Die opgestanes: Waar is hulle siele?

  • 0

As die grafte oopgaan en die dooies opstaan, kan daar allerlei komplikasies intree. Waar is hulle siele byvoorbeeld? As ’n ou al twintig of dertig jaar dood is, is sy siel mos al lankal in die hemel of in die hel. Nou staan hy egter op uit die dood en is glo heel "normaal". Beteken dit sy siel het weer by hom aangesluit? Dit kan nogal hoop gee vir siele in die hel, dat hulle met so ’n opstanery dalk kan vrykom. Ek sweer hulle sal nooit weer dieselfde sondes pleeg nie! So ’n tweede kans kry mens nie aldag nie!

En wat van my vrou wat twintig jaar gelede bloedjonk dood is, en ek is weer getroud? Nou staan die eerste vrou op uit die dode en ek is skielik ’n veelwywer. Nie elkeen kan meer as een vrou hanteer nie, mens het die vaardigheid van ’n staatspresident nodig daarvoor. En watter verdediging kan ek in die hof aanvoer vir my veelwywery? Baie van deesdae se regters glo dalk in voorvadergeeste en nie in die Bybel nie, of hulle behoort aan heel ander gelowe. Ek skat nie een van hulle sal my glo nie!

Om nie te praat van my skuldeisers wat verliese gely het toe ek skielik oorlede is nie! Hulle sal my sweerlik opsoek en druk om te betaal, en dit terwyl ek nog eers ’n werk moet soek, want iemand anders is in my plek aangestel.

Nee, die ding is te complicated vir my om te verstaan, ek moet maar liewer net my Superman-comics lees, dis makliker.

Groete,

Sondaar

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top