoek te doen, ook vir ‘n hoofpos, ook by ‘n plattelandse skool, naby Hartebeespoortdam. Ek was vroeër jare Departementshoof by dieselfde skool, en het uitgesien na ‘n verandering van omgewing, en om weer naby my familie te wees. Ek was dan ook suksesvol met die aansoek en het later besef dit was waarskynlik een van die grootste foute wat ek gemaak het om die pos te aanvaar. Aan die begin van die jaar was daar niemand om my te verwelkom, aan die personeel voor te stel, of selfs aan die kinders voor te stel nie. Ek moes dit maar self doen. Daar was ook geen verwelkomingsfunksie, soos dit maar die gebruik was, om nuwe skoolhoofde te verwelkom nie. Ek het maar baie eensaam en alleen gevoel.
Ek is ook deur sommige ouers en personeel maar redelik vyandig ontvang, aangesien die meeste mense verwag het die departementshoof by die betrokke skool sou die hoofpos kry.
Soos wat die tyd aangeloop het, het ek stadig maar seker al hoe meer depressief geword. Ek en die beheerliggame het ook nie juis goed oor die weg gekom nie en my vermoede was later dat daar negatiewe leuens oor my versprei word, selfs deur van die personeel. Een voorbeeld is dat daar gerugte rondgeloop het dat ek probeer het om R20 000 by die skool te steel. Die waarheid was egter dat die bank my geskakel het en meegedeel het dat daar ‘n verdagte persoon ‘n kontant-tjek van bogenoemde bedrag wou wissel. Ek dink ons almal weet dat daar nooit ‘n kontant-tjek deur ‘n skool uitgeskryf sal word nie, wat nog te sê van so ‘n bedrag! Ek het die bank versoek om die persoon te laat arresteer.
Ek het ook elke vakansie die kantoor-rekenaar huis toe geneem, (ek het in die skoolhuis reg langs die skool gewoon), om voorbereidings vir die volgende kwartaal te tref. Met trots kan ek sê dat die personeel altyd die eerste dag van ‘n jaar of kwartaal die jaarprogram, kwartaalprogram en ander administratiewe dokumente ontvang het. Op ‘n dag het twee van die Beheerliggaamslede by my kantoor ingestorm en geëis dat ek die skoolrekenaar onmiddellik inhandig, aangesien ek dit vakansies huis toe neem vir private gebruik! Ek is ook beskuldig dat ek die skoolbussie vir eie gewin gebruik, nadat ek na ‘n atletiekbyeenkoms, waaraan my skool deelgeneem het, en dit al laat geword het, my dogter by die Hoërskool gaan oplaai het. Daar is soveel meer, maar ek volstaan maar met net hierdie voorbeelde. Ek het maar altyd gewonder wat die motivering daaragter was dat ‘n persoon/persone sulke stories van my sou versprei het, en het soos ‘n misdadiger gevoel!
Ten spyte van die probleme by die skool, het ek nog persoonlike probleme ook gehad, onder andere ‘n egskeiding en my, in daardie stadium, erge rebelse tienerdogter, wie by my gebly het na haar ma die huis verlaat het. Dit is dan ook gedurende hierdie tydperk dat ek vir die eerste keer probeer selfmoord pleeg het, deur ‘n oordosis slaappille te drink. Nodeloos om te sê dit was nie suksesvol nie.
Ek het daarna nog twee keer probeer selfmoord pleeg, eers om myself te vergas, en toe weer ‘n oordosis pille te drink. Vandag besef ek dat dit met die Here se genade is dat ek elke keer betyds gekry is.
Gedurende en na hierdie moeilike tyd is ek twee keer in ‘n psigiatriese instansie opgeneem . Hier is ek uiteindelik met bipolêre gemoedsversteuring gediagnoseer. Ek het die regte behandeling, elektriese breinskokke en terapie ontvang.
Uiteindelik het ek begrip gehad hoekom ek al vir jare hierdie verskillende emosies ervaar het, hoekom ek met tye buite myself was van opgewondenheid, om net daarna weer in ‘n baie diep depressiewe bui te verval, hoekom ek altyd skuldig gevoel het oor alles, hoekom ek nie meer in myself as skoolhoof én as persoon geglo het nie, hoekom ek maar toegelaat het dat mense op my trap.
Ongelukkig het die meeste van die personeel asook die beheerligaam weinige tot geen kennis van hierdie siektetoestand gehad nie, en het ek die minimum ondersteuning ontvang. Ek is selfs daarvan beskuldig dat ek myself by die psigiatriese kliniek wou laat opneem, maar dat die kliniek my opname geweier het! Ek het ook agter gekom dat daar ‘n duidelike poging aangewend word om van my ontslae te raak by die skool, terwyl van die wat vingers gewys het, maar self geraamtes in die kas het, soos bv ‘n persoon wat ek van weet wie vroeër jare maar ‘n redelike reputasie by ‘n bekende versekeringsmaatskappy gehad het, ‘n buite-egtelike verhouding gehad het, ens (inligting wat ek van ‘n 100% betroubare bron ontvang het). Nooit het ek hierdie skandes bekend gemaak nie, ter wille van die reputasie van die persoon en van die skool. Die ontstellende hartseer daaragter is dat so persoon ewe vroom in die beheerliggaamsvergadering sit en deel is van die groep wat my wil wegjaag soos ‘n hond en stories van my versprei. Die uiteinde van die saak is dat ek toe tog medies ongeskik verklaar is vir werk. Ek moes maar net so van die toneel af verdwyn, sonder enige verduideliking aan die ouers, leerlinge of personeel dat dit as gevolg van siekte is! Ek kan net dink hoeveel onbeantwoorde vrae mag ontstaan het, as gevolg van hierdie “verdwyning” van hulle hoof … nie eers ‘n afskeidsfunksie, -geskenk of selfs ‘n afskeidskaartjie nie …
Vandag is ek egter ‘n baie gelukkige man! Ek is weer getroud met ‘n wonderlike vrou wat my verstaan en ondersteun. Ek het vrede gemaak daarmee dat ek vir die res van my lewe, elke dag, die nodige medikasie moet neem.
In plaas daarvan om ledig by die huis te sit, het ek begin om een van my groot liefdes en belangstellings uit te leef: musiek. Ek het reeds my eerste cd voltooi en tree gratis by ouetehuise, aftree-oorde ens op. Verder het ek my eie “DJ”-besigheid gestig en verskaf musiek vir onthale by troues en ander partytjies.
Vanaf volgende jaar (2016) gaan ek en my vrou ‘n paar oorsese toere onderneem, ons eie land plat reis, ek gaan steeds voort met my musiek en het al begin werk aan ‘n digbundel vir laerskoolkinders.
Op 53 jarige ouderdom kan ek dus weer leef, verstaan ek myself, en weet ek hoe om my emosies te hanteer en te aanvaar.
Ek is vir niemand meer kwaad nie: nie dié wie my siekte nie wou probeer verstaan het nie, dié wie onwaarhede oor my as skoolhoof versprei het om van my ontslae te raak by die skool, die wie my en my gesin te na gekom het nie, ens.
Ek is so dankbaar teenoor die Here wie my gespaar het en my ‘n tweede kans op ‘n nuwe lewe gegee het, wat ek ten volle benut en geniet! Ja, ek het ook vrede by God gevind en weet dat hy ‘n God van genade is.
So daar IS ‘n normale lewe met bipolêre gemoedsversteuring, solank jy die regte behandeling en terapie ontvang, asook sorg dat die persone naaste aan jou ten volle ingelig is oor hierdie siektetoestand.