Die President se Pretpetpak-parade: ’n toekomssprokie

  • 0

Die President se Pretpetpak-parade
(of, met permissie: Die President se Poespasfiësta)

– ’n satiriese toekomssprokie oor vervloë gisterglorie – sónder oorsaak en gevolg – deur Christiaan J de Swardt

Goue lint, die storie begint – en die gordyn lig.

VOORSPEL

Op Planeet Reënboog, reguit op met Die Melkweg, anderkant Die Maan en skuins verby Die Son, tussen Die Hemel en Die Hel, heers President Numero Uno. Hy is ’n vername suurstofvraat en het baie paleise en ’n rits minnaresse.

Almal in Die Heelal en Verder weet van hom. Hy is eintlik net ’n geldgierige pierewaaier-strateeg wat met dwang en vrees regeer, maar hy paai almal met aalmoese.

En kán hy lág! Hy lag oor politieke erns, skater oor belaglike narratief en giggel onbeheers as sy brein hom stom-senuagtig om letters en syfers en ander tongknopers faal.

Sy getroue volgelinge noem hom vererend en lieftallig-troetelend sommer net Nommer Een.

Die Kritici en Die Opposisie verkies egter om hom as Die Nul te verkleineer.

Soos in ’n sprokie is oorsaak en gevolg op Planeet Reënboog oorbodig.

Antiteses gedy.

EERSTE BEDRYF

Nommer Een, of Die Nul, is dol op deftige klere en hy hou daarvan om op te tof. Hy het duisende uitrustings en kan elke uur van die dag iets anders aantrek. As jy hom soek, kry jy hom in sy klerekas, besig om koffers vol klere aan sy bas te pas.

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, wat almal, terloops, sommer net Snawel noem, hou nie eens meer dagboek van Nommer Een se afsprake nie.

Maar hy hou dagboek, want hy het ’n ánder droom en noteer sy eie gedagtes in ’n wolkie op sy I-pod:

Nommer Een verdra g’n flenters
Maar sy fraiings verstrengel in flaters
Hy’s ’n kadermater
Wat knaters laat knetter en knal
Altyd kwater, ’n beterweter-wetter

Sekretaris Inventaris moet die heeltyd lieg wanneer die telefoon lui: “Ongelukkig is President Numero Uno nie beskikbaar nie. Sy Edele moes aanmeld vir sy jaarlikse patriargale patrimoniale parasiet-evaluering ...” Hy bedink homself en korrigeer homself. “Aikôna en askies. Ek herroep myself en ontplooi regstellend en konstruktief-kategories. Ek bedoel eintlik: Die President moes aanmeld en buk vir sy jaarlikse prostaatklier- en testosteroonvlak-evaluering. Baie dankie!

En dan twiet Snawel, want hy het ’n ánder droom: “Nommer Een vrees g’n Latex-vinger nie, want dit klou nie aan Velcro-vryheid nie!”

Daai is een vir die anale, noteer Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd daar is, met sy snawel in ’n wolkie.

En ver verby Iewers, eerder nader aan Nêrens as Êrens, knaag Kosmiese Kakkerlakke verwytend-onverteerbaar aan klitsgras. Dit kweek immers parasiete.

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, is bedrywig. Hy is besig om, in opdrag van Die President, ’n Pretparade ter ere van einste Nommer Een te reël. Dit gaan ’n hygend-genotvolle Skouspel in drie fases wees – met dansers, vuurvreters, akrobate, towenaars, narre en ’n militêre orkes wat Planeet Reënboog se Weermag, Vloot, Lugmag en Mediese Korps verteenwoordig.

Die Departement van Gesondheid, in samewerking met die Departement van Opvoeding, is ook betrokke. Groot advertensieborde met erekte kondome, wat in verskillende groottes en teksture en die allerkleurigste reënbooggeure uit hul geskeurde verpakkings beur, gaan oral toorn terwyl die skare dié trefreël: “kom saam – in ’n kondoom” sal dreundans.

Een van Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, se opdragte is om ’n Pretparade-simfonie met multi-genres in drie bewegings te laat komponeer. “Verteenwoordig tog maar die hele blêrrie demografie; maar net sporadies. Klits ’n Ghoema, konsertina en banjo by; sommer ’n harp ook – net om almal te paai!”

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, waarsku daar is nie begroting vir nóg ’n kuns-en-kultuurramp nie.

Die President het die oplossing: “Vergeet dan van die demografie – én demokrasie!”

En hy voeg by: “Skep waar dit spuit!”

Snawel dink: “Tap?”

Hy kan kwalik lek.

En die krane drup droog …

Die President se volgelinge – aardse wesens en afgevaardigdes van die Buitenste Ruim – word in hordes van planete van oor Die Heelal en Verder met spesiale supersnelskepe afwaarts, opwaarts en sywaarts – afhangende van die GPS-ligging – ontvoer, skryf Sekretaris Inventaris in sy aanvanklike persverklaring. Hy moes homself later korrigeer: “Ek herroep en ontplooi myself regstellend en kategories-konstruktief. Ek bedoel, vervoer.”

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, wat almal, terloops, sommer net Snawel noem, laai Die President se boodskappe van die Wêreldwye Webwerf op die Internet af. Altyd ’n klomp kaf, soos die spul mal Marsmanne wat beweer hulle het via Google bewyse opgespoor van hoe ’n man water op Die Maan kweek en van hoe Wesens van Vreemde Vlieënde Voorwerpe Die Son se skyn met LED-buisligte vervang.

Die rooi liggie flikker op Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, se foon. Dis Die President: “Jy moet reël vir ’n statige, elegante, dog informeel-vriendelike ontwerperspak vir my. Ek wil ekstra spoggerig lyk! Die Presidensie moet pronk. Kry ’n borg! Ek wil beroemdheid dra.”

Snawel vryf sy vingers oor die Aladdin-lampie voor hom op sy lessenaar en hy wens vir towerkrag om dié projek te voltooi. Die President het al deur al Planeet Reënboog se mode-giere gedraf.

Hy Google en kom op kreatiewe tekenaars soos Zapiro, Van Vuuren en Mouton af. Meteens onthou hy egter Die President was nie juis geneë met die robuustheid waarmee dié kunstenaars hom uitgetrek het nie ... En wie tog nóg in Die Heelal sal Die President kan uittrek – vóór hulle hom wil aantrek?

Dis ’n penarie vir dié kanarie. En toe wens Snawel. Want hy het ’n ánder droom ...

Soms moet ’n mens in jou pasoppens wees vir dit waarvoor jy wens ...

Snawel sluimer in. En toe, toe skielik, land daar twee Vreemde Vente op ’n towertapyt in die voorportaal. Snawel verloor skoon van sy vere, maar skud die oorblywende voorheen agtergeblewe benadeeldes reg.

“Welkom! Welkom! Welkom! Bly te kenne! Ek is Sektaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is!”

Hulle lyk verspot en is uitspattig. Snawel voel meteens ongemaklik in hul teenwoordigheid en sy snawel groei. “Jammer, maar in President Numero Uno se kas bruis ’n ontsaglike bedrywigheid. Hy’s besig om ontwerperklere aan sy bas te pas en hy is geensins gerat en gereed vir toerisme-vrygewigheid nie. Hy’t g’n tyd vir ’n gas of las in vlees of gees, want hy maak gereed vir sy ontplooide fees!”

“Ditsem!” dink dié makkers mak. Dis presies waar hulle hom wil hê: onverhoeds in die kas vir ’n breinraps. Hulle stel hulself as Die Gabbas – Adder en Otter – voor: Hulle sê hulle is ruimteberoemde mode-ontwerpers wat die asemrowendste uitrustings van die ongewoonste wondermateriaal maak en dring daarop aan om President Numero Uno te spreek. Hulle het op die Ruimtenet van Die President se beplande Pretparade te hore gekom ...

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, is in ekstase. “Noem my sommer Snawel! Julle kom of julle ontvoer is ... Aikôna en askies! Ek herroep myself en ontplooi die feite. Ek bedoel julle kom of julle gestuur is! President Numero Uno soek juis iemand om hom aan te trek! Hy wil roem dra!” juig hy en wonder dan ’n oomblik swyend oor dié toevalligheid ...

 “Nié voor ons hom eers kaal uitgetrek het nie,” grynslag Die Gabbas onderlangs.

Wat Sekretaris Inventaris nie weet nie, is dat Die Gabbas eintlik vabonde is en nie ’n benul van mode het nie. Hulle is swendelaars, bedrieërs, agterbakse kansvatters!

Maar hy het óók ’n droom ...

President Numero Uno verwelkom Die Gabbas gulhartig en gee ekstatiese gilletjies.

Die Gabbas roem daarop dat hulle glo die wêreld se bekendste en blinkste sterre uit- en aantrek – van Jupiter tot Venus. Hulle wys asembenemende Instagram-sketse. En hulle spog en vertel Die President hulle ontwerp en maak nie net klere nie; hulle berei ook hul eie materiaal voor. Hulle het blykbaar meestersgrade in die weefkuns aan die Universiteit van Uranus verwerf. Maar hul grade is nog in die pos.

President Numero Uno wag ook nog vir syne en hy kus hulle amper oopbek en hy piets hulle toe sommer ook spontaan op die gat.

En Die Gabbas beweer dat die materiaal wat hulle weef nie net ongelooflik mooi is nie, maar dat dit oor spesiale towerkwaliteite beskik. Terwyl die gare glo op die weefraam is, kan jy dit nie met die blote oog sien nie. Dit moet eers ’n kledingstuk word. Boonop is dit amper onbekostigbaar duur en word daarom net vir uitgelese helde in Die Heelal-en-Verder geweef.

Die President glo instinktief wat hy hoor; hy hóéf nie te sien om te glo nie! “Dit moet eksklusief intrinsiek eiesoortig en uniek wees,” dink hy retories.

Dan vertel Die Gabbas hom ook dat mense wat nie die materiaal kan sien nie, onnosel, lui en oneerlik is: ploeteraars. Dié materiaal van uitsonderlike gehalte word eintlik net vir verfynde, kunstige mense – waarvan President Numero Uno natuurlik ’n spieëlbeeld is – geweef.

Hiervan hou Die President sommer baie. Nou kan hy op die koop toe vasstel of sy raadgewers geskik is vir hul belangrike poste. Hulle word mos ministers genoem en wanneer hulle vergadering hou, noem jy dit ’n kabinet. Hul werk is die politiek. Dis soos ’n bende wat die heeltyd planne beraam om die wêreld oor te neem.

Die Nul, soos hy af en toe verkleinerend genoem word, se kritici beweer egter sy skobbejak-kabinet is eintlik ’n sirkus met akrobate, burokrate, tronkvoëls, rassiste, kapitaliste, xenofobe, kommuniste, homofobe, narciste ook narre en allerlei ander onuitspreekbare -ismes.

Die Gabbas haal sommer dadelik ’n maatband uit en begin Die President van kop tot tone meet en maak aantekeninge in hul notaboekies. En hulle vlei Die President met stroopwoorde. “Dit sal vir ons ’n eer wees om iemand van u statuur aan te trek: vors, atleties en aantreklik!” sê Adder Gabba terwyl hy sukkel om die maatband om Die President se boepens te pas. Dié komplimente is soos musiek in sy ore. Dis presies wat hy wil hoor!

Toe haal Otter Gabba ’n prettige pet uit ’n doos en vertoon dit met snaakse gebaartjies aan Die President. “Hierdie is ’n voorbeeld van ons ongewone ontwerpe. Ons noem dit die Pretpetreeks: ’n poespas van prag en praal!”

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, maak ’n nota in ’n wolkie dat hy hierdie frase in sy opgegradeerde media-mededeling moet deel.

Die President hou sommer baie daarvan. “Ek moet erken ek het nog nooit sulke teksture en kleure gesien nie. Inderdaad kategories onteenseglik en onaanvegbaar uitstaande!” verklaar hy in hogere politieke taal wat hyself nie verstaan nie.

Hy wil sommer ’n hele nuwe uitrusting daarvan hê; alles bypassend. “Dan noem ons dit die President se Pretpetpak!” en hy lag dat sy boepens op en af skud. “My eie, eensoortige ontwerperreeks!”

Adder en Otter Gabba, wat hulself as wewers-ontwerpers-kleremakers voordoen onderhandel oor ’n ontwerperfooi. Hulle kan Die President ongelukkig nie volkome borg nie, maar hulle is bereid om vuil geld te aanvaar en hom ’n goeie afslag te bied.

Hulle versoek weefstoele, naaimasjiene, skêre, naalde en koppiespelde en die duurste sygare.

En hulle dring op ’n vuilwasgoedmasjien aan ...

En Die President reël ’n elektroniese oorplasing uit die energiefonds. “Koop álles en meer wat julle nodig het, Gatgabbas!”

Eina, dit het uitgeglip!

En Sekretaris Inventaris dink ’n wolkie: “Dié karnallies karteer kafoefel-konsternasie!”

Die Gabbas spring kamstig aan die werk. Maar eintlik is daar net mooi niks op die weefmasjiene nie. Hulle dring op nóg gare – goud en silwer en al die kleure van die reënboog – aan en Die President moet maar opdok. Hy onderskep geld uit die ruimtevervoerfonds. Die Gabbas koop natuurlik nie rêrig gare nie en herlei daardie betalings elders heen.

Maar Die Gabbas is woelig. Hulle arms beweeg en hul vingers trek en vou en vleg om die onsigbare gare tot laat in die nag.

En die wasmasjien begin dreun ...

Intussen gee Die President vir Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, opdrag om Die Media ook te nooi.

Die Media is mos die mense van die koerant, die radio, televisie en ander tegnologiese kommunikasiegoeters. Hulle noem hulself verslaggewers, joernaliste, redakteurs en kommentators, maar party van hulle lieg egter meestal en versprei dikwels vals waarhede.

Die President en ander heersers in Die Heelal verwys met traak-my-nie-agtige selfverheerliking en trompetgeskal daarna as fopnuus.

Die Gabbas werk nou al ’n ruk aan Die President se Pretpetpak. En Die President kan kwalik sy nuuskierigheid inhou. Hy wil gaan skelm loer, maar omdat hy glad nie aan sy vermoëns twyfel nie, besluit hy om sy politieke bende te toets. “Daardie gawe makkers sê mos net wákker, fyn en kunstige mense kan die onsigbare materiaal sien,” dink hy.

In die dae wat voorlê toets hy sy ministers een na die ander. En elkeen van die ministers sien net bloot niks nie! Want daar is niks om te sien nie! Maar Die Vreemde Vente weef en weef en weef en hul vingers wuif in die lug soos hulle beduie.

“Is dit nie asemrowend uitsonderlik nie! Kyk net: dis ’n katafonie van kleur, ’n simfonie van tekstuur!” Nie een van die ministers verstaan juis wat Die Gabbas kwytraak nie, maar dit klink ongewoon besonders. Dit pla hulle erg, want hulle is wragtig nie lui, onnosel en oneerlike ploeteraars nie, maar hulle kan wragtig nog geen materiaal sien nie.

Omdat die ministers bang is Die President gaan hulle afdank, swyg hulle een na die ander oor wat hulle nie gesien het nie en almal vertel Die President van Die Gabbas se vaardigheid en hoe vernuftig die onsigbare materiaal geweef word. “Dis bloot te mooi vir woorde!”

En die heeltyd knoei Die Gabbas agteraf en eis nog geld vir kamtige gare. Die President bly betaal, skryf net tjeks uit en doen elektroniese oorplasings na anonieme banke elders in Die Heelal en Verder.

Hy delf nou al in die ruimteregering se openbare uitsaaifondse, belastingfondse, aftreefondse...

En die wasmasjien week ...

Die nuus oor Die President se Pretpetpak-parade versprei gou en almal op Planeet Reënboog, in Die Heelal en Verder weet nou al van dié wonderbaarlike materiaal. Nou wil Die President dit darem self ook sien. Hy brand van nuuskierigheid.

Die Gabbas is steeds bedrywig en maak of hulle druk aan daardie niks werk. Die President se Bende vergesel hom met hul palms op sy blaas en almal maak opgewonde, waarderende aanmerkings oor die verruklike weefwerk en hulle help selfs om die rolle en rolle materiaal van die weefmasjien af te haal en op te rol.

Die wasmasjien begin was ...

En riep-riep-raai: Die President sien dan niks nie! Hy rek sy oë groter, leen een van die ministers se bril, kyk naderby, maar hy sien steeds niks nie. Die President word yskoud, want beteken dit dan nou dat hy ’n onnosele, lui en oneerlike ploeteraar is en nie bevoeg is om Planeet Reënboog se heerser te wees nie? Hy is tog ’n fyn, kunssinnige kultuurmens. Die Gabbas sê ook dan só ...

Al die ministers kan dan die materiaal sien; net nie hy wat President Numero Uno is nie! Die President haal diep asem en verklaar onomwonde: “Onverklaarbaar woordeloos verruklik!” en hy plak ’n palm met Die Gabbas. Almal prys hul werk en Die President besluit om die Orde van Uitvinding aan Die Gabbas toe te ken. Hy gee hulle die titel van Weefmeesters en betaal hulle ook sommer boonop ’n vet prestasiebonus – met ’n diep delf in die ruimteregering se noodfonds.

Planeet Reënboog se ruimtewye radiostasie, Radio Orion, en die TV-kanaal Ruimtenuus, kom doen onderhoude en gesels met Die Gabbas en Die President. Maar Die Gabbas wys nie materiaal nie. Dit moet glo ’n verrassing wees. Die oggendkoerant, Sterrelandnuus, kom loer ook in en Die Gabbas laat toe dat die fotograaf Die President met sy Pretpet afneem. Net om die mense ’n voorsmakie te gee van wat kom.

Almal word egter gewaarsku: as hulle nie Die President se sonderlinge uitrusting kan raaksien nie, is hulle lui, onnosel-ploeterende liegbekke.

“Die Pretpetpak-parade is môre,” kondig Die President aan en vra bekommerd: “Gaan my Pretpetpak betyds klaar wees?”

Maar natuurlik! Die Gabbas – Adder en Otter – sal deurnag werk. Die President reël dat die maan nadergeskuif word sodat hulle by helder lig kan werk. Hy wou eintlik die son langer ophou, maar daardie werkers staak blykbaar oor salarisgeskille wat nog geskik moet word.

Jy hoor net skêre knip en masjiene stik en jy sien net naalde en koppiespelde in die lug beweeg, maar daar is geen materiaal tussen die skêre en die koppiespelde of onder die masjien se naald nie. Daar is nie eens gare in die naald nie. 

En nou spoel die wasmasjien al ...

Vroegoggend die volgende dag is Die President se Pretpetpak kamtig klaar. Die Presidensie – dis nou Die President en sy Bende – kom byeen om die finale uitrusting te inspekteer. En almal is dit eens: só iets het hulle nog nooit voorheen gesien nie. Wel, daar is absoluut niks om te sien nie. Maar daaroor swyg almal natuurlik.

En Adder en Otter fuif vrolik. Die President ken die Orde van Ontwerp aan hulle toe en bekroon hulle as die Ontwerpers van die Millennium. En hy gee homself sommer ’n meevallertjie vir sy eie kreatiwiteit: onnodige aanbouings by en opgradering van sy aftreeoord.

“Is die ontwerp nie manjifiek nie!” klop Die Gabbas hulself op die skouer. “Dis ’n ruimtelike studie van grasie, ’n ontploffing van lyne en styl, ’n palet van kleur en tekstuur, die stempel óp elegansie. Maar belangriker: dit is Die President se eksklusiewe Pretpetpak-paradereeks.”

Selfs Die President en sy Bende het g’n benul wat Die Gabbas nou daar kwytgeraak het nie, maar dit klink ongewoon besonders en hulle beaam elke woord.

Die Gabbas beveel Die President om sy klere uit te trek. Hy doen dit teensinnig. (Hy’t immers nie vir daardie opspraakwekkende gewapende spiesskildery – wat toe deur ’n jaloerse volgeling met verf bemors is – geposeer nie!)

Die President laat nie deurskemer dat hy nie die uitrusting kan sien nie. “Die materiaal is só lig en fyn, u sal nie eens voel u het klere aan nie!” vertel Die Gabbas.

Die Vreemde Vente trek al sy klere uit en gee sy nuwe uitrusting stuk vir stuk aan. Sokkies, onderbroek, onderhemp, broek, baadjie, ’n jas met ’n lang sleep en bypassende gordel, das, ’n sakdoek en selfs skoene!

Die President trek stuk vir stuk aan. Nou paradeer hy op en af en al in die rondte voor ’n lang spieël. Sy Bende se voete is in hul hande, hulle klap palms, blaas sy ego en die komplimente slinger oor en weer.

Die President voel soos, wel ... ’n President in ’n Pretpet-paradepak! En nou glo hy al wragtig hy dra beroemde ontwerpers se klere! Die President se uitrusting word afgerond. “Al wat nog kort,” sê Adder Gabba, “is u Edele se Pretpet!” en hy plak dit op Die President se kaalkop.

Otter Gabba kry nog ’n verspotte idee. “President Numero Uno kan nie sónder juwele in die openbaar verskyn nie,” en hy haal twee blink metaalballe uit sy mandjie en werk dit weerskante van die Pretpet vas. Dit lyk soos oorbelle.

“En ’n kryger van u statuur, moet sy mag paradeer,” en hy druk ’n spies teen Die President se sy.

“Siedaar,” jubel Die Gabbas tevrede. “U Edele, u is gereed! Die skare wag!”

Nou spin die wasmasjien al ...

 “Hoe vleiend. Hoe verslankend! ’n Stylversnit tussen kleurkoördinasie, onontginde teksture, gekomplementeer deur statige elegansie en prettige informaliteit! Dis ’n skitterende skepping. Dis manjifiek!” koggel Die Gabbas.

Die President en sy Bende weet nie juis wat al daai prul beteken nie, maar hulle hou van die narratief, want dit klink ongewoon besonders en hulle knik hul kenne instemmend.

En Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, noteer in ’n wolkie: “Sy Edele sal gewis gerekoknaaisd word!”

En hy twiet: “Die President se Pretpetpak is ’n poespas van prag en praal! Tog te poenankies!”

En net toe Die President sy gaai draai, pak Die Gabbas op. Adder sê vir Otter: “Kan jy dit nou oorvertel? Hulle glo toe tot Die President dra rêrig ’n pet!”

Buite smul Die President se Planeet Reënboog-volgelinge en besoekers van Die Heelal en Verder aan boerewors en koesisters, krummelpap en chakalaka, bunny-chows en samoesas. Hulle toi-toi en hip-hop, dans die seties, vastrap en die wals, doen die riel en swaai gat terwyl hulle wag. Die mense staan langs die strate, loer by vensters uit en hang aan boomtakke.

 ’n Greep na niks.

Die President se lyfwagte beskerm hom, die Pretpet-pakparade spring op aandag en die militêre orkes marsjeer op die ritme van ’n simfonie wat ten duurste nié gekomponeer is nie!

Maar almal is dit eens: President Numero Uno, of Nommer Een, soos sy volgelinge hom vererend en lieftallig-troetelend noem, se uitrusting is manjifiek! Selfs Die Kritici en Die Opposisie, wat Die President as Die Nul verkleineer, is ’n oomblik innemend verras. En terwyl die heerser sy juwele paradeer en sy spies met die een hand soos ’n wafferse kryger in ’n stryd beheer, wuif hy die denkbeeldige sakdoek met die ander hand.

Kameras flits en almal buig voor hom.

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, twiet:

Die President pronk koddig en kordaat
Met balle geslyt en spies geslyp
’n Kadet op parade sonder ploeter en spyt

Tog is daar is mense wat kon sweer Die President het nie klere aan nie, maar niemand durf dit hardop dink nie. Netnou vermoed die ander mense hulle is lui, onnosele leuenaars.

En almal roep: “Hoera vir Die Pretpresident!”

“Manjifiek!”

“Hiep-hiep en ’n piep!”

“Hoera en nog ’n piep!”

“Manjifiek!”

Maar toe die toejuiging effens bedaar, fluit ’n seuntjie deur sy vingers en sê verward, maar spontaan: “Maar Die President is dan kaalbas …”

“Sjoes!” sê die kind se ma. “Ai, kinders kan darem soms sulke nonsens kwytraak!” en sy snou hom met ’n dwarsklap in ’n ander bloedgroep in!

Daar gaan meteens ’n fluistering deur die skare. “’n Kind daar anderkant sê Die President is kaalgat …”

En Die President begin ook al dink. “’n Kind sal tog nie jok nie! Dalk is ek naak …”

En nou blaas álmal fluitjies! Die President is, sowaar as wat padda manel dra, poedelnakend! ’n Paar tannies snak na hul asem en val flou, die omies word bloedrooi in die gesig en kyk skaam anderpad en die kindertjies giggel net en spot.

Hy is dalk President Numero Uno
En hy’t dalk klere in ’n tas en vere in die kas
Maar wrintiewaar: hy’t g’n flenter aan sy bas!
Hoe da’ nou, waar’s jou bravade en jou wil?
Arme Ou Nommer Nul!

Maar Die President bring sy Pretpet-pakparade op aandag, trek net sy pet – met die klokke wat soos oorbelle lyk – laag oor sy oë en paradeer voort. En elke keer as hy sy kop skud, sien jy net ’n spies tussen die klokke kwyn.

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, wat almal, terloops, sommer net Snawel noem, skud net sy kop en slyp sy snawel terwyl hy twiet: “Dié keer maak die vere nie die voël (toe) nie. Wat ’n siesfiësta vir dié kratergat!”

Die volgende dag is Die President se Pretpet-pakparade voorbladnuus in Planeet Reënboog se koerant, Sterrelandnuus. Die opskrif is: “Nou-toe-nou, Numero Uno!” En Media Heelal bespiegel: “Is Knopkop se klok geklink...?”

Daar’s tot ’n kleurfoto van dié modepetalje, maar ondertoe, waar Die President se spies moes wees, is ’n onvleiende sensuurstrepie getrek.

Dit gons op Sosiale Media. Een versteekte webwerf in die diepste, donkerste onaantasbare en onopspoorbare kuberruim, bekend as Fopspeen, het nié Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is, se informatiewe korreksies betyds ontsyfer nie en raak in die alfabet verstrengel en berig onder die opskrif:

Flatervraat se Vlugfiësta (ont)vou

Gerugte dat President Numero Uno tydens sy Presidensiële Parade ontvoer is, kon teen spertyd nie bevestig word nie. Sy woordvoerder, Sekretaris Inventaris, beweer korrigerend, regstellend en kategories-konstruktief dat Die President homself ná ’n siësta van nege sekondes herroep en ontplooi het. Hy herken, erken en verken niks nie, maar ontken en misken álles. Die President self het in ’n eksklusiewe onderhoud met Die Fopspeen die woorde “Aikôna” en “Baie dankie” benadruk. Universele kommentators sug instemmend op navraag: “Ai, die impak van ’n onbesonne (politieke) sekonde tog! Die nagevolge kan ’n leeftyd duur. Net soos ’n orgasme ...”

En ja, van Die President is daar inderdaad geen teken nie. Nie in sy weelderige klerekas nie; ook nie by sy glanssjebien nie.

Leeg. Geplunder. Gestroop.

Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat áltyd dáár is en almal, terloops, sommer net Snawel noem, lieg steeds: “Aikôna en askies. Ek wil dit kategories-konstruktief stel dat Die Fopspeen die feite verdraai en my woorde verkeerdelik geplagieer het! Baie dankie!”

Hy teug diep deur sy snawel en kondig aan. “President Numero Uno is al van vroegdag verby deurnag by laevlak-samesprekings in die Kleiner Heelal-en- Nader oor klimaksale skommelinge ...” Hy korrigeer homself. “Aikôna en askies. Ek herroep en ontplooi myself konstruktief-kategories. Ek bedoel eintlik: Die President is geensins al van vroegdag verby deurnag met indringende hoëvlak samesprekings oor die klimaat – van gety-skuiwe, nie-volhoubare sonverkoeling, wolkbreuk-herwinning en hidrologiese kartering, klimaatverduistering en ander katastrofale verwikkelinge – in die Groter Heelal-en-Verder betrokke nie. Baie dankie!”

Dan smyt Snawel die foon neer. Hy’s moeg om kategories-konstruktief aikôna en askies te prewel. Nie te danke!

Sekretaris Inventaris voel nou vere!

En bevry. Hy hét immers ’n ánder droom ...

Facebook-volgers spoeg prontuit: “Die [email protected] het [email protected]!”

DERDE BEDRYF

President Numero Uno is hóóg!

(Weliswaar Rastaloos, want dié gebruikie vir medisinale doeleindes moet nog onderteken en amptelik gewettig word.)

Terwyl die horende doof en siende blind skare dink hulle kyk na Die President en luister na ’n klanklose Pretparade-simfonie in drie bewegings by die presidensiële optog het twee vreemde vet vente hom ongesiens en geruisloos met hul towertapyt in ’n waas van vulkaniese uitbarstings, verwarring en verwerping opgeraap.

Eintlik is Die President en Die Gabbas toe al die tyd drie strategiese kaalgatte wat uit een vet pretpet vreet!

Doer bo, nog hoër as die hoogste hoog, in Die Ander Heelal & Tydsfeer, sweef Die Nul en Die Gabbas vryvliegend op ’n towertapyt na ’n onbekende bestemming; ’n afspraak met die onberekende onbekende; moontlik Planeet Zero. Die mat dra swaar aan hul bagasie. Daar’s ’n vuilwasgoedmasjien – waarin wit monopolie-kapitaal week, was, spoel, spin en droog – én ’n skarnierskeurende staalkabinet, bultend-kreunend met verdoemende bewyse.

Die tapyt maak wilde riffels – soos groot, rollende branders in ’n woeste seestorm op pad strandoewer toe. Die President en Die Gabbas trap soos sirkusnarre rond om hul balans te behou, koes versigtig vir moerse meteoriete en ontglip vlugvoetig net-net verskietende Supernovas, terwyl hulle die kabinetlaaie koorsagtig oopruk, geheime leggers de-klassifiseer en dossiere van wantroue en beskuldiging in die wind laat verdwyn.

Nou giggel Die President homself flenters, terwyl hy selfvoldaan oor sy boepens vryf en die soustrein sonder brieke deur sy lippe toet.

Onderaan die towertapyt – inderdaad ’n duurgeweefde vertoonvaandel – pryk ’n swart driehoek met geel fraiings, ’n groen gaffel (in die vorm van ’n horisontale Y) met wit fraiings wat tot teenaan die wapperkant bloei, met weerskante ’n rooi trapesium bo en ’n bloue onder.

Op dié simbolieklose kleure wapper die vlugnommer amper ontsyferbaar in die turbulensiegolwe: Vlug 789+.

Op die horison verloor die reënboog skyn en die mespunt-ontknoping word op die spits gedryf.

Daar is niks meer om aan vas te klou nie ...

En toe in ’n besete frats van sonsverduistering gebeur dit: Die President se toiings hang uit. Hy is nou goiings en hy en sy leë kabinet tuimel aarde toe, terwyl Die Gabbas – Adder en Otter – met die vuilwasgoedmasjien op hul towertapyt verder vlieg en net ’n spikkeltjie in Die Heelal-en-Verder word – verdwene in die niet. Hulle word so onsigbaar soos Die President se Pretpet-paradepak.

Vergewe. Vergete. Vervlietend.

NASPEL

Almal sal egter altyd wonder:

Is Die President bedreig en bedrieg, deur die ore gewerk en gestoot?

Of het Die President sy balans verloor, gesteier en per abuis gestruikel?

Of het Die President vrywillig(-gedwonge) gespring?

Daaroor, natuurlik, swyg Die President mag(te)loos.

Inderdaad op heterdaad.

Hy giggel nog – met seepwit-geskuimde boude onder ’n stortkop sonder uitsig.

In veilige bewaring.

’n Openbaring van uitdrukkinglose insig.

Oranje is nie sy kleur nie.

En meteens is die voormalige Nommer Een dankbaar dat hy gratis antiretrovirale medisyne aan die nasie uitgedeel het ...

Hy is ook tevrede dat hy gratis tersiêre onderrig beloof en bewillig het. Want nou kan hy tóg amptelik ’n kwalifikasie aan UMKAV (in die volksmond sommer net Oemfkaf genoem – die Universiteit van Mag & Korrupsie) behaal.

#Gerekoknaaisd!

Sug!

Fluit-fluit, ons storie is uit!

Of nie?

  • VRYWARING: Enige ooreenkomste tussen lewendes, dooies en dié wat nog tussen hemel, hel en elders op pad soontoe talm en werklike en onwerklike gebeure kan onmoontlik nie toevallig wees nie. Die pleger van hierdie prulmisdaad is onverantwoordelik en verwerp alle aanspreeklikheid vir sy benewelde gedagtevlugte.
  • NASKRIF: Sekretaris Inventaris, Die President se Man wat altyd daar wás, of sommer net Snawel, soos hy almal van wie hy hou en almal wat nou ook van hom hou hom laat noem, het toe daardie droom gejaag waarna hy nog altyd gestreef het. Hy is nou deel van ’n Heelal-en-Verder-beroemde skerpskertsskets-kletsrymtrio – bekend as Die Snawel en Die Gabbas. Hul debuutalbum heet Siesfiësta (met die subtitel Die President se Pretpetpak-parade) en bevat die treffers Numero Uno, Oemfkaf, Latex&Velcro, Flatervraat of Kratergat?, Fraiings & Goiings, Aikôna-Askies, Die Nul, Vlug 789+, Die [email protected] het [email protected], Voel/Voël/Vry, Giggelril, Allemintig-Genugtig en #Gerekoknaaisd! Die video-weergawe van hul treffer Gatgabbas – ’n choreografeerde holruggeryde revue – is in die geheim by ’n korrektiewe instelling op Planeet Reënboog geskiet – met ’n gemoedelike kamee-verskyning deur Die Nul.
  • Word vervolg ...
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top