
Foto: Canva
Die [p]resence [e]ndurance [n]ostalgia
Luister,
dit was duidelik dat
geen oor wou luister na my woorde nie,
geen skaal kon die gewig van my seer dra nie,
geen dam of see kon al my trane hou nie,
geen siel, geen mens
kon my troos nie.
In daardie oomblikke was dinge boos teen my gekeer.
Ek was van plan om die storie te beëindig,
maar die vorige hoofstukke van die boek
het weer in my kop begin speel
soos ’n fliek se terugflitse.
My geheue het my herinner
dat ek nog altyd geskryf het,
en vir my pen omgesien het,
met liefde,
reeds as kind.
Meestal geskryf oor liefde,
want liefde was my passie.
Ek besef toe dat ek oor my seer ook
kan skryf.
En dis toe
waar ek jou weer ontmoet het,
my vriend.
Ek ken jou nou [p]ersoonlik [e]n [n]iemand
kan my ooit van jou wegneem nie.
En toe,
toe die donker weer begin groei,
het jy my
uit die donker gat kom red,
met jou kaap wit soos papier.
En ek was weer myself,
daarom hou ek my vriend,
die pen,
stywer vas,
nie meer uit wanhoop nie,
maar uit keuse.
Woorde het paaie geword
waar ek eens verdwaal het,
ink het my seer gedra
sodat ek dit nie meer
alleen hoef te dra nie.
Ek kon toe my emosies
en my seer
op papier sit,
dit laat uitbrand,
tot daar net vlamme oorbly –
vlamme wat nie verwoes nie,
maar verlig,
vlamme van hoop,
vlamme van voorspoed.
En in daardie lig
het ek besef:
Ek is nog hier
en die volgende afdelings van my boek
sal beter wees,
en ek skryf my lewe voort.

