Dis tye soos die – wanneer ’n leeu se brul wegsterf in ewig nag, en jy skielik onthou van die alleenloper gevlekte hiëna rondom die kamp, dat jy bly is oor die tent se ritssluiter wat jy tog laat regmaak het. Die opvoubed slaap ook nie so sag soos die een by die huis. Rondom my is naggeluide. Alles voel vreemd. Ek wip soos ek skrik toe ’n buffel skielik proes by die drinkgat langs die heining.
Ek moes tog ingesluimer het want word wakker toe iemand teen ’n tentpaal tik-tik: “Kan ons maar julle braaier kry?” vra buurman. Hy en sy gesin het laasnag kamp opgeslaan en is vanoggend opsoek na ’n braaier. ’n Kamper is ’n snaakse ding. Hulle slaap plat op die aarde en is ook plat op die aarde mense. Gasvry en behulpsaam.
“Jammer,” maak manlief verskoning “net die helfte van ons gaan terug werk toe, die ander bly agter.”Ek is bly om een van dié te wees wat op verlof is. Buurman sal maar op ’n ander plek ’n braaier moet gaan soek. Hy het seker gedink ons slaan kamp op.
In die kombuistent blaas die ketel. Iemand is besig om ’n katoeter te stook want die reuk van koffiebone hang sterk en soet. Ouma se beskuit word ruimskoots uitgedeel. Aan die onderkant van die Bush baby se slaapbank, ooghoogte, sien ek ons het ’n nuwe intrekker gekry. ’n Wit padda. Rrrrrr. Gedurende die nag het hy homself lekker tuisgemaak onder die lig wat oorvloed goggas aantrek. Sy pens is seker dikgevreet. Hy besef nie dat as ons kamp opslaan hy in die slag mag bly, of dalk in die stad mag opeindig nie.

Vroeg die volgende oggend, voor sonsopkoms, is die Toyota gepak. Biltong, koeldrank, yshouer, aartappelskyfies, droëvrugte. Natuurlik ook verkyker, kameras en lense. Kruger se topografiese kaart- asook ’n voëlboek. Dagritte word haarfyn beplan en is dit net die wild of ’n grootvoet in die pad wat ons program kan omv?rgooi. Ons wil niks mis van hierdie ongelooflike doringboom-en-grasbosveld.
Wanneer ek die tent se klap toerits weet ek ons sal skemeraand eers weer ons tenthuis sien. Alle kos en vrugte is weggesteek, want bedags deursoek blouape die kampgrond en is niks vir hulle oë verborge. Alreeds het hulle ’n melkhouer oopgeskeur en die suikerblik omgegooi. ’n Orkaangemors.

Die foto hierbo skilder ’n sielvolle dagwording in die Krugerwildtuin. Om ons ruik die grassade douvars. Later deur die dag word dit bloedig warm. In die vêrte op die oop savanna, sien ons hierdie buffel wat koelte-lafenis onder ’n doringboompie soek. Die lens trek hom nader tot in sy volle bonkigheid, sodat jy selfs die bosluise op hom kan sien. (Canon EOS 600D; 150x500mm-lens)
Ons vriendin Blommie, (soos ons haar noem) begin later kriewel. Dit is ons vierde dag en nog geen luiperd in sig. ’n Vakansie in die Kruger is onvolmaak sonder die volle Groot Vyf vasgevang op foto. Druipstert keer jy terug stad toe. Ons besluit dus op die S100-roete vanaf Satara, in ’n oostelike rigting. Ons wil die pad behoorlik platry en verken. Dis luiperdw?reld en die grondpad kronkel al langs die N’wanetsirivier wat asemrowende uitsigte bevat.
Voor ons egter op die S100 kon indraai, word ons voorgekeer. Leeus het laasnag ’n kameelperd platgetrek naby die Nsemanidam, op die H7 roete, skaars 9km vanaf Satara. En ja, die volgende oomblik voel dit of die hele bosveld wemel van leeus. Meestal wyfies met hul kroos. Sommige skeur en vreet aan die karkas, terwyl ander dikgevreet in die teerpad lê en bloed van hul pote aflek.

Die hele wêreld woel. Voertuie hoop op vanuit alle rigtings. En moet jy rustig wag vir ’n goeie staanplek. Alhoewel almal se aandag op die katte is, begin die bos rondom ons ook lewe. Spookagtige geraamtebome met knoetsvingers word die sitplek van talle roofvoëls. Hulle wag vir ’n beurt by die karkas en sal al die bene skoonpik. As lykversorgers maak hul skoon waar die leeus morsvreet. Hieronder op die foto sit ’n witrugaasvoël. Ek het nooit besef hulle het soveel geduld nie. Twee volle dae sit hul roerloos en wag. ’n Aasvoël kan self nie jag nie, aangesien grypkloue ontbreek. Rooijakkals begin ook oral vanuit die bosse te voorskyn kom en maak gereed om ook hul stuk te gaps.

Later ry ons ’n entjie terug en gaan staan op die Nsemanidamwal. V?r, op die oorkantste horison troon rooi vaderlandswilgers en jakkalsbessiebome hoog bo die water uit. Dit is ook hardekool- en mopanieboom w?reld. Reg voor ons, in en rondom die water krioel dit besig. Deur die dag kom drink die wild daar en kom verskeie watervoëls, seekoei, krokodil en waterskilpaaie voor. Die watervlak is selde rippelloos en verklap die wonderlewe onder dit vanaf ’n goddelike hand. Insekte hang oor die water en visvangers tuimel met ’n vryduik na benede, binne die water in. Ruitafdraai is ’n moet en die verskeie reuke wat op die wind ingedra word wissel tussen misreuk, natgrond en gekneusde kruieblare. Dit is die regte plek om te wees, dink ek en asem diep in. Selfs die veelvoudige kleurskemas rondom my roep uit: SKEPPING.

Reg voor ons, tussen die riete in die warm vlakwater maak ’n kolganspaar mekaar die hof. Aan die oewer staan ’n witreier met sy slanke liggaamsbou roerloos en wag vir kos. Op ’n droë stomp in die middel van die water is die stilbeeld van ’n oënskynlik slapende slanghalsvoël. Hy lyk misterieus en afsydig. Op die sandbank slaap krokodille oopbek en is dit verbasend hoe die lewe rondom hulle voortgaan asof hul niemand bedreig.

Die rustigheid van die omgewing oorweldig ons. Die natuur is op sy mooiste. Voor my ontwikkel ’n skildery wat voortdurend verander. Van een aksie toneel na die volgende. Skielik is daar die harde genurk van ’n kolos seekoei wat uit die water opstaan en golwend alles in beroering bring. Voëls kwetter weg en selfs ’n olifant wat aan die oorkant staan met ’n volgesuigde slurp draai om. Wat sou die steurnis veroorsaak? So vasgevang sit ons, onbewus van die naderende gevaar. Skielik trek Blommie haar asem in en my hart begin vinniger klop. Reg voor ons in die pad, met ’n lang streep karre agterna, kom twee vors leeumannetjies ruisloos op ons afgestap. “Miskien moet ons omdraai,” s? Blommie benoud en sit haar hand vinnig op die aansitter. “Nee, dis te laat,” fluister ek, “sit doodstil.”

Op die damwal vasgekeer, met geen tyd om kamera of lens te ruil, is hul op ons. Die mik-en-druk en selfoon moes maar hul kant bring. Hierdie keer het ek werklik diep in leeu se geel oë gekyk terwyl hy teen ons verbyskuur. Hulle was op pad na die wyfies by die kameelperdvangs. Gelukkig was die wyfiereuke sterk genoeg om hul aandag te behou, en was hul geen gevaar vir ons banges.
Later die dag laat ons wielspore agter in die sandpad van die S100-roete. Daar is troppe olifant wat die grootste lewende soogdier op land is. Blykbaar is daar net 3 soorte oor: die Indiese olifant, Afrika-bosolifant en Afrika-woudolifant met sy kenmerkende lang beenlose gespierde slurp. Ivoortande wat diep in die skedel vassit en groot snytande wat aanhou groei. Hierdie ou hier onder het besluit boorgatwater is lekkerder dan rivierwater. Soms het hy met net een poot sy boskolos gebalanseer op die klein sementblokkie aan die buitekant van die dam se muur. So kon hy sy slurp diep in die water stoot. Wildernis-stappers vriende van ons het al vertel hoe hulle afgekoel het in hierdie damme tydens erge hitte en maar moes stil l? wanneer die ollies hulle slurpe insteek om te kom water drink.

“Julle moet asseblief in die bome ook kyk,” raas Blommie terwyl ons stadig aftoer langs die N’wanetsirivier,“ons móét vandag ’n luiperd kry!” Sy begin werklik desperaat klink. Ons deursoek die bosse en bome haarfyn, soveel so dat my oë begin brand en alles naderhand na kolle lyk. Ons ry selfs oopvenster, want dalk mag die hoes van ’n luiperd sy l?plek weggee.
En dit was môre en dit was aand. Terug by die kamp, alhoewel salig moeg, is ons bly vir uitspantyd. Blommie daarteenoor is ongelukkig. Innerlik verstoord. Sy wil nie gaan slaap met ’n gevoel van teleurstelling.
“Ek gaan vir ons ’n nagrit boek,” s? sy beslis en verdwyn terwyl die nag haar insluk. Alhoewel sy dit nie s?, weet ek die rede agter dit. Kollekat! As dit dan nie kan in die sonlig van die dag, dan in die kollig van die nag. Ek glimlag stil en vee my gesig met ’n koel waslap af. Ons dag is nog vêr van sy einde. Hier kom groot opwinding ...
Word vervolg
Trienie



Kommentaar
Beste Trienie,
Ek stel voor jy begin 'n blog.Hierdie is baie mooi en die bloggers van Litnet sal dit verwelkom.Dankie daarvoor.
Groete
Perdebytjie
Dankie Trienie vir die mooi brief en die treffende fotos. Sal maar in Afrika bly ten spyte van.
Dankie Perdebytjie vir jou voorstel. Sal defnitief daarna kyk. Ook dankie Enjee, ons land bly maar mooiste!
Ek het hierdie maar geskryf vir die Geheuekiekie wedstryd - my oe loer maar na die prysboek: "Digital Photography"
Trienie