Die nuwe artikel 145(9) van die Wet op Arbeidsverhoudinge – uniek, maar welkom

  • 0

Die nuwe artikel 145(9) van die Wet op Arbeidsverhoudinge – uniek, maar welkom

D.W. de Villiers, Departement Handelsreg, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 13(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

’n Aansoek in die arbeidshof om ’n arbitrasietoekenning te hersien, is uiteraard ’n dringende aansoek. Sommige partye wend egter taktieke aan om verdere regstappe te vertraag of te blus. Die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge 6 van 2014 bevat belangrike veranderinge en toevoegings wat poog om hierdie probleem hok te slaan. Een daarvan is die toevoeging van subartikels 9 en 10 tot artikel 145. ’n Hersieningsaansoek van ’n arbitrasietoekenning wat na 1 Januarie 2015 verleen is, onderbreek nou die verloop van die verjaring van die toekenning.

Na die aanhoor van drie verwante appèlle op 6 November 2015 lewer appèlregter Coppin ’n rigtinggewende uitspraak in die arbeidsappèlhof in Myathaza v Johannesburg Metropolitan Bus Service (SOC) Ltd; Mazibuko v Concor Plant; Cellucity (Pty) Ltd v Communication Workers Union on behalf of Peters.1 In twee van die drie sake het die appellante betoog teen uitsprake van die arbeidshof dat die Verjaringswet ten opsigte van arbitrasietoekennings geld (Myathaza- en Mazibuko-saak) en in ’n derde dat dit glad nie geld nie (Cellucity-saak). Die wysigings van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (WAV) het reeds op 1 Januarie 2015 in werking getree. Regter Coppin se uitspraak handel wat die onderbreking van verjaringbetref, slegs met die posisie voor 1 Januarie 2015.

Hierdie artikel verken hoofsaaklik hofsake wat die uiteindelike toepassing van artikel 145(9) beïnvloed. Kritieke kwessies ten opsigte van die werknemer of skuldeiser se posisie word vervolgens aan die hand van die regsgeskiedenis en regter Coppin se uitspraak bespreek. Ander maatreëls wat ten doel het om onnodige vertragings of sloerings teen te werk, word verder ondersoek. Riglyne word ook aan partye gegee oor hoe om voortaan te werk te gaan in die lig van al die veranderinge aan die WAV. Ten spyte van ’n paar kritiese vrae wat ’n mens kan hê, is dit ’n stap in die regte rigting, naamlik om uitbuiting van werknemers deur hul werkgewers te bekamp.

Trefwoorde: arbitrasie; bevel; herindiensneming; herindiensstelling; hersiening; onderbreking; toekenning; vergoeding; verjaring; verloop; WAV; Wet op Verjaring 1969; Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge 2014

 

Abstract

The new section 145(9) of the Labour Relations Act – unique, but welcome

An application for the review of an arbitration award under sections 145(1) and/or 158(1)(g) of the Labour Relations Act (LRA hereafter) is intrinsically an urgent application. Unfortunately some parties, mainly employers, utilise various tactics to frustrate the other party and to extinguish any further legal action. In layman's terms one could say that employers bleed employees dry. In many cases workers cannot afford extended legal costs. This dilemma of employee creditors is the motivation for this article. A key question to be examined is what relief, if any, the amendments to section 145 provide to the employee seeking to enforce an arbitration award.

The Labour Relations Amendment Act 6 of 2014 contains a number of important changes and additions which may curb this problem, for example the addition of subsection 9 to section 145:

(9) An application to set aside an arbitration award in terms of this section interrupts the running of prescription in terms of the Prescription Act, 1969 (Act 68 of 1969), in respect of that award.

Subsection 10 makes it clear that the interruption indicated under subsection (9) applies only to an arbitration award delivered after the commencement date of the act (i.e. 1 January 2015). Alternative terms for interrupt would be suspend or pause, but in this contribution interrupt is preferred.

A similar provision could not be found in international labour law. In South Africa it is indeed welcome, because it is common practice for employers to make applications for review to stretch out the legal battle. Such an application frustrates the legitimate remedies of employees which were granted in their favour by the Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration (CCMA) or a bargaining council. Employers hold out long enough to extend the review process so that the claim can prescribe after three years. Most employees are not even aware of the Prescription Act.

Sources on this subject are scarce. In his comprehensive article "Judicial review of arbitration awards under the new South Africa Labour Relations Act of 1995" Sharpe does not even refer to the prescription of arbitration awards. No relevant journal articles could be traced. Therefore court cases and legislation are almost exclusively the sources for study of this subject.

First, the history of law regarding the prescription of labour claims is outlined. In CEPPWAWU v Rotolabel Van Niekerk J remarked that judges of the labour court do not agree on how the Prescription Act 68 of 1969 impacts on the LRA, if at all. The difference in opinion relates to the following question: Does the Prescription Act apply to all arbitrated claims in terms of the LRA, or only to some, or to none? The decided cases can be divided into four approaches: (i) those which submit that prescription applies to all arbitration awards; (ii) those that hold that prescription applies to all arbitration awards, but the filing of an application to review interrupts the running of prescription; (iii) those that say that prescription can be applied to compensation awards only and not to reinstatement awards; (iv) and those that hold that the Prescription Act cannot be reconciled with the LRA and an arbitration award does not prescribe.

When the amended sections of the LRA became valid on 1 January 2015, some legal uncertainty remained on how the new sections should be applied in practice. This became less uncertain when Coppin JA delivered judgment in the Labour Appeal Court in the hearing of three related appeals which were grouped together, namely Myathaza v Johannesburg Metropolitan Bus Service (SOC) Ltd; Mazibuko v Concor Plant;and Cellucity (Pty) Ltd v Communication Workers Union on behalf of Peters. This judgment serves as a precedent for all future cases dealing with prescription.

Coppin JA paid special attention to the following questions, thereby addressing the key issues:

  • Does the Prescription Act apply to all, some or no arbitration awards?
  • If yes, which terms of prescription apply to such arbitration awards?
  • If yes, does an application to review and/or set aside an award interrupt the running of prescription?

The judgment concluded, among others, the following:

  • Arbitration awards do prescribe.
  • Arbitration awards create a “debt” and this also applies to awards for reinstatement.
  • The prescription term period for arbitration awards is three years.
  • A debtor’s application for review and/or to set aside an award interrupts the running of prescription for all awards made after 1 January 2015.

Legal certainty is established with regard to additional critical measures which may curb the delay of reviews, like the other amendments to section 145 of the LRA and some paragraphs in the Practice Manual of the Labour Court 2014. Guidelines are also discussed for how parties should now proceed in the light of the relevant changes to the LRA. An employer must be assured that he has good merits before filing a review application. Employees should file an application in terms of section 158(1)(c) soon after the employer has disobeyed an award to make the award an order of the Labour Court. This application in itself interrupts the running of prescription. An employer can no longer benefit from delaying a review. On the contrary, it may drastically increase the monetary remedy which the employee eventually receives when reinstated.

There are still some critical questions to be discussed, for example:

  • Should the Prescription Act really trump the LRA in the light of the emphasis on fairness in labour disputes? Are these two acts rather not unique in their own ways?
  • Is it consistent that some cases are referred directly to the labour court for adjudication after conciliation had failed (resulting in a judgment debt with a prescription period of 30 years), while others are obliged to go for arbitration at the CCMA (resulting in an award judgment debt with a prescription period of three years)?

The amendment of section 145 of the LRA is, however, very welcome. It is a big step forward to limit the prejudice to employees caused by their employers and will hopefully lead to a speedier resolution of claims in terms of an award which employees have secured as a result of due process.

Keywords: arbitration; compensation award; interruption; LRA; Labour Relations Amendment Act 2014; order; prescription; Prescription Act 1969; re-employment; reinstatement; review; running of prescription

 

1. Inleiding

’n Aansoek om die hersiening van ’n arbitrasietoekenning ingevolge artikels 145(1) en 158(1)(g) van die Wet op Arbeidsverhoudinge (die “WAV”) uiteraard ’n dringende aansoek.2 Ongelukkig wend sommige partye, hoofsaaklik werkgewers, talle vertragingstaktieke aan om die ander party te frustreer en om enige verdere regstappe te blus. In leketaal sou ’n mens kon sê dat die werkgewers die werknemers droogbloei. In baie gevalle kan die werknemers nie meer die regskoste bekostig nie.

Hierdie dilemma van werknemers of skuldeisers is die motivering vir die huidige bydrae. ’n Kernvraag wat ondersoek word, is watter verligting, indien enige, die wysigings aan artikel 145 vir die werknemer bied wat ’n arbitrasietoekenning probeer afdwing.

Die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge 6 van 2014 bevat ’n aantal belangrike veranderinge en toevoegings wat hierdie probleem probeer hokslaan. Een daarvan is die toevoeging van subartikels 9 en 10 tot artikel 145:

(9) ’n Aansoek om ’n arbitrasietoekenning tersyde te stel ingevolge hierdie artikel onderbreek die verloop van verjaring ingevolge die Verjaringswet, 1969 (No. 68 van 69), ten opsigte van daardie toekenning.3

Subartikel 10 maak dit duidelik dat die onderbreking in subartikel (9) slegs op ’n arbitrasietoekenning wat na die aanvangsdatum van die wet (dit wil sê 1 Januarie 2015) uitgereik is, van toepassing is. ’n Alternatiewe term vir onderbreek sou opskort of stuit wees, maar in hierdie bydrae word onderbreek verkies.

’n Soortgelyke bepaling kon nie in die internasionale arbeidsreg opgespoor word nie.4 In Suid-Afrika is dit egter uiters welkom, want dit is hier algemene praktyk dat werkgewers hersieningsaansoeke bring om die regstryd uit te rek. So ’n aansoek frustreer die regmatige eise van werknemers wat as ’n bevel van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) of ’n bedingingsraad toegeken is. Werkgewers hou lank genoeg aan om die hersieningsproses te verleng sodat die eis na drie jaar kan verjaar. Die meeste werknemers is nie eens bewus van die Verjaringswet nie.

Bronne oor hierdie onderwerp is skaars. In sy omvattende artikel “Judicial review of arbitration awards under the new South Africa Labour Relations Act of 1995” verwys Sharpe[5] nie eers een keer na die verjaring van arbitrasietoekennings nie. Geen relevante tydskrifartikels kon opgespoor word nie. Hofsake en wetgewing is dus byna uitsluitlik die bronne vir studie van die onderwerp.

Hierdie bydrae verken daarom hoofsaaklik hofsake wat die uiteindelike toepassing van artikel 145(9) en verwante artikels beïnvloed. Eers word die regsgeskiedenis ten opsigte van die verjaring van arbeidseise uiteengesit. Die kritieke elemente van hierdie dilemma word vervolgens bespreek. Dan word gekyk na riglyne oor hoe partye nou te werk moet gaan in die lig van die relevante veranderinge aan die WAV.6

 

2. Posisie voor 6 November 2015

In CEPPWAWU obo Le Fleur v Rotolabel (a division of Bidpaper Plus (Pty)) Ltd7merk regter Andre van Niekerk op dat regters van die arbeidshof nie saamstem oor hoe die Verjaringswet 68 van 1969 en die WAV saamhang nie. Venter8 sluit hierby aan en meld dat die arbeidshof tot 6 November 2015 ten opsigte van antwoorde op hierdie vrae verdeeld was. Die verskil van mening hou verband met die vraag of die Verjaringswet vir die verhaling van álle eise ingevolge die WAV geld, of slegs vir sommige, of glad nie. Regter Van Niekerk verdeel dan vroeëre uitsprake onder hierdie hoof in vier groepe, elk met ’n ander benadering tot die kwessie.9

Die eerste en mees frekwente benadering is dat die Verjaringswet op alle arbitrasietoekennings van toepassing is – of dit nou vergoeding, herindiensstelling (met of sonder terugbetaling) of herindiensneming toestaan.10

Die tweede benadering is dat die Verjaringswet op alle toekennings van toepassing is, maar dat die indiening van ’n aansoek om hersiening deur enige party die verloop van verjaring onderbreek. Die tydperk vanaf die loods van die aansoek om hersiening totdat die hof daaroor beslis het, word dus nie by die verloop van die verjaring ingesluit nie.11

Die derde benadering is om die toepassing van die Verjaringswet tot die toekenning van vergoeding te beperk, en om toekennings vir herindiensstelling van die werking van dié wet uit te sluit.12

Die vierde benadering, wat deur ’n spesifieke regter en deur ’n paar ander gevolg is, beskou die Verjaringswet as ontoepaslik vir alle toekennings wat ingevolge die WAV gemaak is, of hulle nou herindiensstelling of net vergoeding toestaan.13

Na ’n kort bespreking van regter Van Niekerk se indeling hier bo, verwys Grogan14 na Coetzee v MEC of the Provincial Government of the Western Cape15 waar regter Rabkin-Naicker bevind het dat die Verjaringswet teenstrydig met die bedoeling van die WAV is.16 Sy gee te kenne dat vorige besluite van die arbeidsappèlhof haar nie bind nie, aangesien daardie sake verjaring ten opsigte van kontraktuele eise hanteer het en nie met eise vir onbillike ontslag ingevolge die WAV gehandel het nie.17

Die regter argumenteer soos volg:18

[15] In plaas van ’n verwysing na verjaring of die insluiting van ’n verjaringsklousule, sluit die WAV spesifieke tydperke vir die verwysing van eise in en beklemtoon die instrument van kondonering deur hierdie hof, indien sodanige tydperke soos voorgeskryf in die teks van die wet, oorskry word, eerder as om dit in die reëls van die hof te soek.

[16] Verder, indien die Verjaringswet toepassing het, moet daar geen onderskeid wees met betrekking tot die toepassing daarvan tussen die verskillende roetes wat deur die WAV voorgeskryf word nie, d.w.s. diegene wat deur versoening na arbitrasie beweeg, en/of diegene wat na die Arbeidshof moet beweeg na versoening. Hierdie gebrek aan onderskeid sou in ooreenstemming met ons grondwetlike waardes wees, veral die reg op gelykheid en van toegang tot die regstelsel. Die WAV verbied nie ’n hiërargie van eise teen ontslag wat litigante mag bring nie.

As die Verjaringswet op alle WAV-eise van toepassing is, kan dit volgens die regter tot probleme lei. Eise wat gearbitreer word, word deur verjaring getref drie jaar na ’n toekenning gemaak is. Ander litigante wat direk vir beregtiging na die arbeidshof moet gaan, sal ’n "vonnisskuld" in die hof kry wat ingevolge die Verjaringswet eers na 30 jaar verjaar. Volgens die regter is dit nie billik nie.19 Die WAV het nooit bedoel om ’n ondeurdringbare muur tussen verrigtinge in die KVBA en/of bedingingsrade en die arbeidshof op te rig nie. Inderdaad kan verrigtinge oor die kloof tussen die hof en ’n tribunaal in albei rigtings beweeg.20

In hierdie verband is die opmerking van Cameron21 gepas: “[T]he term ‘equity’ implies a system of law which is more consonant with opinions current for the time being as to a just regulation of the mutual rights and duties of men living in a civilized society.” Billikheid is een van die vernaamste grondslae vir goeie arbeidsverhoudinge.

Regter Rabkin-Naicker beklemtoon die potensiële onregverdigheid van die Verjaringswet en oordeel dat die wet in konflik met die WAV is, aangesien eersgenoemde wet nie primêr op billikheid gebaseer is nie en tot onregverdige resultate kan lei.22 Die sentrale doel van die WAV is om die grondwetlike reg op billike arbeidspraktyke te handhaaf, insluitend die statutêre reg om nie onbillik ontslaan te word nie.23 Sy wys daarop dat die Verjaringswet in stryd met die WAV is, omdat laasgenoemde wet bo alle wette wat in stryd daarmee is, geld24 en daarom nie deur die Verjaringswet beperk moet word nie.25

’n Moontlike vyfde benadering is voorgestel deur die vakbond in Rotolabel,26 wat klaarblyklik ontleen word aan Circuit Breakers Industries.27 Arbitrasietoekennings is nie onderhewig aan die Verjaringswet nie, want dit word as ’n vorm van administratiewe optrede geag wat aan die grondwetlike reg op billike administratiewe handeling28 onderhewig is.

In Circuit Breakers het die werknemer ’n toekenning vir herindiensstelling (met volle terugbetaling) in Augustus 2008 verkry. In September 2008 het die werkgewer ’n aansoek geloods om ’n toekenning te hersien. Dit is deur die werknemer teengestaan. In Julie 2012 het die werkgewer ’n aansoek ingedien vir ’n bevel dat die toekenning verjaar het. Die belangrikste argument was dat die werknemer versuim het om enige stappe te doen om die toekenning af te dwing of om die betaling van ’n "skuld" ingevolge die Verjaringswet te eis.

Die arbeidshof bevestig hier dat bevrydende verjaring op arbeidswette van toepassing is. Daar word beslis dat die indien van ’n aansoek om hersiening nie verjaring onderbreek nie. Die hof29 merk op dat wanneer werkgewers hersieningsverrigtinge vertraag in die mate dat toekenning van ’n werknemer sou verjaar as dit nie ’n bevel van die hof gemaak is nie, dit dikwels tot onregverdige gevolge vir werknemers kan lei; die beoogde wysigings aan die WAV sou hierdie onregverdigheid regstel.

Volgens die hof30 moet eerstens vasgestel word of verjaring begin loop het. Verjaring kan ingevolge artikel 10 van die Verjaringswet slegs teen ’n "skuld" plaasvind. Dus moet daar bepaal word of ’n herindiensstellingstoekenning as ’n skuld vir die doeleindes van die Verjaringswet gesien kan word. Daar word beslis dat ’n toekenning vir herindiensstelling ’n reg ten gunste van die werknemer skep en dit spruit uit die reg op billike arbeidspraktyke. Die hof31 bevestig dit as die primêre remedie in die geval van ’n onbillike ontslag. Gevolglik word beslis dat die wetgewer nie kon bedoel het dat ’n herindiensstellingstoekenning deur verjaring ondermyn kan word nie. Die hof32 onderskei tussen so ’n toekenning en ’n toekenning vir vergoeding en beslis dat ’n vergoedingstoekenning wel as ’n skuld ingevolge die Verjaringswet beskou kan word.

Die Circuit Breakers-saak maak dus ’n duidelike onderskeid tussen arbitrasietoekennings vir herindiensstelling en toekennings vir vergoeding. Daar word aangevoer dat die eerste tipe toekenning nooit kan verjaar nie. Die uiteinde is dat hoe langer dit ’n werkgewer neem om die hersieningsaansoek deur te voer, hoe meer potensiële blootstelling aan risiko daar vir so ’n werkgewer kan wees. Dit is die geval omdat ’n bevel vir die herindiensstelling dikwels gepaard gaan met volle terugbetaling vanaf die tyd van ontslag tot die tyd van die herindiensstelling.

In teenstelling hiermee: waar ’n vergoedingstoekenning toegestaan is, sal ’n eis om vergoeding kan verjaar indien die werknemer geen stappe gedoen het om die skuld binne drie jaar af te dwing nie, soos om ’n artikel 158(1)(c)-aansoek in te dien. Hierdie saak herbevestig die siening dat ’n aansoek om hersiening nie verjaring onderbreek nie.

 

3. Posisie na 6 November 2015

Daar is reeds gewys op die nuwe subartikel 145(9) van die WAV wat bepaal dat ’n aansoek om ingevolge hierdie artikel ’n arbitrasietoekenning tersyde te stel, die verloop van verjaring ingevolge die Verjaringswet ten opsigte van daardie toekenning onderbreek. Die vraag ontstaan hoe hierdie subartikel in die lig van reeds besliste sake en debatte tot met die byvoeging daarvan in die wet en daarna geïnterpreteer moet word. Voordat hierdie integrasie kan plaasvind, moet ’n mens eers kennis neem van ’n stukkie regsgeskiedenis nadat die wysiging van artikel 145 plaasgevind het.

Op 6 November 2015 lewer appèlregter Coppin33 uitspraak in die arbeidsappèlhof in die verhoor van drie verwante appèlle wat saamgegroepeer is, omdat al drie met die impak van die Verjaringswet op arbitrasietoekennings ingevolge die WAV te doen het. In twee van die sake het die appellante betoog teen uitsprake van die arbeidshof dat die Verjaringswet ten opsigte van arbitrasietoekennings geld (Myathaza- en Mazibuko-sake) en in ’n derde dat dit glad nie geld nie (Cellucity-saak). Dit is ’n appèlhofsaak en daarom rigtinggewend, in die eerste plek om die reeds besliste sake wat in appèl geneem is, te finaliseer, maar ook om as ’n presedent vir toekomstige sake te dien omdat dit duidelikheid verskaf oor die uiteenlopende standpunte wat tevore in die arbeidshof gehuldig is. Hoewel die wysigings van die WAV reeds op 1 Januarie 2015 in werking getree het, sny die uitspraak van regter Coppin, wat die onderbreking van die verloop van verjaring betref, slegs die posisie voor 1 Januarie 2015 aan.

Die belangrikste vrae wat regter Coppin in sy uitspraak probeer beantwoord, is die volgende:

1. Is die Verjaringswet van toepassing op arbitrasietoekennings?

2. Indien wel, watter verjaringstydperke geld vir sulke arbitrasietoekennings?

3. Indien wel, onderbreek ’n aansoek om hersiening en/of tersydestelling van ’n toekenning die verloop van verjaring?34

Beslissende regsekerheid word egter ook ten opsigte van ander kernkwessies gegee. Ek gee Coppen se gedagtegang redelik volledig weer en dikwels behels die teks ’n parafrase van die uitspraak. Die mees kritieke gevolgtrekkings word hier onder behandel.

3.1 Arbitrasietoekennings kan verjaar

Appèlregter Coppin35 haal regter Van der Westhuizen aan wat in Road Accident Fund v Mdeyide36 verklaar: “Whether the provisions of the Prescription Act apply is determined by section 16 of the Act. It states that the provisions apply save insofar as they are inconsistent with the provisions of any Act of Parliament.”37

Artikel 16(1) van die Verjaringswet handel oor die toepassing van hoofstuk III van die wet, wat artikels 10–16 (inklusief) bevat en met die verjaring van skuld verband hou. Dit lui:

(1) Subject to the provisions of subsection (2)(b), the provisions of this chapter shall, save insofar as they are inconsistent with the provisions of any Act of Parliament which prescribes a specified period within which a claim is to be made or an action is to be instituted in respect of a debt or imposes conditions on the institution of an action for the recovery of a debt, apply to any debt arising after the commencement of this Act.

Daar is geen voorskrif in die Verjaringswet wat dit nie van toepassing maak op arbitrasietoekennings wat kragtens die WAV uitgereik is nie.

Om duidelikheid oor die toepassingskwessie te kry, is dit dus nodig om te oorweeg of ’n arbitrasietoekenning ’n "skuld" is, soos in artikel 16 van die Verjaringswet beskryf word en of die WAV in sy bepalings ’n tydperk spesifiseer waarin die arbitrasietoekenning (as dit ’n skuld is) betaal moet word. En indien wel, of die bepalings van die Verjaringswet (byvoorbeeld hoofstuk III) met enige van die bepalings in die WAV in stryd is. As die arbitrasietoekenning nie ’n skuld ingevolge artikel 16(1) van die Verjaringswet is nie, is dit die einde van die ondersoek, want die Verjaringswet kan net op ’n skuld soos in dié wet bedoel van toepassing wees.38

As die arbitrasietoekenning aan die ander kant wel ’n skuld beliggaam en die WAV het in sy bepalings ’n tydperk neergelê waarin die skuld betaal moet word, maar daardie bepalings strydig met die voorskrifte van die Verjaringswet is, dan is laasgenoemde wet nie van toepassing op ’n arbitrasietoekenning wat kragtens die WAV uitgereik is nie. As die WAV daarteenoor nie so ’n tydperk gespesifiseer het nie, of as dit het en daardie bepalings nie strydig is met die bepalings in hoofstuk III van die Verjaringswet nie, dan is laasgenoemde wet op die arbitrasietoekennings van toepassing.39

Regter Coppin40 verken hierna die doel(eindes) van bevrydende verjaring en haal Loubser41 in hierdie verband met goedkeuring aan:

The main object of extinctive prescription is to create legal certainty and finality in the relationship between the parties after the lapse of a period of time, and the emphasis is on the protection of the defendant against a stale claim that has existed for such a long time that it becomes unfair to require the defendant to defend himself against it. The emphasis is on the protection of the defendant because the claimant is responsible for enforcing his right timeously and must suffer the consequences of failure in this regard. Essentially extinctive prescription embodies a desire for finality and serves the common good by creating legal certainty in individual cases.

Daar is redes waarom tydperke tydens litigasie gestel word. In Mohlomi v Minister of Defence42 merk regter Didcott op:

Rules that limit the time during which litigation may be launched are common in our legal system as well as many others. Inordinate delays in litigating damage the interests of justice. They protract the disputes over the rights and obligations sought to be enforced, prolonging the uncertainty of all concerned about their affairs. Nor, in the end is it always possible to adjudicate satisfactorily on cases that have gone stale. By then witnesses may no longer be available to testify. The memories of ones whose testimony can still be obtained may have faded and become unreliable. Documentary evidence may have disappeared. Such rules prevent procrastination and those harmful consequences of it. They thus serve a purpose to which no exception in principle can cogently be taken.43

Appèlregter Coppin verwys in bogenoemde verband na nog relevante sake waarin verjaring bespreek word: Uitenhage Municipality v Malloy44 en Road Accident Fund v Mdeyide.45 ’n Gemeenskaplike argument is in die sake te vinde, naamlik dat verjaring per se geregverdig en noodsaaklik is. Volgens regter Coppin46 is dit uit artikel 16(1) van die Verjaringswet duidelik dat elke skuld, soos bedoel in daardie artikel, in ons reg binne ’n sekere tydperk moet verjaar. As die wet van die parlement waaronder die skuld val, nie daardie tydperk voorskryf nie, dan is die Verjaringswet van toepassing en verjaar die skuld binne daardie tydperk. Geen kondonasie is moontlik na die verjaringstydperk afgehandel is nie; die skuld is gewoon uitgewis.47

Verjaring is volgens appèlregter Coppin gebaseer op oorwegings van billikheid en regverdigheid.48 Dit is dus nie korrek om te argumenteer dat verjaring teenstrydig met sulke oorwegings is nie. Hierdie gewaardeerde berippe is nie net op een party van toepassing nie, maar wel op alle partye, insluitend werkgewers en werknemers.

3.2 Arbitrasietoekennings skep gewoon ’n skuld wat ook vir ’n toekenning vir herindiensneming geld

Artikel 10(1) van die Verjaringswet bepaal: “(1) Behoudens die bepalings van hierdie hoofstuk en hoofstuk IV, is ’n skuld deur verjaring uitgewis ná die verstryking van die tydperk wat in terme van die relevante wetgewing van toepassing ten opsigte van die verjaring van sodanige skuld is.”

Oor die algemeen verwys skuld na geld wat in ’n wettige betaalmiddel betaal moet word. Die Verjaringswet word dikwels by betaling van skuld as geld betrek, dit wil sê “claims sounding in money”. Die Oxford-woordeboek vir Engels49 definieer debt as geld of dienste verskuldig of betaalbaar. Ander definisies verwys na "goedere" en ’n “verpligting" wat verskuldig of betaalbaar is. ’n Wyer definisie van skuld kan dus ook iets anders as net die betaling van geld wees.

In die Circuit Breakers-saak50 is ’n onderskeid gemaak tussen ’n toekenning wat uit likiede bedrae bestaan (“sounding in money”) en ’n toekenning vir die herindiensstelling en terugwerkende salaris. Volgens die hof is herindiensstelling ’n bevel vir spesifieke nakoming volgens die gemenereg en nie ’n skuld soos deur die Verjaringswet beskryf nie, aangesien dit nie monetêre inhoud het nie. Appèlregter Coppin51 verwys na ’n ou saak, Electricity Supply Commission v Stewarts and Lloyds of SA (Pty) Ltd (Electricity Supply Commission),52 waarin beslis is dat ’n skuld iets is “which is owed or due; anything as money, goods or services which one person is under an obligation to pay or render to another”. Die term skuld word nie in die Verjaringswet gedefinieer nie, maar die meeste howe is dit eens dat die term breed en algemeen verstaan moet word.53 In Desai NO v Desai54 is obiter genoem dat die term skuld ’n wye en algemene betekenis het en ’n verpligting bevat om iets te doen of om na te laat om iets te doen. In Rotolabel55 was die hof van mening dat elke arbitrasietoekenning ’n skuld is soos in die Verjaringswet vereis, aangesien dit ’n verpligting skep. Ook regter Coppin56 is van mening dat ’n arbitrasietoekenning ’n skuld vir doeleindes van die Verjaringswet is omdat dit ’n verpligting skep om aan ’n ander te betaal of te lewer, of om iets te doen, of om jou daarvan te weerhou om iets te doen.

In die lig van die wye algemene betekenis wat aan die term skuld gegee word, is ’n vergoedingstoekenning dus nie anders as ’n herindiensstellingstoekenning nie.57 Beide hierdie soort toekennings plaas verpligtinge op die persoon en/of die entiteit teen wie die toekenning gemaak word. Daardie persoon of entiteit het ’n verpligting om vergoeding te betaal en/of diens te herstel, soos in die toekenninguiteengesit is. Die toekenning skep dus ’n "skuld" vir daardie persoon en/of entiteit. So gesien, val ’n bevel vir herindiensneming in die kategorie skuld.

Oor die algemeen sal arbitrasietoekennings met betrekking tot onbillike ontslag, waarin vergoeding en/of herstel van diens met of sonder terugbetaling toegeken is, “skuld” uitmaak vir doeleindes van die Verjaringswet.58 Herindiensstelling in opdrag van die KVBA of ’n bedingingsraad is dus ’n skuld wat ook kan verjaar. Geen onderskeid kan tussen ’n toekenning vir vergoeding (wat gewoonlik likied is) en toekennings vir spesifieke nakoming gemaak word nie. Alle tipes eise wat op arbitrasietoekennings volg, kan dus verjaar en die Verjaringswet geld dienooreenkomstig.

3.3 Die tydperke van verjaring

’n Noukeurige lees van die WAV toon dat die tydsraamwerke met betrekking tot arbitrasietoekennings hoofsaaklik in die stadium voor die verlening van die toekenning van toepassing is. Daar is geen voorsiening in die WAV vir ’n tydperk of tydsbeperking waarbinne ’n arbitrasietoekenning uitgevoer moet word nie, of waarbinne die "skuld" soos verteenwoordig deur die toekenning verhaal of afgedwing moet word nie. Volgens regter Coppin is daar tussen die WAV en die Verjaringswet ten opsigte van die oplegging van ’n voorgeskrewe tydperk vir die uitvoering of handhawing van arbitrasietoekennings (wat ’n "skuld" uitmaak soos in die Verjaringswet) geen teenstrydigheid nie.59

Arbitrasietoekennings is dus volgens die appèlhof ’n "skuld" soos in die Verjaringswet bedoel word en die bepalings van hoofstuk III van die Verjaringswet sal op hulle van toepassing wees. Nou moet daar bepaal word watter voorgeskrewe tydperk op hierdie soort "skuld" van toepassing is. Die tydperk is afhanklik van die vraag of ’n arbitrasietoekenning ’n “vonnisskuld" is waar ’n 30 jaar verjaringstermyn van toepassing sal wees, of ’n eenvoudige "skuld" waar ’n drie jaar tydperk sal geld.60 Namens die appellante is daar in Myathaza en Mazibuko aangevoer dat die toekennings in daardie sake ’n "vonnisskuld" is en dat daar dus ’n 30 jaar verjaringstydperk geld.61Met verwysing na ’n aantal besliste sake waarna hieronder verwys word,62 is namens die appellant in die Myathaza-appèl betoog dat die howe ’n arbitrasietoekenning as ’n “vonnis/bevel" beskou en dat die terme uitruilbaar gebruik word vir die term "toekenning". Daarom is ’n arbitrasietoekenning ’n "vonnisskuld". Volgens regter Coppin is hierdie argument op ’n verkeerde interpretasie van daardie bevindinge gegrond. Daar is beduidende verskille tussen uitsprake en bevele van die hof en arbitrasietoekennings. Om woorde as uitruilbare terme te gebruik, maak nie die een gelyk aan die ander nie.63

Tussen sodanige uitsprake kan daar ook op grond van hul feite onderskei word. Nie een van hulle hou met ’n arbitrasietoekenning verband nie, wat nog te sê met ’n arbitrasietoekenning ingevolge die WAV wat ’n "vonnisskuld" is soos wat in die Verjaringswet uitgespel is. Deur die terme toekenning en vonnis uitruilbaar aan te wend, beklee nie die een met die unieke eienskappe van die ander nie.64

In Blaas v Athanassiou65 het die hof (moontlik obiter) aanvaar dat omdat ’n klousule in ’n arbitrasie-ooreenkoms spesifiek meld dat die toekenning inter partes die status van ’n hofbevel het, die voorgeskrewe tydperk vir hofbevele (dit wil sê 30 jaar) op die toekenning van toepassing was.66 Maar daardie beslissing kan ook onderskei word op grond van die feite in die appèlsaak voor appèlregter Coppin. Arbitrasies ingevolge die WAV is anders as private arbitrasies. Hulle is nie aan die bepalings van die WAV gebind nie.67

Die WAV onderskei duidelik tussen arbitrasietoekennings en hofbevele ingevolge daardie wet. Artikel 143(1) van die WAV bepaal dat ’n arbitrasietoekenning wat deur ’n kommissaris uitgereik is, finaal en bindend is en afgedwing kan word asof dit ’n bevel van die hof is (tensy dit ’n adviserende arbitrasietoekenning is). Artikel 143(2) meld dat ’n toekenning eers deur die kommissaris van die KVBA gesertifiseer moet word; indien dit die betaling van ’n bedrag geld behels, kan dit volgens artikel 143(5) afgedwing word asof dit ’n hofbevel van die landdroshof is.68 Volgens Snyman verander die gebruik van artikel 143 nie die aard van die toekenning nie – dit is slegs ’n afdwingingsprosedure.69

’n Arbitrasietoekenning ingevolge die WAV is nie onderhewig aan ’n appèl soos ’n vonnis of bevel van die arbeidshof nie, maar dit is onderhewig aan hersiening. Hierteenoor is ’n bevel in ’n uitspraak van die arbeidshof nie onderhewig aan hersiening nie. ’n Hofbevel of ’n uitspraak vereis ook nie sertifisering vir die uitvoering daarvan nie.70

Ondubbelsinnige bevestiging dat ’n arbitrasietoekenning nie gelyk (of gelykstaande) aan ’n bevel of uitspraak van die arbeidshof is nie, word deur artikel 158(1)(c) van die WAV verskaf. Die arbeidshof word bemagtig om "enige arbitrasietoekenning ’n bevel van die arbeidshof te maak". As hulle dieselfde gesag gedra het, sou artikel 158(1)(c) heeltemal oorbodig wees.71 So gesien, sou die gebruik om aan die term vonnisskuld in die Verjaringswet ’n betekenis te gee wat arbitrasietoekennings kragtens die WAV insluit, die taal/bedoeling van die Verjaringswet onnodig rek.72 Die slotsom is dus dat ’n arbitrasietoekenning gouer verjaar as ’n vonnisskuld.

Hieruit volg dit dat al is ’n arbitrasietoekenning ingevolge die WAV nie ’n vonnisskuld ingevolge die Verjaringswet nie, dit gemaklik voldoen aan die definisiekriteria van ’n blote skuld kragtens daardie wet. Die ander kategorieë van skuld in die Verjaringswet is duidelik nie van toepassing nie. Gevolglik is ’n voorgeskrewe tydperk van drie jaar op die verjaring van arbitrasietoekennings en die skuld daarin vergestalt van toepassing. In die afwesigheid van enige ander teenstrydige parlementswet is dit die korrekte interpretasie.73

Onderhewig aan die bepalings van hoofstukke III en IV ingevolge artikel 10(1) van die Verjaringswet, sal ’n skuld deur verjaring uitgewis word ná die verstryking van die tydperk kragtens relevante wetgewing, soos van toepassing op die verjaring van so ’n skuld.74 Artikel 12(1) van die Verjaringswet bepaal dat verjaring begin verloop sodra die skuld “verskuldig word". Dit is gewoonlik wanneer die toekenning bekendgemaak word. Daar kan dalk uitsonderings wees afhangende van hoe die toekenning die tydstip van betaling beskryf. Sertifisering by die KVBA is nie ’n vereiste om die verloop van verjaring te begin nie. Die bepalings soos in die toekenning verwoord, is voldoende.75

3.4 Die skuldenaar se aansoek om hersiening of tersydestelling veroorsaak ’n onderbreking in die verloop van verjaring

Artikel 15 van die Verjaringswet bied lig op hierdie onderwerp:

15. Geregtelike onderbreking van verjaring.

(1) Die loop van verjaring sal, onderhewig aan die bepalings van subartikel (2), onderbreek word deur die betekening op die skuldenaar van enige proses waardeur die skuldeiser betaling van die skuld eis.

[...]

(6) Vir die doel van hierdie artikel sluit "proses" in ’n petisie, ’n kennisgewing van mosie, ’n bevel nisi, ’n pleitstuk in rekonvensie, ’n derdeparty kennisgewing waarna in enige hoofreël verwys word, en enige dokument waardeur ’n regsgeding geloods word.

Die onderbreking in artikel 15 vind plaas wanneer "die skuldeiser ’n prosesstuk op die skuldenaar bedien om betaling te eis". Ingevolge die nuwe subartikel 145(9) van die WAV kan ’n skuldenaar nou deur die loods van ’n hersieningsaansoek verjaring onderbreek. Dit is ’n vreemde ommeswaai en voorwaar uniek dat die Verjaringswet op so ’n manier gebruik kan word dat die handeling van ’n skuldenaar hierdie proses kan begin. Gewoonlik kan ’n skuldenaar nie deur sy eie optrede verjaring onderbreek of uitstel nie, tensy die wet anders bepaal soos in die geval van die byvoegings in artikel 145. Klaarblyklik is ’n bepaling in ’n wet volgens appèlregter Coppin genoeg gronde om hierdie ommeswaai te aanvaar.76 Hy verskaf geen ander motivering vir sy standpunt nie.

As dit so is dat ’n skuldenaar ’n regsproses kan onderbreek, kan daar aangevoer word dat ’n aansoek om hersiening van ’n toekenning as verwant aan appèl (hoewel nie dieselfde nie) gesien word wat poog om ’n vorige beslissing tersyde te stel. Met appèl word uitvoering van die hofbevel onderbreek of uitgestel totdat die appèl afgehandel is.

Finale vrae wat ontstaan, is of verjaring onderbreek word deur ’n aansoek om ’n arbitrasietoekenning ingevolge die WAV ’n bevel van die hof te maak, en nog belangriker, of ’n aansoek om ’n arbitrasietoekenning te hersien wat voor 1 Januarie 2015 gegee is, ook verjaring van die arbitrasietoekenning onderbreek.77

Artikel 15(1) van die Verjaringswet bepaal dat die loop van verjaring, onderhewig aan die bepalings van artikel 15(2), "onderbreek word deur die bediening op die skuldenaar van enige proses waardeur die skuldeiser betaling van die skuld eis". Dit is belangrik om daarop te let dat ten einde verjaring effektief te onderbreek, die skuldeiser "suksesvol sy eis ingevolge die proses tot ’n uitspraak moet voer".78 As hy dit nie doen nie of as die skuldenaar nie aanspreeklikheid erken nie, sal verjaring nie onderbreek word nie.79

Soos tevore vermeld, behels die wysigings van artikel 145 van die WAV onder andere ’n nuwe artikel 145(9) wat bepaal dat ’n “aansoek om ’n arbitrasietoekenning tersyde te stel ingevolge hierdie artikel die loop van verjaring ingevolge die Verjaringswet (Wet No. 68 van 1969) ten opsigte van daardie toekenning onderbreek". Artikel 145(10) van die WAV beperk dié toepassing, sodat artikel 145(9) net "van toepassing is op ’n arbitrasietoekenning uitgereik na sodanige aanvangsdatum". Die aanvangsdatum was 1 Januarie 2015.80

Die wysiging van artikel 145 is nie terugwerkend nie. Waar ’n werkgewer aansoek doen om die hersiening van ’n toekenning wat voor 1 Januarie 2015 gemaak is, geld die voorskrif ten opsigte van onderbreking nie. ’n Werknemer se eis in hierdie omstandighede kan tot niet gaan indien die hersieningsproses nie binne drie jaar na die toekenning gefinaliseer word nie.

Wat betref die hersiening of tersydestelling van toekennings wat na 1 Januarie 2015 uitgereik is of word, is die posisie nou duidelik, omdat die WAV in artikel 145(9) spesifiek bepaal dat sulke hersienings die loop van verjaring ingevolge die Verjaringswet onderbreek.

’n Belangrike praktiese toepassing is die posisie van toekennings wat voor 1 Januarie 2015 (dit wil sê voor die wysiging van die WAV) uitgereik is, toe daar geen bepaling in die WAV was dat ’n aansoek om hersiening van ’n arbitrasietoekenning die verloop van verjaring kan onderbreek nie.81 Appèlregter Coppin onderstreep die argument dat dit nie korrek is om die wysiging as regverdiging aan te wend of as argument vir die mening dat hierdie posisie wat die wysigings teweeggebring het, altyd die wetgewer se bedoeling was nie.82

Artikel 15(1) van die Verjaringswet is ondubbelsinnig en dit is duidelik dat ’n hersiening of tersydestelling van ’n toekenning nie ’n "proses [is] waardeur die skuldeiser betaling van die skuld" eis nie. Inteendeel, dit is ’n proses waardeur die skuldenaar die skuld tersyde wil stel. So ’n hersiening onderbreek dus nie verjaring nie. Artikel 145(9) is nie terugwerkend nie en kan nie op die hersienings van toekennings toegepas word wat voor 1 Januarie 2015 gemaak is nie.83

Hoewel dit lank reeds in ons reg erken word dat ’n skuldeiser nie "deur sy gedrag die aanvang van verjaring uitstel nie”,84 kan ’n skuldeiser nou wel deur sy eie optrede ’n hersieningsaansoek bring en dus verjaring van die toekenning onderbreek of uitstel.

’n Aansoek om ’n arbitrasietoekenning ’n bevel van die arbeidshof te maak, kan ook beskou word as ’n "proses waardeur die skuldeiser betaling van die skuld eis". Dit is die inhoud eerder as die vorm van die aansoek wat saak maak. Deur so ’n aansoek te bring, vra die skuldeiser effektief die hof om die skuldenaar te dwing om die skuld (soos verteenwoordig deur die toekenning) te betaal.85 ’n Artikel 158(1)(c)-aansoek lei tot ’n sterker regsbasis vir die skuldeiser deurdat ’n toekenning nou ’n bevel van die hof word. So kom ’n vonnisskuld tot stand wat eers na 30 jaar verjaar. So ’n aansoek onderbreek wel die verloop van verjaring,86 want dit is ’n proses waardeur die krediteur betaling van ’n skuld eis. In hierdie geval tree onderbreking in sodra die aansoek op die skuldenaar beteken is. Maar om werklik effektief die verjaring te onderbreek, sal die skuldeiser sy eis kragtens daardie proses tot uitspraak in die hof moet voer.87

Waar ’n hersieningsaansoek hangende is, is die arbeidshof nie geneig om die toekenning ’n bevel van die hof te maak nie. Niks verhoed egter ’n skuldenaar om te eniger tyd na die uitreiking van die arbitrasietoekenning, en voor verjaring, ’n aansoek te bring om so ’n toekenning ’n bevel van die hof te maak nie.88 ’n Hersieningsaansoek verhinder dus nie die skuldeiser om ’n aansoek te bring wat die toekenning ’n bevel van die hof maak nie. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die toestaan van die bevel nie die onderbreking van verjaring sal begin nie, maar alreeds die blote betekening van die aansoek vir so ’n bevel aan die skuldenaar.89

In een van die eerste hofsake na appèlregter Coppin se uitspraak,90 Compass Group SA (Pty) Ltd v Van Tonder,91 betoog die werknemer dat die werkgewer se aansoek om hersiening die tydperk van verjaring onderbreek het. In die lig van regter Coppin se uitspraak voel die hof verplig om so ’n eis af te wys omdat die toekenning voor 1 Januarie 2015 gemaak is. Dit is egter opvallend dat die hof die werknemer se argument as “morally and emotionally persuasive” beskryf en daarop wys dat die werknemer R228 000 weens verjaring ontneem is.92

Volgens Grogan93 word die debat oor die onderbreking van verjaring deur ’n hersieningsaansoek nou deur die nuwe artikel 145(9) beëindig.

 

4. Ander maatreëls om hersienings te bespoedig en verjaring te vertraag

Die gewysigde WAV (2015) bepaal in artikel 145(5) dat ’n party wat ’n aansoek vir hersiening bring, aansoek moet doen vir ’n datum wat toelaat dat die saak binne ses (6) maande na die loods van die aansoek deur die hof aangehoor word. Volgens artikel 145(6) moet uitspraak in ’n aansoek vir hersiening gelewer word sodra dit redelik moontlik is. Artikel 145(7) bepaal dat die instelling van hersieningsverrigtinge nie die werking van ’n arbitrasietoekenning opskort nie, tensy die applikant sekuriteit tot bevrediging van die hof stel. Dit moet in ooreenstemming met subartikel (8) wees, wat lui:

(8) Tensy die hof anders gelas, moet die sekuriteit voorsien in subartikel (7) –
(a) in die geval van ’n bevel van herindiensstelling, gelykstaande wees aan 24 maande vergoeding;
(b) in die geval van ’n bevel van vergoeding, gelykstaande wees aan die bedrag van die vergoeding toegeken.

In die gewone gang van sake is dit meestal werkgewers wat via hersiening aansoek doen om van hulle verpligting kragtens die toekenning vrygestel te word. Daarom sal dit byna uitsluitlik werkgewers wees wat sekuriteit deur middel van ’n bedrag geld sal moet stel. In hierdie artikel lyk dit of die aard van die toekenning nie ’n verskil maak nie. Ook vir ’n toekenning wat spesifieke nakoming soos herindiensneming behels, geld hierdie vorm van sekuriteit.

In Praktykhandleiding van die Arbeidshof94 is daar verskeie maatreëls ingestel om uitspraak in hersieningsaansoeke te bespoedig. Dikwels sloer applikante tydens die prosessering van die rekord. Nou word soos volg bepaal:

11.2.1 Wanneer die registrateur ’n applikant in terme van Reël 7A (5) in kennis stel dat ’n rekord ontvang is en afgehaal kan word, moet die applikant die rekord binne sewe dae afhaal.
11.2.2 Ter toepassing van artikel 7A (6), moet die rekord geliasseer word binne 60 dae na die datum waarop die applikant in kennis gestel is deur die registrateur dat die rekord ontvang is.
11.2.3 Indien die applikant versuim om ’n rekord in te dien binne die voorgeskrewe tydperk, sal die applikant geag word die aansoek te onttrek het, tensy die applikant gedurende daardie tydperk aansoek om toestemming van die respondent doen om verlenging van tyd en toestemming daartoe gegee is.

Verdere vertragings kom voor as die rekord self probleme gee. Hierdie dilemma word soos volg hanteer:

11.2.4 Indien die rekord van die verrigtinge onder oorsig verlore gegaan het, of indien die opname van die verrigtinge van so ’n swak gehalte is tot die mate waarin die bande onhoorbaar is, kan die applikant die regter-president nader vir ’n bevel op die verdere verloop van die hersieningsaansoek, bv. rekonstruksie.
11.2.5 Aansoeke kragtens artikels 145 en 158(1)(g) van die Wet op Arbeidsverhoudinge moet nie gewoonlik ten opsigte van verrigtinge wat onvolledig is gebring word nie.

Onnodige gedeeltes van die rekord moet nie deel vorm van die hofstukke nie:

11.2.6 Partye word daaraan herinner dat ’n applikant in ’n hersieningsaansoek net daardie gedeeltes van ’n rekord wat nodig is vir die doeleindes van die verhoor, moet indien. Die indiening van onnodige gedeeltes van ’n rekord is ’n faktor wat in ag geneem kan word met die oog op ’n kostebevel.

’n Finale tydperk word ook gestel vir die aansoek om gereed te wees vir verhoor:

11.2.7 ’n Hersieningsaansoek is weens die aard daarvan ’n dringende aansoek. ’n Applikant in ’n hersieningsaansoek moet dus verseker dat al die nodige pleitstukke in die aansoek by die Hof geliasseer word binne twaalf (12) maande vanaf die datum van die loods van die aansoek (uitgesluit Hoofde van Argument) en die registrateur skriftelik in kennis gestel is dat die aansoek gereed is vir ’n verhoordatum. Waar hierdie tydsbeperking nie nagekom word nie, sal die aansoek in die argief geplaas word en as vervalle beskou word, tensy goeie redes aangetoon kan word waarom die aansoek nie na die argief moet gaan nie. (My kursivering)95

Hierdie bepaling is in stryd met die inhoud van die nuwe artikel 145(5) wat voorskryf dat die pleitstukke binne ses (6) maande vir plasing op die rol gereed moet wees. Die wetsartikel sal hier sekerlik voorrang kry, alhoewel die doelwit by albei dieselfde is – hersieningsaansoeke moet nie uitgerek word nie. Die doel van die 2015-wysigings in artikel 145 is “to counter the inordinate delay in the finalisation of disputes referred to arbitration that has sometimes been occasioned by review proceedings and their effect remains to be seen”.96

 

5. Slot

Dit is nie ongewoon dat hersieningsaansoeke in die arbeidshof maande (of selfs jare) neem om te finaliseer nie. Werkgewers moet daarvan bewus wees dat daar vanaf 1 Januarie 2015 ’n wetlike uitdaging kragtens artikel 145 bestaan, naamlik dat die hersiening van ’n arbitrasietoekenning die raklewe van hierdie toekennings verleng.

Onderbreking is nou moontlik. ’n Arbitrasietoekenning toegeken na 1 Januarie 201597 by ’n KVBA of ’n geregistreerde bedingingsraad sal vir onderbreking kwalifiseer. Dit blyk dat artikel 10 van die Verjaringswet op hierdie toekennings waarby onderbreking kan plaasvind, van toepassing is. ’n Werkgewer moet dus seker maak van die meriete van sy saak voordat hy ’n hersieningsaansoek bring. Dit sal werknemers baat om so gou moontlik ’n aansoek kragtens artikel 158(1)(c) te bring ten einde die toekenning ’n bevel van die hof te maak. Werkgewers sal nie meer daarby baat om die hersiening uit te rek nie.98 Inteendeel, dit kan die monetêre remedie wat ’n werknemer uiteindelik kan kry, drasties vergroot.

Hierdie bydrae ontleed verskeie teenstrydige hofuitsprake oor verjaring en skuld. ’n Mens ervaar nou die vrugte van hierdie stryd wat tot die byvoeging van sekere subartikels tot artikel 145 van die WAV gelei het. Hierna het die toonaangewende appèlhofuitspraak wat deur appèlregter Coppin geskryf is, gevolg. Dit geld tans as presedent en is redelik volledig in hierdie bespreking behandel. Ook ander maatreëls wat ten doel het om onnodige vertragings of sloerings teen te werk, is verken. Daar is egter nog ’n paar kritieke vrae, byvoorbeeld:

- Behoort die Verjaringswet inderdaad die WAV te troef in die lig van die klem op billikheid in arbeidsgeskille? Is hulle nie eiesoortige wette uit eie reg nie?

- Is dit nie inkonsekwent dat sommige sake na ’n mislukte versoening by die KVBA direk na die arbeidshof verwys word vir beregtiging wat kan lei tot ’n vonnisskuld wat eers na 30 jaar verjaar nie, terwyl ander verplig is tot arbitrasie by KVBA?

Die wysigings van artikel 145 is nietemin ’n groot stap in die regte rigting, naamlik om die uitbuiting van werknemers deur hul werkgewers te beperk.

 

Bibliografie

Brassey M.M. (red.). 1987. The new labour law. Kaapstad: Juta.

Cameron, E. 1987. Status quo relief. In Brassey (red.). 1987.

Concise Oxford Dictionary. 2009. Oxford: Oxford University Press.

Du Toit, D. (red.). 2015. Labour relations law – a comprehensive guide. Durban: Lexis Nexis.

Grogan, J. 2015. The sands of time: Prescription and the LRA. Employment Law, Feb. vol. 31.

Hutchison, D. en C.-J. Pretorius (reds.). 2009. The law of contract in South Africa. Kaapstad: Oxford University Press.

Kaiser, J. 2016. Labour law: Prescription of CCMA awards. Risk Alert, 2:8, 2 Mei.

Loubser, M.M. 1996. Extinctive prescription. Kaapstad: Juta.

Loubser, M. en R. Midgley (reds.). 2012. The law of delict in South Africa. 2de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Praktykhandleiding van die Arbeidshof. 2013. Johannesburg: Departement van Justisie.

Sharpe, C.W. 2001. Judicial review of arbitration awards under the new South Africa Labour Relations Act of 1995. Case Western Reserve Journal of International Law, 33(3):277–305.

Snyman, S. 2016. Prescription in employment law. SASLAW Seminar. 17 Maart. Johannesburg: SASLAW.

Van der Merwe, N.J. en P.J.J. Olivier. 1989. Die onregmatige daad in die Suid-Afrikaanse reg. Sesde uitgawe. Pretoria: Van der Walt en Seun.

Venter, D. 2016. Do arbitration awards prescribe? Without Prejudice, February. 16(1):33.

 

Eindnotas

12016 37 ILJ 413 (AAH), hierna Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH).

2Praktykhandleiding van die Arbeidshof (2013, par. 11.2.7).

3My kursivering.

4Die navorser en vakreferente het tevergeefs gesoek.

5(2011:277 e.v.).

6Ander relevante veranderinge of byvoegings in art. 145 is subartt. (5)–(8) (sien hier onder par. 4 vir ʼn bespreking).

72015 2 BLLR 147 (AH), hierna Rotolabel.

8(2016:33).

9Grogan (2015) bespreek die regspraak m.b.t. arbitrasietoekennings en verjaring omvattend. My bydrae steun sterk op Grogan se artikel. Die kategorieë waarna verwys word, spruit ook uit sy artikel.

10Bv. Mpanza v Fidelity Guards Holdings (Pty) Ltd 2000 12 BLLR 1459 (ah); POPCRU obo Sifuba v Commissioner of the SAPS 2009 12 BLLR 1236 (AH); Fredericks v Grobler NO 2010 6 BLLR 644 (AH); Magengenene v PPC Cement (Pty) Ltd 2011 32 ILJ 2518 (AH); SA Transport & Allied Workers Union obo Hani v Fidelity Cash Management Services 2012 33 ILJ 2452 (AH); Sampla Belting SA (Pty) Ltd v Commission for Conciliation, Mediation & Arbitration 2012 33 ILJ 2465 (AH); National Union of Metalworkers of SA v Espach Engineering 2010 31 ILJ 987 (AH).

11Aon Suid-Afrika (Pty) Ltd v CCMA 2012 33 ILJ 1124 (AH).

12Circuit Breakers Industries Ltd v National Union of Metalworkers nms Hadebe 2014 35 ILJ 1261 (AH), hierna Circuit Breakers.

13Coetzee v Member of the Executive Council of the Provincial Government of the Western Cape 2013 34 ILJ 2865 (AH); Cellucity (Pty) Ltd v CWU obo Peters 2014 2 BLLR 172 (AH); NUMSA obo Welcome Masipa v Go Suspensions and Axles (Pty) Ltd (AH) case no. JR3349 26 March 2014.

14Grogan (2015), eindnota 9 hier bo.

152013 34 ILJ 2871 (AH).

16Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 21.

17Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 13.

18Parr. 15–6 (vertaalde weergawe).

19Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 18.

20Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 20.

21Cameron (1987:226).

22Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 15.

23Art. 185(a).

24Art. 210.

25Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 21.

26Par. 11.

27 Par. 16.

28Art. 33 van die Grondwet.

29Par. 8.

30Par. 9.

31 Par. 20.

32Par. 23.

33Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH).

34Kaiser (2016:8).

35Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 21.

36 2011 2 SA 26 (KH).

37Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 43.

38Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 26.

39Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 27.

40Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 29.

41Loubser (1996:22).

421997 1 SA 124 (KH).

43Par. 11.

44 1998 19 ILJ 757 (HHA).

45 2011 2 SA 26 (KH).

46Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 33.

47Snyman (2016:5). Let nietemin daarop dat alhoewel art. 10(1) van die wet bepaal dat ’n skuld deur verjaring uitgewis word, dit ’n anomalie skep aangesien art. 10(3) bepaal dat nieteenstaande art. 10(1), betaling van die skuld deur die skuldenaar nadat dit deur verjaring uitgewis is, as betaling van die skuld geag sal word.[47] So beskou, wis verjaring nie die skuld uit nie. Sien hieroor Van der Merwe en Olivier (1989:284); Loubser (1996:16).

48Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 33.

49(2009:300).

50Circuit Breakers Industries Ltd.

51Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par.36.

521981 3 SA 340 (A) 344F–G.

53Sien Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 35; sien bv. ook CJU Insurance Ltd v Rumdel Construction (Pty) Ltd 2004 2 SA 622 (HHA) 627–8; Loubser (1996:26–34); Loubser en Midgley (2012:206–7).

541996 1 SA 141 (A) 146H–147A.

552015 2 BLLR 147 (AH).

56Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 41.

57Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 40.

58Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 42.

59Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 43.

60Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 45.

61Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 47.

62In Myathaza word na die volgende sake verwys: Die Akademik Fyodorov: Government of the Russian Federation v Marine Expeditions Inc 1996 4 SA 422 (K) 446E-I; MV Yu Long Shan: Drybuck SA v MV Yu Long Shan 1998 1 SA 646 (SOK) par. 655A; Manning v Metro Nissan – A Division of Venture Motor Holdings Ltd 1998 19 ILJ 1181 (AH) par. 55; Armstrong v Tee 1999 20 ILJ 2568 (AH) par. 22; Volkswagen SA (Pty) Ltd v Brand NO 2001 22 ILJ 1993 (AH) par. 110; Balasana v Motor Bargaining Council 2011 32 ILJ 297 (AH) par. 10.

63Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 48.

64Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 49.

651991 1 SA 723 (W) 725H-I.

66Ook in POPCRU 2009 30 ILJ 1309 (AH) par. 32.

67Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 50.

68Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 51.

69(2016:2).

70Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 52.

71Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 53.

72Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 54.

73Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 55.

74Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 56.

75Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 57.

76Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 75.

77Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 67.

78Sien hieroor Loubser (1996:123 e.v.); Hutchison en Pretorius (reds.) (2009:386); Van der Merwe en Olivier (1989:289–91); Loubser en Midgley (reds.) (2012:211–2).

79Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 68.

80Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 69.

81Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 71.

82Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 72.

83Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 74.

84Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 75.

85Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 76.

86Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 77.

87Ibid.

88Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 78.

89Myathaza; Mazibuko; Cellucity (AAH) par. 79.

90Sien eindnotas 27–32 hier bo.

912016 37 ILJ 1413 (AH).

92Ibid.

93(2015, par. 9).

94(2013, par. 11.2).

95My kursivering.

96Du Toit (2015, hfst. III par. 7.7)

97Art. 145 (10) van die gewysigde wet.

98Grogan (2015, par. 9).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top