Ek sukkel al ’n paar jaar lank met my longe: asma en emfiseem. Elke dag moet ek pompies gebruik om bietjie vars lug te kan inasem. En ek rook steeds. Het al ’n paar keer probeer ophou, met hulp van die moderne middels, maar sonder langtermyn sukses. Een keer het ek darem vir dertig dae lank opgehou, maar toe net weer begin. Die "wonderpille" het ook nie meer ’n sterk uitwerking op my nie, ek dink ek het dit al te veel keer probeer.
Daar kry ek toe nou so twee weke gelede ’n verkoue, met loopneus en benoudheid op die bors. Ek probeer al die gewone middels en bestel ekstra goed van die apteek, maar sonder sukses: my bors word al hoe erger.
Uiteindelik is dit so erg dat ek na asem hyg. My gewone dokter is met verlof en ons gaan toe sommer na ’n ander mediese sentrum hier naby. Diep en moeisaam hygend kom ek daar in, hulle sleep-dra my na die wagstoele. Die ontvangsdames sê toe dadelik hulle moet my ongevalle toe neem, my metgesel kan die vorms invul. Ek hyg ernstig en is naby floute.
By ongevalle help hulle my op ’n bank, gee my summier ’n inspuiting in die boud en plak ’n suurstof masker op my gesig.
Maar dis te laat. Ek raak weg, ek voel hoe ek vinnig in ’n lang, donker tonnel afbeweeg, met ’n pikswart kolk aan die onderpunt. Skielik bars ek deur tot in die donkerte en staan ek voor die poorte van die hel. Dis ’n massiewe hek van smee-yster, met ’n groot boog bo-oor, alles versier met swart diamante, donkerrooi robyne en groen smaragde. Nogal mooi, sou ek sê. En die jong man wat my daar inwag is nogal aantreklik, geen teken van horings of ’n stert nie, maar met ’n baie donker gelaatskleur en vriendelike ogies.
"Jy kan nog nie ingaan nie," sê hy.
"Hoe so?" vra ek verbaas, want ek het gedink dis nou die einde.
"Dis nog nie jou tyd nie. Maar ons wag vir jou, hoewel ons nie ’n tekort aan siele het nie. Daar gebeur sommer baie vieslike dinge op aarde, soos moorde en verkragtings op babas, onthoofding van onskuldige kinders, Christene wat ander veroordeel maar niks doen aan al die ellende op aarde nie. So, ons is altyd vol en moet gedurig uitbrei. Jou tyd sal kom."
"Ek het dan gehoor Christene is so fantasties, van hulle is selfs bereid om jou sondes op hulle te neem, dan sterf hulle in jou plek," sê-vra ek.
"Nee, sulkes het ek nog nie hier gesien nie. Ons ken daai stories, maar dis sommer praatjies. En ek kan jou verseker, hier is baie Christene. As jy wil kan ek jou deur die plek neem dat jy self kan sien, ek sal optree as jou gids."
"Nee dankie," sê ek vinnig. Netnou besluit hulle om my daar te hou.
"Dis nogal warm hier buite by die hek," sê ek net om iets te sê.
"Ja, maar laas maand het ons ’n probleem gehad, dit het erg begin afkoel. Hier het ’n paar wilde moffies ingekom, en niemand was veilig nie, niemand wou dit waag om te buk om ’n vuur aan te steek nie. Maar hulle is nou veilig toegesluit in die selle."
Skielik word ek bewus van ander stemme en iemand wat na my roep, ook ’n geweldige drukking op my bors. Dis die dokter en verpleegster wat my probeer bykry. Ek sit skielik regop. "Kom ons gee pad hier," sê ek, steeds hygend na asem. "Die plek voel vir my te warm."
Heiden

