Die ''nuwe'' NALN: Naomi Bruwer gesels met Gert Opperman

  • 0

Die hernuwing van NALN - die Afrikaanse Museum en Navorsingsentrum - is vroeër vanjaar afgeskop met die aankondiging dat die Erfenisstigting aktief betrokke raak om te verseker dat NALN se eertydse glorie herwin word. Naomi Bruwer het met generaal-majoor Gert Opperman, uitvoerende hoof van die stigting, oor die vooruitsigte gesels.

In hoe ’n mate en in watter hoedanigheid is die Erfenisstigting, en u self as uitvoerende hoof van die stigting, betrokke by NALN en die toekoms van dié projek? Wat behels die hulp wat die Erfenisstigting aan NALN verleen?

Die Erfenisstigting is gedurende November 2009 eers deur die Dagbreek Trust en daarna ook deur die Het Jan Marais Nationale Fonds versoek om namens hulle by die NALN-situasie betrokke te raak. Tot in daardie stadium was daar, benewens die seminaar wat die SA Akademie ’n paar jaar gelede oor NALN aangebied het en ’n digitaliseringsprojek wat onder leiding van die Universiteit van die Vrystaat geloods is, baie min vordering gemaak. Die Erfenisstigting het gevolglik betrokke geraak deur die nasionale Departement van Kuns en Kultuur te nader om NALN onder provinsiale beheer uit te neem en op nasionale vlak te vestig en te befonds. Voorts is daar ’n korttermyn-ingrypingsplan (KTIP) opgestel, waarvoor daar R3 miljoen by die privaatsektor ingesamel is. Daarbenewens is met die Vrystaatse owerhede onderhandel om die Erfenisstigting teen betaling aan te stel as diensverskaffer vir die implementering van die KTIP, waarmee reeds baie ver gevorder is.

Uit watter sektore het die skenkings gekom om hierdie reddingspoging vir NALN moontlik te maak? Hoe word hierdie geld bestuur?

Die Dagbreek Trust, Rupert Stigtings, Het Jan Marais Nationale Fonds, Hiemstra Trust en Naspers het bygedra. Die totale bedrag van R3 miljoen is aan die Erfenisstigting oorbetaal vir aanwending te NALN, met gereelde terugvoering aan vermelde groot donateurs. Behoorlike verkrygings- en rekenskapsprosedures geld en alle uitgawes moet deur my goedgekeur word.

Het die Erfenisstigting en die plaaslike Vrystaatse regering 'n ooreenkoms oor die besteding van die geld en die toekomsplanne van NALN?

Ja, ons het op 1 Junie 2010 ’n formele diensverskaffingsooreenkoms gesluit, in terme waarvan elke party se rol en verpligtinge uitgespel is. Die Vrystaatse owerhede het aanspreeklikheid aanvaar vir sekere uitstaande infrastruktuur-projekte op hul onkoste (soos klimaatbeheer, brandbestryding, sekuriteit en die betaling van sekere rakke wat reeds in die vorige boekjaar gelewer maar nog nie betaal is nie). Die Erfenisstigting, daarenteen, hanteer alle ander aspekte, wat begin het met die basiese skoonmaak en uitsortering van NALN en sal kulmineer in ’n NALN wat weer tot ’n sentrum van uitnemendheid herstel is.

Hoe lank gaan die Erfenisstigting by NALN betrokke wees?

So lank as wat nodig is om te verseker dat al die gestelde doelwitte bereik en die situasie op ’n volhoubare wyse omgekeer is. Die grootste gedeelte van die KTIP sal nog gedurende die huidige boekjaar afgehandel word, terwyl die digitaliseringsprojek, wat sedertdien vanaf die UV na NALN oorgeplaas is, oor ’n verdere minstens twee jaar sal strek. Ons neem aan dat NALN binne die bestek van hoogstens twee jaar op nasionale vlak, met nasionale befondsing, hervestig sal wees, in welke geval daar ’n nuwe bestuursmodel by NALN sal geld.

Hoe vorder die planne om NALN op nasionale vlak te akkommodeer?

Ons is nog in gesprek met die nasionale owerhede daaroor, met die volle medewete en instemming van die Vrystaatse owerhede. Dit is natuurlik nog alles op amptenarevlak. Daar sal binnekort verdere samesprekings daaroor plaasvind op inisiatief van die direkteur-generaal van Kuns en Kultuur, waarna die saak op politieke vlak verder gevoer sal word.

Wanneer het die hulp begin en wat het nou al gebeur? Is die restourasie van die geboue byvoorbeeld reeds aangepak?

Die Erfenisstigting se vakkundiges is reeds vanaf begin Mei 2010 by NALN besig en ongeveer een tot twee weke per maand word onder hulle leiding ter plaatse op ’n baie gefokusde wyse gewerk. Baie pertinente take en mikpunte word aan die NALN-personeel gestel waarmee hulle moet voortgaan, terwyl die Erfenisstigting se personeel die res van die tyd vanuit Pretoria aan verskillende beplannings- en verkrygingsaktiwiteite bestee. In hierdie stadium is NALN reeds behoorlik skoongemaak en is plaag- en pesbeheer toegepas. Alle oortollige en ondiensbare meubels en ander toerusting is na ’n sentrale stoorfasiliteit verwyder, vanwaar die Vrystaatse owerhede daaroor sal beskik. Ultravioletbeskerming is voor alle buitevensters aangebring. Voorts is meer as R120 000 bestee aan die vernuwing van NALN se hele IT-opset. Daar is ook reeds heelwat nuwe staalrakke geïnstalleer en nog is bestel. Die volgende groot mikpunt is om tydelike vakkundiges in diens te neem om te help met die behoorlike uitpak, aanwins en ontsluiting van talle items wat die afgelope ongeveer vier jaar in kartondose gestaan het. Ons is ook reeds besig met die bywerking van al NALN se databasisse en die personeel sal heropgelei word om dit meer optimaal te kan benut. Ons werk ook aan die totale hersiening van NALN se webblad en sal later ook weer kyk na die installering van behoorlike uitstallings in die ruimtes wat daarvoor toegeken sal kan word. Daar word intussen hard gewerk aan die maak van kunsharsafgietsels van die borsbeelde van 14 bekende letterkundiges, wat binnekort in die beeldetuin van NALN ontplooi sal word.

Een van die planne wat aanvanklik aangekondig is, is dat NALN se rekenaarinfrastruktuur opgegradeer gaan word om inligting te digitaliseer. Hoe vorder hierdie proses?

Ons het reeds ongeveer R120 000 daaraan spandeer. Al die uitrusting is aangekoop en geïnstalleer. Dit sal vir ’n tydperk van twee jaar, of totdat NALN op nasionale vlak hervestig is, watter een ook al eerste gebeur, op die Erfenisstigting se bateregister bly en dan aan NALN afgeskryf word. Hierdie enkele aspek het reeds ’n baie positiewe effek op die moreel van die NALN-personeel gehad, omdat hulle werklik uiters swak toegerus was vir die taak.

Is die personeeltekort al aangespreek? En wat is die medium- en langtermynvooruitsigte om verlore kapasiteit ten opsigte van personeel te herstel?

Die hervestiging van NALN op nasionale vlak sal voorafgegaan moet word deur ’n behoorlike organisasiestudie, en daar sal beslis mettertyd meer toepaslik-gekwalifiseerde personeel aangestel moet word. Ons sal binnekort ’n aantal vakkundiges op ’n tydelike grondslag aanstel om die voltydse personeel aan te vul. Voorts word daar gekonsentreer op die heropleiding, beter aanwending en motivering van die bestaande personeel, wat die afgelope paar maande ’n hele metamorfose ondergaan het. Daar word ook gekyk na aspekte soos meer toepaslike bestuurstyle en interne kommunikasie, aangesien daar nog ’n paar uitdagings in hierdie opsig bestaan.

Gaan ander Afrika-tale ook op ’n manier by NALN betrek word? Wat is byvoorbeeld die toekoms van NALN se betrokkendheid by die Sesotho Museum, waarheen NALN-personeel voorheen verskuif is?

Hierdie aspek word nog in oorleg met die Vrystaatse owerhede verder gevoer. Ek self sou meer ten gunste daarvan wees dat NALN ’n toegewyde Afrikaanse Museum en Navorsingsentrum moet wees.

Daar is in Julie ’n werksessie gehou met onder andere ’n verskeidenheid belanghebbende instansies (onder meer die Afrikaanse Taalraad en die SA Akademie vir Wetenskap) oor die toekoms van NALN. Wat was die algemene verwagtinge van hierdie belangegroepe vir ’n instelling soos NALN wat in die bespreking na vore gekom het?

Dit was ’n baie positiewe werkswinkel, waartydens ons besin het oor die visie en missie van NALN. Die werkswinkel is voorafgegaan deur ’n vraelys wat aan ’n groot aantal belanghebbendes gestuur is om ook hul insette te bekom. Die getal response was ietwat teleurstellend, maar die tyd wat daarvoor beskikbaar gestel is, was doelbewus baie kort gemaak, ten einde nie die implementering van die KTIP onnodiglik te vertraag nie.

NALN se visie is by die werksessie tentatief as volg omskryf:

NALN word erken as die beste en mees omvattende Afrikaanse letterkundige navorsingsentrum en -museum in die wêreld.

Hoe gaan NALN te werk gaan om kompetisie met ander instellings in hierdie verband uit te skakel en eertydse glorie te herwin?

NALN sal gelei moet word om samewerkend met ander instansies op te tree. Daar is byvoorbeeld baie sinergie tussen die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en NALN. Daar is ook ander instansies, veral universiteite, wat op dieselfde akker doenig is. NALN beskik oor die potensiaal om die grootste en beste inrigting van sy soort in Suid-Afrika te wees, mits die KTIP suksesvol deurgevoer word en ons nie toelaat dat NALN weer verval tot die vlakke van die afgelope aantal jare nie.

Is die omvang van die “ou” en “nuwe” NALN dieselfde? Vind Afrikaanse musiek, films en drama ook ’n plek binne dié letterkundige museum?

Ja, maar daar sal krities gekyk moet word na NALN se insamelingsbeleid om te voorkom dat NALN die stortplek word van items wat baie min werklike historiese of navorsingswaarde het. Ons is reeds besig om die betrokke beleide te hersien.

Sal bestaande argiefmateriaal deur ’n siftings- of uitdunningsproses gaan voordat dit (weer) plek vind in die “nuwe” NALN?

Daar sal binnekort begin word met ’n omvattende proses om te bepaal presies wat NALN het en hoe dit optimaal ontsluit en meer toeganklik gemaak kan word. As ’n item eers formeel aangewins is, is dit moeiliker om daaroor te beskik as dit nie meer benodig word nie. Persone wat in die verlede items aan NALN geskenk het, kan gerus wees dat hierdie saak met groot verantwoordelikheid hanteer sal word, met inagneming van die etiese museumkundige beginsels en verpligtings wat in hierdie verband bestaan. Ek wil graag versoek dat diesulkes ons asseblief eers kans moet gee om die taak ongestoord af te handel, want panieknavrae en kunsmatige druk kan ons fokus en sinvolle tyd- en energiebesteding belemmer.

NALN is beide museum en navorsingsentrum. Hoe weeg hierdie rolle teen mekaar op?

Die twee rolle vul mekaar aan, maar myns insiens is die navorsingsrol die belangrikste een van die twee.

Daar is vroeër in die pers berig dat daar geld vir NALN-gerigte navorsing beskikbaar gestel gaan word. Is daar al enige uitvoering hieraan gebring?

Nog nie. Ons het wel ’n paar honderd duisend rand daarvoor opsygesit en ons al binnekort begin met die identifisering van onderwerpe vir opdraggewende, behoeftegedrewe navorsing en ook kyk na versoeke wat van navorsers ontvang word. Ek vertrou dat die nodige toekennings vroeg in die nuwe kalenderjaar gedoen sal kan word.

Kan buitenavorsers steeds goeie diens verwag van NALN? In hoe ’n mate sal die digitalisering van inligting hiertoe bydrae?

Alhoewel NALN selfs gedurende die tyd van groot ontwrigting voortgegaan het om goeie navorsingsteun te lewer, sal die beter ordening en ontsluiting van die bronne, die bywerking en beter onderlinge skakeling van die verskillende databasisse en die drasties verbeterde IT-opset, asook die uitset van die digitaliseringsprojek, ongetwyfeld ’n meer navorsingsvriendelike klimaat skep.

Hoeveel mense maak oor die algemeen gebruik van NALN se dienste en het dit toegeneem met die herlewing van NALN? Is daar enige planne om NALN se inhoud en dienste aktief aan ’n wyer publiek te bekend te stel?

Die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting se sukses is gebaseer op drie hoekstene, naamlik gesonde bestuur, uitnemende diens en aggressiewe bemarking, in die geloof, met passie en baie harde werk. Dieselfde benadering sal in die geval van NALN gevolg moet word. NALN het die potensiaal om op al vermelde terreine te verbeter. Ons sal ook nog moet werk aan die heraktivering van die Vriende van NALN, om die groot poel van latente goedgesindheid wat bestaan, na behore te ontsluit. Dan sal ons ook nog ’n tipe advieskomitee vir NALN moet skep ten einde te verseker dat die instelling wel toegang het tot kundigheid en ervaring wat elders bestaan.

Kan skrywers nou met gerustheid van hart manuskripte en ander materiaal vir bewaring voorlê?

Ek dink werklik so en sal graag van enigiemand verneem wat ’n ander siening oor die saak het. Ek glo in elk geval NALN gaan binnekort weer dié trots van die Afrikaanse letterkundige wêreld wees en dat nuwe bronne sal instroom, maar moet weer waarsku dat dit met groter oordeel en dissipline as by tye in die verlede hanteer sal moet word.

Gaan NALN steeds aktueel bly deur nuwe materiaal te versamel? Watter materiaal word benodig en wie kan daartoe bydra?

Dit is kritiek dat NALN aktueel bly ten einde te voorkom dat dit mettertyd ontaard ’n niks meer as ’n museum van vergange se dae nie. Ons sal op die nuwe geslagte letterkundiges moet staatmaak en sal ook weer moet werk aan die verhoudinge met uitgewers en ander belanghebbendes.

Hoe kan lede uit die publiek betrokke raak om ’n positiewe bydrae tot NALN te lewer?

Ons al binnekort begin met die heraktivering van die Vriende van NALN, wat natuurlik een logiese manier is. Voorts sal dit moontlik wees om mettertyd weer besoekgroepe te NALN te ontvang en om dit hopelik weer die vanselfsprekende bymekaarkomplek van verskillende belangegroepe te maak. Skenkings van materiaal en veral geld sal natuurlik altyd welkom wees. Dit bring ons terug by die noodsaak om ’n behoorlike bemarkingsplan op te stel ten einde NALN in staat te stel om sinvol uit te reik, om die steun aan NALN te optimaliseer.

As deel van die fondse wat vir die korttermyn-ingrypingsplan te NALN beding is, is daar ongeveer R350 000 beskikbaar vir navorsingstoekennings in die nuwe boekjaar. Die fondse is in die rekening van die Navorsingstrust inbetaal en die finale toekenning sal gedurende April 2011 deur die Raad van Trustees gedoen word onder voorsitterskap van Sy Edele appèlregter Louis Harms. Die finale besluit sal by die Raad van Trustees berus.

Ten einde riglyne te kan voorberei vir die inwinning van aansoeke vir befondsing, kan voorstelle nou ingedien word oor hoe om die geld ten beste te bestee. Dit gaan dus nog nie oor werklike aansoeke om fondse nie, maar eerder oor die daarstel van ’n raamwerk om aan latere aansoeke struktuur te gee, ten einde te verseker dat die eindresultaat op ’n inklusiewe, deursigtige wyse tot beste voordeel van die Afrikaanse letterkunde in al sy vorme sal wees, want dit is basies die kernbesigheid en bestaansreg van NALN.

Sodra die insette ontvang en oorweeg is, en dit ook met die Raad van Trustees uitgeklaar is, sal die finale riglyne vir befondsing bekend gestel en die toepaslike aansoekvorms verder versprei word.

Insette kan gelewer word aan mev Estelle Pretorius by [email protected] of Posbus 1514, Groenkloof 0027.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top