Geskryf vir: Straatligkinders
Hier druk die Duiwel ons duiselig.
Are van lewe, liggies en lagwekkend
Verkrag met demoniese woede.
Uit die nek word lewenslig verruil vir vuil vermomde vrese,
Longe verbrand saam met vlees,
Die hart word versmoor deur donker, bloedbedekte doringdraad.
Hy trek stywer.
Die Duiwel dans op sy ballades van gedagtes vol bloed en sweet,
Met draad en tang veg ons gewillig sy wals van beter wetende wenke.
Soos die swart skaap, soos die Ondier homself,
Lê ons tapyt bar teen die eerskomende elemente van ellende.
Hier kom die wolkbreuk…
Wol wolke sak neer op moeë dak en fondamente,
Die druppels dreun die tyd verby,
Die sinkplaat sing die somber swanesang.
Trek die wolkombers nader,
Elke silwer rant het n genadelose grys god van wolk.
Hier het ons die gifappel aanvaar,
Hier veg ons die weer en wêreldse weerstand.
So sal Satan ons nie onderkry nie,
So sal ons staan, met siel en skouer aan die wiel,
Standvastig tot swaarkry swyg.
Ek voel al my longe lig.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

