Die ongeluk

  • 0

Saterdagmiddag ry ’n besope swart man in ons motor vas naby ’n township. Sy ras is relevant – sien die res van hierdie skrywe. Volgens ander ooggetuies het hulle die blitspatrollie gebel, voordat ons ongeluk plaasgevind het, omdat die besope bestuurder van die ander motor soos ’n besetene gery het en byna ’n hele aantal ander ongelukke veroorsaak het.

Die bestuurder van die motor wat in ons vasgery het, was so dronk soos ’n spook. So dronk, dat hy nie eens ’n hemp aangehad het nie. So gesuip, dat, toe die polisie uiteindelik op die toneel opdaag, hy weggehardloop het, die veld in. Die getransformeerde polisie op die toneel het nie belanggestel daarin om hom agterna te sit nie. Ek moes self in die veld agter hom aanhardloop, en hom aan sy voet terugsleep na die toneel. Laasgenoemde onbelangstellende houding van die polisie was deprimerend. Ek vind die getransformeerde SAPD wat op die toneel verskyn het, se houding helaas tekenend van als wat verkeerd is in SA. Dit was apaties, onprofessioneel en skokkend.

Andersyds was die reaksie van die getuies van die ongeluk ’n riem onder die hart. ’n Barmhartige, liewe vrou het my seuntjie (10), wat onbeheerbaar gehuil het, omhels en getroos. ’n Ander man het die versekering gebel namens ons. ’n Kleinerige, verontwaardige skare het op die besope bestuurder geskel; hom stink uitgekak oor sy besope toestand. Daar was burgerlikes wat my gehelp het om die besope bestuurder in die veld te gaan haal en hom terug te sleep na die toneel, toe hy weggehardloop het.

Wat vir my, soos my seuntjie dit sou stel, “awesome” was, was dat al die bogenoemde individue swartmense was - die burgerlikes, die verontwaardigde skare, die vrou wat my seuntjie getroos het asook die persoon wat die versekering gebel het. Hulle was saam met my kwaad vir die bestuurder. Hulle het geweldige empatie getoon met ons lot, al was die ongeluk nie so ernstig nie. Die vrou wat my seuntjie getroos het, het na ’n sout-van-die-aarde mens gelyk.

Miskien is dit was ubuntu beteken. Dankie aan julle, dit was ’n ervaring wat my vertroue in die mensdom herstel het.

Anton B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top