die oortjies van die gedig
flikker en spits
net-net bo die oppervlak
van die ryk water
stadig verskyn die groot age oge
die neusgate sper
oper
snork liggies
die snork vlieg weg oor die water
verdwyn tussen die takke
tussen die bosluisvoëls se sketter in die takke
in die digte oewerbome langs die water
die bek skarnier oop
’n gaap wys tande
die gedig hap en proes vir oulaas ’n slag
klap toe
sproei druppels waarin miniem
in die konvekse bol van elke druppel
die son die seekoei in die water tussen die bome onder die son in die heelal weerkaats
sak dan amper rimpelloos
onder donker water
terug

