Die mooi in lelik

  • 0

Die komponis John Cage het gesê: “The first question I ask myself when something doesn't seem to be beautiful is why do I think it's not beautiful. And very shortly you discover that there is no reason.”

Wat ‘n goudbeslane gedagte! het ek agtergekom toe ek dit begin toepas het. Niks is eintlik regtig lelik nie, nie as jy dit wat lelik voorkom moet begin beskryf nie.

Jare gelede sê my maat op ‘n Kaapse sypaadjie vir my: “Sies, kyk nou watter seer oog is daardie gebou tussen die ander.” Ek stop in my spore en beskou die ou strydros van ‘n eeu gelede. Al die vensters is nog daar, sommige van hulle glimmend, ander misterieus donker, soos die stadson blik-aspaai tussen geboue deur. Lig en donker. Die rookmis se vuil wat op die lyste aangepak lê, amber teen die eens pienk van die mure, gaan kruip in my kreatiewe onthou boksie weg vir wanneer ek weer voor die skilderdoek staan. Dimensie. ‘n Blougrys duif-haantjie hou wag oor sy vroutjie op een van die hoogste lyste, knussies in die hoek van ‘n vensterbank. Kontras. Met al hierdie elemente, hoe kan die ou gebou ooit lelik wees? Sou daar dan nog elke nag ‘n lang, wasige vrou teen haar trappe afsweef, raak die ou gebou nog mooier.

Murasies is ‘n ander lelike mooi. Op Baardscheerdersbos het ‘n murasie gestaan, waar, op die stadium dat ek met my kamera daar rondgeloop het, plakkies bloedrooi in die voorgrond geblom het. Haar dak was gestroop tot net die dakkappe, maar hulle het steeds fier na bo getoring. Haar kleimure het hier en daar deurgemodder soos die erosie haar beetgehad het. Maar op ‘n tyd was sy ‘n tuiste: met ‘n ma wie broodknie op die skroptafel, ‘n pa wie sy oggendkoffie voor dagbreek uit die ketelhand van sy versorgende vrou ontvang het en kindertjies wat modderkoekies in die voortuin gebak het. Dit maak haar vir my mooi. Vir God ook; daarom dat hy haar versier het met ‘n plaat bloedrooi plakkieplante.

Op Skipskop was ‘n ou-ou vakansiehuis met die rietdak swaar gelap met sement, holrug soos ‘n ou perd. Elke Desember het sy haar mense trots ontvang. Hulle het haar ‘n goeie laag wit kalk aangetrek en haar verdroogde vensterrame seeblou oogskadu aangesit. Die hortjies voor die klein venstertjies is oopgegooi vir die son en saans het tientalle kerse en olielampe gebrand teen die muwwerigheid. Dan was sy vir haarself mooi en ook vir haar mense. Toe ek haar ontmoet het, was dit middeljaar, maar sy was om dieselfde rede vir my ook mooi, want een keer per jaar, wis ek, het sy gelewe en haar beste gegee vir haar mense.

Geen mens mag ooit ‘n kaartjie uitgereik word wat sê “lelik” nie; daarvoor is die spesie te uniek. Bokant die kromste neus mag die sielvolste oë saam gesels, lag of huil; uit die skeefste mond kan die mees opregte woorde kom; binne die verslete klere kan ‘n trotse borskas dein met die klop van ‘n deernisvolle hart. Al wat dit verg is ‘n bietjie stilstaan, ‘n bietjie nader beweeg en ‘n bietjie dieper evalueer voordat mens die oordeel van lelik uitspreek. In almal is iets moois.

"People often say that 'beauty is in the eye of the beholder,' and I say that the most liberating thing about beauty is realizing that you are the beholder. This empowers us to find beauty in places where others have not dared to look, including inside ourselves." – Salma Hayek (aktrise)

Gewis ‘n bevrydende gedagte. As die aanskouer het ek en jy die keuse met watter oog ons wil kyk. Allereers sommer binnetoe, want dalk is dit daar waar die lelik die dikste aangeplak lê. ‘n Paar aanwendings verfstroper en die mooi perlemoer glans na die oppervlak met ligflakkerings in sagte pastelkleure. En as ons dan leef met so ‘n suiwer, verheffende binnemooi, hoe kan enigiets buite ooit lelik wees?

Suikerbrood en suurvye

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top