Baie mense spreek hulle uit oor die geldigheid al dan nie van die Ou-Testamentiese Mosaïese wette.
Sommige Messiaanse Judaïste is steeds van mening dat die ou wette nagekom behoort te word, soos dit deur die Jode destyds nagekom is – tot die letter van die woord.
Ander volg ’n Nuwewêreldse teologiese opvatting dat die Mosaïese wette glad nie meer geld nie en dat die Ou Testament ast’ware deur die Nuwe Testament vervang is.
Die korrekte posisie is mos sekerlik in die Woord te vinde, juis in wat die HERE Jesus Christus tydens die beroemde en bekende Bergpredikasie Sélf oor dié wette sê:
Mattheus 5:
17 “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle, hulle volle betekenis te laat kry. 18 Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. 19 “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20 Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Dit is dus duidelik dat die nuwe teologiese beweging se Nuwewêreldse dogmatiek deur verse 17-19 volledig die nek ingeslaan word en dat die Messiaanse- en ander Judaïste se fariseër-agtige dogmatiek baie duidelik deur vers 20 die nek ingeslaan word.
Die demonstrasie van die werklike toepassing en werking van die Wet word deur die volgende insident oor die Sabbat gedemonstreer. Die HERE Jesus sê:
11 … “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op ’n sabbatdag in ’n sloot val, dadelik uithaal nie? 12 Hoeveel is ’n mens nie meer werd as ’n skaap nie? Dan mag ’n mens mos op die sabbatdag goed doen” en “27 Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. 28 Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die Sabbat.”
Só is diegene wat die Wet só Geesloos probeer interpreteer, besig om die Wet bó die Gees van die Wet, die HERE, te stel, nes die fariseërs van ouds – dáárdie Geesloos geïnterpreteerde wette is uitgedien.
Die HERE is ook die HERE van die wet en het gekom om die wette te vervul, omdat die wet, wat vir die mens tot saligheid in God moes lei, deur die mens se verhardheid gereduseer is tot niks meer as net ’n herinnering van hóé onmoontlik dit vir die mens in só ’n verharde toestand is, om die HERE te behaag, nie. Die wette is ’n herinnering van juis hoe nodig die mens die Verlosser, die Messias, die HERE Jesus, het, omdat die mens slegs die wette kan uitleef in die Gees van die wet, deur die HERE aan te neem en in Sy Krag en leiding die wette te leef, as ’n lewenswyse.
Die HERE Jesus het as Mens kom wys dat HY ál die wette volledig uitgeleef het in gehoorsaamheid. HY het hulle volbring, werklike betekenis gegee. Daarna het HY boonop ook die onvermoë van die mense weens hulle hardheid en sondigheid, op Hom geneem en ook vir hulle die finale prys van ongehoorsaamheid aan die wet, die dood, betaal en weer opgestaan uit die dood, as Verlosser, sodat almal wie in Hom glo en Hom aanneem, voortaan in Sy Krag die wet uitleef.
Dus leef die wet en is steeds van toepassing (Mattheus 22:37-40), maar in die Spirituele, die Lewende lewegewende formaat, soos die HERE kom demonstreer en leef, het.
Groete,
Kobus de Klerk

