Die portret

  • 2

Foto: Canva.com

(Met apologie aan Oscar Wilde)

Dis dagbreek en ek is wakker, maar nog loom en effens suf. Die lig skyn grys deur my gordyne en verder aan ruis die see en kweel die meeue. Die selfoon sê dis 06:30. Ek moet opstaan, want die taxi kom my sewe-uur vir my afspraak by die kliniek haal.

Pant van die duvet in hand, werp ek dit van my af en swaai my bene oor die kant van die bed en sit. My linkerknie pla weer. Ek stut my hande op die matras en stoot myself orent.

Buite kom die wind oor die see in en bring ’n kilte mee. Daarom trek ek my warm aan tot ek gestewel en gespoor uiteindelik reg is om te vertrek. Deur my sitkamervenster kan ek sien dat daar steeds niks by Nalin se huis oorkant die straat aangaan nie. Sy is nou al vyf dae gelede vort.

Die taxi is stiptelik en voer my weg die kliniek toe. Die toelatingsprosedure by die kliniek vind ek vermoeiend: die toelatingsklerk by een van drie hokkies is die ene vrae en nommers.

Die krankemente van die pasiënte in die wagkamer wissel van vanselfsprekend tot misterieus. Party het krukke of arms in hangverbande, ander is bloeddrukgevalle, terwyl die gehoes die grieperiges, of erger, die teringgevalle uitwys. Ekself sit nou al weke lank met ’n pyn in my ingewande waarvoor die kwak my verligting moet gee.

Die meeste pasiënte is alleen en somber, maar daar is ook babbelbekke wat onsinnige gesprekke met die ongelukkiges, wat langs hulle beland het, aanknoop. Om diesulkes se geselskap te besweer, kies ek ’n sitplek heel onder op die onbesette end van die twee rye stoele.

Die wagkamer is driekwart vol. Ek sit en bekyk die pasiënte tersluiks. Die tydverdryf word onderbreek toe Nalin tot my verbasing lui-lui in my ry afgestap kom en terstond een van die oop sitplekke in die middel aan die oorkant kies om te gaan sit. Wat sou háár makeer?

Nalin het steil swart hare wat tot in die waai van haar nek hang. Die gesig is spits. Die oë is donkerbruin. Die neus dun en geboë. Die mond en lippe is vol en sensueel. Die lyfie is rietskraal en die borsies punterig en net pieringgrootte. Sy is maksimum een meter vyftig. Petite is die woord. Sy dra ’n swart denim, ’n rooi bloes en ’n blou anorak met kunspels, wat soos die pels van ’n Arktiese vos lyk, om die kragie.

Sy skilder en is deur die kunsgalery op die vakansiedorpie waar ons bly, genooi om as residentskilder vir twee jaar daar deur te bring. Dis die Prima Artica-kunsgalery.

Toe sy opkyk en in my rigting kyk, lig ek my hand in ’n groetgebaar, maar sy glimlag net en ignoreer my verder. In stede open sy haar swaar wit leerhandsak en haal ’n klein oopskeursakkie uit, skeur dit oop, en druk die inhoud in een handpalm uit. Die leë sakkie laat val sy op die vloer en begin haar hande ywerig met die vloeistof uit die sakkie invryf. Sy kyk afgetrokke rond, terwyl sy besig is. Ek verwag dat sy sal buk en die leë sakkie optel, maar sy ignoreer dit, open weer die handsak en haal ’n tydskrif uit. Sy blaai eers afgetrokke daardeur en toe begin sy daarin lees. Sonder om te staar, hou ek haar dop. Sy is vir my mooi en baie aantreklik. Die afsydigheid wat sy teenoor my openbaar, ontstel my. ’n Mens sou sweer ek het haar iets aangedoen! Maar as dit is hoe sy die situasie wil hanteer, het ek nuus vir haar: twee kan die speletjie speel. Geanker bly ek dus waar ek is en probeer om so min moontlik in haar rigting te kyk.

Die vloei van pasiënte na die spreekkamers is stadig. Die tyd sleur verby. Dan slenter ’n groot seun met deurmekaar hare, ’n rooi gesig, ’n ring in die oor, swaar diksoolstewels en ’n swart denim van bo tot onder in. Hy lyk terneergedruk, maar miskien voel hy net die effek van ’n laat aand saam met die manne. Tot my verbasing stap hy direk na Nalin toe en gaan sit langs haar.

Sy kyk op en lees weer verder. Uit die hoek van sy mond sê hy iets vir haar en sy antwoord, maar ek kan nie uitmaak wat hulle sê nie. My eerste indruk is dat hulle vreemdelinge vir mekaar is. In die eerste plek is sy baie meer geïnteresseerd in die artikel wat sy lees, as in hom. Ten tweede sit hy kop onderstebo en, ná die aanvanklike paar woorde, toon hulle zero belangstelling in mekaar. Ek kyk weer rond, veral in die rigting van ontvangs vanwaar pasiënte geroep word. Toe ek weer kyk, sit hy ken op die bors en slaap.

’n Mens moet pootuit wees om sommer so weg te dommel. Nalin reageer ewe onverwags. Sy kyk na hom, bêre die tydskrif in die dieptes van haar handsak, skuif oor na hom toe en vly haar teen hom aan. Sy stut haar kop op sy skouer en sluit haar oë. Die mooie Nalin en daai willewragtag! Onbeskaamd staar ek hulle aan. Haar onderkaak sak en die mond gaan ’n entjie oop. Sy slaap ook vas. Minnaars het baie rus nodig.

Sy bring hom saam met haar terug kothuis toe. Dis ’n stormagtige tyd. Die straatjie weergalm met rockmusiek. Hulle baklei en skree, lag en jil en swem in die see. Soms, as sy op die stoep skilder, sit hy met waaiende bene op die stoepmuurtjie en drink bier terwyl hy die wêreld bekyk. Ek loop ook onder sy blik deur. As ek uitgaan, staar hy my aan en ek wonder waar sy aan die lummel kom. As ek my hoed lig, wuif Nalin argeloos vir my. Ek word nie oorgenooi nie en ek is ook nie van plan om my voete daar te sit, terwyl hy daar is nie. Dan een môre, kry ek ’n pamfletjie onderdeur die voordeur: Nalin stal eersdaags in die Prima Artica-kunsgalery uit. Dis ’n woonhuis waarvan binnemure uitgeslaan is om uitstallokale te kon maak.

Ek woon nie die amptelike opening by nie, maar in die namiddag van dag twee van die uitstalling, dos ek my uit en stap na die galery toe. Daar is niemand wat ek ken nie. Ek stap deur lokaal nommer een. Dis alles taferele van die see en duineveld. Die soort wat die plaaslike inwoners sal koop.

Saal nommer twee is portretstudies. ’n Vyftal kunskykers is aan die punt van die saal om die laaste studie saamgedrom.

“Die oë!” sê ’n vrou.

“Hy lyk so wys!” sê ’n ander.

“Ou top …” waag ’n jongman.

My nuuskierigheid is geprikkel. Ek luier al met die doeke af in hulle rigting. Hulle versit na lokaal drie toe. Ek gaan staan voor die doek. Dis van ’n man wat sit. Die blou oë val my eerste op. Hy kyk voor hom uit. Die oë is wakker en ondersoekend. Maar die gesig is oud. Daar is diep kepe in die wange en ’n frons tussen die wenkbroue. Die nekvel vorm ’n kalkoenkeel. Die skouers is rond en hang vooroor. Die hemp wat hy aan het, is effens te groot, maar die magie wys nogtans onder die kledingstuk. Hy sit met sy bene gekruis ─ die bene is lank en maer, soos die van ’n sprinkaan. Dis die portret van ’n man in sy laaste wakkerjare. Dis ek! Dis ’n portret van my!

Ek is lelik en oud. Geskok deur wat ek sien, draai ek om en stap met lang treë na die uitgang toe. 

In my kothuis sluit ek die voordeur, stap kamer toe en gaan sit op die bed. Ek sit ’n wyle so, dan registreer die klanke van Chopin se Poolse Ballade in my ore. Dit kom in die stil vroegaand aangesweef van oorkant die straat af. Dis die musiek wat Nalin altyd speel en waaraan ek gewoond is en waardeer. Dit beteken hý is vort. Geen elektriese kitare en tromme meer nie. Maar die musiek het die bekoring daarvan vir my verloor. Dis bloot melankolies, soos die figuur wat na my terugstaar uit die spieël gemonteer in die middel van die hangkas.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top