Die orrel van die Notre Dame-katedraal: Die einde van ’n era

  • 0

Die hele wêreld was geskok toe daar op 15 April ’n verwoestende brand uitbreek in de Notre Dame-katedraal in Parys. Vir orrelliefhebbers was slegs een vraag belangrik: sou die beroemde Cavaillé-Coll-orrel die vlamme oorleef?

Op Maandag 15 April 2019 breek brand uit in die Notre Dame-katedraal in Parys. Beelde van die verwoestende vuur hou menigeen wêreldwyd voor die TV gekluister. 

Dan stort die spitstoring in. Brandweermanne gaan onvermoeid voort om die vuur te blus terwyl van die kosbare skatte van die katedraal sover moontlik in veiligheid gebring word.

Daar heers onsekerheid oor die skade en teenstrydige berigte kom na buite oor die lot van die orrel. Volgens sommige sou die orrel geheel en al verwoes wees, volgens ander sou hy wonderbaarlik behoue gebly het.

Na ’n aand en ’n nag van vrees en onsekerheid word dit die volgende dag duidelik dat, ten spyte van die verwoestende vuur, die hooforrel, geleë tussen die twee hooftorings van die Notre Dame reg voor die westelike roosvenster, ongeskonde gebly het. Nietemin sal uitvoerige restourasie moet plaasvind. Die tweede orrel, die koororrel, is egter swaar beskadig deur water van brandblussers.

Foto: Eileen Bettig

Reaksies van die orreliste

Die vyf orreliste van die Notre Dame – Olivier Latry, Philippe Lefebvre, Vincent Dubois (hooforrel) en Yves Castagnet en Johann Vexo (koororrel) – reageer met verbystering, dankbaarheid en hoop.

Die vesper het dié Maandagaand om 18:15 begin. Vexo was pas klaar met die speel van ’n psalm en die priester het net begin met die uitlê van die evangelie toe die brandalarm afgaan.

Dit veroorsaak konsternasie want dit het nog nooit eerder gebeur nie. “Ons het nie geweet wat aangaan nie, of dit ’n grap is, of ’n oefening. Ek het nooit gedink dat dit werklik ’n brand is nie,” sê Vexo in een van die vroegste reaksies. Die vesper is voortydig afgebreek en die katedraal ontruim.

Vincent Dubois was dwarsdeur die nag  in kontak met sy ko-titularisse van die hooforrel, Olivier Latry en Philippe Lefebvre. Die aand van die brand het nie een geglo die orrel sou behoue bly nie. 

Die volgende oggend was daar hoop. “Dit is ’n wonderwerk”, sê Dubois.

Hooforrel van die Notre Dame de Paris / Foto: Eric Chan, Hollywood, VS [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons

Vir hooforrelis Olivier Latry was die nuus “soos ’n slegte droom, ’n nagmerrie. Ek voel ’n enorme hartseer, woede, totale wanhoop”.

Latry het Maandag ’n konsert in die buiteland gespeel en het die nuus per sms gehoor: “Die beelde wat ek sien is verskriklik. Ek het nie geslaap nie. Ek het my kollega’s gebel, en my vriende. En ek het gebid”.

Ook hy beskou dit as ’n wonderwerk: “Die orrel is die siel van die katedraal en sal bly voortleef. Hoe lank dit nog gaan duur voordat die orrel weer gehoor gaan word, weet niemand op die oomblik nie”.

Dit het 400 brandweermanne sowat 9 ure geneem om die vuur uit te doof.  

Philippe Lefebvre: “Na die verontwaardiging, die vrees, die ondraaglike pyn, die verwoestende beelde van hierdie tragedie, het die katedraal die ergste dapper weerstaan – die Notre Dame staan steeds”. 

Yves Castagnet: “Ons, die musici in diens van hierdie unieke plek, sal alles met ons hele hart en met al ons energie doen om te verseker dat die Notre Dame oor die wêreld bly skyn, soos hy al 850 jaar skyn en nog ’n lang tyd sal voortgaan om te doen”.

Die pos van hooforrelis van die Notre Dame (tesame met dié van Saint Sulpice) is ongetwyfeld een van die mees prestigieuse posisies onder orreliste in Parys.

Geskiedenis van die hooforrel van die Notre Dame

Een van die vroegste orrels in die Notre Dame is in 1403 gebou deur Friedrich Schambantz. Hierdie orrel is in 1730-1738 vervang deur ’n nuwe instrument van Francois Thierry, met vyf manuale en pedaal en 46 registers, in die tyd die grootste in Frankryk, met ’n nuwe orrelkas, maar met behoud van ou pypwerk.

Vyftig jaar later (1783), tydens ’n restourasie deur Francois-Henri Cliqout word die orrelkas hervorm tot Lodewyk-XVI-styl, wat vandag nog kenmerkend van die orrel is.

Gedurende die Franse Revolusie (1789-1799) is die orrel tydens ’n paar plegtighede gebruik, maar is grootliks verwaarloos – die lot van baie orrels tydens die Revolusie. Ook die katedraal, waar Napoleon homself gekroon het, raak verwaarloos totdat die roman van Victor Hugo (Notre-Dame de Paris, 1831) weer die belangstelling laat oplewe. 

Indirek was dit miskien selfs verantwoordelik vir die grootskaalse restourasie (1840-1860) wat uitgevoer is deur Eugène Viollet-le-Duc waartydens die spitstoring deel word van die buiteaansig van die katedraal.

Viollet-Le Duc gee die grootste orrelbouer van sy tyd, Aristide Cavaillé-Coll, meester van die 19e-eeuse Franse simfoniese orrel, opdrag om ’n nuwe instrument te bou, met gebruikmaking van soveel moontlik bestaande materiaal.

Hierdie Cavaillé-Coll-orrel is in Februarie 1868 ingewy, maar is reeds op Kersdag 1867, tydens die destydse wêreldtentoonstelling, vir die eerste keer bespeel.

Sedertdien het nog vele restorasies plaasgevind. Telkens is die orrel uitgebrei en verbeter, maar met behoud van materiaal van die vorige orrels. 

So is daar vandag nog 12 pype wat dateer uit die middeleeue, terwyl sowat 900 van die 7952 pype beskou word as “historiese” pypwerk.  

Tydens die diensverband van Louis Vierne (wat orrelis was vanaf 1900 tot aan sy dood – op die orrelbank tydens ’n mis – in 1937), vind werksaamhede aan die orrel plaas waardeur die traktuur nie meer meganies nie, maar deels pneumaties, deels elektries word. 

In 1959/1960 (toe Pierre Cochereau vaste orrelis was) word die Barkerhefbome verwyder en word die orrel ten volle elektries, waarvoor nie minder nie as 700 kilometer kabels aangelê is – wat onder andere lei tot probleme met oksidasie en herhaaldelike haperinge. 

In 1990-1992 vind opnuut ingrypende veranderinge plaas toe die Franse Ministerie van Kultuur opdrag gee vir ’n volledige restourasie waarin die simfoniese klank van die Cavaillé-Coll-orrel herstel moes word, terwyl elemente van die 17e en 18e eeu behoue moes bly, gekombineer met digitale rekenaartegnologie. 

Twee uiteenlopende wêrelde word deur hierdie restourasie bymekaargebring – orrelboubedryf en informatika. Aan die een kant die hoë vlak vakmanskap van orrelbou-erfgoed en historiese orrelrestourasiebeleid, aan die ander kant die wêreld van die lugvaart-, ruimtevaart- en die tegnologiese industrie.

Die verandering was aanvanklik nie suksesvol nie, wat daartoe gelei het dat een van die destydse orreliste van die Notre Dame, Jean-Pierre Leguay dit as “pynlik en ’n verleentheid” bestempel het.

Die tegnologie was nooit 100% betroubaar nie en in Mei 1994 breek dit in die middel van ’n konsert.  Dit word selfs vir ’n tydjie nie meer gebruik nie, maar na sowat drie maande word die sisteem herstel.

Restourasie van die hooforrel in die 21e eeu

Die mees onlangse restourasie, en die eerste van die 21e eeu, vind ’n skrale twee-en-twintig jaar later plaas.

Die katedraal is met meer as 13 miljoen besoekers per jaar (teenoor die 9,2 miljoen per jaar van die Louvre) die monument in Parys wat die drukste besoek word.

Die gebruiksfrekwensie van die orrel en die humiditeit en temperatuurswisseling wat veroorsaak word deur die asems van soveel toeriste lei tot aanpak van stof en roet op die orrelpype.  

Die eerste fase word van September 2011 tot Desember 2012 afgehandel. In 2013, tydens die 850e jubileumjaar van die Notre Dame, kon die orrel wel weer gehoor word.

Daarna word die restourasie van September 2013 tot Augustus 2014 afgehandel. Tydens hierdie werksaamhede (toevertrou aan Bertrand Cattiaux en Pascal Quoirin) word die orrel gerestoureer, skoongemaak, gewysig, die registeraksie en speelmeganiek word opgradeer, ’n nuwe speeltafel word geïnstalleer, die orrelkas en frontpype word gerestoureer en ’n algemene stemming vind plaas.

Drie-en-dertig registers van die huidige orrel dateer van voor die Franse Revolusie, vyftig registers van die Cavaillé-Coll-instrument van 1868. 

Op die aand van 20 September 2014 word die herstelde orrel van die Notre Dame-katedraal feestelik in gebruik geneem met ’n spesiale konsert deur die drie orreliste van die hooforrel – Olivier Latry, Jean-Pierre Leguay en Philippe Lefebvre.

Verskeie konsertreekse op die nuut-gerenoveerde orrel vind vervolgens plaas, onder andere ’n aantal konserte (tussen 11 Oktober 2014 en die einde van daardie jaar) deur orreliste van die “grandes tribunes parisiennes” – houers van die belangrikste orrelposte in Parys, waaronder die Suid-Afrikaans-gebore Liesbeth Kurpershoek-Schlumberger, hooforrelis van die Mutin-Cavaillé-Coll-orrel van die Eglise Réformée de l’Etoile (die grootste Protestantse kerk in Parys).

Aankondigingsplakkaat van konsertreeks 2014: Die orrel word bespeel deur titularisse van die belangrikste orrels in Parys – Loïc Maillé (Trinité), Christophe Mantoux (Saint-Séverin), Véronique Le Guen (Saint-Séverin), Vincent Warnier (Saint-Etienne du Mont), Sophie-Véronique Choplin (Saint-Séverin), Eric Lebrun (Saint-Antoine des Quinze-Vingts), Thierry Escaich (Saint Etienne du Mont), Aude Heurtematte (Saint-Gervais) en Liesbeth Schlumberger (Eglise Réformée de l’Etoile)

Geen skade aan die hooforrel nie?

Die orrel sal sekerlik volledig skoongemaak moet word na die brand. Assessering van die orrel na die brand deur die firma Quoirin en Cattiaux (wat verantwoordelik is vir die orrel sedert die laaste restourasie) het egter aan die lig gebring dat geen skade aangerig is deur die vuur nie. 

’n Termometer binne die orrel dui daarop dat ’n maksimum temperatuur van 17 grade Celsius bereik is op 15 April.

Geen skade is opgemerk wat deur die vuur veroorsaak kon wees nie – alleen fyn, droë stofdeeltjies.  Daar is ook geen skade aan pype en elektriese komponente nie.

Die laaste geluidsopname van die hooforrel van die Notre Dame is afgelope Januarie gemaak deur titularis Olivier Latry – Bach to the future, ’n CD in sy geheel gewy aan die musiek van Bach, waarmee Latry die uitdaging aangaan om Bach te speel op ’n orrel wat jy nie in die eerste plek as ideaal vir die musiek van Bach sou bestempel nie. 

Die CD van 77 minute is op 22 Maart vanjaar by die Franse platemaatskappy LA DOLCE VOLTA vrygestel en is ook digitaal aflaaibaar as mp3, FLAC en Hi-Res FLAC.

Werksaamhede neem ’n aanvang na die brand. / Foto: Eileen Bettig

Die hooforrel is gesitueer tussen die twee torings links op die foto. Dit is duidelik te sien dat die brand in ’n ander deel van die gebou gewoed het, daar waar nou die werksaamhede aan die gang is. / Foto: Eileen Bettig

Koororrel

Met die lot van die koororrel in die Notre Dame is dit anders gesteld.

Die orrel is wel ook nie deur die vlamme verteer nie, maar moes wel erg deurloop onder die water van die brandblussers.

Hoewel ’n kleiner instrument as die hooforrel, is die koororrel self ook ’n orrel in eie reg. 

Van April 1989 tot Desember 1992, tydens die destydse groot restourasie van die hooforrel, was dit die enigste instrument in die Notre Dame.

Menige besoekende buitelandse orrelis het aan die titularis van die koororrel, Yves Castagnet, gesê dat hulle wat sou wou gee om orrelis van só ’n instrument te wees. 

Die orrelkas dateer van die vroeë 19e eeu, toe dit in die nasleep van die Revolusie, mode geraak het om koororrels in kerke te plaas om die daaglikse vieringe musikaal te ondersteun.

Die orrel word tydens die daaglikse dienste bespeel en word gebruik as solo-instrument, sowel as vir die begeleiding en ondersteuning van kantor en gemeente.

Oor naweke en spesiale geleenthede wissel die koororrel met die hooforrel af in dialoog van die sang van die gemeente en dié van die koor. Die huidige instrument (gebou deur Boisseau in 1996) het twee manuale en pedaal, en 30 registers, meganiese speelaksie met elektriese registeraksie.

Koororrel van die Notre Dame de Paris / Foto: Cristian Bortes from Cluj-Napoca, Romania [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons

Nooit weer dieselfde nie

Die katastrofale brand van 15 April 2019 het die spitstoring van die Notre Dame verwoes, sowel as ander relikwieë.

Gelukkig het die grootste deel van die buitekant van die katedraal behoue gebly wat Frankryk in staat stel om die monumentale gebou te restoureer – ’n voorneme wat die Franse president Emanuel Macron één dag na die ramp aankondig.

Tog markeer die brand in die Notre Dame-katedraal die einde van ’n era.

Want hoewel nie onherstelbaar beskadig nie, sal die hooforrel nooit weer dieselfde klink nie.

Die klank van ’n orrel word mede-bepaal deur die ruimte waarin hy staan, die nagalm, die akoestiek, die manier waarop die klank binne ’n bepaalde ruimte ontwikkel.

Met die heropbou van die katedraal sal dit nie meer dieselfde wees nie.

Verandering aan die dak of interieur kan aan die klank verander. Dit beteken nie noodwendig dat dit beter of slegter sal wees nie, maar anders. 

President Macron het beloof dat die heropbou van die katedraal binne vyf jaar sal geskied. 

Waarskynlik sal ons tot dié tyd moet wag om die orrel weer te hoor.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top