Die Prediker en die agnostikus

  • 0

Gilgamesh beveel onlangs vir Cornelius, wat volgens Gilgamesh fluks maar langsaam vorder op die pad na volslae agnostisisme, ’n paar verse uit Prediker 9 aan:

“9 Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. 10 Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.”

Die aanhaling wat ek hier plaas, is uit die Bybel (ANV) wat Gilgamesh mos vir suipgeld verkwansel het aan iemand met verstand.

Ek het dit al dikwels gesê – dit is baie gevaarlik vir ’n agnostikus om uit die Woord aan te haal, bloot omdat hulle die konteks en implikasie daarvan gewoon nie kan begryp nie – na alles, dit is mos Spiritueel van aard, waarmee die agnostici só onbeholpe is. Veral ’n boek soos Prediker – die een Spirituele les op die ander.

Vir die agnostikus wat met tipiese insigloosheid lees, beteken die aangehaalde stukkie dat daar niks na die lewe op aarde oorbly nie. Vir die Spiritueel bemagtigde, die ware gelowige, beteken dit natuurlik heeltemal iets anders, want die gelowige verstaan die konteks daarvan.

Die ware betekenis - en dit is trouens waaroor die ganse boek Prediker gaan – dui op die kortstondigheid, die tydelikheid, van die mens se lewe op aarde. Dit beteken dat álles wat die mens op aarde vir homself verrig – let wel, vir homself – laat hy net so agter wanneer hy die tydelike met die ewige verwissel. Die aanbeveling van die Prediker is dat mens sy tyd op aarde mag geniet, met die gawes en seëninge wat God hom toebedeel om dit mee te doen, binne die bestek waarin God dit vir die mens toelaat, want dít is waarom God dit aan hom hier gee, maar met die uitdruklike verstandhouding dat dit vir die mens niks meer beteken as net die verganklike dienlikheid daarvan terwyl die mens op aarde leef nie. Die mens moet dus besef dat, wát hy ook al hier op aarde geniet, geniet behoort te word sonder die verwagting dat dit in die hiernamaals dieselfde sal wees.

Die verse dui op die feit dat daar in die hiernamaals heeltemal ánder reëls sal geld – wêreldse werk, insig, kennis of wysheid sal eenvoudig géén aanwending daar vind nie – nee, die énigste relevansie daarvan in die hiernamaals sal wees dat die mens dáár sal verantwoording doen vir sy uitlewe daarvan op aarde, want niémand moet die Prediker probeer aanhaal, sonder ook die Prediker se Eie konklusie daaroor alles nie, naamlik:

“13 Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam Sy Gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. 14 God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.” - Prediker 12 (NAV)

Só moet die mens dan met dít wat God hom op aarde gun, handel – die mens moet dit só uitleef dat hy God daarmee kan behaag en eer, want God sál van ieder en elk rekenskap eis.

Mag Cornelius eerder maar nie die koers van Gilgamesh met sy insigloosheid weens agnostisiteit volg nie, maar eerder die weg van die Woord as énigste Waarheid, Weg en Lewe.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top